Willemien en Jude vertel vir Naomi Meyer van Fotostaatmasjien Oorgeklank.
Willemien en Jude, wil julle twee dalk vertel van julle agtergrond en wie julle is?
J: Ek het op tweejarige ouderdom my ma begin smeek om klavier te speel. Hulle sê mos dat ’n baba in die baarmoeder presies kan hoor wat in die wêreld om hulle aangaan en my ma was besig met haar klavierlisensiaat eksamen toe sy my verwag het. Sy is self ’n wonderlike musikant en het my aangemoedig om op die klawers rond te speel — so dis waar alles begin het.
W: Ek en Jude is in dieselfde jaar gebore, so toe sy na haar ma se klavierspel vanaf die baarmoeder geluister het moes ek ook toé al my ma se sussende sangstem begin na-aap het. Sy is eintlik ’n grafiese kunstenaar, maar het toe sy jonger was saam met Jannie Du Toit en Christa Steyn in Blik en Snaar opgetree en sing nou nog in ’n musiekgroep.
J: Ek het toe op vyfjarige ouderdom klavierles begin neem en op tienjarige ouderdom begin harp speel. Ek was gelukkig om Star Search twee keer en die Hennie Joubert-prys sewe keer te wen. Toe ek 12 was het ek aan die Sanlam Musiekkompetisie deelgeneem en as finalis het een van die mense in die gehoor, Tilla Henkins (die ongelooflike tjellis), vir my ma gesê ek moet dit sterk oorweeg om later musiek oorsee te gaan studeer. My ma het dit ’n geheim gehou totdat ek 16 was en toe in daardie jaar voorgestel dat ek ’n beurs probeer kry. Ek het die uitdaging aanvaar en die beurs gewen!
W : Ek was ongelukkig een van daardie onwillige kinders wat nie wou klavier oefen nie, maar later baie spyt was dat ek nié vir my ma geluister het nie… maar ek was mal daaroor om van ’n jong ouderdom liedjies saam met my niggie op Stilbaai se strand te improviseer en het lang ure in die Jakaranda Kinderkoor gesing en saam met hulle oorsee getoer. Later in my tienerjare het ek kitaar leer speel en tydens elke somervakansie het ek ’n liedjie of twee geskryf oor een of ander hoërskool liefde waaroor ek — en familie dalk nog meer as ek—nou nog lekker lag!
J: Ek het klassieke musiek, jazz, costume design en musiekgeskiedenis vir sewe jaar aan Interlochen Arts Academy, Oberlin Conservatory en California Institute of The Arts studeer. Dit was ’n fantastiese ervaring. Toe ek terugkom het uit Amerika, het ek ’n popduo met Zahné Briel gevorm. Ons was bekend as Lu Flur en het twee internasionale pryse gewen. Dit was my eerste ervaring met “song writing”.
Op die oomblik tree ek orals in die land op (sowel as oorsee) en doen ook samewerkings met ander musikante vir groot besighede, troues en allerhande byeenkomste. Ek het ook onlangs ’n harp en klavieralbum vrygestel wat ek self produce en perform het.
W: Ek het deur al die jare my liefde vir musiek saam met my studies in Tale en Sielkunde gevoed. In hierdie tyd het ek toe uiteindelik, uit vrye wil, klavier leer speel— met die doel om liedjies saam met my koshuisvriendin Sanet Stegmann te skryf. Ons het in 2012 ’n duo-album vrygestel onder die naam aanklank. In 2011 het ek Frans begin doseer aan die Universiteit van Pretoria, in daardie tyd my MA in Frans behaal en in Frans begin skryf en sing. Ek het deur middel van verskillende studiebeurse ook heelwat tyd in Frankryk spandeer.
Sedert 2017 is ek egter op ’n creative sabbatical en besig met ’n paar verskillende musiekproduksies en projekte.
Julle het by verskeie kunstefeeste opgetree met 'n produksie van Fotostaatmasjien Oorgeklank — kan ’n mens iewers daarna luister, as ’n mens dit by feeste misgeloop het?
