Piet van Rooyen (1953–)

  • 0

Gebore en getoë

Petrus Hendrik van Rooyen is op 17 Julie 1953 in Vryheid in Natal gebore. Sy oupa was ’n renperdteler en ’n Vrystaatse rebel en sy ouma "’n Vrystaatse mooinooi". Sy pa was predikant op die nabygeleë Louwsburg, en volgens een van sy uitgewers se inligtingstuk het sy ma "geskaaf en geslyp, soos ma’s maar doen".

Dis op Louwsburg waar Piet sy verstand gekry het onder toesig van ’n ou Zoeloe, Lucas, saam met ’n hond, Patrys, as speelmaat. Sy ma het by die huis gebly om hom groot te maak.

Toe Piet drie jaar oud was, trek die gesin na Bredasdorp, waar hy in sub A en sub B (vandag graad 1 en 2) op skool was. Vanaf standerd 1 (graad 3) is hy in die Volkskool op Senekal in die Vrystaat waar hy sy laerskooljare voltooi het. Piet vertel self (in sy biografiese skets aan NALN) dat hy net lank genoeg op hoërskool in Senekal was om ’n meisie te kry toe hulle weer moes verhuis – hierdie keer Windhoek toe. Hy woon die Hoërskool Windhoek by, waar hy in 1971 matrikuleer en teen daardie tyd reeds ’n geswore Namibiër was.

Intussen word daar nog drie broers en ’n sussie vir sy ma en pa gebore en sy pa word moderator van die NG Kerk in Suidwes-Afrika (vandag Namibië).

Terwyl hy in standerd een in die Volkskool Senekal met klei sit en speel, hoor Piet ’n stem wat sê dat hy eendag as hy groot is, ’n skrywer gaan word. Hy begin op hoërskool dig met die leiding van sy Afrikaans- en Engels-onderwysers en op inspirasie van die liefde.

Verdere studie en werk

In 1972 is Piet na die Leërgimnasium in Heidelberg in Gauteng, waar hy ’n offisierskursus voltooi en na Walvisbaai en Katima Molilo uitgeplaas word.

Piet begin sy naskoolse studie in 1973 aan die Universiteit Stellenbosch. Hy studeer BA met Volkekunde, Bantoereg en -administrasie en Afrikastudie as hoofvakke en verwerf hierdie graad cum laude. In 1976 verwerf hy sy BA Honneurs in Ontwikkelingsadministrasie (cum laude) en in 1977 sy MA oor die inheemse reg van die Kavango. Hy doen vir verskeie maande veldnavorsing hiervoor in die Kavango. Piet neem in 1978 op Stellenbosch waar as dosent in die plek van sy professor wat oorsee was. In Desember 1978 word hy aangestel as arbeidsverhoudingsbeampte by ’n titaanmyn noord van Richardsbaai in KwaZulu-Natal. Hy gee ook op Richardsbaai vir ’n jaar lank onderwys.

In 1982 word Piet aangestel in ’n doseerpos in die Departement Ontwikkelingsadministrasie aan die Universiteit van Stellenbosch en voltooi sy doktorsgraad in 1983 in die studieveld Arbeidsverhoudinge getiteld Zuluwerkers in ’n Noord-Natalse nywerheidsonderneming – bedinging, die dissiplinêre kode en grieweprosedure en die hantering van nywerheidsverhoudingsprobleme.

Piet skryf verskeie akademiese boeke oor arbeidsverhoudinge voordat hy "daarmee ontgogel raak" (volgens ’n uitgewer se inligtingstuk).

Piet se eerste bundel skoolverse, Draak op die erf, word in 1973 by HAUM gepubliseer. André P Brink het dit in Rapport (22 April 1984) beskryf as ’n "bundel wat naas heelwat onbeholpe en pretensieuse gerymel ook ’n klompie baie bekoorlike liedjieverse bevat".

Tien jaar later, in 1983, verskyn Rondom ’n boorvuur, ’n tweede digbundel, by Tafelberg. André P Brink het dit beskou as ’n "herdebuut", aangesien twaalf van die beste verse van Draak op die erf ook die kern van Rondom ’n boorvuur vorm.

Brink (Rapport, 22 April 1984) het voortgegaan: "Dis meestal aangename liedjies dié, sonder veel pretensie: met Boerneef se speelsheid, maar sonder sy woordvirtuositeit; met die konkrete liriek van Louw se Klipwerk, maar ook weer sonder die essensiële primitiwiteit wat daardie poësie so 'laai'. Soos wat mens ’n 'naïewe skilderkuns' aantref, sou ek hier dan ook eerder van naïewe poësie wou praat: soms in die mooiste sin van die woord, soms in die swakkere."

In Die Burger (26 Januarie 1984) het EC Britz die bundel as volg opgesom: "Dit is genietlike gedigte om te lees: onpretensieus en onliterêr, oorspronklik, eg-Afrikaanse en outentiek-Afrika-georiënteerd, konkreet, aards, plek-plek primitiwisties, speels, moreel suiwer sonder om naïef of vroom te wees."

In 1988 verskyn ’n boek by Southern Uitgewers oor onderwater visjagtery. Piet lewer ook gereeld artikels oor populêre onderwerpe aan tydskrifte, veral oor wilde diere.

Kort voor Namibië sy onafhanklikheid verkry, keer Piet in 1989 terug na sy hartland. Hy huur ’n plaas in die Gobabisdistrik, waar hy begin boer voordat hy later sy eie plaas koop. Nadat die filmmaker-antropoloog John Marshall weg is, aanvaar Piet die pos by die Boesmanstigting naby Tsumkwe. Dit was geleë in die gebied wat destyds bekend was as die Namibiese Boesmanland of N//oaq!’ae. Hier het Piet saam met die San-mense gejag, geleef en spoorgesny en het hy en hulle saam iets van beesboerdery probeer leer. Dit was hier waar Piet vir Paul Chapman ontmoet het. Chapman was ’n filosoof, draadspanner en mensejagter, en gesprekke met hom het die grondslag vir Piet se eerste roman, Die spoorsnyer, gelê.

Piet is getroud met Annalie Schoombie en hulle het ’n seun en ’n dogter. Sy tydverdrywe is visskiet en perde-uithouritte en hy verwerf sy Namibiese nasionale sportkleure vir beide. Hy is ’n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Namibië en boer deeltyds met Arabierperde en volstruisperde op sy "mooi oop savanneplaas met koedoes, hartbeeste, vlakvarke en kameelbome" naby Gobabis. Sy lewenstaak is om te skryf.

In 2002 het hy sy Sabbatsjaar in Dunedin in Nieu-Seeland deurgebring. Hy wou vir vyf jaar daar gewoon het – "vir die see, die natuur (so reg uit The Lord of the Rings) en die mense (onder andere die Maori’s – mooi sterk mense vol mana, of krag). Maar Afrika het steeds my gees volledig beet. Al sou ek soos Karen Blixen noodgedwonge moes uit, sou my hart daar bly." Sy verblyf in Nieu-Seeland het voor- en nadele gehad. Hy vertel aan Sonja Loots (Rapport, 21 April 2002) dat "[dit] effens verwyderd [is] van die bloedskandelike verhouding tussen sommige skrywers, maar net te ver vir stimulering".

Piet se eerste roman, Die spoorsnyer, word in 1993 bekroon met die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romankompetisie se eerste prys en verskyn in 1994 by Tafelberg Uitgewers. Die sameroeper van die beoordelaars vir die groot romanwedstryd, Cecile Cilliers, sê dat die verhaal van Paul Chapman in die Suid-Afrikaanse konteks so belangrik is omdat dit diep ingaan op verdeelde en verwarde realiteite en ander waardes. "Hier is ’n oerverteller aan die woord. ’n Onstuitbare verhaal. Briljante taalgebruik. ’n Nuwe dimensie aan die Afrikaanse vertelkuns" (De Kat, Januarie 1993). Hy ontvang ook die CNA-prys vir debuutwerke en tydens dié geleentheid skud hy Nelson Mandela se hand.

Tydens die plegtigheid met die oorhandiging van die Sanlam en De Kat-prys vertel Piet aan Lize Odendal (De Kat, Januarie 1993) dat hy nie ’n natuurlike skrywer is nie. "Ek boer self met beeste en skryf maar so in die aande. Die spoorsnyer het my drie maande geneem om te skryf. Die navorsing twee jaar. Ek praat eerder maar op papier. Noem my maar skugter en stil. Ek praat moeilik met mense."

Die spoorsnyer vertel die verhaal van ’n joernalis en ’n polisieman wat saam met ’n spoorsnyer (Chapman) op die spoor is van ’n groepie Khoi wat gevang moet word omdat hulle beeste geslag het wat nie hulle eiendom was nie.

"Op die spoor vertel hy die verhaal van sy eie makwording, sy bewustheid van eerlikheid en plig, sy betrokkenheid by die Boere, sy trots op sy spoorsnyvermoë," skryf Cecile Cilliers in Insig (November 1994).

Odendal skryf in De Kat: "Met die ontvouing van die verhaal, word die agtervolgers egter die agtervolgdes en andersom; kom elkeen se verhaal tot sy reg; groei die karakters in hul nuwe omstandighede in en is daar nie ’n antwoord oor reg of verkeerd nie. Soos altyd wen die woestyn en niemand anders nie."

