“As hy jou aankyk dieselfde way as wat hy ’n masala steak Gatsby aankyk … trou met hom!”
Wit ouer: “Piet, jy sal eendag ’n goeie antropoloog maak.”
Coloured ouer: “Shoprite soek mense.”
“God het die wit man gemaak. God het die swart man gemaak. God het die Chinees, Indiër en Jood gemaak. Maar Jan van Riebeeck, hy het die kleurling gemaak.”
In ’n samelewing met ’n toenemende obsessie met suiwerheid staan die kleurling kop en skouers uit as die mongrel, onsuiwer en onbetroubaar, die bron van verleentheid vir die wit rassis as herinnering van ’n verval in moraliteit en die bewysstuk van die deurlaatbaarheid van rassegrense op die mees intieme vlak.
Die neerhalende karaktertrekke van die kleurlingidentiteit het gelei tot die gewoonte om daarna te verwys as ’n skande.
Jy kan jou maar klaar maak, die oorheersende opinies van die sogenaamde kleurling is, onder andere: onambisieus, dronk grapjas, gangster of buite-egtelik. Die feit dat jy wat as kleurling geklassifiseer is altyd harder moet werk vir wat jou toekom en nie tot politiese leierskap in staat is nie, plaas die assimilasie om geïntegreer te word in die progressiewe Westerse bourgeoisie onder ’n skerp soeklig.
Die Kleurling-benaming is in 1904 deur die sensuskomitee van die Britse administrasie in gebruik geneem; ’n gentleman se sinoniem vir baster, wat dit ’n meer nuanced wending gee. Awê, so was die afstammelinge van die inheemse Khoi en San tydens die Britse bewind aan die Kaap genoem. Dit was nie die benaming vir sogenaamde Swartes nie, maar verwys wel na die fenotipies diverse groep mense afkomstig van die Khoi, Kaapse slawe, verskeie swart stamme en Europese setlaars wat in die Kaapse kolonie geassimileer was. Tydens die 20ste eeu, met ’n beduidende gebrek aan politiese en ekonomiese mag, het die sogenaamde Kleurlinggroep die marginale mense van die Suid-Afrikaanse samelewing geword. As jy nie in enige van die wit of Afrikaanse kategorieë geval het nie, was jy in die Kleurlingboks gedompel. Dit sluit nou in Indiër, Malay, Griqua, Nama en Rehoboth Basters. Die Wet op Bevolkingsregistrasie het sommer ’n extra boksie, “ander Kleurling”, geskep vir die wat nie hier pas nie; ’n subkategorie wat die Kleurlinggroep verder verdeel het.
Die Kleurling-benaming het in die laat 19de eeu tydens die samesmelting van die koloniale Swart bevolking aan die Kaap gekristalliseer en is dekades na die bevryding van slawe in 1838 gebruik om na die Swart werkersklas te verwys.
In vandag se samelewing aanvaar baie van gemengde herkoms hierdie benaming, maar wat beteken dit? Vereenselwig die kleurling haar/homself met die onmeetbare diversiteit van die sogenaamde kleurling se gene pool, insluitende die gepaardgaande kulture en geskiedenis wat daaraan geheg is? Is dit die knee-jerk-effek van ’n white supremacy-tydperk om jou te assosieer met ’n sosiaal en polities dominante samelewing? Ongelukkig dien dit nog steeds as ’n poging om enige swart heenkome in die naam van selfverbetering en beskawing te verwerp wanneer ek hoor hoe die ouer garde van die goeie ou dae praat.
In vandag se lewe is die mees konstante en voortdurende kenmerk van kleurlingmentaliteit steeds die assosiasie met witheid deur waarde te heg aan ’n ligte velkleur en gladde hare. Moenie nog praat van die opheffing van wit voorouers wat ’n sekere nabyheid aan Westerse kultuur gee nie.
Die begeerte om met die wit middelklas te integreer was ’n skiet in die voet. Die historiese ramp het gekom deurdat Kleurling- politieke partye geforseer is om volgens rasselyne te mobiliseer om hul belange en regte as ’n groep te beskerm. Hierdie intermediêre status was die fondasie van hul identiteit in die Suid-Afrikaanse rassehiërargie. Enige protes van die politiese Kleurlinggroepe was gesien as ’n sideshow en geen van hul standpunte is ernstig opgeneem deur die owerhede nie. Hul invloed het progressiewe afgename geniet tydens die grootste deel van die 20ste eeu.
Nog ’n woord wat soos botter oor die tonge van menige rol, is bruinmens, wat dikwels die woord kleurling vervang. Dit was deel van die verskansing van die kleurlingidentiteit met ghoene van die Afrikaanse literêre wêreld, soos NP van Wyk Louw, wat hierdie woord bo kleurling verkies het en Christian Ziervogel, ’n sogenaamde kleurlingintellektueel, wat geprotesteer het dat hy nie ’n kleurling is nie maar ’n bruinman. Politieke leier Peter Marais identifiseer homself as bruin Afrikaner en noem dat hierdie uitdrukking common is in die Kaapse vernacular, wat ’n aanduiding gee dat dit reeds aanvaar is.
’n Uittreksel uit Trevor Noah se boek, Born a crime, was onlangs onder vreeslike scrutiny geplaas op social media. Hy beweer dat die sogenaamde kleurling geen kultuur het nie, dat die kleurling geen Afrikataal praat nie (alhoewel Afrikaans wel ’n Afrikataal is) en dat alle kleurlinge nie weet waar hulle vandaan kom nie en daarom meer as die sogenaamde Swartes gely het. Sulke verklarings versterk die marginalisering van hierdie rassegroep; so ook die idea dat die kleurling oorerflik gebrekkig is.
Die kleurlinggemeenskap se reaksie op die voorkeur van marginaliteit is sentraal tot die manier waarop die identiteit sosiaal en polities manifesteer. Dit is opsigtelik hoe die kleurling haar-/homself as deel van ’n groep sien, met al die teenstrydigheid en dubbelsinnigheid in hul identiteite sowel as die veranderinge wat hulle onder hul huidige omstandighede ondervind. Dit dien as die bron van enorme frustrasie, selfhaat en die noodlottige predestinasie van die kleurlinggemeenskap.
Hierdie meningstuk is veral vir diegene wat self-identifiseer as kleurling. Voorspoed. Vir diegene wat op soek is na ’n dieper en betekenisvolle identiteit: Daar was intensiewe navorsing gedoen rondom die erfenisse, kultuur en geskiedenis van ons pre-colonial bestaan in Suider-Afrika. Platforms deel deesdae mee oor ’n wye verskeidenheid aspekte wat die aanhits van ’n nuwe en meer progressiewe identiteit bevorder. Jongspanne in elke area van die samelewing express hulle soeke na ’n meer betekenisvolle toekoms waar rassepolitiek ’n baie onbelangrike rol sal speel.
Dankie vir julle werk, Mohamed Adhikari en historikus Patric Tariq Mellet, van wie ek ’n humble student is. Hierdie meningstuk sou nie sonder julle werk gedoen kon word nie.
Salutasie!


