In gesprek met Antoinette Venter oor die Kinders van die gode-reeks

  • 0

Uit die Kinders van die gode-reeks deur Antoinette Venter: Die geheim van die bloedsteen, Die profesie van die bloedpêrel en Die raaisel van die bloedkristal (Protea Boekhuis)

........
"Mitologie is nie net ou stories nie. Dis ’n spieël vir die menslike hart." – Antoinette Venter
........

Antoinette Venter is ’n rekenmeester en takspraktisyn van Jeffreysbaai. Daar het al kortverhale, Romanzas en kinderverhale uit haar pen verskyn.

Sy skryf onder meer fantasieryke avontuurboeke vir kinders nege tot 12 jaar oud. Protea Boekhuis gee haar gewilde Kinders van die gode-reeks uit. Daar is vier boeke in die reeks waarvan drie – Die geheim van die bloedsteen, Die profesie van die bloedpêrel en Die raaisel van die bloedkristal – al in die handel beskikbaar is. Boek vier is ook reeds vir publikasie aanvaar. Die boeke is deurspek met aksie, avontuur, fantasie en humor.

Hier is ’n kort opsomming van die drie gepubliseerde boeke in die reeks:

Die geheim van die bloedsteen: Die dertienjarige Zenno tydreis na die antieke stad Pompeii om na sy oom, die verstrooide professor Uranus, te gaan soek. Zenno ontmoet ’n slawemeisie wat die bloedsteen, gevorm uit die bloed van vier Romeinse gode, as ’n prop wil gebruik om die mond van die berg Vesuvius toe te stop. ’n Vuurspuwende draak sal andersins ontsnap en die stad verwoes. Zenno leer dat hy ’n afstammeling van Vulcanus, die god van vuur, is. Dit maak hom die enigste een wat die bloedsteen weer op sy plek kan sit. Intussen moet hy nog na professor Uranus ook soek.

Kinders van die gode: Die geheim van die bloedsteen deur Antoinette Venter (Protea Boekhuis)

Die profesie van die bloedpêrel: Cassandra se ma verdwyn in die see. Sedertdien droom Cassandra snags van ’n meermin wat nes haar ma lyk. Ná ’n ontmoeting met ’n reusewalvis bevind sy haar in Atlantis, wat op die rand van ondergang staan. Daar ontmoet sy ’n orakel genaamd Helena, ’n lojale vriend Timon en ’n bul genaamd Carolus. Hulle reken sy is die “gestuurde” wat ’n seemonster met ’n magiese bloedpêrel moet keer om Atlantis te sink. Sal Cassandra haar lewe waag om die mense van Atlantis te red? En is dit moontlik dat haar ma nog leef?

Kinders van die gode: Die profesie van die bloedpêrel deur Antoinette Venter (Protea Boekhuis)

Die raaisel van die bloedkristal: Die dertienjarige Jabari het ’n geboortemerk op sy voorkop en dra ’n amulet van raaiselagtige oorsprong. Professor Uranus onthul dat Jabari bestem is om die bose reus Sanakht met die swaard van Osiris te vernietig. Die tydreis-amulet neem Jabari na antieke Egipte, waar hy sy slim en pittige halfsuster Masika ontmoet. Jabari ontdek dat hy Egipte van ondergang kan red. Hy moet raaisels oplos, ’n bloedkristal vind, op die rug van ’n sfinks ry en homself leer ken.

Kinders van die gode: Die raaisel van die bloedkristal deur Antoinette Venter (Protea Boekhuis)

Louise Viljoen is in gesprek met die skrywer van dié reeks:

Waarom skryf jy vir kinders van nege tot 12 jaar oud?

Dis vir my ’n wonderlike tussenin ouderdomsgroep, ’n tyd van ontdekking, nuuskierigheid en ongelooflike verbeeldingsvlugte. Kinders van hierdie ouderdom het steeds die vermoë om in stories in te klim en werklik te glo of dit nou deur middel van tydreise, mitiese wêrelde of geheime missies is. Ek wil daardie gevoel van verwondering aanmoedig en verder voer met avontuurlike, verbeeldingryke stories wat hulle na enige plek kan neem. Selfs plekke wat nog nie eers bestaan nie.

Watter fantasieskrywers beïnvloed jou werk en/of inspireer jou?

Ek dink my eerste blootstelling aan fantasie het gekom deur die Grimm-broers se sprokies. Dit het my verbeelding van kleins af aangevuur. In vandag se terme inspireer Cassandra Clare my beslis. Haar wêreldbou is ryk en vol spanning. JRR Tolkien het ook ’n groot invloed op my denkwyse gehad. Sy werk bevat nie net epiese avonture nie, maar ook diep geestelike en morele temas.

Watter boek is jou gunstelingfantasieverhaal en hoekom?