Oor Chapman vertel Piet aan Odendal dat hy ’n Khoi van die Ju/’hoanstam van Namibië is en gebruik is om sy eie mense te jag. Piet het hom ontmoet toe hy in die Nyae Nyae-gebied in die noordooste van Namibië onder die Khoi gewerk het. "Paul het weggeloop van die boere wat hom so gebruik het en by my kom werk. Hy het my gehelp met die opleiding van die ander Khoi in die omgewing."

Vir Cecile Cilliers is daar baie temas in die roman te vind: "Die vervreemding tussen mens en mens, en mens en die omgewing, die verhouding tussen werkgewer en werknemer, tussen die persepsies van beskawing en van barbaar. (…) Ten grondslag van die boek lê die tema van agtervolging, van spoorsny, en die kuns word volledig deur Paul uitgelê, veral binne die raamwerk van mense soek. (…)

"Die boek is nie sonder foute nie, maar hierdie vertelvermoë vergoed ruimskoots vir ’n effens stamelende begin, vir die gebrek aan ontginning van sommige temas (byvoorbeeld die skrywer se teenwoordigheid) en – by digterlikheid – ’n soms té bewuste taalgebruik. Die stem van die storieverteller is nie dood nie. In Die spoorsnyer leef hy opnuut."

Wat die verhaal van Die spoorsnyer vir John Miles (De Kat, Desember 1995) so merkwaardig gemaak het, is "die gemaklike wyse waarop half-dokumentêre getuienis en die simboliese trekke van ’n geestelike reis met mekaar versoen word deur ’n uiters boeiende verhaalmatigheid. Die uitvoering geskied so soepel en pretensieloos, so 'vanself' dat menige skrywer dit Van Rooyen moet beny."

’n Persoonlike joernaal van sy "Boesmanland-ervaring", Agter ’n eland aan: een jaar in Namibië, word in 1995 by Queillerie gepubliseer.

Dit is "[d]ie of skreiend eerlike, outobiografiese relaas van die gesin se verhuising, en die eerste jaar van hulle verblyf in Namibië. Ten spyte van die persoonlike aard van hierdie relaas, voel die leser egter nooit verleë, óf dat hy/sy teen wil en dank betrek word by ’n huishoudelike krisis nie," sê Riana Scheepers oor Vrouefokus: Afrikaans Stereo. Sy beskou hierdie boek as een "wat jou laat met ’n vreemde droefnis, maar ook met die voldoening dat daar tóg êrens in die wêreld nog ruimte is vir iemand wat na aan die natuur wil leef. Want die onrustige skrywer wat 'op soek was na sy siel' het vrede gekry – hoe onvolmaak ook al. Aan die einde van sy eerste jaar in Namibië haal hy die profeet Jeremia aan wat sê: 'Daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.'"

John Miles skryf in De Kat (Desember 1995) dat die maand-vir-maand optekening van Van Rooyen se wedervaringe in Namibië ses maande voor die verkryging van onafhanklikheid begin. En die skrywer teken ’n prentjie wat op ’n nugtere wyse die uiteenlopende politieke klimaat van daardie tyd uitbeeld. Vir Miles is Agter ’n eland aan ’n "onderhoudende verslag van iemand met ’n skerp sintuiglike ontvanklikheid vir die veld en omgewing."

Tom Gouws was die resensent in Beeld (4 September 1995), en vir hom is Van Rooyen se skryfstyl gemaklik en ontspanne en is daar genoeg lekker vertellinge, asook pragtige beeldende taal en humor, maar daar is ’n oormaat aan onbenullige besonderhede in die boek: "Dit kon met goed ’n derde gesny geword het én dit sou die leesplesier verhoog het. ’n Vindingryke toevoeging tot die genre, is die omboorselsketse van Bennie Kruger.

"Omdat daar so min boeke van hierdie aard in Afrikaans verskyn, is Agter ’n eland aan ’n welkome toevoeging. Soos met byvoorbeeld Sue van Waart se boeke is dit ’n rykdom van stories en ervarings wat braak lê vir ander skrywers om te ontgin. Wat op sigself behoort te getuig dat in dié ruwe, onpretensieuse vorm dit reeds allerheerlike leesstof is. Dit is ’n storie met siel."

Vir sy derde roman, Die olifantjagters (1997), ontvang Piet in 1998 die M-Net-Boekprys. Hy vertel self "[die] tema van die moderne mens se verlies van ’n natuurlike 'Paradyslike' bestaan en sy staat as 'kaal voor God' bly hom interesseer in die beeld van die boesman wat hom help om die vae spore van die eie verlore Self deur die woestyn van sy onbewuste te sny".

Met die ontvangs van die M-Net-prys doen Piet toe sy bedankings in Engels en veroorsaak ’n klein herrie. Sy verweer was dat "ek so onkant betrap [was] toe my naam genoem is, dat ek net begin praat het"; dat die praat in Engels was, skryf hy daaraan toe dat hy in Namibië gewoond is om Engels te praat wanneer hy toesprake doen. Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat Die olifantjagters ’n "hartboek" is. "Dis ’n storie wat ek in my binnegoed gevoel het. Ek het geglo daaraan" (Die Burger, 1 Junie 1998).

Aan Nieuwoudt (Beeld, 4 Junie 1998) vertel hy dat Die olifantjagters grootliks gebaseer is op Moby Dick. "Soos die walvis in dié boek is die olifant ’n reusagtige, onskuldige dier. Maar die diere kan ook gevaarlik wees. Dit simboliseer die stryd tussen goed en kwaad."

Piet van Rooyen se kennis van die natuur en Boesmans is duidelik in Die olifantjagters te sien. Dit is ’n boek waarin mens én dier se oorlewing uitgebeeld word.

"Ek het twee jaar lank saam met die Boesmans gebly en gewerk," vertel hy aan Nieuwoudt. "Ek het toe kennis gemaak met die mens se stryd teen die natuur. Dié mense is daagliks in ’n stryd om selfbehoud. Hulle lewe weke sonder kos en dae lank sonder water. Maak die stryd hulle beter of slegter? Ek kan nie ’n antwoord daarop gee nie. Maar daar is ’n edelheid in hulle wat ek bewonder."

Die twee karakters Huger en !Asa in Die olifantjagters is gegrond op ’n Duitser en sy Boesmanvrou met wie Piet kennis gemaak gedurende sy verblyf by die Boesmans. !Asa is deels die stukrag agter die groep mense wat Maxamesi, die olifant, jag, en die karakter van die skrywer in die boek en !Asa kommunikeer deur middel van lyftaal en gebare, aangesien hulle nie mekaar se taal kan verstaan nie.

Hieroor brei Piet verder uit teenoor Nieuwoudt: "Die Boesmanvrou wat ek in die veld ontmoet het, het my gefassineer. Sy was ’n weeskind wat uitstekend aangepas het by die Duitser – ’n moeilike mens om mee saam te leef. Sy het hom van die veld geleer en hy het my weer geleer."

Op Radiosondergrense se destydse boekeprogram, Skrywers en boeke, skryf Petra Müller dat Piet van Rooyen ’n skrywer is wat met Afrika stoei. "In sy boeke is Afrika die hoofpersonasie, en die mense wat die land bewandel, dryf oor haar heen soos miertjies oor ’n enorm ontoegeeflike liggaam wat dikwels die groot ervaring bied, en ook dikwels die groot dood."

Vir Müller begin die drade van die verhaal by twee groepe mense: die primitiewe kamp van ’n organisasie waarin twee oorsese vroue saam met die Afrikaanse skrywer probeer om die Boesmans te versorg en op te hef, en die jagkamp van Huger en sy Boesmanvrou !Asa. Die skrywer self is, volgens Müller, ’n wese sonder persoonlikheid wat "sy persona van Huger af vang. Huger verskaf definisie, en so ook sy wispelturige, half-wilde vrou. Mettertyd suig hulle die skrywer in hul dampkring op."

Die derde mag wat ook op die toneel verskyn, is die olifant Maxamesi, wat gejag word vir sy ivoor om te help met die befondsing van die Stigting vir die Boesmans.

Müller sluit haar resensie af: "Daar is heelwat onopgeloste paradokse in die boek, soos dat hierdie onvervangbare, edele dier, Maxamesi, uitgeroei word ten behoewe van die heeltemal efemere voordeel van die groep verworde Boesmans. En daar is dinge wat my as leser geïrriteer het, soos die heeltemal onnodige naamloosheid van die ek-personasie, en sy onwaarskynlike verledeloosheid; asook sy ewigdurende filosofiese gebabbel oor God en die wêreld met mense wat daar klaarblyklik nog minder van weet as hy. Maar so is Afrika nou eenmaal: dis ’n plek van paradokse, en dus juis daar, op die skarnier van die onwaarskynlike, waar dikwels ook die bliksem van begrip inslaan. En dit gebeur hier ook, en sleur jou op die ou end mee.

"Ja, Piet van Rooyen is op sy beste ’n meesterverteller en hy lewer hier ’n paar onvergeetlike tonele."

Herman Wasserman is die resensent van Die olifantjagters in Die Burger van 17 Desember 1997. Vir hom is Van Rooyen se beskrywings van die Boesmanland en die obsessiewe jagtog op die olifantbul só filmies dat die leser ingetrek word by hierdie omgewing en persoonlikhede en nie gou weer gelos word nie.

"Die olifantjagters is tegelyk ’n boeiende avontuurverhaal, met spanning, machoïsme en aksie, én ’n letterkundige werk waarin die jag ’n wyer metaforiese lading kry. (…)

"Die storie is redelik eenvoudig: die verteller wil ’n jagprojek van stapel stuur vir toeriste, met behulp van ’n beroepsjagter. Die uiteindelike doel is om geld in te samel om die Boesmans op te hef. (…)

"Maar behalwe die sentrale jagtema word ander sake ook in die roman aangeroer. Hierdie newetemas – die Boesmankultuur, die erotiek, die onlangse geskiedenis van Namibië – word moeiteloos ingeweef by die hooftema, sodat hulle saampraat en aan die jagtema ’n nog groter metaforiese reikwydte verleen. (…)

"In uiters vaardige passasies skep Van Rooyen ’n gevoel van tydloosheid en beelde van hallusinasies wanneer die soektog afwentel, en bied ’n aangrypende beeld op ’n wêreld wat in sy wreedheid en wydsheid groter as die mens se vernietigings- en oorwinningsdrange is.

"Daar is nog veel te sê: die manier waarop fabels en mites binne die Westerse waarneming opgeteken word, die verhouding tussen mens en natuur en die mens wat sowel vriendelik as vyandig is, die simboliek. Maar net soos op ’n jagtog, wil ’n mens nie te veel stilstaan nie. Ten minste nie voordat jy nie die verhaal, wat jou meesleur tot op die einde, ingehaal het nie."

Van Rooyen se vierde roman, Gif, verskyn in 2001 by Protea Boekhuis en dit handel oor ’n uitmergelende perdewedren. Piet sê met verwysing na die titel: "Gif bring dood én lewe. Gif is ook teengif, soos die mooie, oftewel kuns, ’n teengif teen die dood is" (Die Burger, 19 Desember 2001).

Gif handel oor ’n man wat saam met twee broers, Frans en Baltur, na die diep binneland van Botswana reis, skryf Chris van der Merwe in Die Burger van 27 Mei 2001. "Frans het ’n teorie dat die bron van die hele Suider-Afrika se waterstelsels in dié ongerepte wêreld bestaan, en dat dit ook die bron is van al die diamante in Suider-Afrika.

"Die verteller besluit om saam te gaan omdat hy ’n besondere merrie by die broers gekoop het wat hy op die reis wil leer ken en wil brei vir ’n groot wedren.

"Wat volg, is ’n verhaal vol avontuur en ontbering. Van Rooyen skryf met groot kennis van die wêreld wat hy uitbeeld, en die storie het ’n meevoerende krag. Dis egter veel meer as ’n avontuurverhaal; ook die mens se soektog na betekenis en innerlike genesing word weergegee."

Die belangrikste tema is die innerlike verskeurdheid van die mens. Aan die een kant van dít wat die menslike natuur uitbeeld, staan die twee broers met Frans as die verteenwoordiger van die rasionele kant en Baltur die verteenwoordiger van die skadukant. Maria is ’n Boesmanvrou wat saam met hulle reis en sy is nie alleen die beliggaming van die wysheid van die natuurmens nie, maar ook die offerfiguur, skryf Van der Merwe verder.

"Die gif waarna die titel verwys, is ’n ambivalente simbool: dit hou lewensgevaar in, maar dis ook ’n gawe, dit bied die moontlikheid tot redding; lewe en sterwe is trouens nou met mekaar verbonde."

Van der Merwe sluit af: "Daar is skrywers wat ná ’n paar jaar vergete raak, daar is ander wat mettertyd vir hulle ’n langdurige plek in ’n literatuur verower. Van Rooyen hoort myns insiens tot die laasgenoemde groep. Deur die duidelike unieke stempel van sy werk, die diepsinnige lewensvisie, sy groot kennis van die onderwerpe waaroor hy skryf en bowenal deur sy vermoë om ’n boeiende storie te vertel, is hy een van die Afrikaanse skrywers wat werklik saak maak."

Mathilda Smith (Volksblad, 3 September 2001) beskryf Gif as ’n avontuurverhaal wat die leser van bladsy een af verlei om die werklikheid agter te laat en vir ’n rukkie saam met ’n groepie kleurryke karakters ’n interessante reis mee te maak. "Van Rooyen se visuele manier van skryf laat die wispelturige Afrika-kontinent voor die geestesoog lewe. Jy voel naderhand jy ken die karakters persoonlik. Die oormekaarskuif van grense – waar fiksie die leser se alledaagse bestaan absorbeer – is ’n wesenskenmerk van die verhaal."

In 2002 verskyn Die brandende man, ook by Protea Boekhuis. In hierdie roman vorm nie Afrika nie, maar Amerika die agtergrond van die verhaal. Die verteller en sy vriendin reis na Black Rock City in die Nevada-woestyn om die fees van die Brandende Man te ervaar. In die werklikheid het hierdie fees sy ontstaan gehad toe Larry Harvey ná ’n liefdesteleurstelling ’n pop op ’n strand in Kalifornië aan die brand gesteek het om sy hartseer te besweer. Dit het ’n jaarlikse gebeurtenis geword waar duisende mense saamkom.

In Die Burger van 6 Mei 2002 skryf Chrisna Beuke-Muir dat Van Rooyen se manlike hoofkarakters dikwels nie beheer oor hulle lot het nie en redelik passief staan ten opsigte van die verhaalgebeure. "Die brandende man is geen uitsondering nie: die ek-verteller word die speelbal van die noodlot, hoewel die inligting wat hy vooraf op die internet kry, hom waarsku dat hy nie as toeskouer die fees kan bywoon nie, maar dat 'jy kom om te oorleef … te skep … te ervaar … (en) om te vier' (pp 7, 8).

"Ironies bly die hoofkarakter ’n toeskouer tot aan die einde as hy teen sy wil ingesleep word 'om te ervaar'.

"Die soektog na die verlore Self kan selde van religieuse kwessies geskei word, en in Die brandende man gebruik Van Rooyen met vrug die idee van ’n ritueel wat sterk op die religieuse steun. Deur die aanloop tot en die voltrekking van die ritueel van die groteske man-konstruksie wat aan die brand gesteek word, word die onskuldige en die bose teen mekaar uitgespeel en slaag Van Rooyen daarin om te wys hoe vaag hierdie skeidslyn tussen goed en kwaad is."

Beuke-Muir is van mening dat gesofistikeerde manlike lesers Die brandende man interessant sal vind – dit is dan ook die lesersmark wat die skrywer in gedagte het met sy romans. "Die ritueel van die brandende man wat blootgelê word, bied boeiende leesstof wat die Afrikaanse leser in Afrika konfronteer met kwessies rakende (onder meer) identiteit teen ’n religieuse agtergrond in ’n vreemde, interessante wêreld weg van Afrika."

Fanie Olivier resenseer Die brandende man in Beeld (6 Mei 2002) en sluit af: "’n Goeie Afrikaanse leser kan nie nalaat om Die brandende man te lees met ’n agterkop vol van ’n soortgelyke 'inlywing' van Henry van Eeden in Sewe dae by die Silbersteins nie (…). Tref ’n mens dan ’n vergelyking, kom Leroux se voorspellings van byvoorbeeld ’n dierekarnaval en ’n Walpurgisnag binne die idee-konteks oortuigender en roerender uit die verf.

"Daar is oomblikke in Die brandende man dat Piet van Rooyen se skryfkuns ’n mens na jou asem laat snak, vol bewondering. Maar ek kan die gevoel nie afskud dat hierdie eintlik ’n kortverhaal is wat soos ’n wegholperd koers gekies het anderpad toe en homself in die romanwoestyn gaan staan en verdwaal het nie."

Die brandende man is binne twee maande klaar geskryf. Piet het die idee gekry nadat hy ’n televisieprogram oor die fees gesien het en meer inligting op die internet raakgeloop het. "Ek was nie in die liggaam by die fees nie (ook dalk maar goed), maar wel in gees en gedagtes. Talle van die beelde in die boek het werklike teenvoeters."

Na die publikasie van Die brandende man sê Piet in Rapport: "Ek is ’n Christen, hoewel miskien nie altyd in tropverband nie. Ek bedink my verhouding met God op ’n baie individuele manier. Hoewel Die brandende man uiters dekadent is, glo ek dat genade juis uit sonde te voorskyn kom. (Nou darem nie presies soos Raspoetin, wat geglo het dat hoe meer jy sondig, hoe groter word die genade nie.) Ek beskou myself as ’n geredde sondaar (die tollenaar, nie die priester nie)."

Ná ’n digstilswye van bykans 20 jaar word ’n digbundel, Goedsmoeds, in 2002 deur Protea Boekhuis uitgegee. In ’n onderhoud met Sonja Loots van Rapport (21 April 2002) vertel Piet dat die gedigte in Goedsmoeds "so stuk-stuk gekom" het in hierdie 20 jaar. 

