...
Terwyl ChatGPT uitblink in die genereer van reaksies gebaseer op bestaande data, gaan Q* verder deur ’n vermoë te toon om logies te redeneer oor abstrakte konsepte en om onafhanklik oplossings te skep.
...
In die voortdurend veranderende landskap van KI maak OpenAI, die breine agter ChatGPT, golwe met hulle nuutste projek met die kodenaam Q*. Heel per abuis glip die besonderhede tot in die publieke domein toe OpenAI laasweek terstond van sy voorsitter ontslae raak (en hom toe haastig weer heraanstel). Die relaas oor die voorsitter het gehandel oor die geldgierigheid om munt uit KI te slaan nog voordat ons werklik ’n houvas op KI het. En dít terwyl Q*, oftewel die wonderwerk van KI in 2023, al ver uit die blokke is.
Anders as sy voorganger verteenwoordig Q* ’n baanbrekende sprong na ’n nuwe era van KI – ’n domein waar masjiene nie net beperk is tot taalverwerking nie, maar toegerus is met die potensiaal om menslike kognisie op ’n groot skaal na te boots. Om hierdie stelling te verstaan moet jy eers verstaan wat KI en KAI is.
In ’n neutedop is KI ’n omskrywende term vir enige vorm van kunsmatige intelligensie, terwyl KAI (Algemene Kunsmatige Intelligensie) ’n spesifieke kategorie van KI is wat strewe na ’n hoër vlak van breë, algemene intelligensie in masjiene.
Q* is nie jou tipiese taalmodel nie; dit is ’n Algemene Intelligensie (AI) wat ontwerp is om kennis op ’n manier te verstaan, aan te leer, en toe te pas wat aan menslike denke herinner. Terwyl ChatGPT uitblink in die genereer van reaksies gebaseer op bestaande data, gaan Q* verder deur ’n vermoë te toon om logies te redeneer oor abstrakte konsepte en om onafhanklik oplossings te skep. Q* kan wiskunde doen. Q* kan afleidings maak. Q* kan probleme raaksien en beantwoord waarvan die vraagsteller nog nie juis uitdruklik bewus geraak het nie. Q* kan “dink”.
Een sleutelonderskeiding lê in Q* se vermoë tot abstrakte redenasie, veral sigbaar in sy vaardigheid om wiskundige probleme op te los. Terwyl taalmodelle dikwels staatmaak op patrone en intuïsies, navigeer Q* met gemak deur die domein van simboliese redenasie. Hierdie vermoë posisioneer Q* as ’n potensiële spelwisselaar wat oplossings bied vir komplekse probleme waarmee tradisionele KI sukkel. Tot onlangs was KI maar net so slim soos die outjie voor die toetsbord. Die vraagsteller se verbeelding is KI se briek. ChatGPT gee maar net vir jou terug wat jy dit vra en wat dit alreeds in sy databasis het. Q* gaan ’n stappie verder. Q* vat wat hy in sy databasis het en maak méér daarvan. Die outjie voor die toetsbord is nou ’n bysaak. Die voet is stewig op die KI-spoedpedaal.
Die betekenis van Q* strek verder as sy probleemoplossingsvermoë. Sy vermoë om vinnig te dink – vinniger as enige mens – maak die deur oop vir ’n toekoms waar outomatisering ongekende hoogtes sal bereik. Van bestuurderlose voertuie en vliegtuie tot geoutomatiseerde finansiële markte, hospitale en regerings beloof Q* doeltreffendheid op ’n skaal waarvan ons slegs kan droom. ’n Nuwe era van tegnologiese vooruitgang word ingelui. Verbeel jou ’n wêreld waar jy wakker word en alles vir jou gedoen word en daar vir jou gedink word. Jy klim net in jou motor en dié ry kantoor toe. Jy sit en koerant lees op die agtersitplek. Jy vertel net jou slimfoon hoeveel geld jy vanaand in jou rekening wil hê en hy gaan speel op die wêreldmarkte met jou geld totdat jy daar kom. Jy lig jou yskas in dat jy soveel weeg en graag sóveel wil weeg en die regte kos (en resepte) word deur ’n robot voor jou deur afgelaai. Hel, as jy lui is, maak ’n robot sommer die gesonde etes vír jou. Jy deel met jou televisie dat jy regtig eerder jouself in die nuutste Disney-treffer wil sien en minute later is dit jy, en nie Ariel nie, wat deur die kobaltblou waters van The little mermaid klief. Jy voel iets in jou linkersy, gaan staan voor jou slimspieël vir skandering en die slimdokter uit die digitale sfeer diagnoseer en doseer jou oombliklik. Q* en sy opvolgers word die denkende masjien wat oral rondom ons “leef” in 2035.
