Uittreksel: Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage

  • 3

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika
Engela Duvenage
LAPA Uitgewers
9780639600581 (Sagteband)
9780639600598 (e-Boek)

Engela Duvenage

Engela Duvenage hou besonders baie van feite en van stories. Sy het ’n MPhil in Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch verwerf. Vir die afgelope twee dekades skryf sy gereeld vir koerante, tydskrifte en vir universiteits- en navorsingspublikasies oor Suid-Afrikaanse wetenskap en die mense daaragter. Sy stel onder meer ’n landbounavorsingsblad vir die Landbouweekblad saam, en skryf ’n maandelikse omgewingsrubriek vir die tydskrif Lig. Engela het op Oudtshoorn grootgeword, en woon reeds byna twee dekades op Wellington in die Boland saam met haar man en twee dogters.

Opsomming

In hierdie boek sal jy lees van allerlei uitvinders, planmakers en slimkoppe van Suid-Afrika. Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het. Stories oor mense wat met diere en plante werk. Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel. Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak. Dit is voorwaar ’n trots Suid-Afrikaanse boek wat elke leser sal inspireer en motiveer om vrae te vra, te ontdek en te skep.


Die spesiale reistas

Winston Wicomb

’n Sessitplek-vliegtuigie genaamd The Spirit of Rotary styg op die stormagtige aand van 3 Oktober 1984 vanaf Kaapstad-lughawe op om ’n lewensbelangrike vrag in Port Elizabeth op te pik. Dit sou minder as ’n blok botter weeg. Dit was ’n menslike hart. ’n Oos-Kaapse skoolseun is ná ’n motorongeluk breindood verklaar. Sy familie het ingestem dat sy organe in bitter siek mense oorgeplant kon word. Dokter David Cooper, dokter Dimitri Novitzky en Winston Wicomb is die passasiers. Hulle is deel van die navorsingspan van professor Christiaan Barnard, die Suid-Afrikaanse dokter wat die eerste hartoorplantingsoperasie gedoen het.

Langs Winston se sitplek staan ’n vierkantige houer van vlekvrye staal om die hart in te vervoer. Die praktiese, handvaardige jongman het twee jaar lank daaraan gewerk. Die harttassie word dié aand die eerste keer ordentlik getoets. Winston wonder benoud of dit goed genoeg gaan werk. Die bestaande metode om geoeste harte op ys te bewaar, werk net vir ’n uur of twee goed. Daarna begin die hartselle doodgaan en is die orgaan nie meer veilig vir oorplanting nie.

Sou dokters in die vervolg skenkerharte vir langer as ’n halwe dag in Winston se harttassie veilig en gesond kan bewaar terwyl hulle dit van ver plekke in die land na Kaapstad neem vir oorplantingsoperasies?

Winston tob daaroor dat iets kan skeefloop.

Die vliegtuigie skud in die stormwind.

Die vlieëniers moet bontstaan.

“Ouens, moenie skrik nie, maar ons het radioverbinding met die lughawe verloor!” roep die vlieënier, Norman Patterson, oor sy skouer. “Die radio se antennadraad het losgeruk!”

Nog slegte nuus volg. Die einste antennadraad haak aan die vliegtuig se stert vas, wat dit selfs moeiliker maak om die tuig te beheer. Die verligting is groot toe Port Elizabeth in sig kom. Drie uur later bêre Dimitri en David die skenkerhart in die harttassie nadat dit in ’n operasie in die Port Elizabethhospitaal verwyder is.

Op die lughawe lig vlieënier Norman sy haastige passasiers in: “Ons moet die gewig in die vliegtuigie beter versprei. Winston, jy’s die kleinste. Jy en die harttas moet in die tuig se neus terugvlieg.”

Winston wil-wil hom vervies, want dit sal beteken dat hy ure in ’n beknopte spasie op sy maag moet lê! Die enigste silwer randjie is dat hy die harttassie by hom het.

Groot is sy skok toe hy op ’n stadium deur ’n glaspaneel so groot soos ’n CD-boksie loer en skuim in die houer sien vorm. Niks van die lewensbelangrike bewaringsvloeistof wat die hartselle moet voed, pomp meer daardeur nie! Hoekom? Hoekom?

Die antwoord tref Winston soos ’n Springbokflank se duikslag: dis die lugdruk se skuld!

Hy’t die tassie altyd op grondvlak getoets, want hy’t aangeneem dit sou in groot, lugdrukbeheerde passasiersvliegtuie vervoer word. Hy’t nie gekliek dat ligte vliegtuigies sonder lugdrukbeheer dalk gebruik sou word nie. Daar’s g’n tyd vir selfbejammering nie! ’n Hart en ’n dodelik siek pasiënt se lewe is op die spel!

Met sweterige hande probeer Winston aan knoppies draai. Hy moet eenvoudig die bewaringsvloeistof weer aan die vloei kry! Hy begin druk-druk aan die deurskynende plastiekpypie waardeur die gasmengsel moet gaan. Dit werk!