Vir Bernard Odendaal (Volksblad, 8 April 2002) is Goedsmoeds ’n goeie titel vir die bundel, "want verskillende betekenisse van die titelwoord vind neerslag in verskillende fasette van die bundel.

"Eerstens sou ’n mens kon sê dat die tematiese verskeidenheid in die bundel paradoksaal verbonde staan juis deur die onoorsaaklike 'goedsmoedse' saamgevoegdheid van uiteenlopendhede waaroor dit dikwels gaan. Partykeer werk die jukstaponering van teenstrydighede komieklik ontluisterend. Hiervan is die gedig, 'Fakir', waarin die Mohammedaanse bedelmonnik dit met flitsende knieë in die gimnasium uitsweet 'op ’n doodstilstaande, geen tree gevorderde gerekenariseerde gesimuleerde simpele oefenfiets', ’n treffende voorbeeld.

"Ander kere verkeer die saamgedronge teenstellings van die werklikheid verwonderlik in ewewig. (…) Sekere tematies verwante reekse gedigte, wat met opvolgendes of voorafgaandes in kontras staan, is wel te onderskei in die bundel. Formeel is daar egter geen indeling van die verse nie."

Odendaal sluit dan af: "Die digter slaag egter grootliks daarin om styl en vormgewing oortuigend met die tematiek te versoen. Goedsmoeds is ’n digterlike stap vooruit vir Van Rooyen, ’n bewys van sy literêre veelsydigheid."

Vir TT Cloete (Beeld, 1 April 2002) mislei die bundeltitel die leser in ’n "soort avontuurlike, eg digterlike misleiding. Die gedigte is wel pretensieloos, party verse is amper sierloos, en dit is juis hul aantreklikheid, maar dit is nie sommer goedsmoedse gedigte nie. Dit is uitsonderlike poësie, op ’n uitsonderlike manier geskryf, vol onverwagse verrassings."

In 2003 is Piet die redakteur van Toewaaisand, Christoffel Coetzee se roman wat postuum gepubliseer is. In die nawoord tot die boek skryf Piet: "Ek het ten nouste met die groei en redigering van Op soek na generaal Mannetjies Mentz saamgewerk, en Chris het ook die nuwe manuskrip in sy verskillende stadiums met my bespreek. Dit was vir my byna vanselfsprekend dat ek die manuskrip ná Chris se dood verder sou wou vat. Die gebeure speel hulle die keer, anders as Mannetjies Mentz, in Namibië af en het te doen met plekke en omstandighede wat my ook raak. Ek het aan die werk gespring."

Piet skryf verder in sy nawoord oor sy werkwyse met Toewaaisand: "Ek dink ek het Chris goed geken. So goed soos vriende mekaar kan ken. Omdat geen mens egter ten volle in ’n ander se kop kan inkyk nie, was daar waarskynlik dele in die teks waarin ’n mens Chris nie volledig sal kon omvat nie, waar die teks waarskynlik nader aan die 'waarheid' sou lê as Chris dit self sou kon klaarskryf. Dit sou waarskynlik ook veel langer geneem het om tot stand te bring. Ek het my taak gesien as die invul van die grootste gapings en wou daarom nie veel meer as die helfte van die teks bydra nie, anders het dit my storie geword en nie meer Chris s’n nie. Ek sou eerder die leser wou betrek by die 'klaarskryf'.

"Ek en Chris het verskeie gesprekke oor die gebeure gehad. Dit is dus moeilik om te sê waar wedersydse beïnvloeding opgehou het. Soms is ’n hoofstuk rondom ’n enkele paragraaf gebou. Ek het kwaai geredigeer aan halfgeskrewe dele.

"Uiteindelik, glo ek, is daar tussen die twee van ons ’n produk bymekaargesit wat op sigself, onafhanklik van elkeen se aandeel, meriete het; ’n tipiese geval van die geheel wat uiteindelik groter raak as die som van die dele."

Op ’n vraag van Sonja Loots hoekom van sy boeke by Protea Boekhuis gepubliseer is en nie by Tafelberg nie, is sy antwoord: "Dis ’n lang pad en nie altyd goeie storie nie. Dit kom maar daarop neer dat hulle my manuskripte afgekeur het, nie ek vir húlle nie. Dikwels is gesê dis ‘van top literêre gehalte, maar ’n boek vir mans – en Afrikaanse mans lees nie’!"

Akwarius, wat in 2005 by Tafelberg gepubliseer is, lui ’n hele nuwe rigting in Piet se skryfwerk in. Hy self sien dit as "’n wetenskaplike speurroman oor die dekodering van oorlogsdolfyne met die mens as teenpool in die evolusiehiërargie. Hierdie keer is daar geen woestyn en geen aboriginale nie (behalwe die dolfyne self)!" (Rapport, 21 April 2002).

Akwarius het as hoofkarakter Anton Dreyer wat in Sewastopol in die intelligensiediens werk as dieresielkundige om dolfyne wat gedurende die Koue oorlog as biologiese wapens gebruik is, te demobiliseer. Anton word bygestaan deur Sasja en tussen die twee ontwikkel daar ’n vurige verhouding.

Aan die ander kant staan ’n Switser, Edelweiss, wat aanvanklik vir Anton help, maar later met vier van die intelligentste dolfyne die pad vat. Sasja en Anton volg hom deur verskeie wêreldstede, maar hy kom elke keer weg en laat kriptiese leidrade uit die letterkunde agter wat ontsyfer moet word om die dolfyne terug te kry.

Hierdie boek kry deur die bank goeie resensies en Melt Myburgh skryf in Rapport van 2 April 2006 dat dit "’n vernuftige tapisserie [is] waarin spannende avontuur verweef word met ’n magdom motiewe en simbole uit verskeie verwysingsvelde. Carl Jung se individuasie-teorie dien as skelet waarom die verhaal gebou word – ’n tegniek waarmee Etienne Leroux met sy Sewe dae by die Silbersteins die Afrikaanse letterkunde destyds ligjare vooruit gestoot het. Vir die ondernemende leser is Akwarius ure se genot in die hoogste graad. Soos ’n meesterverteller laat val Van Rooyen deurgaans leidrade waarmee hy lesers noop tot deelname aan ’n opwindende speurtog en raaiselspel."

In Die Burger van 8 Oktober 2005 skryf Martina Klopper dat Piet van Rooyen met Akwarius twee dinge regkry: "Hy boei met ’n interessante storielyn, en slaag daarin om sy leser nuuskierig te maak oor die Russiese letterkunde-reuse."

Piet se volgende digbundel is Kwansuis wat in 2008 deur Human & Rousseau gepubliseer is. Chrisna Beuke-Muir (Republikein, 4 September 2008) skryf dat dit oor ’n diepgang en eerlikheid beskik wat die beste van sy digwerk tot dusver opgelewer het. Sy sluit af: "Oor (en vir) hierdie bundel is nog veel te sê. Hoewel die gedigte nie almal ewe toeganklik is vir die breër leserspubliek nie – soos dit dikwels die geval is met poësie – is die literêre kwaliteit van Kwansuis van so ’n aard dat Van Rooyen met gemak kan saampraat met die gerekendes onder die Afrikaanse digters."

Joan Hambidge (Die Burger, 29 September 2008) skryf dat Piet in Kwansuis oor baie dinge dig: die liefde, die aarde, die see, die dood, vergange dinge en nog ander dinge ook. "Sy verse is oënskynlik eenvoudig in aanbod, maar met elke lees wen dit aan betekenisse wat die digter netjies wegsteek. (…) Soms is die gedigte (vir my gevoel) te vormloos, totdat jy dieper kyk en besef dit is ’n liriese praataanslag. Jy moet die verse hóór. En voel. (…)

"Die temas is dikwels manlik soos in die vele verse vanuit die manlike blikhoek, verse oor jag, ’n ervaring van ’n poolreisiger. En dis reg so. Die feministiese verse kry hier hul teenpool in die manlike ervaring wat eweneens getuig van pyn én ontnugtering."

Hambidge sluit dan af: "Piet van Rooyen is ’n regte digter. Hy is nie kammakastig nie. Om sy woorde aan te pas: Hy breek sy kartetse op ons digkuns."

Neil Cochrane is die resensent in Beeld van 27 Oktober 2008: "Met sy klem op die konkrete bemoeienis met die mens-natuurverhouding en verwondering oor die natuurlike wêreld sluit Van Rooyen met Kwansuis aan by sy vorige werk, alhoewel daar in dié bundel ’n meer deurleefde begrip is vir die onafwendbare verganklikheid van die mens en die gepaardgaande relatiwiteit van alle aardse dinge."

In 2010 verskyn Piet se volgende roman, Etosha, by Human & Rousseau en is dit een van die finaliste vir die ATKV-Prosaprys vir 2011.

Karel Fechter, Etosha se parkhoof, se beheer oor sy teenstropingseenhede is besig om ondermyn te word en dit, tesame met sy al groter wordende administratiewe werk, en sy verhouding met ’n Britse navorser vererger sy probleme. Die voorval wat alles op die spits dryf, is die dood van ’n Himba-hoofman nadat die teenstropingseenhede hom gevang het vir wilddiewery en hom doodmaak. Die hoofman se seun sweer dat hy gaan wraak neem teen Fechter, hoewel dié niks van die saak weet nie.

