Kyk verby die valse nuus, die vrees en die vure op die voorgrond en stel ’n heildronk in aan die helde van die dag.
Vroeg op of slapeloos van die vorige aand se nagskof. Professioneel en geduldig tussen nuwe pasiënte en gevalle wat vermenigvuldig soos die ure verbytik. Uitgeput maar optimisties in die aangesig van die stygende. Vermoeid. Empaties. Stresbelaai. Angstig en dapper.
Die onerkentlike vegters teen COVID-19 kap nog steeds daagliks met hernude gewilligheid aan terwyl ons tuisbly en wag tot wanneer President Cyril die nasionale inperking lig. Vegters teen die pandemie in die loopgrawe wat die vaandel dra as noodsaaklike werkers, soos gesondheidsdienswerkers, rampbestuurders, trokbestuurders wat die risiko loop om in hoërisikogebiede deur lede van die publiek geplunder te word … Daar is gans te veel om te noem wat nie erkenning kry nie.
Die artikel is vir elkeen van hulle.
Ons skrik soggens wakker en ploeg deur die dag onder huisarres sonder om ’n gedagte aan hulle te skenk. Baie van hierdie gesiglose superhelde het nie die luuksheid om ook in die bed rond te rol tot die son onder hulle gat skyn nie, maar om hulle superheldmantel te omhels en die dag by die virus-besmette horings te pak. Aan elkeen van hulle lig ek my denkbeeldige glas in salutasie. Daar is nie ’n beter tyd as nou om ’n heildronk vir die sukses van ons land se onopmerklike reddingswerkers in te stel nie. Die gevaar van infeksie en beserings is 100% in noodhulpsituasies.
Die bystand van familie en vriende is goud werd. Hulle hou die gemoed in stand. Hulle hou ’n wakende oog oor simptome van infeksie by hulle geliefdes. Hulle sien bedags of gedurende werksure om na die kleingoed. Hulle bied bystand aan die noodhulpdienspersoneel deur hulle te beskerm teen oproerige gemeenskapslede. Die behoudendes van ’n norm wat wil wegkwyn onder die huidige diepgaande disoriëntasie. Hulle verdra die pyn. Hulle word agter toe deure deur gewelddadige eggenote in ’n soms oorvol huishouding onverstoord mishandel en beledig.
Die regering bewaar stilswye oor die geweld van weermaglede en die polisie teen die publiek terwyl hulle volhou dat “dinge sal regkom” sonder om enige gereelde basiese verligting te bied. Kruideniers staan saam en skenk kospakkies vir minderbevoorregtes regoor die Kaapse Vlakte. Inisiatiewe en organisasies versamel en versprei kospakkies aan nabygeleë gemeenskappe. Daar is tallose skenkers van maskers, donasies en mediese hulpmiddels aan instellings soos die Rooi Kruis om die veiligheid van menigtes te verseker. Julle is net so kosbaar. Salute!
Mediese personeel spandeer lang ure in die laboratorium om nuwe tegnologie te ontwikkel om die toetsproses te versnel sodat die inligting geanaliseer kan word en na die media deurgevoer kan word. Hierdie sektor is grotendeels verantwoordelik vir die toepassing van ’n veilige en meer doeltreffende behandeling van pasiënte wat COVID-19 opgedoen het. Enige vals berigte hiervandaan kan lei tot titaniese skade.
Terwyl die hipsters in Constantia en Bishopscourt in hul tuine rondkrap vir kleurvolle steentjies om aan te kou, sit onderwysers van staatskole daagliks met leerders met geen internet connection en werk aan oplossings om opvoedkunde deel te maak van hul alledaagse lewe onder kwarantyn of fisiese isolasie. Hoe die skole na die inperkingsperiode gaan terugkeer na enige vorm van normaliteit berus op die vermoëns en reeds moeë skouers van opvoedkundepersoneel. Wat die leerproses soms meer doeltreffend maak, is die persoonlike verhouding tussen leerder en onderwyser. Ouers verkies direkte interaksie met die juffrou of meneer wat die lesse moet voortsit. Hulpbronne is skraps in hierdie onvoorspelbare klimaat en WhatsApp is nie die ideale skakel soos voorheen die konsensus was nie. Ek sien uit na positiewe en inklusiewe ontwikkelinge wat in hierdie area gemaak word, veral waar dit die meeste saak maak. Platforms soos Zoom en Facebook Live is nuttig waar toegang tot die internet moontlik is en kan groot sukses bied.
Studente van CPUT sit ook in isolasie sonder die begeleiding van ’n tutor of rantsoene ver van hul tuiste. Danksy die vernuf en ywer van Likaya Mqukuse word kospakkies met die hulp van ’n paar vriende bymekaarmaak vir vulnerable student soos hierdie. Likaya appeal vir hulp in sy poging en sit met min tot geen hulpbronne.
Hoe lyk die res op die frontline? Padwerkers. Verpleegsters. Taxibestuurders. Rakpakkers. Loodgieters. Kunstenaars. Aptekers. Bouers. Dokters. Plaaswerkers. Elektrisiëns. Ja, die lys is vrek lank. Ons het baie om voor dankie te sê en ook te vier. Die curve het geleidelik afgeplat in vergelyking met ander lande waar COVID-19 rampspoedige nagevolge veroorsaak het. Almal wat tuis gebly het om die verspreiding te help stuit: tjorts!
Die vure van onrus en desperaatheid brand hoog in die Delft/Belhar-distrik, waar lede van die gemeenskap ’n Usave-winkel binnegestorm het en gegryp het wat hulle kon (die naaste netjies gestapelde kratte Coca-Cola). Jy kan op die selfoon se video-opname ’n aunty by Liewe Jesus hoor pleit soos sy vir haar lewe vrees. Die donkerte verdiep soos die klippe reën op verbygaande goederetrokke op die Stellenbosch Arterial-hoofpad wat tussen die twee gebiede strek. ’n Stewige heildronk aan die joernaliste, videograwe, verslaggewers en fotograwe wat hul lewens in gevaar stel om akkurate nuus aan hul lesers en kykers verskaf. Dit staan tereg dat die media ’n baie sterk bron van informasie is en dat sommige nuus meer vreesaanjagend is en dat lui nuusredakteurs nie die informasie opvolg nie.
Laastens (en laat die skuim sommer lekker borrel vir hierdie een), ’n heildronk aan die kunstenaar. Die komediant. Die musikant. Die storieverteller. Die digter. Die skilder. Die rymkletser. Die danser. Die harlekyn. Die goëlaar. Die sanger. Die akteur. Multidissiplinêr en innoverend. Roerend en inspirerend. Julle soek na die kern van die menslike kondisie en julle verduister, ontleed en manipuleer dit tot die genot van die dinker en plesiersoeker. Elke sitbank-rankplant wat haar/sy sout werd is, kan getuig van die bliss wat julle verskaf in die kokon waarin hulle toegespin sit, en hoe julle hulle help vergeet van die bekommernisse wat die virus-verdraaide buitewêreld teister.
Het ek dalk iemand vergeet?



Kommentaar
O alla! Jy het nou so lekker raakgepraat!
Tjeers! - met oros in 'n sjampanjeglas.