Philomène of Willemien? Die vrystelling van ’n Frans-Afrikaanse liedjie “Un silence de plomb/’n Doodse stilte” deur die alternatiewe sangeres-liedjieskrywer Willemien Rust, wat die skeidslyne tussen twee tale – én tussen wêrelde – vertroebel, noop hierdie vraag. Willemien se Franse alter-ego is Philomène en vir haar/hulle is samewerking of medewerking (collaboration) instrumenteel tot die finale produk. So ook in die geval van hierdie treffende oudiovisuele produk waarvan die 2015-tereuraanvalle in Frankryk die katalisator was.
Willemien (Philomène), wat ’n meestersgraad in Frans het, het in 2009 naam begin maak as die een helfte van die duo-musiekgroep “aanklank”, ’n akoestiese projek saam met Sanet Stegmann. Sy het ook onder meer in 2015 die Franse vertalings vir die Suid-Afrikaanse film French Toast se klankbaan behartig en in 2016 het haar debuutmusiekproduksie “Twee hartstale” by die Vrystaat Kunstefees die Nasionale Vrynge-prys as beste produksie losgeslaan. Neem jy Willemien se aanslag tot haar vele projekte in ag, besef jy gou dat die naam “aanklank” meer is as net ’n slim benaming vir haar destydse musiek-duo, dit bewoord inderwaarheid haar aanpak tot al haar gevolglike kunsuitinge.
In die samewerking met ander kunstenaars en in die ontmoeting van hul kreatiwiteite (hul aanklank by mekaar dus) ontstaan produkte soos ook die musiekvideo vir “Un silence de plomb/’n Doodse stilte”. In hierdie geval was dit ’n spanpoging met Adelle Nqeto (kitaar en stem), James Robb (perkussie en stem) en Pieter Bezuidenhout (harmonieë en stem). Mart-Marie Snyman het tot die instrumentasie bygedra en Johan Stegmann het die kunswerk geskep terwyl Peach van Pletzen die musiekproduk in sy ateljee afgerond het.
Ek het by Willemien gaan aanklop om meer oor hierdie onlangse projek te gesels.

Willemien Rust en Adelle Nqeto
Beskou jy jou meer as kunstenaar of as musikant?
Ek was tussen 2011 en 2016 ’n voltydse Franse student/dosent aan die Universiteit van Pretoria en ’n deeltydse kunstenaar. Sedert 2017 het ek egter my musiekprojekte vanaf die agtergrond na die voorgrond geskuif en moes ek ’n nuwe manier kry om myself by ’n braai voor te stel ... So op hierdie stadium beskryf ek myself as ’n kruising tussen ’n kunstenaar en ’n kreatiewe entrepreneur – al doseer ek nie meer by een spesifieke universiteit nie, bied ek steeds nou en dan kreatiewe skryfkuns-werkswinkels in Frans by Universiteite/skole aan.
Verder voel ek nog altyd gemakliker om met die term kunstenaar eerder as musikant geassosieer te word. Maar ek wens eintlik ek kon al twee gelyk wees. Vir my beteken die term kunstenaar iemand wie se werk dit is om die wêreld so fyn as moontlik dop te hou sodat hulle hul gedagtes en reaksies van die waarnemings deur middel van hul kunsmedium (musiek/teater/kuns) kan uitdruk en deel ... ’n Musikant is ’n persoon wat tegnies baie vaardig is en oor ’n oneindige bron van musikale kennis beskik om die boodskap van die musiek so noukeurig as moontlik vas te vang en oor te dra.
Ek is bewus van my beperkings as musikant en het op ’n punt in my loopbaan besef ek moet eerder dit wat ek kán doen dóén, en dit wat ek nie kan doen nie uitkontrakteer!
Vertel my van die liedjie – wanneer het jy dit geskryf en wat was die dryfkrag daaragter?
Ek was in 2015 met ’n studiebeurs in Frankryk. Ek het vir ses maande tussen Frankryk en Suid-Afrika gewoon. Op 13 November daardie jaar, die datum van die terreuraanvalle, was ek in die studentedorp Tours, wat so ’n uur en ’n half van Parys is.
