
Jitsvinger (Foto: verskaf)
Jou oorsprong se bronnelys knetter voort op’ie tonge soes kaggelvure tydens ancient gesprekke van my voorvaderfigure. Jy is die geestelike organisasie van my spraakstrukture. Dit hang soes waardevolle portrette in’ie binnekant van my verstand se gerookte kamermure. Die dampe trek deur’ie klanke soes wilde als in my sinus. Op’ie voorblad van ’n UpBeat magazine pose cousin Wise Man D met sy getuie vasgeplak teen’ie kamerdeur waar ek dwaal as ’n laaitie op’ie steam van ’n skoolvakansie-period in’ie vroeë nineties. My geboortereg is my membership-kaart hier. Ek peruse deur’ie archive wat strek oor’ie Atlantiese Oseaan tot by die Mecca van Hip Hop: ure lange rapmusiek gevang op kassetband alfabeties in ’n houteboks gepak. ’n Purist sal haar/sy oegtanne gee vir soe ’n private kolleksie. Ek insert ’n straatdigter se album in my aunty se wireless laat dit blaker onder die venster soes ek staar oor’ie sosiale tapisserie. ’n Soniese skilderdoek vir my gedagtegang en kopsketse; ’n montage van die dag se gebeurtenisse transform in ’n lokprent vol dialoë wat skitter met nuwe woorde en frases uit Elsies se spraakrivier. Ek maak my oë toe en visualiseer ’n bazaar wat meaning gee aan al die trends wat regeer op’ie straat:
Hulle loep in’ie pad daarmee en skiet pool daarmee.
Hulle spring oor’ie draad daarmee.
Hulle woel met de laaste gevoel daarmee.
Die ouens slaat vuis daarmee.
Die barber sny daarmee, al is sy Wahl-masjientjie af is’it hy wat skeer
met ’n grap of storie, die customers relate daarmee.
Die dames trek jou uit daarmee.
Die pastor seën die wyn daarmee.
Op’ie park, voor’ie huis, die laaities speel games daarmee.
Hulle gee mekaar name en vloek mekaar uit daarmee!
Die smous verkoep vis en vleis daarmee.
Dis soe hard soes bakstene, bou jou huis daarmee.
Koeterwaals
........
Hierdie give and take los talle inheemse stamme as gasheer huisloos in paradys. ’n Dekmantel van beskawing om die primitiewe siele te bekamp met die gun en die Bybel. Is dit nou ’n nasie se fate of die hand van’ie duiwel?
........
Imperialisme se hou-vrou steeds aangehou in’ie kombuis waar die wortels van haar heritage talle bekke laat water vir ’n “aweh”, die nasionale staple wat loer deur’ie sleutelgat van ’n koloniale apparatus wat sê dis nie “suiwer” nie. (Nadat iemand dit geclaim het, alle swart en slawe-invloede daarvan verwyder en sê dat die ware weergawe fake is. Toegepas en tot ’n amptelike boek, die HAT, geskryf is.) ’n Komplot wat nasate tot vandag toe van die land verskyf het en ’n nuwe naam aan jou gegee (coloureds), niks meer as ’n label. Hierdie give and take los talle inheemse stamme as gasheer huisloos in paradys. ’n Dekmantel van beskawing om die primitiewe siele te bekamp met die gun en die Bybel. Is dit nou ’n nasie se fate of die hand van’ie duiwel?
Nooiensvaart
........
Die internet se branders suis met gratis downloads. Dié wat skaam en skroom vra vir aalmoese, kry ’n haak-toe! vir sulke aansoeke. Blootstelling hou die telling as dit kom by vermaaksberoepe. Oek maar grim as jy slim is en jou art is troebel sonder enige merkwaardige support van’ ie industrie.
........
Populêre musiekvorme vloei deur’ie nuwe god, die magtige Algorithm, se pompe soes die nuwe stemme vanuit die Afrikaaps-community trend onder sy instruksie. Hulle gloei soes batterye wat idle soos hulle gebroei word agter die marmer-grafsteen van afhanklikheid. Culled tot digitale vleis hang hulle op ’n platelys waar multinasionale vultures aan hulle vreet in’ie naam van korporatiewe gierigheid. Die internet se branders suis met gratis downloads. Dié wat skaam en skroom vra vir aalmoese, kry ’n haak-toe! vir sulke aansoeke. Blootstelling hou die telling as dit kom by vermaaksberoepe. Oek maar grim as jy slim is en jou art is troebel sonder enige merkwaardige support van’ ie industrie. Check wat gebeur het met vandag se adellikes onder die vaandels van Gqom, Amapiano en Afrobeats. Net een groep sit almal koud en rank onder die toptien, maar kennis is nog altyd ’n verbode vrug since Genesis. Hier kom’ie sacrificial lamb uit die vuur tot in’ie pan. As jy klink soes ’n gangster dan word jy behandel soes in’ie mang, daai is’ie premises.
Sprinkle ’n paar coloureds in’ie mix, grind hulle talent vir ’n hit. Yard numbers is al wat hulle soek. Skandaal is hulle fix. Jy weet mos hulle is net ’n klomp leftovers. Môre lê hy in elke geval êrens in ’n sloot doodgeskiet ...
Bloedlose magnate sirkel die upper echelons met kontrakte dik soes cigars wat mik vir’ie asbak getiteld Artist Management. ’n Nie-bestaande plekhouer vir’ie beskeie, humble en te bly om te val vir’ie famous kreatiwiteit-is-meer-important-as-besigheid-strik. En iemand se fyn snik wat gesign het op’ie dotted lyn. What kine?
Met elke nuwe talent kom die gevaar van exploitation. Sonder kos op’ie tafel, die glow van’ie ring light maak hulle famous.
Hoerikwaggo
Daar kom’ie Alibama. Goema is jou movement. Die wêreld het by jou voete vergader vir ’n proesel. Cuba roep die niggies en’ie nefies uit Havana en soes troepe kom hulle aan gemarch om te groet. ’n Ragfyn draad word getrek deur’ie gene wat my binneste pluk soes my oupa se viola. Jy beweeg soes Krotoa wat in Frans kommunikeer nes haar voorganger Autshumato oor’ie see. Die bestemming is die liberation van almal wat soe klink. Die draers van stigmas en labels in hulle boesems. Die clicks wat die Nama en Xhosa versoenit. Ek celebrate jou Afrikaans. Lekker verjaar. Liefde en groete.
Lees ook:

