Boer kry sy pasmaat ná "Boer soek ’n vrou"-brief

  • 4

As Damian Engelbrecht die eerste gay boer kon wees wat vir die gewilde TV- werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou ingeskryf het, kan hy mos maar dieselfde doen. So het vriende Normie Eckard (40), wat al 22 jaar in ’n rolstoel is, probeer aanmoedig.

Synde ’n adrenalienbelaaide avonturier, het dit nie veel oorreding gekos om hom te oortuig om te besluit om in te skryf nie. “Dink net wat dit vir die bewusmaking van gestremdes kan doen!” het hy opgemerk.

Hy het egter besluit dat hy eers ’n groter huis op sy familieplaas naby Brits gaan bou vóór hy ernstig begin vrousoek. Pas is hierdie planne op Facebook uitgeblaker, of Kupido slyp sy pyltjies. Met sy innemende glimlag en sterk, bruingebrande voorarms sou hy waarskynlik soveel vroueharte geraak het dat bokse vol briewe by sy plaashuis sou opdaag. Mense kyk immers al lankal verby sy rolstoel.

Maar ou liefde roes nie, al was hy destyds salig onbewus van die feit dat Anita Groenewald (nou 36) as ’n graadnege-leerling, wat eintlik in graad agt moes wees, op skool malverlief op hom was. Hy was immers die blonde rugbyheld in matriek – ’n knieknakker onder die skoner geslag.

“Hy het my nie eers raakgesien nie. Ek was heeltemal buite sy liga!” lag sy nou nadat Normie vir haar ’n heerlike aandete voorberei het en ’n skuimbad met kerslig en al getap het. 

“Ja, sy was my sussie se ouderdom, dus het ek nie eintlik van haar geweet nie,” vertel hy met ’n tikkie boetvaardige spyt.

Gelukkig het alles intussen verander.

Anita het aanvanklik vir Normie ’n Facebook-vriendskapversoek gestuur. Normie kyk aspirant-Facebookvriende se profiele altyd eers behoorlik deur voordat hy ’n vrienskapversoek aanvaar.

“Maar toe ek die girl sien, lyk sy vir my so mooi dat ek die versoek dadelik aanvaar het.”

Hy lag uitgelate as hy vertel dat sy vinger nog nie eers die “aanvaar”-knoppie behoorlik gedruk het nie toe sy daarop reageer.

Anita, ’n aanvallige aptekers-assistent, het moed bymekaar geskraap en al die ander moontlike belangstellendes voorgespring. Sy het vir Normie ewe kontant-voortydig so ’n regte uit die hart Boer soek ’n vrou-brief in haar mooiste handskrif geskryf. 

Nou is al sy Boer soek ’n vrou-planne van die baan en al die moontlike hoopvolles se hand in die as geslaan. 

Anita vertel dat sy net op ’n dag oor Normie besluit het: “Dis nou of nooit! Ek het die nag wakker gelê, die briefie geskryf en vir hom ’n vonkelwynontbyt plaas toe gebring.”

Normie sê: “Ek het dit glad nie verwag nie!” Maar dis duidelik dat hy sedert daardie dag nog nooit ophou glimlag het nie.

“Ek het ’n paar keer by haar huis gaan koffie drink en ’n week later het sy weer by my kom kuier. Ek het dadelik iets besonders omtrent haar raakgesien. Sy skrik nie vir ’n uitdaging nie, sy het vir die eerste keer in haar lewe saam met my gaan visvang en sommer twee blinklywe wal toe gebring.”

Hierdie episode het hom so beïndruk dat hy besluit het dis nou tyd vir ’n behoorlike afspraak. Hy wou iets vir haar doen waarvan sy hou.

Ook nie links nie en synde ’n romantiese siel, het sy voorgestel dat hulle ’n fliek onder die sterre kyk. Dit was ’n reënerige aand en so kon hulle ewe snoesig op ’n kombers lê. 

Gevra wat haar na hom toe aangetrek het, vertel Anita (’n enkelma van drie dogters) dat Normie benewens die feit dat hy aantreklik is en sy ook van sy manier van dinge doen hou. Hy het sewe punte op Facebook genoem wat gaan oor hoe verhoudings behoort te wees. Sy het dit geraam en het gevoel sy moes hom eenvoudig beter leer ken en haar eie verhaal met hom deel.

“Normie is ’n uitgaande mense-mens wat hou van saamkuier en altyd deur vriende en kennisse omring word.”

Toe Normie by haar huis kom kuier, wat glad nie rolstoelvriendelik is nie, was sy beïndruk met die wyse waarop hy eenvoudig getrou aan die spreekwoord “’n boer maak ’n plan” die struikelblokke ewe rustig hanteer het.