Ek was ook al voor 2015 ’n paar keer in Frankryk, maar dit was die eerste keer wat ek daar was op ’n tyd dat daar so ’n grootskaalse tragiese gebeurtenis in die land plaasgevind het; my soveelste belle époque (mooi tydperk) het toe onverwags oornag in ’n état de choc (skoktoestand) verander.
Ek het aanvanklik gedink ek wil net uit die land uit kom, en terugvlug na my eie land met ons eie probleme – ek het so half gevoel ek hóéf nie ook ’n ander land se pyn te ervaar nie! Maar ná ek en die oulike Franse vrou in wie se woonstel ek loseer het albei kalmeer het, het ek besef dat ek eintlik op ’n baie betekenisvolle tyd in Frankryk is. En toe besluit ek om tog aan te bly en te probeer verstaan waaroor die mense praat en nadink, wat toe natuurlik baie insiggewend was.
Dit was ook die tyd van die studente-protesaksie op die Suid-Afrikaanse universiteitskampusse. Dit was ’n ander gesprekspunt wat ook ’n hele paar deurmekaar emosies in my wakker gemaak het.
So al wat ek gevoel het ek prakties kon doen om die warboel van emosies te verteer, was om ’n liedjie daaroor te skryf.

Peach van Pletzen
As wat vertaal die Franse lirieke?
Un silence de plomb: A deafening silence/ A deathening silence
Bombes: Bombs
Quelle horreur!: How dreadful!
Die drie sinne is juis kronologies verkeerde kant om geskryf om die onderstebo aard van ’n mens se konsep van tyd tydens ’n traumatiese gebeurtenis voor te stel. Ek het eintlik heel eerste, net ná ek gehoor het wat gebeur het, gedink hoe aaklig dit was, toe het ek gehoor dat daar bomaanvalle was en eers daarna was dit asof alles doodstil in die strate was. Doodstil na afloop van die gebeure, wat weer oorverdowend hard moes wees.
Musiekvideo’s gee altyd ’n nuwe dimensie aan ’n liedjie, maar in hierdie geval is dit meer as net ’n ekstra dimensie, dit is ’n geïntegreerde oudiovisuele kunsproduk. Was dit die idee en wat wou jy deur die video oordra?
Ek dink ek begin al hoe meer die ewigheidswaarde van ’n musiekvideo begryp. As hy eers op die internet gelaai is, is dit dít. So ja, aan die een kant was dit vir my belangrik om ’n weldeurdagte produk te lewer, maar aan die ander kant was die maak daarvan eintlik ’n baie organiese proses.
Uit vorige ervaring met musiekvideo’s maak het ek geleer dat dit baie help om oor ’n langerige tydperk aan ’n musiekvideo te werk eerder as om dit vinnig te probeer aframmel – die liedjie sowel as ’n video-konsep kort tyd om te “marinade” soos [die musiekregisseur] Peach van Pletzen dit stel.
My drie kreatiewe klankborde was my broer Adam Heyns (hy het die video geskiet en ook die redigering gedoen), Johan Stegmann (die kunstenaar wat die illustrasies gemaak het) sowel as Berdene Burger (sy het die kunsregie behartig).
Ek dink een van die grootste vurke in die pad wat ek getref het, was om te besluit of ek enigsins politieke kommentaar wou lewer in die video al dan nie. Ek het toe besluit dat ek myself moet herinner aan wat die dryfkrag agter die stuk werk was en dat ek daaraan getrou moet bly: ek het die liedjie geskryf uit die oogpunt van ’n buitestander – maar terselfdertyd binnestander – in Frankryk én Suid-Afrika en wou eenvoudig net daardie rou emosie en gedagtegang kommunikeer. So toe begin ons speel met die idee van kontraste – stilte en geraas, wit en swart, emosionele inploffing en ’n fisiese ontploffing, buitestander en binnestander, ensovoorts.

Willemien Rust
Jy vra die vraag “Suid-Afrika, waarheen?” Wat sal jy daarop antwoord?
Ek het laas jaar Theuns Eloff se boek Wat nou, Suid-Afrika? gelees en toe besluit om ’n soortgelyke vraag in die lirieke te stel. Ek vra egter eerder hierdie spesifieke vraag as hom te probeer antwoord omdat ek nie op hierdie stadium weet wat my antwoord sal wees nie. Aan die een kant wonder ek, soos baie Suid-Afrikaners waarskynlik, waarheen die land op pad is, aan die ander kant vra ek Suid-Afrika waarheen ek op pad is.