Met die aanstelling van ’n nuwe parkhoof word die politieke situasie ook aan bod gebring, aangesien die eenhede nie onder hulle vorige vyand wil werk nie. En toe die plaaslike Mafioso ’n aanbod aan die regering maak om ivoor uit te voer, word die kwessie van natuurbewaring ook aangeraak.

Vir Pieter J Haasbroek (Die Burger, 17 Mei 2010) het Van Rooyen die nodige agtergrond om oor so ’n "kontensieuse onderwerp" te skryf. Sy studie in die arbeidsreg en volkekunde en sy kennis as professor in die politieke wetenskap maak hom uiters geskik hiervoor.

"Die uitgangspunt van Van Rooyen se roman is – soos in soveel boeke oor Afrika deesdae – die tema van 'Things fall apart, the centre cannot hold.' (…)

"Hy voldoen uit die staanspoor aan sy lesers se verwagtinge van ondergang; die laaste verteenwoordigers van die ou bedeling moet uit die weg geruim word. Hulle het nie ’n kat se kans om teen die mag van die nuwe regering staande te bly nie. Al waaroor die leser nog kan wonder, is die hóé daarvan: Sal dit minder of meer gewelddadig wees?

"Al is die einde voorspelbaar, is Etosha ’n spannende verhaal wat boei danksy die volgehoue intensiteit van die skrywer se waarneming. (…) ’n Hoogtepunt is sy aangrypende beskrywing van die Himba-kaptein se begrafnis. So kán dit wees, voel dié leser. (…)

"Uiteindelik stel Etosha die ongemaklike vraag wat nóg die skrywer nóg sy lesers kan vermy: Wat is ons verantwoordelikheid nou in Afrika? Ons het – wat die skrywer elders 'die oorspronklike natuurparadys' noem – help vernietig. Is dit reg om ons nou op te hou bekommer oor die einde daarvan?"

Adéle Dempers bespreek Etosha in Volksblad van 26 Junie 2010 en sê die roman het haar van die begin af geboei met spanningslyne wat snaarstyf gespan én behou word.

"Van Rooyen gebruik kort sinne, soms telegramstyl, tog is sy beskrywings uitstekend. Hierdie taalgebruik pas by die gestroopte, harde omgewing en mense en werk die spanning en gevoel van angstigheid op. Die karakters word teen ’n flink pas bekend gestel en karakterisering is op die man af. (..)

"Aanvanklik lees ’n mens Etosha agter sy lekker storie aan, maar op ’n dieper vlak konfronteer dit jou met verskeie aktuele kwessies wat in jou kop draai. Aan wie behoort Afrika? (…) Etosha is ’n sterk roman. Dit ontstel, maar verdien om deur baie gelees te word. Nie net omdat dit ’n goeie storie vertel nie, maar ook omdat dit die leser laat dink en sy grense verruim."

Oor Piet se volgende roman, Rodriguez (2012), stem die kritici nie almal saam nie. In Rodriguez word die verhaal van Skerf Malan vertel. Hy was in Nasionale Intelligensie en is in 1990 onder die naam Rodriguez na Mosambiek gestuur om die Renamo-beweging te infiltreer. Hy word deur generaal Dhlakama en sy manne aan vele toetse blootgestel om seker te maak hy is wie hy veronderstel is om te wees. Hy raak ook betrokke by die vegters se daaglikse lewe, maar tob tog ook oor wat sy rol uiteindelik in die geskiedenis sal wees.

Vir Thys Human (Die Burger, 16 Julie 2012) is hierdie roman ’n bewys dat fiksie beslis vreemder as feite kan wees, maar, skryf hy, "in die hande van ’n bedrewe skrywer kan dit net so oortuigend en geloofwaardig klink."

Van Rooyen het tydens die bekendstelling van Rodriguez erken dat hy nie eers in sy wildste drome sulke dinge soos wat in die boek gebeur, sou kon uitgedink het nie. Rodriguez is dus op ware feite gebaseer.

Human gaan voort: "As gefiksionaliseerde weergawe van ’n veelbewoë hoofstuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en veral die betrokkenheid van die destydse regering in Mosambiek, kan Rodriguez as ’n interessante toevoeging tot die snelgroeiende getal prosatekste oor die Grensoorlog in Suidelike Afrika beskou word. (…)

"Van Rooyen begin sy roman op treffende wyse met die plasing van Rodriguez in die Mosambiekse bos. Die gebeure wat op hierdie kernmoment volg, maar ook allerlei voorvalle wat dit voorafgaan, word beurtelings in die daaropvolgende hoofstukke meegedeel.

"Aangesien die eerste hoofstuk heel dramaties in die historiese presens aangebied word, het ek die keuse om hoofstukke 2 tot 4 van die roman in die verlede tyd te vertel eerder as in die historiese presens (soos wat wel van hoofstuk 9 en verder die geval is), vreemd gevind. (…)

"Hoewel lesers wat ’n tradisionele spioenasieriller verwag, dalk teleurgestel kan wees, wag daar vir die geduldige leser wat bereid is om Rodriguez al lesende op al sy swerftogte te vergesel, ’n baie verrassende en bevredigende ontknoping. En boonop een wat wemel van die heerlikste ironieë."

Marius Visser (Rapport, 15 Julie 2012) is nie baie komplimenterend oor Rodriguez nie. Die roman word as ’n spanningsverhaal aangebied, maar "stuur seine van ’n parodie uit en is gegrond op ’n ware verhaal. Dié elemente werk eenvoudig nie saam nie," is Visser se mening.

"Die helder, meesleurende traksie van Van Rooyen se vorige romans is afwesig. Daar is ’n reeks opeenvolgende episodes van Rodriguez se wedervaringe in die bos, maar geen oorkoepelende intrige nie. Die leser soek verniet na die leidrade wat gewoonlik die ontknoping sou verhelder. Die gevolg is gebeure gelaai met betekenis, maar daar is uiteindelik geen bevredigende uitbetaling nie. Dié doelloosheid dwing mens om die roman as parodie te lees. (…)

"As regte mens is Rodriguez onaantreklik, as aksieheld is hy te passief en besluiteloos, en as ’n waarnemer van die verhoudings tussen mense is hy sy tyd agteruit. Die idees in die boek is nie moeilik om te snap nie en die intertekstualiteit met elke ander Grensoorlog-verhaal is voor die hand liggend. Dis net uiteindelik nie baie bevredigend om die kaf van die koring te skei nie."

Ook in 2012 verskyn daar by Protea Boekhuis ’n roman van Piet van Rooyen onder die titel Vaarwel, klein soldaat. Dit handel oor Jim Thorpe, ’n Skot, se Leër van die Laaste Dae. Thorpe is ’n voormalige huursoldaat wat ’n krygskamp in die Vrystaat stig op ’n plaas met die naam Langlaagte. Thorpe ontmoet in Lourenço Marques (Maputo) twee Chinese susters – hy trou met die een en die ander een word later sy bywyf. Hy het twee dogters, een by elke vrou, en die verhaal speel af wanneer die dogters albei in hul tienerjare is.

Vir Joan-Mari Barendse (Tydskrif vir Letterkunde, 2013) is die saamgooi van gebeure uit verskillende tye hinderlik, aangesien die leser nie die storie in ’n spesifieke tyd kan plaas nie. Daar word van Maputo gepraat en nie Lourenço Marques nie, Chris Hani se moord word vermeld en so ook Nelson Mandela se tydvak as president van die ANC. Nuusgebeure uit 2006, 2007 en 2008 word ook genoem.

Barendse sluit af: "Van Rooyen raak aan interessante temas en skep ’n aantal sterk karakters in Vaarwel, klein soldaat. Die laaste hoofstuk is ’n opsomming van wat (moontlik) van die onderskeie karakters geword het. Hierdie afsluiting kom geforseerd voor. Die verskeie elemente van die roman (die spanningselement, die Suid-Afrikaanse situasie, die Oosterse interteks) word nie suksesvol bymekaargebring nie. Saam met die verwarrende tydsaanduiding veroorsaak dit dat die roman as geheel nie oortuig nie."

In 2013 keer Van Rooyen terug na die poësie met die publikasie van Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde, wat by Protea Boekhuis verskyn.

Piet vertel aan Rudolf Stehle (Die Burger, 17 Mei 2014) dat hy van kindsbeen af baie lief is vir perde en dat hy van toeka se dae af al tuis voel op ’n perd se rug. Sy oupa was van die plaas Rondehoek in die Vrystaat, waar hy ’n perdeteler was. Hy het ook tydens die Eerste Wêreldoorlog perde aan die regering verskaf. Piet is nog altyd ’n ruiter en is ook lid van Namibië se uithouritspan.

Reisiger te perd is op meer as 400 boeke gebaseer en Stehle wou by hom weet hoekom hy op hierdie werkwyse besluit het – om sy perdgedigte op ander se tekste of idees te skoei. Hierop antwoord Piet: "Oral in die klassieke letterkunde duik perde op. Ek het met die leeswerk oor baie jare die idees oor perde kans gegun om op my te groei. Nie alle werke het sulke mooi verwysings na perde gehad nie. Ek het net daardie gebruik wat ’n gedig in die siel gehad het."

