
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Hinterland
Skrywer: Piet van Rooyen
ISBN: 9781067235048
Uitgewer: Naledi
In Piet van Rooyen se nuutste roman, Hinterland, vind ons ’n voortsetting van sy fassinasie met Afrika en sy inwoners. Dit is interessant dat hierdie roman, wat op een vlak die soeke na die mistieke gorillas is, in Jane Goodall se sterfjaar verskyn. Ek het jare gelede ’n lesing van haar in Edmonton bygewoon en het sedertdien groot respek vir die aaprasse ontwikkel. Net soos met sjimpansees, deel ons immers ongeveer 98 persent van ons DNS met hierdie primate.
Die naamlose hoofkarakter in Hinterland is lid van ’n navorsingsekspedisie en doen hom voor as ’n linguis. As voorbereiding vir sy rol, bestudeer hy o.a. die taalkommunikasievermoëns van Koki, die bekende vroulike gorilla Hanabiko (Koki) (oorlede in 2018) wat haar lewe grootliks in aanhouding deurgebring het, en waardeur Francine Patterson, met haar aapverwante taaleksperimente, groot bekendheid en omstredenheid verwerf het.
Reeds met die aanvang van die roman, wat in drie dele verdeel is (Die see, Die woud en Die gorillas), bevind die leser hom-/haarself midde in die Afrika-hinterland (iewers tussen niks en nêrens, ver van die sg beskawing, vgl bl 140) – diep in die binneland van Wes- en Oos-Afrika (Gaboen, Kameroen?). Die verhaal begin met ’n flits wat eers teen die einde van die roman in perspektief geplaas word (bl 141). Wat die reisigers hier sien, waar murasies van ’n verlate hospitaal staan, is verstommend en pakkend. Onder andere sien ons linguis ses figure in rolstoele, “koppe benerig soos skedels ... die tande oopgetrek tussen die lippe deur, omring deur spinnerakke, met halfvol glasies voor hulle, waarvan druppels vog stadig in die strooitjies afsak”. Is dit werklik? wonder die leser onwillekeurig. Reeds hier, op die eerste bladsy, word die rede vir die ekspedisie duidelik gestel: “om na die oorblywende stories van vrylopende gorillas te kom luister”. Die feit dat die ekspedisie na stories, oorlewerings en fabels op soek is, aktiveer dan ook die tweede betekenis van die romantitel: hinterland as area wat buite die bekende of sigbare bestaan. ’n Vrou uit die stam bevestig dat daar “in hierdie oorgeblewe brok van beskawing voorvalle bekend is van vroue wat deur manlike gorillas lastig geval is” (eufemisties gestel – outeur). Ek meen dat ’n moontlike interpretasie van die slot van die roman deur hierdie eerste gedeelte vooruitgeskou word: Is dit wat ons linguis sien en ervaar werklik, of bly dit buite die bekende of sigbare?
In die eerste gedeelte stel ons effe twyfelagtige eerstepersoonsverteller die leser aan die ekspedisielede voor en berig oor hul avontuurlike seereis al langs die weskus van Afrika op. Presies wanneer hierdie reis onderneem word, is onduidelik en bevestig die feitlik bonatuurlike atmosfeer wat deurgaans deur hierdie leser ervaar is. Die skip waarmee hulle reis, is oud en het slegs die basiese navigeertoerusting – heel moontlik om ongesiens deur wetstoepassers uit die ontwikkelde Kaap weg te glip. Lede van die yl ekspedisie is eerstens natuurlik die kaptein, ene Generaal la Paz, ’n jagter, ’n navigator, ’n kok, twee botaniste, twee kampassistente, asook ’n enkele dierkundige. Die feit dat die dierkundige ’n aanvallige vroulike karakter, is, stel romanse of liefdesdriehoeke in die vooruitsig. Annegret se voorstelling van haarself as dierkundige vir wie navorsing op ingehokte primate met weersin vervul, bevestig haar werklike betrokkenheid by die doel van die ekspedisie: om gorillas in hul natuurlike habitat te ontmoet en saam met hulle te leef. Kommunikasie met ander primate en die rol wat tolk en taal in die totale skepping speel, vorm deur Annegret en die ek-verteller se interaksies ’n belangrike draad deur die verhaal.
