Feite en vyte, ’n resensie van Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage en Wetenskaap deur Leon de Villiers

  • 0

Wie onthou nog die Fanie en Melanie-bylae in die Huisgenoot? Kinders kon lekker interessante feite leer oor die sonnestelsel en vulkane, terwyl die grootmense liefdesverhale kon lees en Ouma die blokkiesraaisel doen.

Die volgende twee boeke bied lesers ietwat van ’n soortgelyke ervaring. Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika (2020) en Wetenskaap (2020) handel oor feite. Feite is die klipharde, bekende dinge wat ons goed ken. Tog kry mens feite én dan kry jy vyte. Nee, dit is nie ’n spelfout nie, maar eerder ’n slim woordspeling.

Beide boeke is uitgegee deur LAPA Uitgewers. Beide boek kan leesbevordering en -begrip aanwakker, want sê die uitgewer Nandi-Lessing-Venter in LitNet Akademies: "Wanneer kinders gemotiveerd is om te lees, geniet hulle die leesproses en versterk dit hulle vertroue in hul vermoëns om te lees. So ontwikkel kinders intrinsieke leesmotivering en lees hulle met geesdrif en nuuskierigheid."

Beide boeke is pret vir oud en jonk!

Die regte feite

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika (2020) deur Engela Duvenage is ’n tipe ensiklopedie van trotse Suid-Afrikaners wat hul merk in hul onderskeie velde gelaat het. Sommiges is meer bekend as ander, maar elke profiel vertel ’n storie, soos die pad wat elkeen geloop het lank voordat hy of sy die uitvinding, ontdekking of slim plan gemaak het.

In plaas van profielfoto's is daar pragtige sketse van die betrokke slimkoppe, en onderaan elke inskrywing of verhaal is daar ’n kort feiteblok met die basiese feite oor die persoon of persone. Nie alle ontdekkings is alleen gemaak nie.

As ’n bonus is daar meer inligting oor die onderwerp of veld waarmee die slimkop verbind word, asook ’n interessante feit of twee. Alhoewel die inhoud nie baie illustrasies bevat nie, is die omslag kleurvol.

Wie is almal in hierdie versameling van uitvinders, planmakers en slimkoppe te vinde? Almal ken seker vir Chris Barnard, wat die eerste suksesvolle hartoorplanting uitgevoer het. Ja, hy is daar, maar ook vele ander van wie min mense weet. Het jy geweet daar is Suid-Afrikaners wat al ’n Nobelprys gewen het? Dit is die grootste wetenskapprys ter wêreld en Max Theiler, Aaron Klug, Sydney Brenner en Michael Levitt het almal al een gewen. Hulle is almal gebore Suid-Afrikaners.

Het jy dalk agtergekom dat Suid-Afrika buitengewoon baie reën kry hierdie jaar, veral in die noorde van die land? Die mense by die Suid-Afrikaanse weerkantoor vertel vir ons dat dit die begin van ’n La Niña-weerverskynsel is. Dit is te danke aan George Philander, seun van die digter en skrywer PJ Philander, dat ons vandag meer weet oor wat presies hierdie weerverskynsel behels.

So waarom hierdie dik feiteboek aanskaf?

Die belangrikste aspek vir jong lesers (en natuurlik ouer lesers ook – want hierdie boek is vir almal) is dat hierdie mense Suid-Afrikaners is. Die #Imstaying-beweging het die laaste paar jaar baie gefokus op positiewe redes hoekom Suid-Afrikaners kan trots wees en hoekom hulle nie moet emigreer nie, ten spyte van al die negatiewe gebeure in die land. Dié boek gee vir jou 376 bladsye vol redes hoekom jy trots Suid-Afrikaans kan wees.

Dit is belangrik vir kinders om te sien hoe hulle landgenote presteer en dat hierdie slimkoppe rolmodelle vir jong Suid-Afrikaners kan wees; rolmodelle wat wys dat plaaslike mense dinge kan doen. Daar word gereeld ’n ophef gemaak van die sterre in Hollywood en die groot wetenskapgenieë van Europa, maar Suid-Afrika bied oorgenoeg om saam te kan gesels. Het jy byvoorbeeld geweet dat die masjien wat gebruik word om te sien wat die omvang van pasiënte se beserings is, ’n CAT-skandeerder is en dat dit ’n Suid-Afrikaner se plan was?