Dit het gebeur nogal gereeld dat mense Fotostaatmasjien Oorgeklank (ons musiekproduksie) met Fototstaatmasjien (Wessel Pretorius & kie se teaterproduksie) verwar — en dit is heeltemal te verstane omdat die twee projekte op dieselfde tyd ontkiem het — maar dit is twee onverwante produskies.
Ons het Fotostaatmasjien Oorgeklank by twee kunstefeeste aangebied— in 2017 saam met Bibi by Aardklop as deel van die fees se boekeprogram en hierdie jaar was ons by die Vrystaat Kunstefees op ons eie (wel ons het Bibi se teenwoordigheid op ’n tegnologiese wyse gekopieer en vooraf stemopnames en beeldmateriaal van haar voorlesings gemaak wat ons tydens ons vertonings op ’n skerm projekteer het).
Ons eerste enkelsnit ”Outobiografie i” is nou op SoundCloud beskikbaar (’n mens kan die liedjie stream), maar ons verkies om persoonlik vir mense die mp3 van die toonsetting te e-pos sodat hulle dit kan download. So sou iemand nie op SoundCloud regkom nie, kan hulle vir ons ’n e-pos stuur en dan stuur ons vir hom of haar ’n virtuele geskenk: oorgeklank@gmail.com
Tot dusver het ons baie positiewe terugvoer oor die enkelsnit gekry wat ons gemotiveer het om ’n vollengte album vry te stel. Ons is nou besig om die album self te pre-produce sodat ons ’n beter gevoel vir die musiek ontwikkel vóór ons in studio gaan volgende jaar.
Ons fokus dus op die stadium meer op die opnames as optredes.
Wat het julle geïnspireer van Bibi se gedigte, en hoe het julle te werk gegaan met die musiek daarby?
J: Ek het nooit gedink dat ek Afrikaanse gedigte sou toonset nie, omdat my opleiding meestal in ’n Engelse milieu plaasgevind het, maar toe Willemien my nader om hierdie projek saam met haar aan te pak het ek ewe skielik lus geraak: ek het gedink Bibi se gedigte is relevant, skerp, rebels en vars.
W: Die bundel se heldergeel omhulsel, die onkonvensionele visuele aanbieding van die gedigte en die ietwat kontroversiële onderwerpe wat Bibi in haar werk aanspreek het heel eerste my aandag getrek. En toe ek die bundel lees, toe verstaan ek waaroor al die hype gaan — haar werk is uiters modern maar terselfdertyd tydloos.
Omdat ek en Jude al goed saamgewerk het in die verlede (vir een van my songs “Son trek soutwater”), en ek gedink het sy lekker edgy (veral vir ’n harpspeler!) is, het ek gedink ons moet saam die kans vat.
J: Ek en Willemien het ’n heerlike werksverhouding en vul mekaar goed aan. Ons het laas jaar ’n hele paar Dinsdae op haar skoonouers se erf in hulle buitekamer deurgebring waar ons op harp, keys en stem (met baie tee & snacks!) saam begin komponeer het. Die musiek het uit ons gevloei asof dit al van tevore bestaan het.
W: Die sifproses wat die gedigte aanbetref het toe eintlik baie vining gebeur. Ons het binne die eerste paar maande ’n hele paar oorspronklike toonsettings gedoen en ook die liedjies, waarna Bibi direk in haar gedigte verwys, op ons manier geïnterpreteer.
Toe ons hierdie jaar vir die Vrystaat Kunstefees moes voorberei, toe besef ons wel ons kort nog so 10 minute se oorspronklike inhoud.
J: So toe komponeer ons nog twee songs twee weke voor die fees!
Wat is vir julle sommige van die gedigte of gedeeltes van die gedigte wat die meeste tot julle spreek? En ook: watter musiek spreek tot julle? Kan dit op 'n manier — oor kunsgrense heen — met Bibi se gedigte verbind word?
W: Ek vind Bibi se werk baie verbeeldingryk, weerloos en waaghalsig in dieselfde asem. Sy maak pragtige verbeeldingryke metafore in gedigte soos “Skepper: twee foto’s” of in “Fabrieksfout: verhouding”. ’n Mens word na ’n ander wêreld meegevoer wat sy frase vir frase in die gedig konstrueer, en ons hoop om dieselfde proses in die musiek na te boots.