The lord of the rings is my gunstelingfantasieverhaal. Nie net oor die epiese wêreldbou of die helde-avontuur nie, maar ook oor die dieper temas daarin vervleg. Goed versus kwaad, hoop teen alle waarskynlikheid en die krag van gewone mense om buitengewone dinge te doen.

Waarom het jy jou Kinders van die gode-reeks in mitologie geanker?

Die geheim van die bloedsteen het by my kom aanklop. Ek het nie doelbewus besluit om my storie in mitologie te anker nie; dis asof my onderbewussyn daardie besluit geneem het. Toe my uitgewer voorstel dat ek ’n reeks skryf, het ek wel beplan om die mitologiese elemente verder te ontwikkel. Ek het op ’n diep vlak nog altyd ’n fassinasie met mitologie gehad: die stories, die gode, die simboliek. Dis vir my lekker om navorsing daaroor te doen en daardie wêreld vir kinders oop te maak. Dit bied ’n wonderlike manier om groot waarhede en lewenslesse op ’n speelse, toeganklike manier oor te dra.

Was daar enige temas of boodskappe wat jy doelbewus in hierdie reeks wou ondersoek?

Beslis. Die Kinders van die gode-reeks bevat avontuur, mitologie en fantasie, maar ek het ook die tema van identiteit ontgin. Wie is ek werklik? Hoe beïnvloed my verlede en my keuses die mens wat ek word? Ek wou hê kinders moes sien dat jy nie vasgevang is in waar jy vandaan kom nie; jy kan jou eie pad kies.

........
In elke boek moet die hoofkarakters moeilike keuses maak, en dit is juis daardie keuses, nie bonatuurlike vermoëns nie, wat hulle ware krag wys.
........

Ek het temas van lojaliteit, vriendskap en selfopoffering ingebou, omdat hierdie waardes jong lesers inspireer en aanmoedig om ander te help en vir iets groter as hulleself te staan. In elke boek moet die hoofkarakters moeilike keuses maak, en dit is juis daardie keuses, nie bonatuurlike vermoëns nie, wat hulle ware krag wys.

Mitologie is nie net ou stories nie. Dis ’n spieël vir die menslike hart. Dit help ons verstaan hoe mense dwarsdeur die eeue heen sin probeer maak het van lyding, liefde, dood en hoop. Dis die soort dinge wat ek glo kinders regtig laat nadink, selfs tussen al die aksie en avontuur.

Wat is jou indruk betreffende die behoefte (al dan nie) aan fantasieboeke vir kinders in Afrikaans?

Ek glo daar is beslis ’n behoefte aan fantasieboeke vir kinders in Afrikaans. Veral aan skoon, verbeeldingryke stories wat kinders veilig kan laat droom, dink en ontdek. Fantasie help kinders om die wêreld van moontlikhede te verken, en om groter temas op ’n simboliese en toeganklike manier te verstaan. Mense moet leer om oop te wees vir die genre. Om eers die storie self te sien, eerder as om dit deur ’n bril van wantroue te beoordeel. Maar ek glo ook dit is besig om te verander. Elke nuwe boek, elke nuwe leser wat verlief raak op ’n Afrikaanse fantasiewêreld, help om daardie mure af te breek. Dis vir my opwindend om deel te wees van daardie beweging.

........
Elke nuwe boek, elke nuwe leser wat verlief raak op ’n Afrikaanse fantasiewêreld, help om daardie mure af te breek. Dis vir my opwindend om deel te wees van daardie beweging.
........

Wanneer jy ’n fantasiestorie skep, vermy jy boeke in dieselfde trant of soek jy inspirasie in ander fantasieskrywers se werke?

Ek glo aan balans. Wanneer ek aan ’n fantasieverhaal begin werk, probeer ek aanvanklik soortgelyke boeke vermy om eers my eie stem en storie duidelik te hoor. Ek wil nie onbewustelik iemand anders se idees of stemme inkorporeer nie. Terselfdertyd is ek altyd honger vir inspirasie. Sodra my eie storie sterk genoeg staan, lees ek graag ander fantasiewerke. Nie om na te boots nie, maar om kreatief “aan te steek”, nuwe energie en perspektief te kry. Ander skrywers se werk help my om te sien wat alles moontlik is in die genre en help my om waagmoediger te wees in my eie skryfwerk.

Is daar enigiets wat jy aan die Kinders van die gode-reeks sou wou verander, indien jy dit kon oorskryf?

Ek sou niks aan die stories self wou verander nie. Ek is baie tevrede met hoe hulle ontvou het. Elke karakter, elke avontuur is vir my betekenisvol, en dit weerspieël presies die wêreld wat ek oorspronklik in my kop gesien het. Ek is lief vir die karakters nes hulle is, met al hulle foute, moed en menslikheid.

