Filmresensie: Johnny is nie dood nie

  • 21

johnny280Die film begin met Rolanda Marais wat wakker word, regop sit en vir die kamera kyk. Dan begin die kamera terugbeweeg, uit die kamer uit, in die gang af. Jy sien Rolanda steeds in die bed sit. Sy kyk steeds vir die kamera. Ek het reeds hier geweet Johnny is nie dood nie is iets besonder.

Rolanda Marais is weerloos, dromerig en kompleks. Jy hou van haar. Jy hou nie van haar nie. Heen en weer. Albert Pretorius bring die hart en siel. Illana Cilliers is beneuk en bakleierig, maar die enigste karakter wat reg is vir die waarheid, vir die postrevolusie blues.

Die kinematografie en stilering van die laat ’80s en 2002 is foutloos. Ek dink spesifiek aan een toneel waar twee akteurs in die kombuis tee drink. Die koppies is ’n onpaar. Die meeste Suid-Afrikaners sal beide van die koppies (selfs met ’n tikkie nostalgie) herken.

Daar is tonele waar die stilering, die kamerawerk, die storie en die akteurs perfek saamsmelt. Die huispartytjie, skottelgoed was in die swembad, die droomtoneel …

Die “tracking shots”, waar ’n kameraman die akteurs volg by ’n partytjie, of om hulle sirkel waar hulle aan tafel sit en eet, trek ’n mens dadelik teen wil en dank in die film in. Sover ek verstaan, was die een skoot by die huispartytjie omtrent 16 minute lank. Dit voel asof jy dit droom. Regisseur Christiaan Olwagen het gesê hy wou dit laat voel soos ’n motorongeluk waarvoor jy nie kan ophou kyk nie. Christiaan, jy het dit reggekry.

Met groot name soos Kerkorrel en Kombuis, om net twee te noem, as klankbaan, kan jy nie fouteer nie. Die mees indrukwekkende stem is egter dié van Illana Cilliers. Haar weergawe van “Gee jou hart vir Hillbrow” in die swembadtoneel gaan my lank bybly.

Daar is ooreenkomste tussen die karakters en Kerkorrel, Dagga Dirk en ander openbare figure in die Voëlvry-toer. Met tye wonder mens of dit dan nie biografies is nie. Dan besluit jy dit is totale fiksie. Dan wonder jy weer.

Die onderwerp is nog nie een wat werklik aangeraak is nie – die postrewolusie blues van die Afrikaner. Dit kyk na die storm-en-drang-jare van ’n groep studente wat, met die Voëlvry-toer as klankbaan, geglo het hulle gaan apartheid eiehandig beëindig. Dit kyk ook na hul lewens 14, 15 jaar later, wanneer sommiges getroud is en kinders het, ander nie ’n werk kan behou nie, en onvermydelike ontnugtering toesak.

Alhoewel die film spesifiek na die Afrikaner kyk, en die klankbaan tot ’n sekere generasie spreek, glo ek dit is ’n universele film. Postrevolusie blues is ’n universele verskynsel en die gehalte van die film, die toneelspel en die musiek sal grense oorsteek.

Die film word amptelik in Mei 2017 uitgereik.

 

  • 21

Kommentaar

  • Cilliers van Niekerk

    Hoewel ek nogal wonder of die fliek reg sal laat geskied aan 'n plesier van 'n resensie gaan ek des te meer ywerig kyk om uit te vind, Reney!

  • Kan nie wag om fliek te sien nie. Eerstens omrede die mees talentvolle groep mense hierdie projek aangehad het en tweedens want dele van die fliek is in my huis geskiet.

  • Klink na 'n fliek wat gesien moet word, dankie vir die puik resensie - gelukkig sal ons eersdaags Johnny op die skerms kan sien!