Dan kom daar soveel weerloosheid in ’n gedig soos “Copy” oor, ek en Jude het altwee dadelik aanklank by die frase “ek is ’n koppie porselein van die senuwees” gevind! En dan is daar elke nou en dan ’n lekker stukkie tong-in-die-kies waarvan die gedig “Klou” ’n voorbeeld is: “ek wil my hande om ’n kaktus of ’n turksvy vou, ’n anemoon in my mond hou, ek wil jou ek wil jou”…!
J: Ek is mal oor die gedig “Punt” omdat dit my laat dink aan al die verskillende verhoudings wat ek al in my lewe gehad het. Die gedig is kort en kragtig en dit spreek werklik tot almal. Dit was vir ons baie lekker om rond te speel met die woorde en uit te werk hoe ons hulle met musiek kan inkleur.
Verder hou ek van verskeie tipes musiek. My eerste liefde sal altyd klassieke musiek en jazz wees, maar ek is ook mal oor Opeth, Goo Goo dolls, Air, Goldfrapp, Hiatus Kaiyote, Incubus, Kaya Project, Norah Jones, Trance-musiek, The Beatles, Queen, Pink Floyd, Earth, Wind and Fire en die lys kan vir ewig aangaan.
Ek is gefassineerd deur die potensiaal wat musiek het om mense op ’n fisiese en emosionele vlak aan te raak. Hierdie reaksies word deur soveel faktore bepaal; die ritme van die musiek, die emosie wat in die melodieë teenwoordig is, die lirieke, die harmonieë wat gebruik word om die emosie te weerspieël en dan natuurlik, foutlose tegniek wat na jare en jare se gedissiplineerde oefening verkry word. Die uitdaging is om dan op ’n verhoog, in die oomblik, alles op dieselfde tyd na die beste van jou vermoë oor te dra.
W: Ek luister ook na ’n wye verskeidenheid musiek, maar my vroulike influences sluit in Agnes Obel, Laurinda Hofmeyr, Tori Amos, Catpower, Bat for Lashes, Florence and the machine en nog ’n paar “intense” karakters. Alhoewel my agtergrond minder klassiek is (in ons huis was ons gesin se besprekings meer gensentreerd op die lirieke in ’n song as die ingewikkelde arpeggio’s) is dit belangrik vir my om musiekteorie so te benut dat ek effektiewe akkoordprogressies en “hook lines”, wat gepaard gaan met die lirieke, kan skep: dit is waarin die emosionele intensiteit van musiek vir my lê.
Die musiek wat ons gekomponeer het en die inhoud van Bibi se gedigte eggo mekaar op ’n tematiese en musikale vlak—die tema van kopiëring sluit byvoorbeeld perfek by die verskeie herhalingselemente in musiek aan: op ’n meer basiese vlak die feit dat refreine en verse in liedjies herhaal, en op ’n meer filosofiese vlak word die vrae waarmee sy worstel ook in musiek gevra: wat presies in die skeppingsproses van ’n nuwe liedjie tel as oorspronklike werk, en wat word eintlik maar net uit vorige bestaande liedjies herhaal?
J: Ons het besluit om partykeer die musikale verwysings in haar gedigte direk op ’n musikale vlak te kopieer: in “Outobiografie” se latere bewegings het ons van die Michael Jackson verwysing gehou en dit geïntegreer. Dan was dit ook baie fun om die ander wye spektrum van kunstenaars waarna sy verwys (van Jay en Lianie May, Taylor Swift tot Tori Amos!) na te aap.
In “Fabrieksfout: verhouding” maak ons letterlik die ratte en rollers van ’n fiets op ons instrumente na. Ons skep ook byvoorbeeld ’n moderne klank vir een van haar Instagram-gedigte “Normal”. Maar ons wou dit nie die heeltyd doen nie, so ons het ook met ander gedigte vanaf geen spesifieke raamwerk gewerk nie en het ons laat lei deur dit wat in die oomblik reg gevoel het. Een van die liedjies sing Willemien sowaar vanaf ’n blank canvas, dis sommer net a capella!
Wat is julle volgende projek, of waarmee is julle nog besig?
