Filmresensie: Sing

  • 0

singFilm: Sing
Regisseurs: Christophe Lourdelet en Garth Jennings
Draaiboek: Garth Jennings
Spelers: Stemme van Matthew McConaugheyReese WitherspoonSeth MacFarlane, Scarlett Johansson, John C Reilly, Taron Egerton, Jennifer Hudson

As jy reeds “Die jaar sleep ...” wil kreun hier so halfpad deur Januarie, is daar net een oplossing: gaan kyk Sing. Ek is nie gewoonlik ’n groot liefhebber van animasie nie, maar hierdie spulletjie is ... wel, dierbaar.

Die tema is ’n ou bekende: die koala Buster Moon (Matthew McConaughey) se teater moet van bankrotskap gered word en ’n benoude koala maak benoude spronge. Ten spyte van sy wankelrige sukseslys as impresario het Buster een belangrike eienskap: hy glo onverdrote in homself. Om sy teater te laat herleef kondig hy ’n sangkompetisie aan, met ’n prys van $1 000. Maar Miss Crawly (Garth Jennings), sy erg bejaarde verkleurmannetjie-assistent (met ’n glasoog), maak ’n vingerfout toe sy die pamflet uittik en die prysgeld raak $100 000. ’n Oop venster en ’n windvlaag later is die pamflette oor die hele stad versprei. Die diere daag in hul honderde op vir oudisies – vir prysgeld wat Buster nie het nie.

Al is die tema oud en die karakters bekende tipes (verteenwoordigend van die Amerikaanse samelewing, maar sonder die angel van ras), word dit vars en uiters vermaaklik aangebied. Die animasie is onverbeterlik – nie net die sangnommers wat bekende musiek plesierig benut nie, maar ook die dansbewegings. Elke dierefiguur is pragtig gedetailleerd, sonder die visuele soetlikheid wat ’n mens so dikwels by Disney-produksies kry. Ook die stemwerk is puik, met Reese Witherspoon se Rosita (’n varksog met ’n horde kleintjies en ’n onwaarderende eggenoot) wat die kollig steel. My ander gunsteling is Eddie die skaap (John C Reilly) – skaperig, inderdaad – wat Buster se beste vriend is. Waar hulle twee oplaas kragte saamsnoer, het ek gelag dat die trane loop.

Sing word hoog aanbeveel vir jonk en oud!

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top