  • Herman Bester

    Aag snert! Hierdie film val gemaklik in die middel van niks. Olwagen se pogings om blatant vir Iñárritu na te maak verwyder hom van enige moontlikheid op internasionale sukses en sy gevolglike getrippel om die waarheid van die tyd en sy mense aan die neus lei (is dit Kerkorrel of is dit nie? DIT IS NIE en enige mens met 'n bietjie kennis van die era sal dus nie inkoop op die verdigsel nie) gaan maak dat dit ook plaaslik 'n flop gaan wees. Nou moet jy jouself afvra, indien 'n film geen impak op die internasionale mark maak nie en hy maak minder as 'n half miljoen plaaslik (my voorspelling), is hy suksesvol? Is hy goed? En behoort hy te bestaan?

      • Chrisna van Rensburg

        Kan ons maar asb daardie vieslike woord uit ons taal verwyder? Dit plaas jou buitendien in 'n kategorie wat nie mooi is nie - al voel jy hoe sterk oor die ou se opinie oor die film!

    • Ek stem 99% saam met jou, maar dis nie net Inarritu nie, dis ook Cuaron, Gondry (White Stripes se een music video) en selfs 'n clunky Tarantino (Reservoir Dogs opening scene) wat hier gekopiëer word en gebastardiseer word.

      Die 1-dimensionele karakters, die ongeloofwaardige dialoog, die foute in set design (Pentax Spotmatic foto's, LED ligte, in 1987) en die goedkoop Alice in Wonderland-tiener-angs maak die suspension of disbelief onmoontlik.

      Die rolspel was bitter goed, maar Olwagen het 'n fliek bo sy vuurmaakplek probeer maak en veroorsaak dat hierdie fliek nie kan kompeteer op 'n globale mark nie.

      • Dis sommer snert man, kan ek 'n kamera in jou hand druk, dan skiet jy iets en ons gaan vergelyk dit met die biljoen flieks en musiekvideo's daarbuite en vertel jou wie jy almal gebastardiseer het! Dis in vandag se tyd feitlik onmoontlik om iets te skiet wat nog nie voorheen so gedoen is nie. En wat is verkeerd met Pentax Spotmatic foto's? Ek het een gekoop lank voor 87 en ek het hom nou nog, hoekom pas dit nie in by n 87 fliek nie? Die LED's gee ek toe, maar ek het dit nie opgemerk nie, omdat ek so aan die akteurs se dialoog gehang het, ja daar is ook niks fout met die dialoog nie. Ek kan my vereenselwig met elke woord, dalk is die fliek net bo jou vuurmaakplek.

  • Sien vreeslik uit! Dit was 'n spesifieke tyd, 'n spesifieke groep mense. Stories hou ons aan die gang en betrokke. Dankie vir ouens wat uitstaan, good and bad.

  • Dit was briljant! Beste Afrikaanse film nog! Jy slaan die spyker op die kop met jou kommentaar oor die ooreenkomste tussen die karakters asook die dromerigheid van sommige tonele. Puik!

  • Drie uur in die nag is 'n mens maar bitter, maar ek gaan vanaand graag hierna kyk. Mens moenie te veel agtergrond hê om 'n eie opinie te vorm nie. Sela!

  • Ja, erge herinneringe van die goeie en slegte dae uit 1988 – 1992.

    Het Saterdagaand die film gekyk. Dit is uiters goed gedoen; het my met heimwee gelos, en was die hoofoorsaak van gister se ure lange Bernoldus Niemand, Buckfever Underground, Koos Kombuis, Piet Botha, Akkedis, Gert Vlok Nel, Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band plus ander 'alternatiewe warm blanke' groepe uit die era ...

    Was totaal verbaas om te hoor hulle speel ‘Watter vriend het ons in PW’, sowel as die aanmerking van een van die karakters (dalk Dirk indien ek reg onthou) dat ons nie PW net wil vervang met 'n swart weergawe van PW nie...

    Goeie film, het die DVD bestel.

  • Die film is puik. Die kritiek nie heeltemal eg nie. Klink my maar na 'n paar suurgatte. En ek is nie neutraal nie. Familie.

  • Barend van der Merwe

    Hoe histories akkuraat is die film? Die hele storielyn oor die ontduiking van diensplig?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top