Winston hou aan met die gedruk al die pad tot in die Kaap, sonder ’n woord aan sy kollegas.

Druk.

Druk.

Druk.

Ná hul landing word die belangrike vrag onder polisiebegeleiding na die Groote Schuur-hospitaal gehaas.

Altesame 16 uur en 45 minute nadat die skenkerhart in die Oos-Kaap geoes is, begin dit in die pasiënt, Rick Anderson, se borskas klop.

Die langste waagstuk in sy soort was suksesvol verby.

Winston, wat die hele prosedure dopgehou het, sak van pure verligting op die teatervloer neer toe hy die hartmonitor hoor: Piep-piep-piep.

Sjoe, dat ek, ’n kind van Woodstock in die Kaap, ten spyte van apartheid deel van so iets groots kan wees! sit hy en dink. Dankie tog vir toevallige ontmoetings! Winston was die seun van Daniel en Martha Wicomb. Sy broer, Randall, het later ’n bekende Afrikaanse sanger geword. Die gesin het dit nie breed gehad nie. Om vir sy BSc-studie aan die Universiteit van Kaapstad te kon betaal, het Winston klere en ensiklopedieë verkoop en motors reggemaak.

Hy was met sy skedonk van ’n Volkswagen Kewer op pad toe hy eendag die blinkgoue Mercedes van professor Christiaan Barnard sien staan. Die wêreldbekende hartchirurg was briesend.

En laat!

Winston het onder die enjinkap ingeloer en ’n los draadjie teruggedruk. Binne ’n japtrap was die Mercedes weer op pad. Winston se handigheid het die hartchirurg so beïndruk dat hy hom ’n week later genooi het om lid van sy navorsingspan te word.

Die ontwerp van die harttassie wat Winston ontwikkel het, is oor die jare verskeie kere aangepas. Tussendeur het hy in 1983 sy doktorsgraad in biochemie behaal. Hy het later ook saam met die hartprofessor in Amerika gaan werk. Hy woon steeds daar, en doen werk oor aansteeklike siektes.

 MEER OOR DOKTOR WINSTON WICOMB:

Gebore: 30 Januarie 1949, Kaapstad

Matrikuleer: Hoërskool Queen’s Park, Woodstock, 1967

Hoe het Winston se harttassie gelyk? Dit was twee liniaallengtes hoog en 18 kilogram swaar. Binne-in het die skenkerhart in ’n lang glassilinder gevul met spesiale bewaringsvloeistof gedryf.

Bewegingskrag. Winston het sy kennis van meganika gebruik om die harttassie te ontwerp. ’n Lugpompstelsel wat met swaartekrag werk, het gesorg dat die bewaringsvloeistof daarin heeltyd van bo na onder deur die hart en die glassilinder beweeg. ’n Mengsel van suurstof en koolstofdioksied het die vloeistof en hart vars gehou.

Pompende spier. Dis jou hart se werk om lewegewende, suurstofryke bloed heeltyd deur al die klein en groot are in jou lyf te pomp. Mense verwys dikwels na hartdokters as kardioloë, of na hartsiektes as kardiovaskulêre siektes. Dit kom van die Griekse woord “kardia”, wat “hart” beteken. Die woord vaskulêr verwys na jou aarstelsel.


Die vermomde dokter

Margaret Ann Bulkley, ook bekend as James Barry

Dokter James Barry het jare lank mense om die bos gelei om haar droomwerk te kon doen. Haar geheim is eers ná haar dood ontdek. Ja, jy’t reg gelees. James is as Margaret Ann Bulkley in Ierland gebore. Rondom haar twintigste verjaarsdag het sy haar rokke weggepak en vir die volgende 56 jaar mansklere gedra.

Nou hoekom die vermomming? Hoekom mense kul?

Dit het te doen met die era waarin Margaret gebore is. In die 1790’s is Britse meisies nie toegelaat om aan universiteite te studeer, boeke te skryf of selfs net interessante werke soos dokter of prokureur te oorweeg nie. Watwou! Net die heel gelukkigste dogters uit goeie huise is soms geleer lees en skryf. Vroue moes eerder tuis bly en borduurwerk en ander fyn handwerk doen.

Margaret was veels te avontuurlustig daarvoor, en het by haar pa, Jeremiah, geneul: “Ek wil ’n soldaat word!”

Jeremiah het amper in sy koppie tee verstik. “Oor my dooie liggaam!”

Gelukkig was haar ma, Mary Ann, ’n planmaker wat net die beste vir haar dogter wou hê. Haar broer, die Britse kunstenaar James Barry, het haar ondersteun. Van sy vriende het gehelp dat Margaret ’n goeie opvoeding kon kry. Sy het ’n privaat onderwyser geword wat kinders tuis onderrig, maar eintlik wou sy graag ’n dokter wees. Hoe nou gemaak?

