Vuil wasgoed: ’n filmresensie

  • 0

Regie: Morné du Toit

Draaiboek: Bennie Fourie

Spelers: Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Simoné Nortmann, Leandie du Randt, Tim Theron, Nico Panagio, Stiaan Smith, Louis Minnaar, Charlie Bouguenon

Vir ’n klompie jare al is die Silwerskermfees ’n jaarlikse toonvenster van die verstommende hoeveelheid jong talent in die (Suid-)Afrikaanse filmbedryf. Dit krioel en bewe van opwinding en entoesiasme van jongelinge met ’n Nike-houding van “Just do it!” Só het Vuil wasgoed ontwikkel van ’n 24 minuut-kortfilm by 2014 se fees tot hierdie vollengte komedie wat ’n mens heerlik aan die grinnik hou.

Wim (Bouwer Bosch) en Kevin (Bennie Fourie) is beste buddies al van skooldae af en nou bestuur hulle ’n wassery. Elke kliënt word gegroet met “Dankie dat jy hier was” en ’n stroompie borrels uit ’n spuitbotteltjie. Hulle tweejaar-spaarplan om ’n koffiewinkel te begin het uitgerek na sewe jaar ... maar dit verander als toe een van die Goty-boewebroers (Tim Theron) ’n baadjie inbring vir droogskoonmaak en Kevin ’n afgesnyde vinger in die sak ontdek. Wat volg is seker die mees bisarre plan nóg van wie-uitoorlê-wie om die beloning van ’n halfmiljoen rand en die vinger in die hande te kry. Daar is volop aksie, skiettonele en bloed, twee pragtige veeartsenystudente (Simoné Nortmann en Leandie du Randt), ’n goudvis genaamd Ben, kwinkslae regdeur en ’n gelukkige einde.

Dis einde van die jaar en almal is moeg en gatvol – gaan kyk hierdie fliek om jou op te kikker!

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top