Piet van Rooyen: Rondom ’n boorvuur

  • 1

Piet van Rooyen-boekomslae: Reisiger te perd, Amatola, By die brandende berg

Die Namibiese skrywer Piet van Rooyen het op 17 Julie vanjaar 70 geword. In 1973 het hy met ’n digbundel, Draak op die erf, gedebuteer. Hy was toe 20 jaar oud. Rondom ’n boorvuur is sy tweede digbundel en dit verskyn 10 jaar ná sy debuut.

n Toegewyde poësieleser heg waarde aan elke woord en klank in ’n gedig. Nog voordat die leser die bundel oopslaan, sou hy enkele semantiese afleidings uit die titel kon maak. Wat kan ’n mens jou dan by die frase Rondom ’n boorvuur alles voorstel?

Die voorsetsel “rondom” dui op die teenwoordigheid van mense, en hulle sit in die nag rondom ’n vuur. Dit skep ’n veilige en miskien selfs gesellige ruimte. Buite die vuurkring is daar die moontlikheid van ’n bedreiging uit die donkerte: mense met kwade bedoelings, of wilde diere.

n Boorvuur is een wat op die Boesmanwyse aan die gang gekry is. Die digter verduidelik dit soos volg in ’n e-pos (22 September 2023) aan my: Dit word gedoen “met ’n harde stok wat in ’n sagte stok (gewoonlik iets soos mangetti/manketti/mongongo –Schinziophyton rautanenii) met vinnige handbewings tussen die handpalms geboor word totdat die boorsels (skaafsels) begin gloei, waarna dit op ’n bolletjie droë gras oorgeplaas word, en dan met die asems aan te jaag tot die gras vlamvat”.

Die woord “boor” verteenwoordig menslike tegnologie. Volgens die Griekse mitologie het Prometheus vuur by die Olimpiese gode gesteel en aan die mense op aarde geskenk. Die aanwending van vuur – soos om yster te smee – was die oorsprong van die beskawing en kultuur. Dit het die mensdom in staat gestel om hom teen die aanslae van wilde diere te beskerm en om die aarde met behulp van implemente te bewerk en te ontgin. Dit het mense ook bemagtig om mekaar met dodelike wapens te vernietig.

........
Binne die bestek van drie woorde word dus ’n hele kosmos opgeroep met natuur, mens en gode.
........

Binne die bestek van drie woorde word dus ’n hele kosmos opgeroep met natuur, mens en gode.

Dit wat betref die leksikon. Fonologies is die herhaling van die r-klank opvallend. Die frase open en sluit daarmee (met ’n derde r wat in “boor” resoneer). Die klein kosmos van die vuurkring word klankmatig deur dié herhaling bymekaargehou.

Dit is die vrye interpretasievlugte wat die poësieleser kan onderneem as hy gekonfronteer word met ’n losstaande, swewende frase binne ’n poëtiese sfeer.

Die volgende stap sou wees om vas te stel of die moontlikhede wat die titel suggereer, deur die gedigte in die bundel bevestig of weerspreek word. Die poësieleser lees dus eers assosiatief (wat hom onbeperkte vryheid gee) en dan binne ’n konteks (wat weer daardie vryheid mag inperk).

Nêrens in die bundel staan ’n vers waaruit die titel gehaal is nie. Dit bly ’n onafhanklike frase met ’n eie poëtiese lading.

........
Reeds in die tweede gedig van die bundel, “die storie van die boesman en die volstruis”, speel vuur ’n belangrike rol. Die gegewe kom uit die Boesman-folklore en is ’n variasie op die Prometheus-mite. Volstruis was die oorspronklike besitter van vuur wat hy onder sy vlerk weggesteek het. Die mantis het dit agtergekom en hom in ’n strik gelei sodat hy die vuur by hom kon steel.
........

