Wetenskaap
Leon de Villiers
Illustreerder: Linki Brand
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639600406
Ek vermoed die lesers wat hierdie boek optel het te doen met ’n verkleurmannetjie op ’n smartieboks. Die buiteblad lyk baie interessant en bevat reeds verskeie dubbelsinnig- en teenstrydighede. Dit is sweerlik wat gebeur as jy ’n digbundel, ’n novelle en ’n maer wetenskaphandboek saam klits om ’n poets te bak - of is dit nou ’n koek?
Die skrywer
Leon de Villiers is bekend vir sy kinder- en jeugboeke. Hy het al verskeie toekennings ontvang vir sy jeugromans. Hy het onder meer die Scheepersprys, die Sanlamprys, die MER-prys, ATKV-kinderboektoekenning, die CP Hoogenhout-toekenning en die Alba Bouwerprys ontvang.
Van sy bekroonde boeke sluit in: Droomoog Diepgrawer (2003), Erik en die kido-dinges (2003), Maroelaboomstories (2005), die Parmant (2003) en in 2015 is Die pro (1997) tot ’n rolprent vervaardig. Aliens en Engele (1996) is ook ’n prominente publikasie waar ’n seun sy ouers se egskeiding verwerk deur ’n verbeelde maat in die vorm van Nebukadneser – ’n alien wat soos ’n baksteen lyk. In 2019 verskyn Die Groot Koelte, wat kwessies rondom klimaatsverandering aanspreek.
De Villiers het voorwaar ’n slag daarmee om tienerkwessies en aktuele sake met dringendheid en deernis aan te pak. Sonder om prekerig voor te kom of dit te laat blyk dat hy vir die leser ’n lewensles wil leer.
Algemene indruk
Hierdie boek voel soos iets tussen ’n handboek, ’n digbundel, ’n feite boek, ’n nonsensverhaal en ’n storieboek. Dit is iets wat jy kan lees om jou vriende te beïndruk, met al die slim verwysings en woordspelings, maar daar is ook ’n storie. Jy moet maar self lees om uit te vind wat is storie en wat is feit. Of is dit vyt?
Ek sou hierdie boek vir kinders van tussen 8 en 10 jaar aanbeveel, omdat dit baie indrukwekkend lyk, maar steeds op ’n beginnerleesvlak is. Die sinskonstruksie is redelik eenvoudig en kort. Die verteller praat ook direk met die leser, wat die boek ’n interaktiewe gevoel gee.
’n Woord van waarskuwing: hierdie boek maak ’n uitgebreide grap rondom die konsepte van feite en vyte. Die leser moet inkoop op hierdie uitgebreide, dubbelsinnige grap. Sommige kinders mag jou dalk teregwys as jy vir hulle vertel "planeete" word deur "sondrooke" geëet en dit is waar ons sonnestelsel vandaan kom. Elk tot sy smaak natuurlik.
Boeke soos Wetenskaap (2020) is in hierdie eeu van tegnologie nodig om jongkinders se verbeeldings ’n hupstoot te gee. Dit begin al hoe meer lyk of tegnologiese uitvindsels soos Playstasion-speletjies, films en aanlynstroomdienste vir kinders begin "voorsê" hoe om dinge te verbeel. Die wonder van ’n verbeelding is juis om ’n karakter of voorwerp uniek te verbeel in jou eie denke. Dit dra ook by tot ’n kind se kognitiewe ontwikkeling en maak deel uit van sekere ontwikkelingsmylpale (Neser, 2020: 110). Lees as ’n aktiwiteit is self ’n verdere bydraende faktor vir ’n gesonde verbeelding.
Deesdae word boeke in films verwerk en word die kenmerke en karaktertrekke van karakters, en selfs plekke, vir jou verbeel. ’n Verskynsel tree na vore waar daar vir kinder "voor-verbeel" word. Hiermee word bedoel dat daar namens kinders verbeeldingswêrelde geskep word. Hulle hoef dan byvoorbeeld nie vir hulself te verbeel hoe lyk Hagrid in die Harry Potter-reeks, Percy Jackson of Miss Peregrine in Ranson Riggs se Miss Peregrine’s Home for Peculiar Children-reeks nie, want die films is daar. Wat van die geliefde Roald Dahl-karakter, die Groot Vriendelike Reus (BFG), wat in 2016 met behulp van animasie verfilms is?
Boeke soos Wetenskaap probeer die opregte verbeeldingswêreld van kinders ontgin en aanvuur.
Wetenskaap (2020) speel ’n bewustelike spel met die werklikheid. Spelfoute en woordspeling is ’n heerlike tydverdryf vir enige boekwurm of selferkende "nerd". As volwasse leser vind ek dit lekker om ’n boek te lees wat my verbeelding uitdaag, wat feit, vyt en fiksie bietjie vermeng en verskans. Dit maak die lewe interessant.
Dit is nie die opvoedkundige hoekom-boek, soos die boek homself wil voordoen nie, maar wel ’n boek wat die "lui" leser dalk aan die lees kan kry.
Hierdie boek is beslis ’n goeie stuk gereedskap om 'n kind se lus vir lees aan te wakker. Dit bevat al die relevante bestanddele: humor, verbeelding en dit word verpak in ’n omslag wat lyk of die leser baie gesofistikeerd en ingelig is. Dit lyk soos een van daardie indrukwekkende wetenskaptydskrifte of ’n kompakte handboek. Vir kinders wat nog leer lees, is dit belangrik om net so boekwurmagtig soos die grootmense te lyk. Veral as jy ’n boekwurm-in-opleiding is.
Die belangrikste aspek van hierdie boek
Hierdie groen slapbandboekie lyk dalk oppervlakkig – die feite is dan verkeerd en dit is vol nonsensstories. Dit lyk dalk so met die eerste oogopslag, maar die woordspel en verbeeldingsvlugte en gesprekke wat dit ontketen, is van groot belang vir kinders se ontwikkeling.
Daar word ’n generasie groot wat nie eers die boek gelees het nie, maar eerder die film sal kyk. Alhoewel films oor boeke nie net sleg is nie, dra dit daartoe by dat kinders nie deur boeke hulle verbeeldings laat vlieg nie. Hierdie klein boekie kry dit wel reg om kinders se verbeelding uit te brei deur gebruik te maak van ’n uitgebreide, dubbelsinnige grap.
Feite word vyte en dit wat vir jou geleer word as feite kry ’n hele nuwe betekenis in die kuns van die Wetenskaap.
Verwysings
Neser, C. 2020. Help! My kind is anders: ontdek die ster in jou anderster kind. Pretoria: LAPA.