Boer soek 'n vrou: 'n Onderhoud met die geheimsinnige Boer Theunis

  • 4

Die immergewilde TV-reeks, Boer soek ’n vrou, se twaalfde seisoen is tans op kykNET te sien. Remona Voges het ’n onderhoud met die misterieuse Boer Theunis gevoer. 

Hallo! Jy is iemand wat hou van avontuur. As jy kon kies, waarheen sou jy die graagste wou reis en hoekom?

Ek sal baie graag vir Suid-Amerika wil verken op ’n motorfiets, veral vir die natuurskoon en verskillende kulture. Na die Ooste se kant vir Thailand, Viëtnam, Kambodja, oa Son Doong-grot en verder vir Kroasië, oa die Plitvice-mere, om net ’n paar te noem. Daar is nog baie.

Wat is van jou gunstelingplekke wat jy al in Suid-Afrika besoek het?

Sjoe, daar is ’n paar plekke wat ek weer sal besoek. In die Wes-Kaap al die klowe, soos Witels, Kromrivier-abseil en Suicide Gorge, en dan ook die Cederberge. Verder hou ek van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natalse kus, plekke soos Sedgefield, Nature’s Valley, Hogsback, Port St Johns, St Lucia. En natuurlik die Krugerwildtuin en Sun City.

Boer Theunis by Witels (Foto: verskaf)

Wat doen jy graag vir ontspanning en is dit vir jou belangrik dat jou meisie of vrou jou belangstellings deel?

My ontspanning kan aktief wees of rustig. Ek geniet dit om te stap in die berg, fiets te ry en te gym, maar ek geniet ook die strand, dans, kuier by vriende, om in my tuin kreatief te wees en Netflix. Dis vir my belangrik dat sy die meeste van dieselfde belangstellings het, sodat jy darem sekere goed saam kan geniet, maar natuurlik realisties nie alles nie. As sy nie deelneem nie, kan sy ten minste net belangstelling toon.

Watter eienskappe trek iemand na jou toe aan?

’n Plat-op-die-aarde-persoon met ’n goeie humorsin wat nie alles te ernstig opneem nie, maar wat ook ’n bietjie sense kan praat. Iemand wat darem na haarself kyk en ook die buitelewe geniet. Ek kyk amper meer na ’n oulike persoon as ’n mooi een, want hulle is mooier van binne.

Wat was vir jou die grootste uitdaging van Boer soek ’n vrou?

Die kameras het maar ’n tydjie gevat om aan gewoond te raak en dan natuurlik is die hoeveelheid kamerawerk baie meer as wat mense dink. Buiten dit wou ek die drie dames op die plaas almal dieselfde hanteer, dus nie een voortrek nie en almal gemaklik laat voel. Dit was moeilik, want hulle let die fynste besonderhede op.

Hoewel jy nie ’n wynboer is nie, het jy tog daagliks te doen met druiwe. Wat is jou gunstelingwynversnit?

Ek verkies definitief rooiwyn, waarvan pinotage seker eerste op my lys is.

Lees Boer Theunis se profiel hier. Hier is sy video:

Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai

Lees ook

Boer kry sy pasmaat ná "Boer soek ’n vrou"-brief

Boer soek 'n vrou: leer ken vir Boer Graham

Boer soek 'n vrou: Wie is Boer Willem?

Boer soek 'n vrou: Vinnige vrae vir Boer Hentie

Boer soek 'n vrou: Leer ken die diepsinnige Boer Damian

  • 4

Kommentaar

  • Aangename man die, hartseer wat gebeur het, hy is handsome alles in een pakkie... jammer die girls was blind.

  • Ek dink boer Theunis is n baie diep, maar interessante man. As ek so n paar jaar jonger was, dan het ek ingeskryf.😄

  • Hi Theunis, jy's 'n wonderlike en lieflike man. Ons paadjies sal definitief kruis. Ek hou van jou. 🥰🥰🥰

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top