Reeds in die tweede gedig van die bundel, “die storie van die boesman en die volstruis”, speel vuur ’n belangrike rol. Die gegewe kom uit die Boesman-folklore en is ’n variasie op die Prometheus-mite. Volstruis was die oorspronklike besitter van vuur wat hy onder sy vlerk weggesteek het. Die mantis het dit agtergekom en hom in ’n strik gelei sodat hy die vuur by hom kon steel. Hy het dit toe aan die Boesmans gegee.

volstruis draf op sy tone,
hupja oor die sand.
hy kyk met sy ghoenoog
teen die wind in,
hy lig sy fopvlerke wintie,
en hy soek sy vuur,
hy soek boesmansekind.
waar is jy, peperkorrelman?
wat maak jy met my vuur?
hupja hupja oor die sand
           hupja
                      hupja
                                 hupja.

Nog ’n gedig waarin vuur voorkom, is “wolf 2”. Die “hiënawolf” sit “buite my vuur” en lag. Toegegee, die digter voel meer verontwaardig as bedreig deur die wilde dier se “ha ha ha”. Maar die vuurlig funksioneer tog as ’n grens tussen die mens en ongetemde natuur.

ha ha ha,
lag hiënawolf.
hy sit buite my vuur
en skud met sy kroesvel.
ek voel ek word vir die gek gehou.
sy waterogies lag vir my.
ek voel potsierlik.
ek wonder wat besiel hiënawolf
om vir my te lag.
ha ha ha
há há há.

Ander gedigte waarin die mens op die uitkyk vir wilde diere moet wees, is “ek, my vrou en krokodil” en “luislang”. In die eersgenoemde gedig is die spreker nogal uitdagend en vol bravade in die teenwoordigheid van sy vrou:

ek loop met my vrou in die biesies rond.
krokodil lê met sy lang tong in die modderwater.
hy lê mooi stil met sy skubstert.
krokodil lê en wag.
ek en my vrou hand
aan hand deur die biesies.
ek loop met my panga aan my sy
en my spiere in my arms.
krokodil het net sy tande en sy skubstert.
pasop, krokodil – jy gaan jou gat sien!

Daardie “panga” is natuurlik met behulp van Prometheus (of Volstruis) se vuur gemaak.

Die tema van mense wat mekaar bedreig, kom in twee gedigte ter sprake: “oorlog 1” en “oorlog 2”. Albei handel oor die Grensoorlog wat in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika en in die suide van Angola afgespeel het. In die eerste een is “doringdraad” en “masjiengeweernes” onteenseglik produkte van die smeeproses. In die tweede word die gevaar in die toonaard van ’n kinderrym besweer:

bomwerper, bomwerper in die lug
vlieg tog na jou nessie terug
gooi jou bomme op ’n ander plek uit
en moenie op mý kop kom skyt.

Die ander betekenismoontlikhede van die bundeltitel wat ek geopper het, word bevestig deur die gedig “God”:

die mense van die vuur
het hurkend in ’n kring gaan sit,
geskuif, geskraap, gesnuif, gespoeg,
die mae gekrap en suur
gepoep; toe staan die oudste op
en praat met goedgepaste woorde
van die groot god van die geeste;
party het gesnik, ander het hul kop geskud,
een egter, ’n vrome man, het gesê
dat, toe hy in vervoering was,
het hy //gauwa gesien, en dié
was ’n grys mis wat op die vlakte lê.

........
In dié gedig is Van Rooyen die volkekundige aan die woord. In sy gepubliseerde lesing “Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman” vertel hy wat hy by die Ju/hoansi-Boesmans in Namibië geleer het: “die vermoë om die taal van die natuur en van die diere te verstaan (die spoorsny), die vermoë om die Self te verloor (trans) en die vermoë om volledig met die Ander deel te word (die dans).
........

