
Titel: Die rooi boks
Skrywer: Piet van Rooyen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256423
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Piet van Rooyen. Hy het ’n aura om hom gehad. Die nuwe seun het in sy eie droomborrel geleef, half sku, half afsydig. Dit was Windhoek Hoërskool, 1967. Tog was daar ’n soort magnetisme omtrent hom. Dit was hierdie magnetisme wat my geprikkel het om die ys te breek. “En van waar af kom julle?”
“Senekal in die Vrystaat.” Sy stem was sag en effe hees, maar tog intens. Dit het my geboei.
“O, jou pa is mos die nuwe dominee, nè?”
En dit was ook so. Oudominee Van Rooyen wás die dominee en wás die pa van Piet van Rooyen. Ons kerk was die Eros-gemeente aan die onderent van die skotige Kuisebstraat waar ek menige male ’n nerf laat agterbly het met ons gewraakte seepkiskar-eskapades. Daar het Oudominee my en die matriekklas van 1971 gekatkiseer.
Sy oë het gelyk of hulle baie ver kon kyk. Op sy stil manier was Piet van meet af aan ’n uitskieter. Intellektueel was hy sonder weerga. Hy word byvoorbeeld verkies om Suidwes-Afrika in Wes-Duitsland as gasstudent te verteenwoordig. Dit was die eerste projek waar een uitblinker uit elke provinsie en SWA as uitruilstudente – skoliere volgens ons definisie – oorsee kon gaan. (Suidwes-Afrika is as ’n mandaat, as ’n sogenaamde vyfde provinsie uit Pretoria geadministreer.) Die dominee se seun was ’n natuurlike leier, hoofseun. ’n Taaie vasbyter. Ek onthou in ons skool se atletiekkampioenskappe het hy koning gekraai in die middelafstande, vir sy span, Wag-’n-bietjie. (Die ander twee kleurhuise was Swarthaak en Kanniedood.) Hy het ook rugby gespeel, ’n slot in die tweede span. Vir geskiedenis het hy ’n passie gehad. “Sien jy hierdie assegaai?” wys hy my eendag die tradisionele wapen in sy buitekamer by die pastorie. “Hy het al iemand doodgemaak.” Die ander passie wat ons gedeel het, was drank! Nie dat Piet gedrink het nie. Ons het naamlik dranketikette versamel. In daardie tyd het ’n verskeidenheid eksotiese dranksoorte op ’n manier is Suidwes beland, dikwels te danke aan die plaaslike Duitsers wat goeie kontakte met die Heimat gehad het. Ons het saam in die agterplase van hotelle gaan rondsnuffel en dan pakke en pakke vol leë drankbottels uitgesmokkel. Daarna is die bottels ure lank in water geweek sodat die gom agterop die etiket opgelos is en die etiket maklik verwyder kon word. Dan is die jongste toevoeging tot die versameling sorgvuldig langs sy maat ingepas. Myne was op my klerekas vasgeplak.
Anders as ons ander rebelle, het die toekomstige skrywer nooit gesak vir ses van die bestes nie. (Die hardste slaners was Ferdie Theron, Suidwes-voorry, Jan Brand en Arend de Waal, beter bekend as Bottergat.) Tog het ek geweet die seun met die veraf kyk in sy oë was geen konformis nie.
En dan was daar die Voortrekkers, ons identiteitsbepaler as uitgebeitelde jong Afrikanerseuns. Was dit toevallig so bestem dat ons in die veld moes uitkamp en onder die sterrehemel slaap?
En so is ons die lewe daarbuite ingestuur. Militêre diensplig vir volk en vaderland. Dit was ’n uitgemaakte saak dat Piet offisier sou word. Toe het ons gaan studeer, Piet op Stellenbosch en ek op Kovsies.
Ons paaie het uitmekaar begin dryf. Toe ek weer van Piet hoor na ek jare lank in die buiteland rondgeswerf het, was hy reeds ’n gevestigde digter en skrywer. Het intussen sy doktorsgraad aan Stellenbosch verwerf en professor geword. Ons loop mekaar dekades na WHS op Afrika se Suidpunt raak. Tel die los drade op, loop weer saam op gister se paaie. Steeds bespeur ek sy soeke na iets, moontlik die Groter Werklikheid.
