Titel: Die rooi boks
Skrywer: Piet van Rooyen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256423
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
“Na dese ken ek vir Piet van Rooyen beter as enige van julle,” was my woorde aan my ouers wat kennisse van dié skrywer is, nadat ek Die rooi boks klaargelees het.
Tydens ’n familiekuier in Australië het Van Rooyen se dogter ’n rooi boks gekoop. Binne-in die boks was ’n reeks “gesprekspyskaarte” (conversation menus) met die doel om ’n groep mense sover te kry om oor dieper dinge te gesels en mekaar te leer ken.
Van Rooyen gebruik hierdie vrae om, soos hy sê, sy “derms so stuk-stuk […] te begin uitryg, vir [sy] eie bevrediging, maar ook om iets van [sy] manier van kyk na die lewe aan ander te probeer verduidelik” (p 10). Hy het dit goed gedink om hierdie boek te skryf met sy 70ste verjaardag, voor “die eetlus verdwyn” en die “koppie begin knik”, voordat hy nie meer kan onthou nie. Dis geensins oppervlakkige vrae nie, dis vrae wat jou kaal uittrek, “Pandora se boksie” soos die skrywer daarna verwys. Die heel eerste vraag, byvoorbeeld, is een wat my diep in die maag sou tref, sou ek met die spyskaart in my hand gesit het met my kinders teenwoordig: “Wat is die doel van kinders kry, indien enige?” Hierdie vraag het ek my al afgevra, veral as jy begin om geld te spandeer aan vrugbaarheid en jy wonder of jy nie dalk besig is met iets selfsugtigs nie. Daar is ook ander vrae soos: “Is jy dalk jaloers op een op meer van jou broers?” of “op watter wyse is jy neuroties?” aangesien ons almal maar op een of ander wyse is.
Op die agterblad word die boek in ’n groot mate beskryf as ’n gesprekspyskaart vir die leser wat wil selfondersoek doen of in gesprek wil tree met ander aan die hand van die skrywer se behandeling daarvan. Maar hierdie boek is veel meer ’n versameling van outobiografiese vertellinge en die skrywer se eie sieninge oor die lewe as wat dit ’n besinningsuitnodiging is aan die leser. Nêrens, byvoorbeeld, word die leser gestuur om in ’n klein groepie te gaan sit en vrae te bespreek nie. Nee, dis dalk eerder ’n memoir, die memoir van ’n uiters produktiewe en bekroonde skrywer en digter, met vyf digbundels en 12 romans op die kerfstok waarvan twee romans bekroon is. Hy is ook emeritus professor in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Namibië en het nasionale kleure in visskiet en perde-uithouritte verwerf. Al die inligting rondom sy skryfwerk is vervat in hoofstuk ses. Terloops, groot dele daarvan is van die internet geneem, wat ’n bietjie na kroek gevoel het.
Maar terug by die vraag oor wat hierdie boek eintlik is. Dit het hierdie leser nie soseer na besinning gedryf nie, nee, veel eerder is ek oorrompel deur die onderhoudende skryfstyl en fassinerende, poëtiese uitkyk op die lewe. Ek wou veel eerder verder “smul” aan die ryk kos, die diggeweefde skryfstyl met sy bewustheid van woorde. Hy beantwoord ook nie elke vraag direk soos iemand wat onder kruisverhoor geneem word in ’n hof nie. Van Rooyen, getrou aan sy aweregse aard, behandel die meeste onderwerpe op omvattende wyse. Hy vra dikwels hoe lyk die ander kant van die saak: Op die vraag oor wat hy as wonderlik van kinders beskou (p 25), begin hy met ou mense, met wie hy, ironies genoeg aangesien hy self soontoe op pad is, sukkel om simpatie te hê. Soms skemer die antwoord, tipies digter, deur in wat ongesê bly. Soms beantwoord hy die vraag agter die vraag, soos die vraag of kinders hul ouers se verhouding opfoeter (p 29), wat hy beantwoord deur te sê dat geen verhouding in die eerste plek volmaak is nie.
Daar word gesê dat skrywers hulle hele lewe lank oor een ding skryf en in Die rooi boks is dit dan ook so dat dieselfde temas sterk na die voorgrond tree, en dieselfde temas kom ook in sy romans voor. ’n Aanhaling van Laurens J van der Post op bladsy 133 som die sentrale tema goed op: “Die Boesmans is die primitiewe spoorsnyers wat ons help om die spore van ons lank-verlore [sic] self te sny.”
Van Rooyen het van jongs af ’n sterk belangstelling in wat hy “primitiewe” of “tradisionele” kulture noem, gehad. Sy studierigting was Volkekunde of Antropologie en hy het ook vir meer as ’n jaar ten nouste saamgeleef met die San in ’n tyd toe hulle nog “oënskynlik tradisioneel” geleef het. Sy skryfwerk word deurentyd ’n oproep vir die moderne mens om terug te keer na die “paradyslike self”, ’n tyd toe die mens in nouer verband met mekaar en die aarde geleef het, soos wat ’n mens dit nog by sommige kulture kan vind. ’n Tyd toe mense onbeskaamd kaal geloop het, ’n tyd wat hy glo “sommer na aan die Paradys” moet wees, ’n tyd voor “skrik, skuld en vyeblare” (p 59).