J: Ek is tans baie besig met corporate shows en troues. Ek het 28 bookings voor Kersfees! Verder doen ek laser harp shows wat baie opwindend is, en ek en my man is ook besig om ’n elektriese harp en DJ duo uit te dink.As ek nie besig is om my harp in ’n woud in te stoot vir ’n troue nie, is ek besig om by ’n 5-ster lodge in die Limpopo tussen die luiperde, olifante en kameelperde te perform, of tussen 20 sexy dansers of sommer in ’n massiewe bubble vir een of ander maatskappy soos Vodacom vermaak te verskaf!
Een van my gunsteling-optredes was op die Rovos Rail vir General Motors. Dit was ’n Gatsby inspired geleentheid. Ek moes op ’n bewegende trein tussen al die waitors met my harp rondsweef! Ek was in die begin van die jaar Ghana toe gevlieg om voor die president en visepresident en archbishop Duncan Williams op te tree. Dit was ’n onvergeetlike ervaring. Ek speel ook nou en dan vir Sipho “Hotstix” Mabuse en het onlangs saam met die rapper Kwesta opgetree vir ’n paar shows.
Ek is mal daaroor om “dress-up” te speel vir al my optredes en my eie grimering te doen. Ek sien myself as iemand wat met enige kunstenaar (of danser/performer/DJ) kan optree. Ek hou daarvan om deur middel van improvisasies hulle show te embellish met my eie flair. Verder in die toekoms is daar ook planne om nog ’n klavier- en harpalbum vry te stel sowel as ’n oorspronklike vokale jazz-album.
W: Ek en my man het hierdie jaar vir ses maande in Wes-Afrika gebly en getoer en dit was wonderlik om te ervaar hoe dinamies die kunsgemeenskap in daardie deel van die wêreld is. Ek stel binnekort ’n liedjie vry waaraan ek en ’n Nigeriëse digter in Lagos gewerk het. Dis ’n samesmelting van Afrikaans & Yoruba.
Verder gaan my Franse projek “francofonix”, wat deur die Franse Ambassade in Suid-Afrika ondersteun word, meer aktief in 2019 wees. Ek “&” werk saam met grafiese kunstenaar Olivia Loots en musikante Adelle Nqeto, James Robb en Pieter Bezuidenhout vir hierdie projek. Ons tree by skole en universiteite in die land op waar Frans aangebied word, of net by enige Francofile se funksie. Die idee is om mense van alle ouderdomme, wat ’n liefde vir die Franse taal het, aan Frankryk, België, Wes-Afrika, Kanada en party Franssprekende eilande se musiek bloot te stel. Na die konsert bied ek op aanvraag kreatiewe skryfkuns kursusse in Frans aan (wat op die lirieke van die musiek wat ons sing gebasseer is) sodat ek my een voet in die akademie kan hou.
Ek beplan om volgende jaar na Senegal te reis vir ’n kongres om daar aan ’n kreatiewe musiekprojek saam met ander dosente en local francophone-musikante te werk. Daar is ook ’n samewerking in die vooruitsig met die taalinstituut “Francophonia” in Nice, Frankryk.
Hierdie jaar by die Tuin van Digters het ek vir die eerste keer met myself ge-collab as solokunstenaar “Willemien&Philomène” en dit het my die moed gegee om meer tyd aan my soloprojek te bestee tussendeur al die “&” samewerkingsprojekte. Dit is maar uitdagend om jouself gemotiveerd te hou wanneer jy weet hoe niche jou mark waarskynlik is...maar wat kan jy doen as die klavier se magneetveld jou op ’n daaglikse basis al hoe nader aan haar trek?
Volg ons op sosiale media:
Instagram @oorgeklank
Facebook: Fotostaatmasjien Oorgeklank
Foto’s: Ryno Stols
Gifs & Tipografiekaartjies: Chanél van der Merwe
Hare & Grimering: Kristin Pienaar
"Un silence de plomb/’n Doodse stilte": ’n Gesprek met Willemien Rust oor hierdie liedjie
LitNet Akademies-resensie-essay: In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers
UJ-pryse 2017: Commendatio oor Bibi Slippers se Fotostaatmasjien