Dit is veral die Russiese skrywers wat vir hom uitstaan. Hulle is in die algemeen "perde-mense en Rusland ’n plek vir perde. Dink maar aan die gejaag van die Kosakke oor die steppe. Elke woord in hierdie sin praat perd. Dus is die Russiese skrywers vir my voor in die verstaan van die siel van die perd. Ek praat dan veral van Tolstoi, Iwan Toergenjef, Isaac Babel en Michail Sjolochof: die jagters, oorlogmakers en liefdemakers onder die Russe."

Die buiteblad is ’n nuwe kunswerk deur Jahni Wasserfall wat sy geskep het vir ’n uitstalling in 2013 in Pretoria en heet Somnio (Equus).

Piet verduidelik oor sy keuse van hierdie spesifieke kunswerk: "Wat tot my spreek, is veral die manier waarop perd en ruiter ’n byna ononderskeibare eenheid vorm, amper as ’n soort geesteswese, ’n Centaurus, ’n sterrebeeld."

Johann Lodewyk Marais skryf in Rapport (23 Maart 2014) dat digbundels waarin die gedigte ’n geheel of eenheid vorm, al ’n hele rukkie in Afrikaans voorkom. In Reisiger te perd (sy vierde digbundel) dig Van Rooyen oor die verhouding tussen mens en perd.

"In prosa het hy tekste oor perde uitgelig en daaroor gedig. Daarmee kon hy sy 'digterlike vryheid vrye teuels gee', maar hy het soms net ’n idee uit die bron gebruik. Agterin die bundel is ’n bronnelys van tekste in Engels wat as aanknopingspunt vir die gedigte gebruik is. (…)

"Reisiger te perd bied portrette van tydperke en kulture waarin die perd aktief was. Sodoende kom ’n beeld van Equus caballus met sy verskillende hoedanighede tot stand. Daar is nie altyd ’n aanduiding van die ruimtes en/of landskappe waarin die perde voorkom nie, wat tot ’n vervloeiende beeld van die perd bydra en mooi in die voorplat na aanleiding van Jahni Wasserfall se kunswerk Om van ’n perd te droom (2013) vergestalt word.

"Heel dikwels help die naam van die outeur onderaan die gedig om die leser na ’n bepaalde konteks te lei. (…)

"Reisiger te perd beteken vir Van Rooyen se poësie wat sy roman Die olifantjagters (1997) vir hom as romansier beteken het: ’n onbetwisbare hoogtepunt in sy groeiende oeuvre."

In Beeld van 5 Mei 2014 is Joan Hambidge die resensent en sy beskryf hierdie gedigte wat gebaseer is op ’n ander teks en waarin die skrywer sy eie interpretasie daaraan gee, as ’n "jazz-vertolking van ’n bekende liedjie of melodie. Jy herken die ou wysie, maar die nuwe interpretasie maak van die oorspronklike as ’t ware ’n nuwe kunswerk.

"Om 100 gedigte oor perde te maak (die Pegasus as simbool van die digkuns) is reeds ’n projek van vernuf. En om dit uitsonderlik goed te maak en elke keer die leser te verras met ’n nuwe wending of toepassing, wil gedoen wees.

"En dit is dan presies wat Piet van Rooyen regkry. (…) Dis een van daardie digbundels wat ’n mens met een asemteug lees en met elke herlees bewonder vir die besondere navorsing en herdigting. In die gedig 'kavallerie' (na Stefan Zweig, bladsy 68) sluit die digter: 'so reis ons deur die landskap / net ek en my perd en ons twee se skaduwee / die mees volhardende grys verskuiwende bewys / dat ek deel is van, en lewe en bestaan / vir my is dit heeltemal genoeg'.

"En hierdie vers kan as ars poetica gelees word. In hierdie verse vang ’n mens iets op van ’n digter wat sy manier-van-doen as 'heeltemal genoeg' ervaar. Hierdie is geen digterlike toertjies of afshow nie; net ’n helder kyk na die wêreld om hom. Vanselfsprekend spreek die bundel van geweldige belesenheid, en om van Joseph Conrad, Ernest Hemingway tot Bolaño te kan dig oor perde, wil gedoen wees.

"Party lesers mag vra, maar waar is ’n gedig oor daardie historiese gebeurtenis en hoekom nie hierdie vers nie? Maar onthou, dis sy persoonlike keuse! Hierdie digter is kennelik bedot oor perde, soos ’n gedig van Hemingway dan ook lui. En my gunstelinge is Leo Tolstoi en Iwan Toergenjef.

"wat is lekkerder as om voluit
met die drieperd-slee
deur dik wit sneeu te jaag
die vodkabottels blink in die vuiste.

"Só begin 'troika' van Tolstoi en ja, dit eindig natuurlik in die poorte van die hel.

"Hierdie digter het in 1973 gedebuteer en met hierdie bundel – gebaseer op meer as 400 boeke – steek hy beslis ’n kleim af. Dis eenvoudige, toeganklike verse, maar die skoonheid is opgesluit in hierdie deursigtigheid. Maar dis ook ’n vakman wat só sonder fieterjasies kan dig."

Op LitNet meen Susan Smith dat die bundel as ’n historiese dokument beskou kan word deur die plasing binne die wêreldletterkunde en dit is waar die bundel se grootste krag lê.

"Die gedigte getuig van ’n wye en indrukwekkende belesenheid, en deurlopende intertekstualiteit word op vernuftige wyse met klassieke tekste en outeur (…) bewerkstellig. Terselfdertyd slaag die digter daarin om die gedigte meestal gestroop en toeganklik aan te bied, ’n helderheid wat dikwels bedrieglik kan wees. (…)

"Teen die agtergrond van die klassieke riddertyd versterk die eerste aantal gedigte in die bundel onmiddellik die idee van man as ridder en held. (…) Hierdie beelde van manlikheid is egter nie beperk tot die 'tydperk' wat die eerste gedigte verteenwoordig nie, maar word deur getrek tot die einde."

Smith eindig haar bespreking deur te skryf dat hoewel die bundel knap geskryf is en leesbaar is, dit nie ’n "bruising in die bloed" van haar as leser veroorsaak het nie. "Te veel testosteroon tussen die bladsye vir hiérdie leser se smaak."

Met sy volgende roman, Voëlvry, keer Piet terug na Namibië. Dit word in 2017 deur Penguin Random House gepubliseer.

Hans Kramer, ’n berugte Duitse swendelaar, is die hoofkarakter. Hy vlug na Namibië met sy gesin ná grootskaalse geldelike skelmstreke en met Interpol en die Duitse regering agter hom aan. Hans beland later in die tronk en Gabriella, sy vrou, en kinders trek terug na Europa. In die tronk deel Hans ’n sel met ’n rebelleleier en deur hom ontmoet hy vir Rachel da Silva, ’n prokureur en dogter van Hans se selmaat. Op ’n daaglikse basis besoek sy die prisoniers en leer Hans só ken. Sy sien uiteindelik ook kans om die afgetakelde te red en ook lief te kry. En vir Deborah Steinmair is Rachel die "verpersoonliking van die sterk land wat Hans liefkry".

Steinmair skryf in Rapport (14 Augustus 2016) dat Voëlvry haar ongemaklik laat voel, met gemengde gevoelens. "Bewondering is darem een van hulle. Piet van Rooyen kán skryf. Daarvan getuig die pryse wat hy reeds gewen het. Maar ’n mens wil soms 'hokaai!' roep. Daar is iets bombasties aan sy ongebreidelde verbositeit, iets gedateer. Dit, gemeng met ’n satiriese inslag, vervreem die leser, herinner aan Etienne Leroux op ’n afdag.

"Daar is heelwat sprake van relaas, van narratief. Die skrywer konstateer feite en geskiedenis eerder as om die leser toe te laat om in die oomblik te wees en haar eie afleidings te maak. Hy vertel jou hóé iemand is. (…)

"Daar is lieflike gedeeltes wat die landskap helder voor die leser laat opspring. (…) Die kat-en-muis-speletjie tussen die Namibiese en Duitse owerhede oor die skaakstuk Hans sorg vir spanning en ’n moord of wat word gepleeg. Daar is misdaad, persoonlik agendas, gekonkel, komplotte en skelmstreke. Daar is wraak, vergelding en wilde diere wat verskeur.

"Maar is dit ’n spanningsverhaal?" vra Steinmair haar af. "Waar sal ’n mens dit indeel, wonder ek soos ’n vervaarde boekwinkelassistent. Daar is eggo’s van Die pelgrim se reis na die ewigheid en van Fanie se veldskooldae. Dis ’n spanningsverhaal wat mik na die Groot Afrikaanse Roman. Daarom is Voëlvry myns insiens soms te groot vir sy skoene. Tussen die boom en die bas mag dit moontlik lesers van verskillende genres louwarm laat."

In Die Burger van 28 November 2015 is Riaan Grobler egter ’n ander mening aangedaan. Sommer in die eerste sin van sy resensie – "’n Spanningsroman met ’n openingshoofstuk soos Piet van Rooyen se Voëlvry voorspel net goeie dinge" – is hy vol komplimente. Hy gaan voort: "In ’n bietjie meer as twee bladsye lê die skrywer die grondslag vir ’n kat-en-muis-spel wat die leser uit die staanspoor na ’n wêreld van intrige lok. (…)

"Die hoofstukke is kort, slegs twee of drie bladsye elk, wat van Voëlvry ’n toeganklike lekkerleesboek maak. Van Rooyen kry dit ook reg om die bladsye met lieflike beskrywings van die Namibiese landskap in te kleur.