In dié gedig is Van Rooyen die volkekundige aan die woord. In sy gepubliseerde lesing “Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman” vertel hy wat hy by die Ju/hoansi-Boesmans in Namibië geleer het: “die vermoë om die taal van die natuur en van die diere te verstaan (die spoorsny), die vermoë om die Self te verloor (trans) en die vermoë om volledig met die Ander deel te word (die dans). By die dans vind daar vereenselwiging met die ander mense in die klein gemeenskap plaas, met die trans vereenselwiging met die geestesryk, met die dooies, met die diere en met God [...] Met die spoorsny weer vereenselwig die jagter hom met sy prooi ...”

//Gauwa is ’n god wat deur die Boesmans vereer word. In sy boek Agter ’n eland aan skryf Van Rooyen: “Wat die gode betref, is daar twee wat belangrik is. Die sterkere woon in die ooste, daar waar die son opkom; die swakkere in die weste, waar die son ondergaan. Die mindere god se naam is //Gauwa [...] Saam met die gode in die lug bly die geeste van die dooies, die //Gauwasi.”

Dié gedig bevat wel deeglik wat die bundeltitel as ’n moontlikheid ingehou het: mense om ’n vuur en ’n mitiese god. Al wat ontbreek, is die byhaal van die tegnologie – die pyl met sy ysterpunt en die boog waarmee gejag word.

Bronne

Piet van Rooyen. 1983. Rondom ’n boorvuur. Kaapstad: Tafelberg.

. 1995. Agter ’n eland aan. Een jaar in Namibië. Kaapstad: Quiellerie.
. 1999. Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman. Langenhovenlesing gelewer aan die Universiteit van Port Elizabeth op 16 September 1999. Seminare, simposia en lesings B27. Universiteit van Port Elizabeth.

Naskrif

Toe ek Piet van Rooyen in ’n e-pos (22 September 2023) vra waarom hy op die titel Rondom ’n boorvuur besluit het, was sy antwoord:

As ek dit nou moet probeer verklaar as geleerde buitestander (sader ? [reg? sadder dalk?] but wiser), sou ek reken dit het met my jarelange fassinasie met die Boesmans te doene, veral tov hulle noue sosiale verbondenheid in die bende, iets waarop ek as sogenaamd beskaafde wese definitief vandag nog jaloers is. Ook iets met die rol dan van die vuur in so ’n gemeenskap en in hulle psige: die storievertellings daarrondom, die transervaring, die reis na verre omgewings en wyer ruimtes, die ritmiese en meesleurende handegeklap van die vroue, hulle dun, smekende stemme, die dwarrelende stof, die vorentoe-geleunde houding van die mans, die voetegestamp, die geslote sirkel-kring, die naglange gesondmaak-rituele, die woedende geskree van die sjamaans, wat nog alles anders. Ook die vae flikkering van die vuurlig, met die glimming van die ver sterre daarbo, die onsekere voorkoms van die skaduwees van die enkele nie-dansende bendelede in die agtergrond, figure wat net sowel lankal-na-verlangde dooies of ander nuuskierige goedhartige wesens kon wees. Ook die noue nabyheid van die vuurmakers tydens die vuurmaakproses, waar hulle met die knieë oopgesper teen mekaar sit en “boor”, die oë stip gevestig op die dralende rokie en die uiteindelik beloofde gloeiing van die eerste kooltjies vuur. 

As mens meer banaal wou raak, het dit dalk iets met voorplanting te doen – ek weet die Ju’/hoansi praat van ’n “manlike” en ’n “vroulike” vuurstokkie.

Lees ook:

Piet van Rooyen (1953–)

Resensie: By die brandende berg deur Piet van Rooyen

Biebouw-resensie: Reisiger te perd deur Piet van Rooyen

Vrugbeginsel deur De Waal Venter: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • Jacobus Swart

    Die digter self moet volledig leser word; dit is die afstand waarvan Daniel
    Hugo ons hier leer. Hierdie is 'n meestersklas; veral vir die digter besig
    met die mikrochirurgie aan eie werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top