
Agtergrondfoto: MasterTux | Pixabay
...
Regter Roland Sutherland: "If one wishes to be an active member of a community then the incontrovertible legitimate interest of the community must trump the preferences of the individual."
...
Antivaksers se pogings om individuele vryheid bó die regte van die gemeenskap te pleit, is ’n deeglike knou toegedien toe die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KBVA) beslis het dat Goldrush, ’n aanlyndobbelgroep, reg opgetree het deur Theresa Mulderij af te dank ná sy geweier het om ingeënt te word.
Mulderij het, tereg, haar afdanking na die KBVA verwys. Haar afdanking is daar bekragtig.
Die organisasie Labourwise het kort na die KBVA se beslissing werkgewers ingelig oor wat hierdie baanbrekerbeslissing beteken. (Lees die volle berig hier.)
Aangesien Mulderij mense moes oplei, kon sy nie anders as om gereeld in kontak te wees met ander nie. Die kommissaris het haar weiering beskou as “refusing to participate in the creation of a safe working environment”, aldus Labourwise.
LitNet het verlede jaar reeds ’n onderhoud met Pieter Human, ’n direkteur van Labourwise, geplaas waarin hy gewaarsku het dat werkgewers die reg sou hê om mense af te dank wat weier om ingeënt te word, maar hy het ook gewaarsku dat die KBVA nie sommer enige rede sal aanvaar nie – hulle “vereis substantiewe sowel as prosedurele billikheid met enige ontslag”.
In hulle nuutste nuusbrief wys Labourwise daarop dat die KBVA bevind het dat Goldrush, Mulderij se werkgewer, wél ’n deeglike proses gevolg het om mense in te lig en dat haar weiering om ander in ag te neem dus tot haar ontslag kon lei.
Labourwise stel ook die punt dat die kommissaris in Mulderij se saak klaarblyklik swaar gesteun het op ’n skrywe van regter Roland Sutherland, die adjunkregterpresident van die Gautengse afdeling van die Hooggeregshof. Sutherland sou in sy skrywe aan kollegas sê dit sou verkeerd wees as die hof die vraag moes beantwoord of entstofmandate individue se regte aantas. Dit is die verkeerde vraag.
The proper question is whether or not an individual is sufficiently civic minded to appreciate that a duty of care is owed to colleagues and others with whom contact is made to safeguard them from harm. If one wishes to be an active member of a community then the incontrovertible legitimate interest of the community must trump the preferences of the individual.
Sterk woorde. Ek het toe gewonder hoe om “civic minded” in Afrikaans te vertaal. Gelukkig kon my Pharos-woordeboek help: Iemand wat “civic minded” is, is “iemand met ’n burgersin”, stel die dikke boek voor.
Sogenaamde burgerregteorganisasies sal moet kennis neem
Voertaal het nou die dag berig: “Al hoe meer burgerlike organisasies en politieke partye in Suid-Afrika is besig om hul stem dik te maak teen enige vorm van verpligte inentings teen COVID-19.”
Solidariteit, ‘n sogenaamde burgerregteorganisasie, is een van die groepe wat hulle stem sterk teen die entstofmandaat laat hoor. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het onder andere in ’n verklaring gesê: “Daar lê reusegevaar in ʼn bestel waarin die regering of ander liggame inentings verpligtend maak en daardeur mense se regte beperk.”
Regter Sutherland se woorde dien as versobering tot Hermann se populisme. Sou Hermann waarlik “iemand met ’n burgersin” wees, gaan hy en sy organisasie dalk hulle benadering tot “burgerregte” moet herbesin.
So ook sal politieke partye, waaronder die DA, wat al hoe duideliker die regse stem wil omarm, dalk net hulle interne idees moet herbedink.
In ’n verklaring wat dit baie duidelik maak dat die DA wel sterk ten gunste van entstowwe is, slaan die party tog die populistiese drom en spreek hulle hulle uit teen ’n mandaat. ’n Mens moet toegee dat hulle redes skynbaar meer genuanseerd is as bloot die individu se regte, maar ek gebruik die woord skynbaar, aangesien die verklaring ook vir Shabir Madhi byhaal. Hulle laat wel na om te sê dat Madhi steeds ten gunste van inentings is, ten spyte van die populistiese redes wat die DA mildelik gebruik in hulle redes waarom hulle nie ’n mandaat steun nie.
Entstowwe keer erge siekte, nie oordrag nie
Een van die redes wat alle populiste gebruik om teen entstowwe te preek, is dat oordrag van die virus steeds plaasvind na mense wat ingeënt is.
Dit is ’n vals argument teen entstowwe en toon dat die idee agter inentings nie verstaan word nie. Hierdie virus muteer te vinnig – geen entstof sal basiese oordrag keer nie, sien ook die Lancet-bespreking hieroor.
Deur ingeënt te wees, stel jy wel jou eie liggaam in staat om vinniger op die virus te reageer. Op hierdie manier bly jou virale lading laag, al toets jy positief.
Hoe laer jou virale lading, hoe moeiliker is dit om ander aan te steek.
Dus: Die entstof sal dalk nie keer dat jy Covid kry nie, maar dit sal wel maak dat jy minder mense aansteek as jy dit wel sou kry.