Afdeling een en twee berig uitvoerig oor die uitmergelende avonture wat die ekspedisie beleef. ’n Werklik hartverskeurende oomblik tydens die seetog is wanneer Mateo (jong seun van die skipper) verdwyn – dalk oorboord geslinger of self van die skip afgespring. Dit is ’n moment waarvan veral Annegret moeilik kon wegstap. Die tweede gedeelte (Die woud) vorm die grootste deel van die teks en verhaal hoe die tog gaandeweg verval in ’n doellose geslinger/“’n willose sloftog” (bl 94) in die verkeerde rigting (of was dit?). Die verhongerde ekspedisielede ly erg onder koors en ander ontberinge. Hulle word bygestaan deur plaaslike inwoners, melaatses en waterboesmans om riviere te navigeer en meer oor die bestaan van gorillas te wete te kom. Hierdie gedeelte bevestig deurgaans Van Rooyen se uitmuntende kennis van die hart van Afrika, nie net van die ondeurdringbare woude en plaaslike bevolkings nie, maar ook van die fabels en mites van die streek. Inligting oor die Nandi-beer en die menslike maar mistiese gedrag van die gorilla (“die hoogste of eerste wese”, bl 98) word deurgaans in die teks geïntegreer, onder andere deur vertellings en voorlesings deur die Generaal, uit sy lêer asook uit Die avonture van Paul du Chaillu, savage Africa (1863), edm. Feit en fiksie loop vir die ekspedisielede ineen. Annegret het ’n baie diep fassinasie met die Kriptodierkunde, ’n studieveld oor vreemde legendariese diere. Hinterland adem die geur van Afrika, wat soms as “maagdelik” beskryf word:
Die boskaas waardeur ons ploeter is uitbundig in sy malse wasdom, ’n ekstase van groei: bome, bosse, dorings, spinnerakke, liane, kruipers, rankers, xerofiete, blomme ... (bl 66)
Uiteindelik eis die ekspedisie ’n (te) groot tol. Wat in die laaste afdeling met die verteller, die jagter en die blonde koningin van die gorillas gebeur, sal nie verklap word nie. Maar die meesleurende teks het hierdie leser laat wonder: Het die mens ontwikkel of gedegenereer uit die oerinwoners van Afrika, verwysende onder andere na die opgrawings in Sterkfontein waar die skedel van me Ples gevind is? Worstel die mens uiteindelik steeds met die gorilla in homself? Hoewel daar aspekte (bv karakterbeelding) mag wees wat sekere lesers as onbevredigend sal ervaar (vir my was die slagspreuke op die flaptekste bv oordrewe), is Hinterland ’n boek wat in die kerskous van elkeen wat Afrika liefhet, hoort – ’n heerlike en misterieuse spanningsroman, uitgegee deur Naledi.
Lees ook:
Die mens agter die skrywer: ’n lesersindruk van Piet van Rooyen se Die rooi boks



Kommentaar
Uitstekende resensie, Piet Van Rooyen.
Wel gedaan. Ek het uitgekyk vir hom in Bargain Books, maar was weereens teleurgestel. Ek moet Woensdag weer in gaan en sal hom laat bestel. Nou kan ek nie meer wag nie. Dit klink na klassieke Van Rooyen. Jy het my geleer om die donker kant van die menslike aard te verken. Dit kom toenemend uit in die goed wat ek tans skryf.
Ek was twaalf keer by die berggorillas in Bwindi en twaalf keer by die sjimpansees van Kibale, asook by die Jane Goodall-eiland in Victoria-meer. Elke keer was dit uitsonderlike ervarings. Die beste was toe ons een slag deur 'n trekkende trop gorrillas meegesleur is op 'n woudpad. Dit was so ruig, dat ons niks anders kon doen as om saam te trek nie. Op 'n stadium het die silwerrug in my nek geblaas en gewonder hoekom ek stop en kyk. Hy het my mooi laat verstaan dat ek by die program moet hou. Die Ishasha-rivier op die Kongo-Uganda-grens is een van die mooiste plekke op die planeet.
Daar is iets magies aan daardie woude. Dit wakker allerhande goed in die binneste aan. 'n Mens voel die siel van Afrika daar sterker as elders.
Van Rooyen kyk diep in die siel van Afrika en weet.
Skote Van Rooy!
Dankie Emma vir 'n baie goeie opsomming van en kommentaar op Hinterland. Dit beskryf die gevoel wat posvat as mens die verhaal lees uitstekend.
Daar is 'n broeiende atmosfeer van afwagting, met so 'n tikkie Joseph Conrad - amper filmies. Mens verbeel jou jy ruik die bos en hoor die geritsel van voeteval op die blaartapyt. Die skrywer ken duidelik die omgewing, en het sy huiswerk oor die gorillas deeglik gedoen.
'n Meesleurende verhaal!
Ek wonder ook gereeld of die mens steeds met die gorilla in homself worstel... Hinterland klink beslis soos nog 'n fantastiese verhaal uit hierdie Afrika-liefhebber se pen – sien uit om dit te lees!
Jane Goodall het net mooi niks met gorillas te doen gehad nie....
En Mrs Ples is nie by "Sterkstroom" gevind nie, maar by Sterkfontein.
