Resensie: By die brandende berg deur Piet van Rooyen

  • 0

Titel: By die brandende berg
Skrywer: Piet van Rooyen
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485904021

JJ van Solms is nou nie eintlik wat mens ’n storieboekheld sal noem nie. Hy is wel intelligent, fluks en uiters ondernemend, maar mettertyd kom sy ongunstige eienskappe al hoe meer na vore: geldgierigheid, chauvinisme, rassisme. Tog behou die leser ’n teensinnige soort simpatie vir hom, want hy het heelwat selfinsig en kan homself sien vir wat hy is. Tot op ’n punt – dan verloor hy alle perspektief. Rondom hierdie komplekse karakter het Piet van Rooyen die verhaal van By die brandende berg gebou.

Teenoor die middeljarige JJ staan Dominique, die langbeenskoonheid uit die Kongo, ’n skooldogter nog, op soek na ’n wit man om haar uit haar benouende omstandighede weg te neem. Sy kry wat sy gesoek het, maar ook heelwat meer. Met haar jeug en oënskynlike onskuld staan sy in sterk kontras teenoor haar man, wat geen engeltjie is nie en self ook deeglik daarvan bewus is, selfs ’n bietjie trots is daarop.

By die brandende berg se sterk punt is die wonderlike natuurbeskrywings. Plek-plek is die taalgebruik werklik lieflik en liries, al gaan dit oor onherbergsame, wrede gebiede. Die skrywer neem ons van die Namibiese woestyn (waar JJ tuis voel), na die oerwoude van die Kongo, waar JJ intens ongemaklik voel. Die broeiende hitte, die voortdurende reën, die mis, die klouende plantegroei, alles word in detail geskilder sodat die leser self die karakter se intense ongemak kan voel. JJ beur egter voort, teen alle verwagting in, want sy rustelose gees is altyd aan die soek na nog ’n avontuur, nog ’n projek, nog ’n manier om gou ryk te word (en dit weer net so gou te verloor).

Dis nie net die Kongo se klimaat wat hom afstoot nie. Van die begin af is sy soeke na mineralerykdom ’n felle stryd. Die stad benou hom nog meer as die oerwoud; die korrupte amptenaar wat sy lot in sy hand hou, word in detail geteken. Die leser kan sien hy stuur op ’n ramp af, maar JJ wil dit nie sien nie.

Toe dinge vir hom te warm word in die Kongo, los hy alles net so en vat die pad Namibië toe, waar hy aan die voet van die Brandberg ’n skamele staning vir hom en sy gesin inrig. Die Brandberg word mettertyd ’n volwaardige karakter in JJ se verhaal. Sy is ’n oorweldigende teenwoordigheid in sy lewe; misterieus, beeldskoon, gevaarlik. By twee geleenthede loop hy hom lelik vas teen haar hange, maar hy is nie ’n man wat sy lesse maklik leer nie.

In die Kongo ontmoet hy twee Chinese vennote wat deur die amptenaar aan hom opgedring word. Hierdie aspek van die storie is besonder relevant, gesien in die lig van die toenemende Chinese bedrywighede in Afrika. JJ sien dit dan ook vir wat dit is – ’n nuwe vorm van kolonialisasie, wat ook maar ten doel het om soveel van die gebied se natuurlike hulpbronne as moontlik in die hande te kry. Terug in Namibië vind hy dat dieselfde ook daar aan die gebeur is – selfs die land se donkies is nie meer veilig nie.

Die natuurbewaarder, Chris, wat JJ in Namibië leer ken, toon nogal ’n besondere ooreenkoms met die skrywer en natuurbewaarder, Christiaan Bakkes. Die situasies waarin Chris hom bevind, word gereflekteer in Bakkes se boek Plunderwoestyn, waarin hy die probleme en korrupsie in Namibië se natuurbewaringskringe aan die kaak stel. Selfs die dood van die karakter se hond as ’n waarskuwing van sy vyande, stem ooreen met Bakkes se ondervinding. Uit ’n onderhoud met Bakkes blyk dit dat hy en Van Rooyen saamstem oor wat in Namibië aan die gebeur is: https://www.netwerk24.com/Weg/Nuus/ontmoet-die-skrywer-christiaan-bakkes-20190121

Piet van Rooyen is ’n ervare skrywer van vele romans, waaronder verskeie pryswenners. Hy skryf met intieme kennis oor die landstreke en situasies waarin sy karakters hulle bevind. Sy manlike hoofkarakter is oortuigend in sy onvolmaaktheid en uiteindelike paranoia.

Die storie word meestal uit die perspektief van ’n alomteenwoordige verteller weergegee, andersins uit JJ se hoek. Die verteller is soms geneig om ongevraagde kommentaar oor die karakters uit te spreek, wat afbreuk doen aan die verhaal. Op die paar plekke waar daar in die middel van ’n toneel onverwags na Dominique se perspektief oorgegaan word, is dit hinderlik en verbreek dit die vloei van die verhaal.

Hier en daar kom klein tipografiese foutjies voor, veral twee woorde wat per abuis vas aan mekaar geskryf word, maar dis nie genoeg om werklik hinderlik te wees nie.

By die brandende berg is die verhaal van ’n man en sy gesin se aftakeling, gesien in die konteks van die stroping van Afrika deur verskeie rolspelers wat hulle hande op haar rykdom wil lê. 

By die brandende berg is ’n harde verhaal, die storie van ’n man onder die manne, geskryf deur iemand wat sy onderwerp deur en deur ken.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top