Van Rooyen kon prikkelend skryf. Sy temas het my aangegryp, gespreek tot my eie onstuimige verlede. Met sy superkorteks het hy geskryf oor onderwerpe vol avontuur, aksie en, ja, ook die liefde. Die titels was veelseggend, soos Amatola en Die olifantjagters. In sy jongste treffer wy hy ’n hele hoofstuk aan hierdie ondeurgrondbare tema toe. Dikwels is die verhale geprojekteer teen die agtergrond van ware gebeure, ware karakters en plekke wat werklik bestaan, soos die Brandberg. Maar daar was altyd ’n subtiele ondertoon wat jou aan die dink gekry het: Wat ás? Waarheen is ons op pad? Hoekom?
Buitelugman wat hy is – hy het onder meer ’n jaar tussen die Khoisan in Namibië gewoon – gaan durf Piet Van Rooyen in Januarie 2023 die moordende Grootvadersbosch-voetslaanpad by Swellendam aan, saam met klasmaat Bennie van Rensburg. Maklik sou dit nie wees nie, al het hy nasionale kleure in visskiet en perde-uithourenne. Maar toe gebeur dit: Sy ystere gestel ten spyt, kry die predikantseun ’n hartaanval. Met Bennie se hulp, oorleef hy hierdie terugslag wat ’n swakker man of vrou sou laat knak het. Maar Piet van Rooyen is uit klipharde Kalahari-hout gekerf. Terug na ou Suidwes, terug na die swartgebrande koppies van die Khomas-Hoogland, terug na sy plasie waar hy onder die sterre kan droom oor sy volgende boek. En sy volgende boek het toe verskyn: Die rooi boks. Selfs ’n hartaanval kon hom nie onderkry nie.
Die rooi boks span die kroon op Piet van Rooyen se loopbaan as skrywer. Met sy verbluffende talent neem hy die leser saam deur die ondeurgrondelike mosaïek van sy lewe: van die woestynuiterstes van die ou Suidwes-Afrika tot in die dieptes van die see op soek na die wrak van die Lusitania. Saam met ’n oerjagter kan jy vry oor die vlaktes sweef en by die kampvuur die groot murgbene saam met hom leegstamp. Miskien sal hy jou laat deel in die geheime van sy rotskuns, miskien sal jy tog Die Waarheid vind. Klim op ruimtetuig Rooi boks. Beweeg van die aardsbindende vlak van avontuur, aksie, spanning en vrees tot op die volgende dimensie waar Van Rooyen sy lewenslesse vir jou sal ontsluit, verfrissend, ontwapenend en sonder om doekies om te draai.
Maar dis nie bloot ’n reis op bekende paaie in moeder-Afrika nie. Telkens duik die tergende vrae weer op: Wie is ons? Wat soek ons hier? Waarheen is ons op reis?
Hoofstuk 12 van hierdie tapisserie vertel jou ’n ietsie van Piet van Rooyen se denkprosesse en wat in sy kop aangaan. Dis paslik getiteld “Die doel van die lewe”.
Van Rooyen is veel meer as ’n skrywer. Hy is filosoof en denker. Maar bowenal is hy ’n avontuurmens. Dis nie om dowe neute dat hy afskop met ’n aanhaling uit die epiese walvissage Moby Dick nie, toegedig aan Herman Melville.
Hierdie uittreksel uit sy jongste trefferboek lig die sluier effens oor hierdie merkwaardige man se denk- en geesteswêreld:
Om kinders te kry is by baie mense myns insiens nie om hulle in die eerste plek te geniet nie – daarvoor is daar nie tyd in ’n baie besige professionele program nie – maar om op een of ander skewe manier ’n verskansing te bied teen die dood in ’n soort hiernamaals waarin niemand meer regtig voluit glo nie.
Gaan op ’n reis deur die lewe in Die rooi boks. Dit sal jou laat wonder. Maar onthou: Jy sal stellig meer vrae as antwoorde hê as jy op bladsy 315 kom. Die reis is die moeite werd. Moontlik sal jy jouself (her-) ontdek in hierdie meesterstuk.