Hierdie boek sal ideaal wees vir die klaskamer en kan nuttig te pas kom as ’n bron vir begripstoetse. Dit is kort, bevat goeie woordeskat en is interessant om te lees. Veral as ’n onbekende figuur soos professor Johnny Mahlangu gekies word. Hy het baanbrekersnavorsing gedoen oor hemofilie en het in 2018 ’n internasionale toekenning vir sy werk ontvang. Daar word ook in kort verduidelik wat hemofilie is. Dit is beslis ook ʼn aanwins vir elke boekrak of koffietafel.

Lees ’n uittreksel uit hierdie boek:

Uittreksel: Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage

Kom ons speel ’n bietjie

Die postmodernisme hou daarvan om te speel met die verhouding tussen feit en fiksie en wat die twee van mekaar onderskei, maar wie sê dit is net vir die geleerdes bedoel? As jy ook gedink het groen koeldrank word van gras gemaak omdat dit groen is, is Wetenskaap net die boek vir jou.

Wetenskaap (2020) deur Leon de Villiers speel met die aard van en verhouding tussen feit en vyt. Op die oog af kan dit ’n handboek wees, dalk ’n vaktydskrif of ’n storieboek, maar wees gewaarsku: Hier word die drumpel tussen feit en vyt vrylik oorgesteek.

Dit is ʼn uitgebreide grap en begin met ’n paar definisies, soos: "Wat is ’n vyt? Wanneer ’n mens goeters uitmekaarhaal en dit weer bymekaar sit, bly daar baie keer ietsies oor. Daardie oorbly ietsies is vyte. Dit is hoekom daar goed soos doktors en dokters is ..." (De Villiers 2020:5).

Dié boek is soortgelyk aan Jaco Jacobs se Kan ’n walvis winde los? En ander gruwelike en grillerige vrae oor diere (2020), behalwe dat Jacobs ware feite gebruik en De Villiers die feite op hulle kop draai en van hulle vyte maak. Die illustrasies dra by tot die humor deurdat hierdie wetenskape sonbrille dra en selfs die sondroke hulle eie drookter het – stetoskoop en al.

Dit is juis hierdie vyte wat jonger lesers se verbeelding sal aanwakker en lus maak vir lees, want volgens hierdie boek is amper enigiets moontlik. Skape sweet dan wol van al die gras wat hulle vreet. Dit is belangrik om kinders se verbeelding te stimuleer, want dit bevorder hulle kognitiewe ontwikkeling, wat hulle weer sal help om beter te lees en somme te maak (Neser 2020:110). Al maak die boek ʼn grap van feite, is dit eintlik ʼn boek wat sy plek op enige boekrak kan volstaan.

Dit is die ideale boek vir iemand wat hou van grappe of om met ’n bietjie humor na die lewe te kyk. Soms kry mens goeie insigte oor die lewe as jy dinge so ’n bietjie vanuit ’n ander hoek beskou: "Wat is ’n vakansie? Vakansie is as jy niks gaan doen op plekke waar ander iets moet doen" (De Villiers 2020:8).

Albei hierdie boeke het die potensiaal om in die klaskamer benut te word. As ’n meer ernstige, feitlike opdrag vereis word, is ’n planmaker, uitvinder of slimkop ’n goeie idee. As jy die leerders aan die lees wil kry of hulle wil aanmoedig om te lees, gebruik ’n uittreksel uit Wetenskaap. Op dié manier kan leerders sien dat daar ’n boek is vir elke gier en voorkeur.

Lees meer oor hierdie boek:

Lesersindruk: Wetenskaap deur Leon de Villiers

Balans

Balans is een van die moeilikste wetenskaplike feite om baas te raak, maar tussen hierdie twee boeke kan jy nie ’n fout maak nie. Dit is ’n feit – of is dit nou ’n vyt?

Verwysings

de Villiers, Leon. 2020. Wetenskaap. Pretoria: LAPA.

Duvenage, Engela. 2020. Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika. Pretoria: LAPA.

Jacobs, Jaco. 2020. Kan ’n walvis winde los? En ander gruwelike en grillerige vrae oor diere. Pretoria: LAPA.

Neser, Christien. 2020. Help! My kind is anders: ontdek die ster in jou anderster kind. Pretoria: LAPA.

Lees ook:

Help! My kind is anders deur Christien Neser: 'n resensie

LAPA: Die belang van boeke vir kinders

Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed

’n Beskouende ondersoek van humorontwikkeling, humorsin en enkele meganismes onderliggend aan humor

Humor in kinderliteratuur: ’n Beskouende ondersoek na enkele soorte humor en die waarde van humor in fiksietekste vir kinders

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top