Estetiek en rykdom van metafore dwing jou om Piet van Rooyen se kwansuis noukeurig te lees

  • 0

Titel: kwansuis
Outeur: Piet van Rooyen
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798149945
Bladsye: 75

Klik hier en bestel kwansuis nou van kalahari.net!

 

Daar het al ses prosawerke en drie digbundels van Piet van Rooyen verskyn. Sy jongste bundel, kwansuis, is uitgegee deur Human & Rousseau.

Die titel kwansuis is 'n absolute vonds.

Ek kon dit nie verhelp nie: ek moes eers nagaan wat die betekenisse van dié bekende woord is - en of dit enige verband met die inhoud van die bundel het.

In Nederlands is dit kwansuis, kwanswijs: "schijbaar, naar het heten of verbeelden moet, quasi". In Suid-Afrika kom dit in die 17de en 19de eeue voor in die dagboeke van Van Riebeeck en Tregardt: quansuis en kwansuis (die presiese betekenis sal mens in die dagboeke moet nagaan). Dan ook konsuis en kwasie, sê die Etimologiese Woordeboek. By quasi en kwasi is jy in die moeilikheid, want nou is jy by Latyn, quasi, soos dit in hipotetiese vergelykings gebruik word. In moderne Afrikaans is daar kwansuis, konsuis, kamma, kastig (in byvoorbeeld Hy is kwansuis 'n deskundige); en as jy kwasie ernstig opneem, dan kom jy by skynbaar, asof. As jy dan soos Peter Blum speel in sy gedig "Woordafleiding", dan sal jy wonder oor die moontlikheid van virtueel, met die betekenis van "aanwesig, maar nie werksaam nie"; en by virtuele beeld: "optiese beeld, wat sigbaar is, maar nie op 'n skerm opgevang kan word nie".

Tot hier toe. Maar dit kan illustreer watter vele betekenisse 'n woord kan oproep - spesifiek dan 'n woord soos die kwansuis van die titel.

Maar die vraag kan gevra word: Het die digter dit alles geweet, nagevors? Ek dink nie so nie; maar 'n digter is sensitief vir woorde, en kan - waarskynlik - intuïtief aanvoel waar daar ander betekenisse is, ander tekens.

Die begrip kwansuis kan redelik dikwels in die gedigte in hierdie bundel gevind word, dikwels by die metafoor, want eintlik kan die metafoor ook gesien word as 'n "kamma-kastig". In die gedig "digter van lemoene" (68) bid die lemoenboom byvoorbeeld om uitgekap te word (ek haal slegs die eerste twee strofes aan):

die vrugtelose lemoenboom
het tot die houtkapper gebid
kap my uit met die boetseerbyl
woorde soos 'n lem geslyp

hierdie kaalgatstam
hierdie vrugtelose skaduwee
parodie van boom met vrugte
wat op na hom bly gluur ...

Die skaduwee is vrugteloos; die skaduwee is kwansuis 'n skaduwee; maar aan die einde van die gedig, in die eerste reël van die strofe, word die skaduwee "vrygemaak om te vlieg". Dus: verlos van kwansuis 'n skaduwee? Maar tog nog net 'n woord: 'n skaduwee van die werklikheid.

Daar is ander soortgelyke voorbeelde wat aan die bundel verreikende woordbetekenisse gee. In akademiese taal: wat die tekenwaarde van die woord verhoog. Maar dit is natuurlik ook die dilemma van die poësie, want hoe meer betekenisse een woord oproep, hoe minder word die betekende vasgevang: dit waarna die woord wil verwys. Dan werk die kwansuis byna soos die metafoor, of die optiese beeld wat sigbaar is, maar nie op 'n skerm opgevang kan word nie.

Hierdie bundel is ryk aan metafore, dikwels in die wending, waar 'n digter se interpretasievermoë getoets word. 'n Voorbeeld is die laaste strofe van "wind" (33):

al pluk die wind dus nou kortgebaker
aan die eensaam hart se snare
gun hom sy knorrigheid met grasie
al blaas dit hier ook hoe koud en skraal
jaag hy wel iewers die wolke op hok
en bring vir die boere reën.

(Dis nogal 'n spel as mens kwansuis hier invoeg waar dit sou pas.)

Die bundel bestaan uit vier afdelings: "swemmers", "spene van die aarde", "ek en jy", "die dood stoot oral sy hopies" - waar die onderwerpe van die eerste draai om see, visse en water (selfs die drinkers in 'n kroeg sing "met swaar onderwaterstemme"); in die tweede figureer diere/voëls; in die derde afdeling, "ek en jy" is die tema duidelik; weer net 'n kwansuis, in die laaste strofe van "swaardvegters" (41):

met die woorde waarmee ek sny
die woorde wat jy my een-een aangee
loop ons bendes storm
lê ons stede in puin

Dít, weet die digter, kan die woord net kastig doen.

Die vierde afdeling, met die geslaagde metaforiese titel "die dood stoot oral sy hopies", is 'n poëtiese beskouing van die dood. Titels soos die volgende bevestig dit: "kopbeen", "botsotso", "wolwe by die deur", "murasies", "begrafnis-bome", "openbaring", "voëlvanger".

In elke afdeling is daar goeie poësie - te veel om aan te haal. Om die digter weer te betrek ('n klein ars poetica) wil ek net die wending van "openbaring" (72) aanhaal:

wie's dan sondaar en wie verlosde
wie sien en wie't die skille van 'n blinde
die een wat 'n wyle poëties vertoef
of die een wat onaangeraak verder gaan.

Daar is dus genoeg metafore, genoeg kwansuispoësie - maar soms ook 'n vers of twee wat kwansuis poësie is. 'n Voorbeeld van 'n teks wat eintlik soos prosa lees, is "orang-oetang" (47-8), waar dit lyk asof strofe-eindes net gebruik is om interpunksiemiddele te wees. Dis natuurlik nie te sê dat die afwesigheid van leestekens nie funksioneel is in ander gevalle nie.

Alhoewel die gedigte soms vervelig raak as gevolg van die aantal verse en die eendersheid van vormgewing (en êrens in die metafore iets Oppermaniaans, te "uitgedink"), word jy tog deur die estetiek en die verskeidenheid van temas gedwing om noukeurig te lees. Met tevredenheid.

Dis 'n goeie digbundel.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top