Jis Chris/Elaine/Emma
Dis interessant hoe die onderbewuste/onbewuste werk in sulke gevalle. Mens glo jy het iets van Afrika, iets van die primitiewe, in jou eie are, maar is nie seker vanwaar dit kom, en hoe dit uiting vind in mens se persoonlike lewensverhaal nie. Baie van die mites en gelowe/bygelowe waarmee ek die teks deurweef het, kom uit ou reisverhale, antropologiese traktate en ontdekkingstogte wat ek oor Afrika gelees het, tesame met my eie reise en my eie ervarings in die wye kontinent. Ek het gedog my uiteindelike (geheime) ontknoping van “Hinterland” is dalk vergesog t.o.v. die gorillas en dat die leser dit maar met 'n knippie sout moet neem, maar lees toevallig juis vandag - vir die eerste keer - in die reisverhale van Alberto Moravia “Which Tribe do You Belong to?” (1974) van die swart drywer van die ekspedisie waarvan Moravia deel was, wat so uitgelate agter die olifante aangehardloop het, om hulle terug te roep, sodat hy verder saam met hulle kan reis. Dis 'n ware stukkie menslik-dierlike drama, gelaai met patos en verlange. Victor, die drywer, is in ‘n “Sendingskool” opgelei, en is op die uiterlike af heeltemal verwesters, maar het darem vir hom 'n vrou uit sy eie stamverband uitgesoek, eerder as 'n stadsmeisie. Hy is agterdogtig teenoor alle vreemdelinge van – wat hy beskou as - “vyandige” stamme, maar toe hy die olifante sien, spring hy dadelik uit van agter die stuurwiel en hardloop die grootvoete agterna: “I saw Victor laughing nervously and anxiously as he ran towards the elephants, with feet so light that they seemed not even to touch the ground. As he ran, he waved his arms, as if to call the elephants back and make them understand that he wanted them to wait for him, because he wished to join them and walk with them through the bush. At that moment Victor, without being conscious of it, seemed to express the longing of the African for the Africa of the time before the colonial invasion, the Africa of the village and the great plains of which, when with us, he spoke with so much contempt.” (p. 197)
Hinterland het die ou "bal-en-klou-gevoel" aan hom. Soos Melville die Pequod beskryf het, so kry mens die indruk van die houtboot, die Gilbert Guy. Trouens die hele ekspedisie voel verouderd en klassiek.
Geen hommeltuie en nuwerwetse tegnologie, soos in hedendaagse Afrika-ekspedisies, wat soveel nuwe data en kennis openbaar nie.
Net 'n groep eienaardige verlooptes te voet op soek deur die oerwoud na mitiese gorillas.
Piet, jy het nog altyd 'n slag getoon met jou beskrywing van die Afrikaner se verhouding met ander lede van ons kontinent. Dit kom sterk uit in hierdie verhaal. Daar is 'n gemaklikheid, 'n empatie en 'n begrip. Ten spyte van populêre opinie, politieke klimaat en geskiedkundige revisionisme, het ouens soos ek en jy en vriend André Du Pisanie ons nog altyd sterk vereenselwig met die medebewoners van ons Afrika. Soos Shaunn Johnson in The Native Commisioner sê dat ons nie Afrika kan bemin en nie sy mense nie.
Dit is vir my een van die boodskappe van hierdie boek.
Te veel "wit Afrikane" buffer hulle self teen Afrika se mense met hulle toegeruste viertrek voertuie en daktente, sekuriteitskomplekse en Oranias, dat hulle net meer vervreemd raak van hulle wonderlike kontinent.
Dit neem sokker speel saam met klonge, rylooptogte deur Afrika op 'n olielappie, wildernisvure, skouer aan skouer saam met Himba, Barakwena en Bunyoro, eet uit dieselfde pappot en olifant uit mielielandjies verwilder om te begin verstaan. Jy het hierdie dinge van vroeg af vasgevang.
Hierdie is een van jou meer toeganklike boeke, soos Agter 'n eland aan.
Jy vang ook die gees van die oerwoud vas. Ekself was op vele gorilla- en sjimpansee-ekspedisies. Jou woudbeskrywings en die invloed en impak wat oerwoude op die menslike gees uitoefen is waar. Dit wakker iets primordiaal aan. Dit herinner ons dat ons ook eens op 'n tyd daar gewoon het, lank voordat ons uit gestap het oor die savannas en grasvlaktes. Niks kan jou voorberei vir jou eerste aangesig tot aangesig met 'n berggorilla nie.
Hinterland se karakters, elk met sy eie persoonlikeid (en afwykings?) vloei mooi inmekaar. Die skrywer lei die leser op die fisieke pad wat hulle moes vat, die see en woud. Beide waarmee hy goed bekend is deur ervaring en belewenis. Sy eie filosofie van die natuur word telkemale geaksentueer.
Die tragedie wat op die see afspeel, het 'n groot invloed op almal. Waarmee almal worstel tot by die Gorillas.
Dit lyk of die swendelaar-linguis steeds worstel tot aan die einde met die vraag wat oor sy gemoed hang; wat is ek …'n lafaard of 'n held.
'n Baie interessante boek.
Vir my was dit die mooiste storie wat ek ooit gelees het - baie goed geskryf dus, Piet van Rooyen.
Dwarsdeur die storie het ek die gevoel gekry dat dit 'n speurverhaal is met verskuilde wenke oor die gorillas - dat daar 'n koningin is.
Uiteindelik was dit nie vir my 'n verrassing wie die koningin is nie, maar dit word goed verdoesel deur die storie se beskrywing van die reisigers se beweging deur die woud en die storieverteller se ervaring van homself en die ander karakters.
Ek kon nie die boek neersit nie - die gebeure en ervarings het my aandag vasgevang.
Ek kan nie wag vir die skrywer se volgende boek nie.