Die gebruik van die woord “primitiewe” sal sekere lesers rooi laat sien, maar dis belangrik om te verstaan dat Van Rooyen met hierdie term juis meer gevorderd, meer in voeling met die mens en natuur bedoel. Tog kom sy politiese sieninge duidelik uit op plekke en, liewe leser, hierdie skrywer is glad nie polities korrek nie. Hy erken dit self op bladsy 167: “Politiese korrektheid is nou die wagwoord, en niks word meer toegelaat om eksoties te wees nie, voor dit dalk tot diskriminasie lei.” Wanneer hy skryf oor kinderherinneringe (p 17–20), gebruik hy byvoorbeeld ’n woord soos “klonkies” (p 20). Aan die een kant is dit duidelik dat geen nyd bedoel word nie en dat so ’n term tot ’n sekere tydperk in ons geskiedenis behoort. Aan die ander kant is daar tog nostalgie rondom hierdie tydperk en elders, alhoewel hy die “booshede van Apartheid” en die “diskriminerende aspekte van ‘klein apartheid’” (p 49) nie goedkeur nie, noem hy tog dat hy hom met die idee van afsonderlike ontwikkeling kan vereenselwig. Hierdie dinge kan ’n leser dwars in die krop steek, veral as dit nie binne konteks geïnterpreteer word nie. Daar is ander minder gewilde menings ook – oor maskerdra en jag (en met die tong in die kies vir hierdie kind van ’n Afrikanerbeesboer dat ’n mens nie winsgewend met sulke beeste kan boer nie).
Twee hoogtepunte in die boek is die hoofstukke oor reis en diere. Dit is hier waar al die naelbytstories oor sy wrakduik- en jagtogte versamel is. Hy vertel van ’n duiktog na die Lusitania wat vir een duiker in borrelsiekte eindig, en ook van naelskraap-ondervindinge tydens ’n buffel- en leeujag.
En so, tussen al die kinderherinneringe, avonture en menings leer ons die mens Piet van Rooyen ken. Hy erken dat hy ’n skisoïde persoonlikheidstipe het, wat arrogansie en gebrek aan sosiale warmte insluit. Vrae wat rondom skuldbekentenis draai, soos of hy ’n fout met sy kinders gemaak het (p 36), word telkens beantwoord deurdat hy geen fout by homself vind nie. Dit het my effens negatief gestem teenoor hom in die eerste paar hoofstukke van die boek. Nee kyk, hierdie man is te vol van homself, het ek gedink.
Maar toe begin hy op my groei. Ja, hy is ’n selferkende “hardegat” (p 170), ’n alleenloper, iemand wat sy eie rigting inslaan, ’n rebel. Maar hy is ook iemand met ’n hekel aan onegtheid. Iemand wat eintlik net smag na ’n paradyslike bestaan waar ons totaal eg met mekaar sal saamleef, soos blyk uit die hoofstuk oor vriendskap. Hy is die ewige ontdekkingsreisiger wat met oop oë na die wêreld daar buite en die wêreld hier binne hom wil kyk. En teen hoofstuk 11, “Selfkennis”, het ek ’n deernis met hom ontwikkel. Daar was uiteindelik soveel wat geresoneer het. Hy is byvoorbeeld nie ’n mens wat maklik komplimente uitdeel nie, omdat dit so maklik oneg is, en dankie tog, want nou is ek nie die enigste een nie. Daar was ook erkenning van ’n siel met wie ek dieselfde begrip deel rondom geestelike kwessies, soos die “onverklaarbaarheid van die skepping” (p 294) en ons verlies aan noue kontak met diere in die paradys (p 271).
As ek vroeër gesê het dat hierdie boek my nie eintlik tot besinning gedryf het nie, het ek gejok, want ek het wel by hierdie “gemaak-en-so-laat-staan”-man iets geleer. Ek het iets geleer van ’n skuldvryheid, ’n totale aanvaarding van jouself. Dit was vir my ’n inspirasie om ’n dapper lewe sonder selfverwyt te lei – omdat daar aanvaarding is. As ek deur die boek geleer het om Van Rooyen te aanvaar soos hy is, soos hy homself aanvaar, kan ek dit ook met myself doen. In alle opregtheid.
Hierdie boek is ’n verslag van Piet van Rooyen se dapper ontdekkingsreis – van homself en van die wye oneindigheid daar buite.
Kommentaar
Ek ken Piet al baie jare, maar na die lees van die boek ken ek hom eers nou regtig.
"In the Red Book I tried an aesthetic elaboration of my fantasies, but ... I became aware that I had not yet found the right language ... I saw that so much fantasy needed firm ground underfoot, and that I must first return wholly to reality." (Carl Gustav Jung - Memories, Dreams, Reflections)
Hierts!