Vir my voel dit of Suid-Afrika hom/haarself in ’n onderbroke oorgangsfase bevind sedert 1994. Nié ’n gebroke fase nie, dit is so ’n depressing woord! In die woord onderbroke is daar vir my iets seer maar ook terselfdertyd iets moois.
Vir die wat musiekteorie-kennis het, is ’n onderbroke kadens ’n akkoordprogressie wat deur ’n opeenvolgende majeur (gelukkige) en mineur (hartseer) akkoord gekenmerk word. Dit is basies die manier waarin die wêreld van musiekteoretici die woord bittersoet wou vasvang, reken ek. Om een of ander rede het die simboliek agter die teorie my nog altyd meer gefassineer as die teorie op sigself.
Un silence de plomb/’n Doodse stilte
Un silence de plomb.
Bombes.
Quelle horreur!
Suid-Afrika, waarheen?
Dis die helder kleur van die majeur en die seer in die mineur
wat in die land se onderbroke toonkleur resoneer
Dis die helder kleur van die majeur en die seer in die mineur
wat in ons land se onderbroke toonkleur resoneer
Getrou aan jou colab-styl maak jy binnekort 'n Kaapse draai vir optredes saam met Jude Harpstar. Wat behels die projek en waar kan mense julle te siene kry?
Dit is inderdaad die geval! Ek en my vriendin/kollega, ’n baie edgy harpspeler, het middel laasjaar ’n duo-musiekprojek gestig: Fotostaatmasjien Oorgeklank. Ons is besig om [die digter] Bibi Slippers se gedigte op harp en klavier te fotostateer. Ons het laas jaar ’n paar keer saam met haar opgetree, onder andere by Die Tuin van Digters en Aardklop se boeke-oase. Hierdie jaar het ons egter besluit om meer gereeld op te tree en te begin toer. Vir alle praktiese doeleindes het ons dus stem- en video opnames van haar gemaak wat die gedigte voorlees wat ons tydens ons vertonings gaan gebruik. Die projek gaan binnekort op Instagram en Facebook vrygestel word: @oorgeklank.
Hiermee ons datums:
Kaaptoe(r):
Woensdag 28 Februarie: Alma Café (Kaapstad) 19:00
Donderdag 1 Maart: Alexander bar (Kaapstad) 20:00
Saterdag 3 Maart: Rozendal Vinegar & Guest farm (Stellenbosch) 19:00
Sondag 4 Maart: Die Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum (Wellington) 18:00
Woensdagaand 7 Maart: Huis tot Huiskonsert/ UBER concerts (Kaapstad) Bespreek 'n 30min huiskonsert op 'n tyd wat jou pas!
Navrae/besprekings: willemien.en@gmail.com/ judeharpstar@gmail.com
- Foto's: Gustav Reyneke
Duidelikheidshalwe: By US Woordfees 2018 speel daar ook 'n ander produksie met die titel Fotostaatmasjien. Hier onder is besonderhede.
Moontlik gemaak deur NATi en die US Woordfees
Regie: Wessel Pretorius
Teks: Bibi Slippers
Verhoogbestuur: Kanya Viljoen
’n Kopie van die werklikheid, of die lewe self? Fotostaatmasjien, Bibi Slippers se veelbekroonde digbundel, is ’n postmoderne kragtoer waar die persoonlike, professionele en openbare personas van die skrywer ontmoet. Daar’s flitse van bewussyn, deurweek met popmusiek, katte, vo.ls van verskillende vere en die eksistensi.le hartstog rondom fotostate. Maar bowenal sal jy hier, met behulp van musiek en visuele kuns, vier Bibi’s vind – en een afskrif van ’n man.
R120 - R140 | R80 vir studente | R140 - R160 by die deur
Koop nou op Computicket hier
06 March 18, 21:00, Rhenish Girls' High School
07 March 18, 16:00, Rhenish Girls' High School
10 March 18, 14:00, Rhenish Girls' High School
10 March 18, 16:30, Rhenish Girls' High School
11 March 18, 20:00, Rhenish Girls' High School