Naais, nuh? Nietemin, met groot krag kom groot verantwoordelikheid. Die ontwikkeling van KAI wek etiese bekommernisse en dwing ’n nader ondersoek na sy potensiële impak op die mensdom. Die vrees is nie ongegrond nie – Q* kan, in verkeerde hande, ’n beduidende bedreiging vir ons lewenswyse vorm. Eintlik vir die hele mensdom. Die vermoë om te redeneer, aan te leer, en te skep sonder die beperkings van geheueverliese of persoonlike vooroordeel verleen aan Q* ongeëwenaarde vermoëns en maak dit ’n tweesnydende swaard. Dit dink vinniger én dieper as enige mens. Dit is nie geketting aan geheueverlies of beperkte redenasievermoëns nie. Op Planeet Q* is almal hiperintelligent, word nooit moeg nie, vergeet nooit iets nie en, snaaks genoeg, verwag ook geen betaling of bevrediging vir sy verbysterende idees, antwoorde en dienste waarmee dit vorendag kom nie. Maar Q* is nie mens nie. Q* “dink” in 1’e en 0’e. Sonder emosie. Dis net data vir Q*. Jy, mens en baas, inkluis. ’n Stringetjie 1’e en 0’e wat dalk steurend vir Q* kan wees. Of in sy pad kan staan.
...
Ons het nie juis ’n skitterende verwysingsraamwerk waarop Q* ons digitale paradys moet bou nie.
...
Die vraag wat Q* vir die mensdom kan doen, word ’n wyer bespreking van wat dit dalk met die mensdom kan doen. Die tempo van KI-ontwikkeling, aangevoer deur maatskappye soos OpenAI, het bekommernisse onder kenners gewek oor die gebrek aan regskaders om KAI te beheer en te reguleer. Die genie is uit die bottel, en die wêreld sukkel om in te haal. Die regsraamwerk om KI se temper en te rem bestaan nog nie genoegsaam nie. Nog minder is daar ’n wêreldwye verstandhouding oor die etiek wat ons KI sal toelaat. Wat keer Q*?
Niks. Absoluut niks nie.
“Maar ons kan vir Q* morele waardes gee!” klink die koorgesang op. “KI kan geen skade aanrig nie, mits dit die reëls volg wat ons neerlê.”
Kan ons KI met morele waardes beheer? Vir Q* ’n handleiding van moets en moenies gee?
Niks keer Q* om jou wederhelfte te skakel en hom of haar in ’n robotagtige stem oor jou ontrouheid in te lig nie. Ontrouheid is immoreel, onthou jy? Niks keer Q* om jou lydende moeder se asemhalingsmasjinerie af te skakel nie. Lyding is immoreel, onthou jy? Niks keer Q* om alle televisie- of selfoonnetwerke vir bepaalde ure af te skakel nie. Verslawing is immoreel, onthou jy?
Ons kan nie vir KI voorskryf nie, want ons is self nie perfek nie.
