Hoekom soek boer ’n vrou?

  • 2

Graham, Willem, Damian, Theunis en Hentie

Gisteraand skuif ek, saam met ’n skare ander mense, reg vir nog ’n episode van die gewilde realiteitsreeks Boer soek ’n vrou. Vanaand is die laaste episode en mens gaan hoor wat toe met die deelnemers en hul liefdeslewens gebeur het.

Maar hoekom soek boer dan ’n vrou?

Ja, Theunis het toe alleen daar opgedaag. Terwyl almal rondom my hom daaroor bejammer, dink ek: Wat maak dit werklik saak dat Theunis nie in hierdie realiteitsreeks sy liefdesmaat gevind het nie?

Hentie en Hantie, word bespiegel, gaan eerste verloof raak. So meen medekykers en die ander deelnemers ook. Is dit omdat hulle ouer is? Ek is nou een van die kykers in my veertigerjare en skielik hoor ek hoedat almal praat oor die desperaatheid van ouderdom.

Die hele proses van vlerk sleep op hierdie program is ’n soort illusie. Ons almal weet dit. Dis soos om in Januarie foto’s van mense se vakansies op die sosiale media te aanskou. Ons weet daar broei maar dinge onder die oppervlak, maar op die foto’s glimlag almal nie net nie: hulle straal.

Damian is ook alleen daar. Hy vertel rustig vir Leah sy storie, op dieselfde kenmerkend denkende manier waarop hy tydens die hele reeks gepraat het. Het Damian nuwe kykers na die reeks gelok? Dit wil so voorkom, en daar word heelwat hieroor geskryf. Lees hier.

Ek dink aan vorige episodes in die reeks: die kere wat ek gedink het hoe vreeslik blootstellend dit moet wees om daar om die tafel te sit as een van die drie uitverkore meisies (of ouens) en dan die man aan die hoof van die tafel te moet beïndruk. Hoe chauvinisties! Sommige kykers wonder saam met my: Is die program eties?

Boer Graham het die insig gehad om een aand, toe hy moes begin kies wie sy gunstelingdeelnemer is, op te merk dat die meisies ook ’n sê het. Dalk gaan sy hóm nie kies as hy haar vra om te bly nie.

Hier is Graham en Ilne nou, tydens vanaand se episode, die twee wat gewoonlik laaste aan die beurt is. Asof die regisseur van die program strategies daaroor dink: hulle is die liefdessprokie vir wie die kykers wag. Hulle lyk op hulle gemak. Saam met die kamera sien die kyker dit ook.

Ek het vir Willem, die rooibosteeboer, uitgelaat. Hy is vanaand minder gretig om te vertel wat die stand van sy verhoudingslewe is. Of is dit werklik alles wat hy gesê het? Het die redigeerders van die program ander dele van die verhaal uitgelaat en net vir die kyker ’n narratief geskryf om te glo?

Ek weet nie wat werklik waar is van die program wat ek kyk nie. Ander boere wat hulleself beskryf as “nie deel van die top vyf nie”, praat oor hulle meisies by die huis. Die meeste van hulle was te besig by die werk om op die program te kon verskyn. My medekykers vir die aand vind dit baie snaaks.

Terwyl die program aan die gang is, word die deelnemers bespreek asof hulle ou bekendes is. En ek wonder voort: Hoekom soek boer nie eerder antwoorde op vrae soos wat beurtkrag aan sy boerdery gaan maak nie? Is die vrou na wie boer op soek is nie bang om saans alleen op die plaas te slaap nie?

Op Boer soek ’n vrou word soms bespreek hoe om skape te vang, en natuurlik hoe om man te vang. Op Boer soek ’n vrou moet ’n man en ’n vrou, of ’n man en ’n man, mekaar voor televisiekameras en voor ander deelnemers leer ken deur aktiwiteite soos die maak van skoene, die bestuur van trekkers of die beoefening van stampkarretjie-ry. Dikwels word saam geëet. Daar is ’n oorvloed gesprekke oor koeitjies en kalfies, soms letterlik.

Maar wat word nie op Boer soek ’n vrou bespreek nie?

Wat as die water opraak? Wat van ’n droogte so omvangryk dat dit die boerdery knak? Ook: Is die boer bang dat iemand sy grond kan beset, of dat die grondwet gaan verander en dat grondonteiening gaan plaasvind? Hoekom is al die boere wit? Ek weet die groter prentjie in die land lyk wel nou al anders en daar’s suksesstories ook. Wat van die bestaansboere en die werkers en die ander betrokkenes by die plaas?

Boer soek ’n vrou is nie uniek aan ons land nie, en ek lees terloops ook wat in The Guardian oor ’n vorige Australiese weergawe geskryf word. Boer zoekt vrouw is ook uiters gewild in Nederland.

’n Mens sou kon dink oor wie die boer is wat die vrou soek, en ook hoekom dit vir hom nodig is om ’n vrou te soek. Maar ek moet ophou om op die boer te fokus. Hoekom gee ek, een van die vele kykers van hierdie suksesvolle program, hoegenaamd om dat boer ’n vrou soek?

Ten slotte, terwyl ek saamlag vir die reeks se flaters, dink ek dat die mens vandat sy bestaan, nie alleen wil wees nie.

Boer hoef nie ’n vrou te soek nie. Boer (en vrou) is eintlik heeltemal oukei net soos wat hulle is, op hulle eie.

Maar gaaf. Boer soek deesdae ’n vrou op maniere wat eie aan sy tyd is. ’n Realiteitsprogram, met al sy valsheid, is ook deursigtig genoeg dat ’n mens kan sien wie’s eg. Boer soek al jare lank ’n (vr)ou, en volgende keer as boer weer soek, gaan almal weer voor die kassie regskuif om dieselfde storie in ’n nuwe gedaante te sien ontvou.

  • Naomi Meyer het getrou Boer soek ’n vrou gekyk vandat sy die onderhoude wat Remona Voges hieromtrent gevoer het, op LitNet gelees het.

Boer soek 'n vrou: Wie is Boer Willem?

Boer soek 'n vrou: Leer ken die diepsinnige Boer Damian

Boer soek 'n vrou: 'n Onderhoud met die geheimsinnige Boer Theunis

Boer soek 'n vrou: leer ken vir Boer Graham

Boer soek 'n vrou: Vinnige vrae vir Boer Hentie

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ja, dit het voorspelbaar Boer soek (vr)ou geword. Die volgende skuif is feitlik onafwendbaar: Die program sal multikultureel word, dus koersvas "eie aan sy tyd".

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Noudat jy dit noem Johannes, dis miskien tyd vir transformasie teikens vir Boer Soek 'n Vrou. En hulle moet beslis ook ander lede van die LGBTI gemeenskap akkommodeer. Soos onder meer die transgender en dubbelslagtige mense. Ons boer tog almal saam in sonnige Suid-Afrika!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top