"Met Voëlvry bewys Van Rooyen weer eens hoe ekonomies en knap hy met ’n pen kan omgaan en hoe hy met ’n oorspronklike en interessante verhaal deurgaans die spanningsdraad styf kan hou."

In 2016 verskyn Van Rooyen se tiende roman onder die titel Amatola, weer by Penguin Random House. Amatola is nie gesitueer in Namibië nie, maar speel grotendeels in die Sneeuberge in die Oos-Kaap af.

Professor Attie Vermaak hoor ’n gerug van ’n weggesteekte kloof in die Sneeuberge waar buitengewone rotstekeninge te sien is. Hy en sy sekretaresse, Estie, versamel ’n span argeoloë en studente om na hierdie rotstekeninge (’n tafereel van ruiters in uniform, gewapen met gewere, wat jag maak op vlugtende figure) in die Sneeuberge te gaan soek.

Charles Smith (Die Burger, 8 Augustus 2016) beskryf Amatola as ’n boek met twee helftes. Attie Vermaak bring sy span in die eerste helfte bymekaar en hulle reis van drie dae vanaf Gauteng na die Oos-Kaap word beskryf. Hierdie reis is ook belaai met eienaardige insidente, onder andere een in Reddersburg, waar hulle kameras gesteel word en hulle ’n kleindorpse dwelmbaas, die Kakhuiskoning, volg. Smith beskryf hierdie insident as ’n "dagga-trip". Daar is ook ’n ontmoeting met ’n Afrikaanse skrywer wat net skreeu: "Fok die leser!"

In die Vallei van Verlatenheid help Jan die Kaktusman hulle toe hulle pap bande kry. Twee lede van die groep oornag saam met Jan in sy huis, waar hulle ’n soort dwelmtee inneem en op ’n wilde trip gaan. En dan is jy in die tweede helfte van die storie.

Smith skryf verder: "Dis asof dit skielik ’n ander verhaal is – dieselfde mense in die groep, maar nou is dit ’n meer realistiese omgewing. Hulle is wetenskaplikes wat die oorlogstafereel van ruiters en diegene wat vlug, soek en dan ontleed. Dan slaan die noodlot toe in die vorm van die wrede Amatola-bende.

"Waar jy nog ’n klompie bladsye gelede gegrinnik het oor die Kakhuiskoning, die vreemde skrywer en Jan die Kaktusman se sêgoed, kyk jy geskok toe hoe die bendelede een student wegsleep en verskriklik verkrag. Waar die span wetenskaplikes teorieë oor die rotskuns bespreek het, word hulle nou onderwerp aan ’n primitiewe spul rowers en moet hulle uintjies grawe en rotte jag om te oorlewe.

"Die dwelm-trips van floozies word ’n hiperrealistiese nagmerrie. Die span argeoloë, wat hul kennis van rotskuns wou toets en uitbrei, word ’n groepie wat soos Boesmans van ouds in die veld moet oorleef – en selfs hul kennis van Boesmans inspan. Die stedelinge word gehard en slu, soos die rowers.

"Eindelik word Vermaak en sy span dié wat vlug op die rotstekening. Waar die Boesman-stam op die sjamaan en sy mitiese figuur se krag kon reken, kan hulle net hul kennis van die Boesmans en hul veldkuns gebruik om te oorleef (al is dit ongesê). Dis ’n oorlog tussen die wetenskap en oorlewing. Wat is belangrik in die lewe en wat nie? Dis ’n verhaal van verraad en menslike gedrag onder die ergste toestande denkbaar. (…)

"Van Rooyen vat die spanning in Amatola baie goed vas. Lees gerus, maar dit is nie ’n New Age-handleiding vir jappies nie."

Deborah Steinmair begin haar resensie van Amatola (Rapport, 18 September 2016) as volg: "Die tipering 'satiriese inslag' kan ’n meulsteen om ’n skrywer se nek word. Vele lesers word deur satire geïrriteer: dit impliseer dat die skrywer vanaf ’n emosionele afstand neersien op karakters en situasies, tong in die kies en effens uit die hoogte. Dit vervreem. Dit is moontlik waarom Piet van Rooyen sy jongste boek inlui met die statering: 'Die gebeure wat hier opgeteken staan, is doodernstig, en nie ’n satire van watter aard ook al nie. Dit is in elk geval nie veronderstel om snaaks te wees nie. As enigiemand hom die absurde wil verbeel, is hy welkom.'

"Daar is eenmaal iets omtrent dié skrywer se styl wat satire suggereer, ’n slimgeit, ’n skerpheid, die afwesigheid van deernis. Hierdie boek is egter meer 'realisties', meer onomwonde avontuurverhaal as de vorige. Tog skuil daar vir die verbeeldingryke leser oorvloedige absurditeit tussen die reëls. (…)

"Die gebeure ontvou absoluut chronologies, die verhaalstruktuur is eenvoudig, ontdaan van terugflits of newe-storielyn. Dit bly in die oomblik en word ’n studie van mense onder druk, die dinamika van ’n groep wat tot die uiterste beproef word. Watter helde gaan vou, watter bleeksiele gaan heldhaftig uit die stryd tree? (…)

"Die boek begin redelik stadig, met pap wiele in die Vallei van Verlatenheid en ander ontberings langs die pad, maar tel gaandeweg momentum op, en in die laaste gedeelte laat die skrywer die angsvlakke onrusbarend styg. Dis hier waar die satiriese inslag plek maak vir rou spanning.

"Van Rooyen is ’n bedrewe tekenaar van woordprente. Die leser voel met hierdie boek wel dat die skrywer se kontrak nagekom is. Daar is nog steeds, soos met Voëlvry, die onsekerheid oor genre-klassifikasie, maar dis ’n sterk spanningsverhaal met ’n boeiende einde."

Piet van Rooyen was nog lank nie uitgeskryf nie. In 2019 verskyn sy volgende roman, By die brandende berg, ook by Penguin Random House.

Op LitNet som Alta Cloete die storie van By die brandende berg as volg op: "JJ van Solms is nou nie eintlik wat mens ’n storieboekheld sal noem nie. Hy is wel intelligent, fluks en uiters ondernemend, maar mettertyd kom sy ongunstige eienskappe al hoe meer na vore: geldgierigheid, chauvinisme, rassisme. Tog behou die leser ’n teensinnige soort simpatie vir hom, want hy het heelwat selfinsig en kan homself sien vir wat hy is. Tot op ’n punt – dan verloor hy alle perspektief. Rondom hierdie komplekse karakter het Piet van Rooyen die verhaal van By die brandende berg gebou.

"Teenoor die middeljarige JJ staan Dominique, die langbeenskoonheid uit die Kongo, ’n skooldogter nog, op soek na ’n wit man om haar uit haar benouende omstandighede weg te neem. Sy kry wat sy gesoek het, maar ook heelwat meer. Met haar jeug en oënskynlike onskuld staan sy in sterk kontras teenoor haar man, wat geen engeltjie is nie en self ook deeglik daarvan bewus is, selfs ’n bietjie trots is daarop."

Die natuurbeskrywings in By die brandende berg is vir Cloete die sterk punt van die roman. Ook gebruik die skrywer taal wat "lieflik en liries" is. Die leser leer word bekendgestel aan Van Solms se woestyn, die Namib, asook aan die oerwoude van die Kongo. En hoewel hy nie gemaklik voel in die Kongo met sy uiterste klimaat nie, bly hy daar in sy soeke na avontuur en rykdom.

Dinge raak egter vir hom ’n bietjie warm in die Kongo en hy en sy gesin trek terug Namibië toe, waar hulle aan die voet van die Brandberg vir hulle ’n woonplek inrig.

"Die Brandberg word mettertyd ’n volwaardige karakter in JJ se verhaal. Sy is ’n oorweldigende teenwoordigheid in sy lewe; misterieus, beeldskoon, gevaarlik. By twee geleenthede loop hy hom lelik vas teen haar hange, maar hy is nie ’n man wat sy lesse maklik leer nie," skryf Cloete voorts.

"In die Kongo ontmoet hy twee Chinese vennote wat deur die amptenaar aan hom opgedring word. Hierdie aspek van die storie is besonder relevant, gesien in die lig van die toenemende Chinese bedrywighede in Afrika. JJ sien dit dan ook vir wat dit is – ’n nuwe vorm van kolonialisasie, wat ook maar ten doel het om soveel van die gebied se natuurlike hulpbronne as moontlik in die hande te kry. Terug in Namibië vind hy dat dieselfde ook daar aan die gebeur is – selfs die land se donkies is nie meer veilig nie.

"Die natuurbewaarder, Chris, wat JJ in Namibië leer ken, toon nogal ’n besondere ooreenkoms met die skrywer en natuurbewaarder, Christiaan Bakkes. Die situasies waarin Chris hom bevind, word gereflekteer in Bakkes se boek Plunderwoestyn, waarin hy die probleme en korrupsie in Namibië se natuurbewaringskringe aan die kaak stel. Selfs die dood van die karakter se hond as ’n waarskuwing van sy vyande, stem ooreen met Bakkes se ondervinding.

