Boer soek 'n vrou: Leer ken die diepsinnige Boer Damian

  • 7

Die immergewilde TV-reeks, Boer soek ’n vrou, se twaalfde seisoen is tans op kykNET te sien. Remona Voges het ’n onderhoud gevoer met die innemende Boer Damian, vanjaar se mees omstrede boer op die kassie.

Boer Damian (Foto: verskaf)

Noem drie eienskappe wat jou ideale lewensmaat sal hê?  

Ek dink uithouvermoë is eerstens belangrik. Ek dink nie dit is altyd maklik om by ’n boer betrokke te wees nie. Ons is baie afhanklik van reën en daar is baie stresvolle tye, so uithouvermoë is definitief een van die goed wat mens moet hê deur goeie en slegte tye. Die tweede ding is nederigheid. Daar is niks vir my mooier as iemand wat nederig is nie. Maak nie saak wie die persoon is nie – al is hy skatryk of hoe mooi, maak nie saak wat nie: as iemand nederig is, is dit vir my ’n verskriklike mooi eienskap. Laastens is onvoorwaardelike liefde vir my baie belangrik. Baie mense sê hulle het iemand lief en dan môre, oormôre duik daar iets op of iets gebeur en dan ewe skielik het hulle jou nie meer lief nie. So onvoorwaardelike liefde, liefde sonder grense, is belangrik.

Jy het ’n groot liefde vir musiek. Waar kom dit vandaan? En wie is jou gunsteling- klassieke komponis?

My liefde vir musiek kom van my kinderdae af. Ek het al op vyfjarige ouderdom saam met my ma in ’n gospelgroep gesing en ons het regdeur Suid-Afrika getoer. Ons was omtrent elke naweek in ’n ander dorp. Ek het om die waarheid te sê ’n dik album van al ons toere toe ek nog ’n kind was hier by my! So my liefde vir musiek het maar begin by my ma en tydens my grootwordjare. Later jare, ná die groep opgebreek het, was ek naweek in en naweek uit by die kerk se musiek betrokke en dit is waar ek verder myself geleer het (ek het nie ’n dag se musiekles agter my naam nie!). En so het my talent maar ontwikkel – ek het letterlik met die oog gesteel. My gunsteling- klassieke komponis is definitief JS Bach.

Noem iets wat baie min mense van jou af weet.

As gevolg van my kerkjare en die feit dat ek in ’n Pinksterkerk grootgeword het, het ek ’n baie groot liefde vir pinkstermusiek ontwikkel. Soos die jare aangegaan het en al hoe meer kerke oorgeskakel het na ’n charismatiese approach en hul musiek verander het, het my grootwordjare en die pinkstermusiek met die mooi ou koortjies my bygebly. Ek dink wat baie min mense weet, is dat ek en ’n paar vriende in ’n stadium gereeld bymekaargekom het (ons doen dit nog steeds) en dan maak ons video’s van die pinksterkoortjies op ons fone. Ons het toe in ’n stadium ’n Facebook-groep gestig met die naam Pinkstermusiek, wat eintlik maar net vir ons vriende en familie was en die mense wat na hierdie tipe musiek verlang. En dié groep het al so gegroei oor die laaste ruk dat dit nou al amper op 12 000 lede staan. So dit bewys maar net dat daar steeds ’n gemis is na daardie tipe musiek. So wat min mense weet is dat ek nog redelik aktief is met daardie musiekgenre.

Daar was baie blydskap oor die feit dat jy vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het, maar ook baie teenstand. Hoe hanteer jy kritiek?

Jong ja, die negatiwiteit het ek in ’n mate verwag. Ek het wel nie gedink dit gaan so groot wees nie. Ek het ook nie gedink my inskrywing gaan so ’n groot hype veroorsaak nie. Ek sien negatiwiteit as ’n baie diep donker gat waarin baie mense partykeer sit, en omdat hulle hierdie negatiwiteit koester, is alles om hulle ook maar negatief – jy embody later hierdie negatiwiteit. So vir my is negatiwiteit iets wat ’n mens onderkry of intrek as jy dit toelaat. Maar ek verkies die lig en om te wandel in die lig en om weg te bly uit hierdie dinge wat mens sal onderkry en breek. Mense se opinies sê uiteindelik meer oor hulle as wat hulle van my sê. Die manier hoe hulle mense slegsê as hul jou nie eers ken nie, spreek boekdele van wie en wat hulle is as mens. So ek laat nie mense se opinies my definieer nie.

Noem vier goed wat jou op jou gelukkigste maak.

Ek sit nou juis hier en praat met jou terwyl die reën op die sinkdak val, en daar is nie tans iets wat ’n boer meer gelukkig as reën kan maak nie. As ek daaroor praat, word ek sommer emosioneel. Die mense kry swaar en ek was in ’n stadium baie betrokke by Boere in Nood. Ek het al baie swaarkry gesien, maar daar is so ’n groot vreugde vir elke boer en elke mens as die reën begin val, want dit is maar net ’n teken dat daar weer hoop is. Mens kan weer ’n bietjie deurgaan en aangaan vir die volgende jaar.

Musiekmaak saam met my vriende is ’n groot passie vir my en maak my verskriklik happy.

Om mense te sien lag en gelukkig wees maak my gelukkig. Ek sal partykeer by ’n koffiewinkel net sit en mense dophou. En dan kan jy sien wanneer mense kwaad of gestres lyk. Mense wat lag, straal altyd ’n positiewe energie uit hulle uit en dit is regtig iets wat my in die lewe baie aantrek – om mense te sien lag en gelukkig wees.

Die vierde ding is maar net om lief te hê. Ek is ’n ou wat daarvan hou om te gee, en om iemand lief te hê is die ultimate vorm van dit wat jy binne jou het te ervaar. So om iemand lief te hê is definitief een van die dinge wat my baie gelukkig maak.

Wat doen jy vir ontspanning?

Die ding wat ek die meeste doen om te ontspan is om na ’n lang dag net agter my klavier in te skuif en my hart uit te speel vir die Here. Dit help baie vir frustrasie en stres en al sing my honde partykeer saam met die eerste paar note en ek hul eers moet stilmaak, geniet ek dit tog om saans net hier te sit en te speel.

Boer Damian is op sy gelukkigste agter die klawers. (Foto: verskaf)

Lees Boer Damian se profiel hier. Hier is sy video:

  • Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai

Lees ook

Boer kry sy pasmaat ná "Boer soek ’n vrou"-brief

Boer soek 'n vrou: leer ken vir Boer Graham

Boer soek 'n vrou: 'n Onderhoud met die geheimsinnige Boer Theunis

Boer soek 'n vrou: Vinnige vrae vir Boer Hentie

Boer soek 'n vrou: Wie is Boer Willem?

  • 7

Kommentaar

  • Robert van Staden

    Ek is mal oor boer Damian, maar verduidelik asseblief vir my wat Boer soek 'n vrou met letterkunde uit te waai het?

  • Christene schoonber

    Damian, ek is mal oor jou pinkstermusiekblad, ek self in in n Spadereen gemeente en om net na die koortjies te luister bring 'n groot kalmte oor my.

  • Damian, ek dink jy is n baie spesiale mens - ek geniet jou sin vir humor baie - ek geniet jou baie en ek kan sien jy is 'n genuine ou - sterkte met jou toekoms en verhouding en dankie dat jy die program interessant hou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top