FMR-resensie: Anoniem deur Chanette Paul

  • 1

Antoinette Coetzee is ’n medewerker van FMR Boekkeuse olv Amanda Botha.

Uitsaaidatum: 18 Junie 2024


Titel: Anoniem
Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637003018

Indien ’n mens iets vyftig keer met sukses behaal, verdien jy ’n staande ovasie en ’n glasie met borrels. Dit word nie verniet met die kleur goud vereenselwig nie.

Anoniem is Chanette Paul se vyftigste roman. Sy is ’n erkende skrywer van romanses en spanningsverhale en beskik oor ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlandse letterkunde. Dit is altyd moeilik om iets wat so lekker lees en kundig inmekaargevleg is, in ’n genreboks te plaas. Ek sou Anoniem klassifiseer as ’n verhoudingspanningsroman. Die titel dui immers op iets wat naamloos is en daaruit kan ’n mens aflei dat daar ’n mate van onderliggende spanning is. Die subteks op die voorblad het die retoriese vraag: “Kan jy vlug van wie jy werklik is?” Vlug dui op wegkruip, en die soeke na identiteit impliseer ’n mate van menseverhoudings.

In kort gaan hierdie verhaal oor Lulu Prins wat weer ’n lewe wil begin op Heydendal, ’n fiktiewe dorp in die Overberg. Sy hoop om anoniem te bly en tot verhaal te kom na ’n reeks gebeure wat haar lewe omvergegooi het. Maar ’n nuwe man, Kriek Kruger, kruis onverwags haar pad. Boonop kom hierdie man met ’n tannie, Lilibet, wat die teenpool van anonimiteit is. En Kriek se persoonlike assistent, May-Ella, snuffel erger as ’n K9-hond. Die romantiese en spanningsaspekte loop hand aan hand. Tog, omdat die hoofkarakters al ietwat deur die meul van die lewe is, is daar minder van die romantiese Mills & Boon-aspek en ontdek die leser hoofkarakters met goeie en slegte eienskappe. Nie noodwendig mense wat die voorblad van ’n glanstydskrif gaan haal nie. Egtheid dus.

Die spanningsaspek word knap en effektief volgehou vanaf die oënskynlike selfdood vanaf ’n balkon in Bantrybaai tot reg aan die einde van die verhaal. Die leser bly enduit aan die raai. Altyd ’n bonus as ’n mens self aan die wonder bly.

Chanette Paul het volle beheer oor haar karakters, en veral die feit dat gebeure beurtelings uit die perspektiewe van Lulu en Kriek beskryf word, bevestig dit. Boonop word die afdelings voorsien van die karakters se name, plek en datum. Dít, asook die lys name voorin die roman, sorg vir ’n aangename leeservaring. Aandag aan besonderhede soos hierdie wys dat die skrywer die leser voorop stel. Die gebeure speel af in baie realisties gesketste dele van die Overberg en Kaapstad. Daar is heelwat ander karakters, en ook hulle word kleurryk en met oortuiging beskryf, en na ’n ruk voel dit amper of jy hulle ken. Definitief is daar ook ’n paar van wie die leser nie gaan hou nie, en ook ’n hele paar wat jy dalk van nader sou wou leer ken. Karakters wat ’n mens bybly, meen ’n medeleeskringlid nou onlangs, is ’n kenmerk van ’n baie goeie leeservaring.

Navorsing is iets wat sinoniem is met die werk van Chanette Paul. Die inligting oor skotopiesesensitiwiteitsindroom, of SSS, en die “OrCam read”, die sensitiewe onderwerp van bemagtiging van ’n klein vergete gemeenskap in Suid-Afrika en die betreklik nuwe gebruik en inkleding van skeepshouers vir behuising word treffend as subtemas ingeweef.

In hierdie werk wou Paul op ’n fiktiewe manier uitbeeld hoe die wêreld van skryf en publiseer inmekaarsteek. Haar ondervinding as skrywer, keurder, manuskripontleder, en slyp- en skryfskoolaanbieder oor ’n tydperk van 27 jaar maak haar die ideale kandidaat hiervoor. Ek het dit fassinerend gevind en die reël van Uys Krige, “en dan sê Meneer die vis is duur”, het onwillekeurig by my opgekom. In haar outeursnota sê sy juis dat al die mense wat by ’n boek betrokke is, elke sent verdien vir hulle harde werk.

Ontspanningsfiksie speel ’n groot rol in die uitgewersbedryf. Daarvan getuig die aanloklike stapels boeke wat jou innooi om te kom koop by boekwinkels wêreldwyd.

Chanette Paul se werke is al in verskeie tale vertaal. Sy ding dus mee in ’n groter mark. Anoniem behoort ook by baie lesers byval te vind. Ek het dit terdeë geniet; dit het my baie herinner aan die wegkomleesgoed van die Ierse skrywer Lucinda Riley. Dit is heerlike leesstof vir die winter wat op hande is.

Anoniem word uitgegee deur LAPA.       

Lees ook:

Grietjie se loutering: ’n onderhoud met Bettina Wyngaard

FMR-resensie: Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck

FMR-resensie: Claremont Daisy deur Willie Hoods

  • 1

Kommentaar

  • Annoniem deur Chanette Paul. Antoinette Coetzee: "In kort gaan hierdie verhaal oor Lulu Prins wat weer ’n lewe wil begin op Heydendal, ’n fiktiewe dorp in die Overberg". Dis Lula.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top