As ek iets sou verander, is dit miskien die oorhoofse titel van die reeks. In nabetragting sien ek dat Kinders van die gode by sommige mense ’n verkeerde indruk skep, so asof hulle die idee het dat dit oor afgodaanbiddery of iets donkerders gaan. Maar die werklikheid is dat die reeks lig, avontuurlustig en vol humor is. Dis vol mitologie, ja, maar nie op ’n manier wat enige vorm van aanbidding bevorder nie. Dis eerder ’n manier om oud en nuut, mite en menswees, op ’n kreatiewe manier te verken. Ek dink dit wys ook dat hoe ’n boek verpak word, net so belangrik is as wat daarin staan.

.......
In die Kinders van die gode-reeks word temas soos selfopoffering, geregtigheid, lojaliteit en die stryd tussen goed en kwaad ondersoek. Alles temas wat diep in lyn is met Christelike waardes.
.......

Ek kom uit ’n Christelike agtergrond en het lankal vir Jesus as my Verlosser aangeneem. Die titel verwys nie na aanbidding of verering van ander gode nie, maar na die mitologiese agtergrond waarin die stories afspeel. In die Kinders van die gode-reeks word temas soos selfopoffering, geregtigheid, lojaliteit en die stryd tussen goed en kwaad ondersoek. Alles temas wat diep in lyn is met Christelike waardes.

As iemand die boeke lees, sal hulle gou agterkom dis skoon, avontuurlike stories wat kinders laat droom en nadink, nie iets gevaarliks of geestelik verwarrend nie. Dis vir my belangrik om verbeeldingryke leesgenot te skep wat kinders help om dapper keuses te maak. In stories én in die lewe.

Hoe benader jy die skryf van dialoog?

Vir my begin dialoog by die karakters self. Elke karakter het ’n unieke stem, manier van dink en manier van praat. Ek neem net waar en vertel. Ek luister en skryf neer wat hulle sê. Ek slaan ag op hoe kinders in die werklike lewe met mekaar praat en probeer daardie natuurlikheid vasvang sonder om dit geforseerd te laat klink. Dis ’n goeie idee om dialoog hardop te lees. As dit ongemaklik of onnatuurlik klink vir jou oor, sal dit waarskynlik ook vir die leser so voel.

Hoe benader jy humor in jou skryfwerk?

Ek glo dat humor nie geforseer kan word nie. Sodra jy doelbewus probeer snaaks wees, verloor dit trefkrag. Die beste humor kom organies. Uit die situasie, die karakters se persoonlikhede, of selfs uit ongemaklike of onverwagte oomblikke. Ek probeer nooit grappig skryf nie. Ek skryf eerlik en partykeer, as ’n karakter iets sê of doen wat uit hulle aard spruit, kom die humor vanself. Lesers vind by natuurlike, spontane oomblikke aanklank. Ek fokus op karakters wat menslik is. As ek hulle hulself laat wees, gebeur die humor vanself.

Wat het jy as jou grootste uitdaging ervaar om ’n reeks te skryf?

My grootste uitdaging was waarskynlik om genoeg tyd te kry om die stories te skryf soos ek dit rêrig wil skryf. ’n Reeks verg nie net kreatiewe energie nie, maar ook volgehoue aandag. Iets wat nie altyd moontlik is so saam met die eise van die lewe nie. Dit was vir my belangrik om vir elke boek unieke, vars karakters te skep wat hul eie storie dra en steeds inpas by die groter geheel. Elke boek moes sy eie identiteit hê, maar tog deel wees van ’n samehangende wêreld, ’n delikate balans tussen varsheid en eenheid.

Enige raad aan voornemende fantasieskrywers?

Volg jou hart. Skryf oor dit wat jou opgewonde maak, wat jou nuuskierig hou en wat jou verbeelding aanvuur. Skryf wat jy self graag sou wou lees.

Hoe hanteer jy skrywersblok of oomblikke van kreatiewe twyfel?

Ek wens ek kon sê ek hanteer skrywersblok en kreatiewe twyfel met kalmte en wysheid, maar dit sal ’n infame leun wees. Soms kry ek oomblikke waarin ek dramaties verklaar: Ek is klaar. Klaar met skryf, klaar met stories, klaar met boeke, klaar met alles wat letters het! En ek bedoel dit elke keer, vir so ’n rukkie. En dan, ’n dag later, skryf ek maar weer, want stories is in my bloed. Ek kan nie ophou nie.

Lees ook:

Goue lint my storie begint: Die unieke aard van kinder- en jeugboeke

Goue lint, my storie begint: Die effek van lees op kinders se breine

Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders

Leesbegrip? ’n Kinderboek kan jou kind se wêreld oopbreek

Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

Boeke vir die Kerskous: Vyf boeke, vyf skrywers

Kinderboeke vir die Kerskous

Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top