Flieks 2017: Suzette Kotzé-Myburgh se toptienlys

  • 1

Ek het vanjaar altesaam 59 flieks gesien – nege minder as laas jaar, wat die knaende gevoel bevestig dat daar al minder kykbare films op ons kringloop wys as jou smaak afwyk van die gewone aksie-oordaad, superheldsages en kinderflieks. Onder die 13 Suid-Afrikaanse films (vyf minder as laas jaar) wat ek gesien het, was ’n paar absoluut uitstaande, maar daar was ook ’n paar egte flops, insluitend my jaar se héél swakste fliek, Snaaks genoeg (dit was glad nie eens snaaks nie, wat nog te sê snaaks genoeg!) Bygesê, humorfilms blyk ’n grys gebied te wees: twee Europese films wat as humor aangebied is, Toni Erdmann (Duits) en The hundred year-old man who climbed out the window and disappeared (Sweeds), het my hoofsaaklik koud gelaat, met skaars ’n glimlag daarby. 

  1. Tess
  2. Inxeba/The wound
  3. Moonlight
  4. Johnny is nie dood nie
  5. Sing
  6. Vuil Wasgoed
  7. Hidden Figures
  8. Gifted
  9. Baby Driver
  10. An Inconvenient Sequel: Speaking Truth to Power

1. Tess 

Hierdie fliek oor ’n jong Kaapse prostituut het my soos ’n hamerhou getref. Christia Visser in die naamrol is met een woord uitstaande.

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

2. Inxeba/The Wound

Dit kon netsowel my nommer een gewees het, want hierdie inisiasiefilm wat in die Oos-Kaap afspeel, is werklik iets besonders. Die verhaal is dig geweef en die pas stadig, maar dit bou op tot ’n skokkende en uiters treffende slot. Dis Suid-Afrika se inskrywing vir volgende jaar se Oscars (in die kategorie beste buitelandse film) en ek hou al my duime vas.

Lees Reney Warrington se resensie.

3. Moonlight

Vanjaar se Oscar-wenner as beste film (aangekondig te midde van ’n beskamende warboel) het dit uit en uit verdien. Soos Inxeba het dit ’n gay tema en wys dit karakters op die buiterand in puik filmkuns.

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

4. Johnny is nie dood nie

Hierdie herbesoek aan die Voëlvry-era word gekenmerk deur stylvolle inkleding en uitstekende toneelspel. Dit kry ’n besliste plek op my lys van tien beste Afrikaanse films.

Lees Reney Warrington se resensie.

5. Sing

Een groot grinnik was hierdie komedie oor Buster die koala wat sy teater van ondergang probeer red deur ’n sangkompetisie aan te bied. Die animasie is onverbeterlik – nie net die sangnommers wat bekende musiek plesierig benut nie, maar ook die dansbewegings.

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

6. Vuil Wasgoed

Nogmaals komedie, hierdie keer eg Afrikaans en heerlik aweregs. Bennie Fourie en Bouwer Bosch vorm die perfekte komediepaar as Kevin en Wim, twee losers wat ’n wassery bestuur en pens en pootjies in warm seepwater beland. Dankie dat julle hier was, manne, dit gee ’n mens nuwe hoop vir Afrikaanse komedie!

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

7. Hidden Figures

Hierdie boeiende film is gegrond op die lewe van drie swart vroue wat in die 1960’s ’n belangrike rol gespeel het in Amerikaanse ruimtevaart. Dit belig ’n interessante stuk geskiedenis terwyl die kyker volkome ingetrek word op emosionele vlak – my goedvoelfliek van die jaar.

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

8. Gifted

Dié verhaal van ’n sesjarige wiskunde-genie is een van daardie klein groot films wat te selde op ons kringloop verskyn. Met wonderbaarlike spel deur die kinderakteur Mckenna Grace.

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

9. Baby Driver

So af en toe begewe ek my na ’n aksiefliek, as genoeg resensente dit aanbeveel het. Hierdie een was pure plesier danksy Ansel Elgort, die aantreklike jong akteur in die hoofrol, en natuurlik die kookwater-klankbaan.

Lees Reney Warrington se resensie.

10. An Inconvenient Sequel: Truth to Power

As jy in die Kaap bly, voel jy dit aan jou lyf dat ons nie meer by “climate change” is nie, dis nou “climate crisis”. Ek bewonder Al Gore dat hy die enorme, komplekse probleem van omgewingsverval weens die mensdom se gierigheid met soveel energie en oortuiging aanpak. Nog ’n Oscar vir meneer Gore (vir beste dokumentêr) sal my stem kry.

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se resensie.

  • 1

Kommentaar

  • I feel that there are in fact more and more films becoming available to us in South Africa every year, and more and more enjoyable ones, too. Especially for viewers who don't limit themselves to certain genres, or who don't choose to exclude entire segments of the offering at once (there are many action films that are also good films and enjoyable to watch and to think about). But viewers (and reviewers) also need to broaden their scope, to include movies on alternative platforms, such as Showmax and Netflix, in their discussions, because they're becoming just as important as what's available in the theatres.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top