"Piet van Rooyen is ’n ervare skrywer van vele romans, waaronder verskeie pryswenners. Hy skryf met intieme kennis oor die landstreke en situasies waarin sy karakters hulle bevind. Sy manlike hoofkarakter is oortuigend in sy onvolmaaktheid en uiteindelike paranoia.

"Die storie word meestal uit die perspektief van ’n alomteenwoordige verteller weergegee, andersins uit JJ se hoek. Die verteller is soms geneig om ongevraagde kommentaar oor die karakters uit te spreek, wat afbreuk doen aan die verhaal. Op die paar plekke waar daar in die middel van ’n toneel onverwags na Dominique se perspektief oorgegaan word, is dit hinderlik en verbreek dit die vloei van die verhaal. Hier en daar kom klein tipografiese foutjies voor, veral twee woorde wat per abuis vas aan mekaar geskryf word, maar dis nie genoeg om werklik hinderlik te wees nie.

"By die brandende berg is die verhaal van ’n man en sy gesin se aftakeling, gesien in die konteks van die stroping van Afrika deur verskeie rolspelers wat hulle hande op haar rykdom wil lê. Dit is ’n harde verhaal, die storie van ’n man onder die manne, geskryf deur iemand wat sy onderwerp deur en deur ken."

Op Netwerk24 (21 Oktober 2019) beskryf Riaan Grobler By die brandende berg as ’n "roman met sterk postkoloniale en hegemoniese temas – waar uitbuiting, vergelding, kansvattery, leë beloftes en die illusie van maklike rykdom na vore kom."

Vir Jonathan Amid (die resensent in Rapport van 15 Februarie 2020) is een van die verskynsels in By die brandende berg die besluit van die skrywer om binne die bestek van die eerste paar bladsye ’n klomp van Solms se karaktereienskappe uit te lap. Ook gaan die leser na die eerste ongeveer 20 bladsye weet hoe ’n groot deel van die storie hom gaan uitspeel. "Dis letterlik telling wat bo showing die botoon voer."

Ook is Amid onseker vir wie die roman bedoel is: "Die spanningsvlakke bly getemper; geen adrenalien bruis deur die are nie; daar is nie genoeg sterk teenargumente om die teks se macho houdings en geweld teenoor vroue te regverdig nie; die gruwels van die Kongo bly by twee dimensies. (…) Vir hierdie leser bly By die brandende berg futloos en frustrerend: ’n verspeelde kans."

In 1999 lewer Piet die Langenhoven-gedenklesing by die Universiteit van Port Elizabeth. In sy lesing, "Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman", wys hy watter rol sy kennismaking met die Ju/'hoansi van Namibië in sy romans Die spoorsnyer en Die olifantjagters gespeel het. "Die belangrikste opleidingsveld vir enige skrywer is die lewe. Hierdie lewe sluit nie net persoonlike ervarings van die skrywer in nie, maar word ook ingekleur deur ontmoetings met die ander wat jul eie lewe deur vertellings met die skrywer deel. Hy inkorporeer hierdie invloede in sy eie bestaansfeer, maak daarvan eie besitting, word gevorm deur die onbekende, maar omvorm self ook die onbekende." Paul Chapman speel die oorheersende rol in Die spoorsnyer, maar "[h]y word meer as die werklikheid. Ek speel die rol van die meelopende skrywer ... wat as die skrywer sin maak uit die gebeure ... met Paul saam leer die skrywer veel van sy eie wese en iets van die ander" (Die Burger, 23 September 1999).

In ’n onderhoud met Chrisna Beuke-Muir (Die Burger, 27 Maart 2002) vertel Piet dat hy "Die spoorsnyerDie olifantjagter en Gif [sien] as ’n soort 'spoorsny-trilogie' waarin die Ju/’hoansi ’n belangrike funksie vervul. (...) Ek wou dus nie in die eerste plek oor die 'Boesmans' skryf nie, maar oor die Self. Hulle is juis daar om daardie oorspronklike, natuur- (paradys) en Godgebonde verlore deel van die moderne mens te help naspoor. Hulle kan ons dit nie finaal maak vind nie, daarvoor is ons te verlore, maar kan tog vae oorblyfsels daarvan help aandui." In hierdie trilogie het hy sy eie "Moby Dick" agtervolg – die eland, olifant en die perd. "Die dier is simbool van onskuld, maar ook van betrokkenheid en afhanklikheid van die Skepper. Tussen jagter en prooi bestaan daar ’n kosmiese verband. In die Boesman-kosmologie het die jag ’n oerverbintenis met die voortplantingsdaad."

Piet haal hom ook die gramskap van mense op die hals toe hy in sy aanvaardingstoespraak tydens die oorhandiging van die M-Net-prys die stelling maak dat hy nie "feminine" Afrikaanse manlike skrywers lees nie. Sy "feminine" word toe vertaal as "verwyfde", maar hy staan steeds by wat hy gesê het. "Ek vind nie aanklank by die Afrikaanse manlike skrywers nie. Die vroue lees ek graag, maar ek het grootgeword met PJ Schoeman en Doc Immelman ... Ek weet nie of die mans ’n probleem met die vaderfiguur het nie, en of dit in hul godsdiensbelewing lê nie, maar as Karel Schoeman byvoorbeeld oor die Boereoorlog skryf, is dit ook maar net in die huis met koppies en tee. ... Ek wil definitief nie so skryf nie" (in ’n onderhoud met Francois Smith in Die Burger van 19 Desember 2001).

Piet van Rooyen praat dus steeds as Afrikaner, selfs in sy afwysing van groepsidentiteit. Hy erken egter sy ambivalensie hieroor teenoor Francois Smith en sê dat dit vir hom baie belangrik is om in Afrikaans te lees, gesels en aanbid. "Maar Afrikaskap is eerste. En die Afrikaner is deel van Afrika. Die vroeë trekboere en die Dorslandtrekkers was volledig deel van Afrika, maar die moderne ouens staan dit af."

Piet vertel verder aan Francois Smith dat dit in Afrika is waar hy werklik tuis voel. "Ek is in die natuur, en tussen wilde diere beleef ek die kombinasie van vrees, emosie en skoonheid wat my lewend laat voel," erken hy. "Ook as Afrikaner is ek tuis en ek gaan nie soos talle van my tydgenote gebuk onder skuldgevoelens nie. Ek is teenoor niks en niemand skuldig nie. Om mag uit te oefen, is nie sonde nie, maar dat ons nie meer die mag het nie, maak my ook nie ongelukkig nie."

Hy brei verder uit: "Die Boesman dra nie skuld nie, skuld is buite homself, net soos die dier nie boosheid ken nie. Die Boesman sien homself as deel van ’n matrys van kragte, en as ’n mens hierdie ingesteldheid kan leer, kan jy skoonkom."

Publikasies

Publikasie

Draak op die erf

Publikasiedatum

1973

ISBN

0798600977 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Rondom ’n boorvuur

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022986 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die spoorsnyer

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032892 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • De Kat/Sanlam-romanwedstryd
  • CNA-debuutprys

Vertalings

Duits vertaal deur Kuno FR Budack 2001

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agter ’n eland aan: een jaar in Namibië

Publikasiedatum

1995

ISBN

18874901171 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die olifantjagters

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035980 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

M-Net-Boekprys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bemoeienis met die ander: Boerskrywer en Boesman

Publikasiedatum

1999

ISBN

(sb)

Uitgewer

Port Elizabeth: UPE

Literêre vorm

Gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ten years of endurance riding in Namibia

Publikasiedatum

2000

ISBN

 

Uitgewer

Windhoek: Namibia Capital Press

Literêre vorm

Uithouperdewedrenne

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Gif

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919825371 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die brandende man

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825681 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Goedsmoeds

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825762 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Akwarius

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042731 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kwansuis

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149945 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Etosha – ’n roman

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151559 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Finalis ATKV-Prosaprys 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op soek na Witbooi

Publikasiedatum

2011

ISBN

9789991624778 (sb)

Uitgewer

Windhoek: Macmillan Education Namibia

Literêre vorm

Nama-geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rodriguez

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780795800351 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vaarwel, klein soldaat

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781869197230 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Diving and spearfishing in South Africa

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2012

ISBN

9781431701018 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Southern Books
  • Kaapstad: Randomhouse Struik

Literêre vorm

Natuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781485300250 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voëlvry

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781415201879 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Amatola

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781485903161 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Radom House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

By die brandende berg

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485904021 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Akademiese publikasies deur Piet van Rooyen:

  • Swart mannekrag in Suid-Afrika. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers, 1985
  • Black workers and changing industrial relations in South Africa. Stellenbosch: Universiteitsuitgewers, 1985
  • Worker representation in South Africa. Saam met PS Nel. Pretoria: Academica, 1985
  • South African industrial relations. Saam met PS Nel. Pretoria: Academica, 1991
  • Gobabis: a brief history of the town and region. Windhoek: John Meinert Printers, 2000 

Gedigte deur Piet van Rooyen beskikbaar op die internet

Keur van artikels oor Piet van Rooyen beskikbaar op die internet

Piet van Rooyen se ATKV LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-12-09 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top