Gifted: ’n filmresensie

  • 0

Gifted

Regie: Marc Webb
Draaiboek: Tom Flynn
Spelers: Mckenna Grace, Chris Evans, Lindsay Duncan, Octavia Spencer, Glenn Plummer, Jenny Slate

Ons kan die (Westerse) wetenskap bedank vir die vooruitgang en tegnologiese geriewe van die moderne tyd, maar teen watter prys? Hierdie besonderse film kyk na begaafde mense en die bydrae wat hul werk tot die ganse mensdom lewer, met persoonlike verlies as die skadukant daarvan.

Die begaafde kind ter sprake is die sewejarige Mary (Mckenna Grace), geniaal in wiskunde nes haar ma. Dié het haarself gedood toe Mary net vyf maande oud was, sodat sy grootgemaak is deur haar oom Frank (Chris Evans). Hy wil ten alle koste voorkom dat Mary dieselfde pad loop as sy suster, wat van kindsdag af deur hul ma, Evelyn (Lindsay Duncan), gedruk is om te presteer. Evelyn was self ’n briljante wiskundestudent, maar die tipies vroulike pad van trou en kinders kry het haar loopbaan vroeg beëindig, sodat sy haar ambisie deur haar dogter probeer verwesenlik het – met tragiese gevolge. Wanneer Mary skool toe moet gaan, stuur Frank haar na die buurt se gewone skool, maar haar talent blyk gou. Deur die skoolhoof se bemoeienis is Evelyn kort voor lank op die toneel, oorgehaal om Mary uit ’n normale, geborge kinderlewe weg te vat en in ’n klein Einstein te omskep.

Gifted is een van daardie onverwagte flieks wat selde op ons kringloop verskyn. Dit beskik oor ’n diep menslikheid, wat verteenwoordig word deur die karakters Roberta (Octavia Spencer), Frank se hospita en van kleins af ’n soort ma vir Mary, en Greg (Glenn Plummer), die prokureur wat haar saak in die hof teen Evelyn moet verdedig. (Moet ook nie die eenoog-gemmerkat Fred buite rekening laat nie.)

Hierdie film word hoog aanbeveel vir kykers wat ’n stewige drama verkies.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top