“Kom ons vermom haar as ’n man. Dan sal sy aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland vir ’n dokter kan studeer,” het haar ma en oom besluit.

Op reis na die Skotse universiteit het die 20-jarige Margaret iewers tussen 29 of 30 November 1809 in ’n jong man, James, verander. Sy was fyn gebou, maar niemand het skynbaar ooit onraad vermoed nie. Tog het “James” soms aandag getrek.

“Ou seun, jy lyk 12 jaar oud en is sekerlik te jonk om eksamen te mag skryf,” het ’n professor eendag verklaar. “Jou stem het nog nie eens gebreek nie! Jy’t nog nie baard nie, en jy’s darem kort!”

Min het die professor geweet dat die “ou seun” eintlik ’n “ou meisie” was! Sy’t uiteindelik saam met 57 ander studente in Junie 1812 haar mediese graad gekry en later ook as chirurg gekwalifiseer. So het sy heel teen die reëls die eerste Britse vrou geword wat as dokter gewerk het. Britse vroue kon eers teen 1876 ’n lisensie kry om amptelik saam met hul manlike kollegas die beroep te beoefen.

Ná haar studie was die plan dat James saam met ’n familievriend Venezuela toe sou gaan, haar vermomming daar sou laat vaar en as vrou dokterswerk sou doen. Ongelukkig is dié vriend dood voor die skip Suid-Amerika toe kon vaar. Moes sy haar ware identiteit bekend maak of die skyn steeds voorhou? Dit kon beteken dat sy nooit weer as dokter mag werk nie.

Sy’t ’n kans gevat en by die Britse weermag aangesluit om as (manlike) dokter te werk. Weens haar hoë kwalifikasies is sy as offisier aangestel. Daarom het sy nie nodig gehad om ’n volle mediese ondersoek van kop tot toon te ondergaan nie. Haar geheim het behoue gebly.

In 1816 is sy saam met ander soldate na Suid-Afrika gestuur, in ’n tyd toe die Kaap onder Britse beheer en lord Charles Somerset goewerneur was.

Teen 1822 is sy aangestel as hoofgesondheidsinspekteur. Vir die volgende 10 jaar het sy probeer sorg dat die Kaap beter toilet- en sanitasiegeriewe kry. Sy’t beter behandeling gereël vir slawe, gevangenes en mense wat aan die hoogs aansteeklike siekte melaatsheid gely het. James het plaaslike medisinale plante bestudeer. Sy was glo ’n regte ou korrelkop wat nie sommer nee vir ’n antwoord gevat het nie, en medisynebottels rondgegooi het as sy nie haar sin gekry het nie!

Op 26 Julie 1826 het James ’n keisersneeoperasie uitgevoer op die swanger mevrou TF Munnik. Sulke operasies was daardie jare baie gevaarlik. Dis sonder narkose gedoen, en dokters het nog nie mooi geweet waar op ’n vrou se maag dit veilig is om te sny nie.

Hulle het nog nie eens ordentlik geweet hoe om te keer dat operasiewonde infeksies kry nie!

Hierdie keisersnee was ’n groot sukses. Dit was die eerste keisersnee ter wêreld waar beide die ma en baba oorleef het.

“Julle hoef my niks te betaal nie. Vernoem my net,” het James gevra. So gesê, so gedaan, en die babaseuntjie is James Barry Munnik gedoop. Een van sy nasate was later een van Suid-Afrika se eerste ministers.

James se latere pos as inspekteur-generaal van hospitale in die Britse weermag het haar van Mauritius, Malta en Korfu tot die Wes-Indiese eilande en Kanada geneem.

Ten spyte van haar goeie werk was die Britse weermag glad nie beïndruk toe daar ná haar dood ontdek is dat James eintlik ’n vrou is nie.

“Versteek dadelik alle inligting oor haar!” het ’n generaal beveel. Eers 100 jaar later het ’n geskiedeniskenner, Isobel Rae, op die dokumente afgekom en Margaret/James se moedige storie aan die wêreld vertel.

MEER OOR DOKTER JAMES BARRY:

Gebore: 9 November 1789, Cork, Ierland – Oorlede: 25 Julie 1865, Londen, Engeland

Hoogste kwalifikasie: Royal College of Surgeons of England

Dokter, dokter. Jane Elizabeth Waterson is in 1843 in Skotland gebore. Sy was die eerste vrou wat amptelik as dokter in Suid-Afrika gewerk het.

  • 3

Kommentaar

  • Jacobus De Villiers

    Absoluut ongelooflik. Beslis 'n stukkie goud vir ons as nasie. Onontbeerlik vir ons kinders en hulle kinders om díe ongelooflike stuk navorsing te bestudeer en te bewaar en oor te dra. Toewyding en Deursettingsvermoë. Voorwaar 'n meesterstuk Engela Duvenage!!!

  • Susan Liebenberg

    Goeiedag. Ek wil graag een van die boeke bestel. Wat is sy prys en hoe kan ek een bekom. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top