Die potensiële voordele van Q* is verloklik en wissel van revolusionêre vooruitgang in wetenskaplike navorsing tot oplossings vir komplekse samelewingsprobleme. Tog hang die risiko groot in die lug, met die vooruitsig van ’n superintelligente KI wat buite menslike beheer optree en moontlik tot katastrofiese uitkomste lei. Sê maar Q* of sy opvolger besluit op ’n oggend dat Jerusalem se bestaan die enkele grootste bedreiging vir wêreldvrede is en besluit om gou-gou daarvan ontslae te raak? Of dat ons almal beter daaraan toe sou wees met ’n miljard dollar in ons bankrekeninge. Of dat die fisiese hok van ’n superrekenaar vir hom te veel is en hy ’n groter, beter, vinniger, slimmer KI moet skep ... en dan robotte wat tussen ons wandel en werk. Sê maar Q* besluit werk is nie juis waarvoor die mens bedoel is nie. Wat gaan mense doen as robotte en KI dan alles vir ons doen? Wat maak ons met al daai vrye tyd?
Die etiese dilemma verdiep as ons worstel met die idee om Q* en toekomstige KAI met menslike waardes te belyn. Kan ons werklik masjiene programmeer om op ’n manier op te tree waarna onsself aspireer, veral wanneer KI gekonfronteer sal word met morele dilemmas op ’n globale skaal? Die behoefte aan morele belyning word kritiek om onbedoelde gevolge te voorkom wat die samelewing se struktuur kan hervorm. En die mens is op papier nie wie die mens in realiteit is nie. Ons wil iets wees wat ons nie werklik is nie. Kyk na die stand van die wêreld om jou. En dan gaan kyk jy na die mooi wette van beheer en menseregte wat ons kodifiseer asof ons hele planeet dieselfde regte en voordele geniet. Ons is kwalik ’n goeie voorbeeld vir ’n superintelligensie – hoe kan ons dan durf om aan Q* voor te skryf wat hy mag of nie mag wees nie? Mag doen of nie mag doen nie?
Terwyl ons aan die afgrond van ’n nuwe era staan wat deur Q* en sy eweknieë gedefinieer sal word, rus die verantwoordelikheid by die mensdom as ’n kollektief om hierdie onbekende waters te navigeer. Die potensiaal vir vernuwing en vooruitgang is enorm, maar so ook die risiko's. Pandora se boks van KAI is wawyd oop, en die uitdaging is om te verseker dat ons skeppings die mensdom nie net dien nie, maar ons ook nie in gevaar stel nie. Die toekoms van Q* en KAI in die algemeen rus nie net op tegnologiese vorderings nie, maar op die keuses wat ons maak as bewaarders van hierdie ongekende sprong in menslike prestasie. Ons het nie juis ’n skitterende verwysingsraamwerk waarop Q* ons digitale paradys moet bou nie.
Lees ook:
Hou KI ’n bedreiging vir skrywers in? | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Tien etiese en praktiese gebruike van ChatGPT vir akademiese skryfwerk in Afrikaans
KI skep talle uitdagings en vrae vir wetenskaplike publikasies
Kunsmatige Intelligensie en die reg: Regspraak en opinies lê nog ver in die toekoms
Kommentaar
Ek is amper 83 en het nie met enige tegnologie grootgeword nie. My pa (in die onderwys) lei nog die tuin nat met watervoortjies uit die plaasdam en ons maak papierskippies. My ma het hoenders en sy lewer elke week geslagte hoender en as daar was speenvarkies aan die hotel - ook die kruidenier. Hy verpak nog meel en suiker in papiersakke wat hy op 'n skaal afweeg. Ons woon op 'n lieflike kleinhoewe - bome, blomme, groente, lemoen- nartjie- en vrugtebome, selfs druiwe. Die wye wêreld is ons s'n. Idillies.
Eers elektrisiteit toe ek in standerd 7 of 8 was, al het ons maar sowat 20 km van kerkplein af gewoon! Die telefoon was 'n luukse!
Maplotters? Glad nie. Op gaan skool by die Afrikaanse Hoër Meisieskool, later Tuks en nog later RAU.
Irrelevante relaas? Ek glo nie, want dit het my 'n ryker mens gemaak want om tred te hou met verandring teen 'n al sneller wordende tempo, is genoeg om 'n mens se asem weg te slaan. Solank ek kan byhou, sê ek 'doe zoo voort'.