“Hy doen soveel meer as ander wat die voorreg het om te loop,” vertel sy bewonderend.

Toe Normie in matriek was, het hy alles gehad. Hy was hoofseun,’n sportheld wat ’n sportbeurs verwerf het, is gekeur om Regte by RAU te gaan swot en het nooit gesukkel om meisies te kry nie. Dit was ’n uitgemaakte saak dat Normie provinsiaal en dalk selfs nasionaal rugby sou gaan speel.

Toe gebeur die ondenkbare. ’n Fratsongeluk keer Normie se hele lewe binne sekondes onderstebo. Sedertdien kon hy nie meer loop nie, laat staan nog rugby speel – dít waarvoor hy geleef het.

Normie het daarna in ’n stadium sy eie sport- en avontuurskool, Arendsnes, op die plaas begin nadat hy aanvanklik by ’n sportskool gaan uithelp het.

Hy het besluit dat daar drie dinge is waarvan hy hou: reis, avontuur en uitreike om ’n verskil in ander se lewens te maak. Toe stig hy Ventures4Jesus om ’n platform hiervoor te skep. Dit het tot sewe avonture in sewe dae en sy eie YouTube-kanaal gelei.

Hy en ’n vriend, André Nel, is Tuinroete toe waar hy elke dag iets nuuts aangepak het – vierwielmotorfietsry, valskermsweef, valskermspring, ritsblits waar jy bo boomtoppe sweef, skubaduik, haaihokduik en diepseevisvang.

Sy duikinstrukteur het hom ingelig dat dit sy beste vriend, Eric Nefdt, se droom is om ’n Guinness-wêreldrekord op te stel deur in ’n Spidermanpak van Pretoria na Lüderitz in Namibië te hardloop. Hy het toe vir Normie gevra of hy sal belangstel om dit saam met hom te doen. Dit is ’n afstand van byna 1 600 kilometer. 

“Ek het daaroor gebid en besluit om vyf kilometer per dag vir Ventures4Jesus te doen deur my rugbyrolstoel te stoot. Dit was soms moeilik aangesien dit net ek en Eric op die pad was,” vertel hy.

Behalwe vir die feit dat sy nogal sag op die oog is, het Normie ook dadelik diepte en integriteit by Anita raakgesien. “Ons deel dieselfde waardes. Sy het ’n toekomsvisie. Ek is self ’n dromer en ’n spirituele mens.”

Albei is gek oor die plaaslewe. Anita het self op ’n plaas naby Brits grootgeword. Haar pa het nie geboer nie, maar hy wou gehad het die gesin moet na aan die natuur leef.

Anita is op 16 getroud en haar oudste dogter is al uit die huis. Maar Normie wat nog altyd gek oor kinders was – hy rig ook ’n laerskool rugbyspan af – kom baie goed met hulle oor die weg.

“Die feit dat Anita hulle alleen grootgemaak het en daar nie ’n vaderfiguur was nie, maak dit in ’n mate makliker,” vertel hy.

Anita is tydens ’n familiebraai aan Normie se ouers voorgestel en sy is sowaar die eerste meisie wat sy ouers se goedkeuring wegdra!

Hy bederf Anita graag deur vir haar te kook en te braai, koffie in die bed te bring en kospakkies met ’n briefie daarby vir haar werk in te pak.

En hoe bederf sy hom? “Ek sal maar my sokkies moet optrek,” vertel sy.

Maar nou ja, as ’n vrou die moed gehad het om eerste flikkers te gooi, kan sy seker maar nog so ’n rukkie lank op haar louere rus, of hoe?

  • Foto’s: verskaf

Lees ook

Boer soek 'n vrou: Leer ken die diepsinnige Boer Damian

Boer soek 'n vrou: 'n Onderhoud met die geheimsinnige Boer Theunis

Boer soek 'n vrou: leer ken vir Boer Graham

Boer soek 'n vrou: Vinnige vrae vir Boer Hentie

Boer soek 'n vrou: Wie is Boer Willem?

  • 4

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Verduidelik asseblief vir my mooi wat dit met letterkunde uit te waai het? Hoekom verskyn hierdie op LitNet en nie in Rooi Rose nie?

    • Beste Sandra
      Die letterkunde is nie LitNet se enigste fokus nie.
      Ons het onder meer ook 'n hele leefstylafdeling waaronder hierdie artikel gekategoriseer is.
      Vriendelike groete
      Remona Voges

  • Ek dink LitNet kan beter doen as hierdie tipe artikels. Populariteit is nie 'n goed genoeg rede nie.

    Die "Leefstyl" leuse is: "stimuleer jou sintuie .... " Die enigste sintuig wat hierdie artikel stimuleer is reuk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top