Fanie os oppie jas: ’n onderhoud met Fanie van der Merwe

  • 0

Fanie os oppie jas deur Fanie van der Merwe (Naledi, 2024)

Louise Viljoen het die geleentheid gehad om vir Fanie van der Merwe, die skrywer van die enig-in-sy-soort reisboek getiteld Fanie os oppie jas (Naledi, 2024), ’n paar vrae te vra.

Hoe het die lewe jou gebring tot waar jy vandag is?

Ek het mens geword in Pretoria, in die tyd toe dit nog ’n bastion van Afrikanerdom was. Ek was in een laerskool en een hoërskool, waarna ek aan die Universiteit van Pretoria studeer het. Ná universiteit het ek en Michelle, my meisie wat later my vrou sou word, besluit om vir ’n jaar of wat te gaan kyk hoe die wind in Londen waai. Daardie “jaar of wat” het uiteindelik 15 jaar geword, waarna ons alles opgepak en uitgewyk het na Guangzhou, ’n enorme stad in die suide van China. Vier jaar later het ons wéér opgepak en verkas na die grootste sandput ter wêreld – Saoedi-Arabië. Ná drie jaar in Djedda, tussen die woestyn en die Rooi See, het China ons nogmaals geroep en het ons sak en pak teruggekeer, dié keer na Suzhou, hoofstad van die Jiangsu-provinsie. Dis nou vyf jaar later, en oor ’n paar maande verhuis ons nogmaals. Bangkok word dan ons nuwe tuiste.

Waar woon en werk jy tans?

Ek is tans die hoof van lewenswetenskappe by Dulwich College, ’n Britse internasionale skool in Suzhou. Hoewel min mense in die Weste al ooit van Suzhou gehoor het, is dit ’n stad met digby sewe miljoen inwoners, ongeveer 30 minute per trein van Shanghai af.

Daar hang baie etikette om jou nek: Jy is onder meer ’n ekspat, wêreldreisiger, geskiedenisonderwyser, skrywer en geselser van formaat. Watter etiket beskryf jou die beste, en hoekom?

My selfkonsep is ten nouste vervleg met elkeen van daardie etikette. Maar as ek móét kies, sou ek sê geskiedenisonderwyser. Ek het al meer as twee dekades in die onderwys agter die blad, maar ek beskou dit steeds as ’n voorreg om daagliks die wêreldbeskouing van jongmense te help vorm. My leerders vul my met energie, terwyl hul onderrig my ’n waardevolle doel in die lewe gee.

 Jy het al digby 16 lande besoek. Waaraan skryf jy jou rooimiere en wanderlust toe?

Sedert ek en Michelle in 1998 Londen toe is, kon ons eenvoudig nie genoeg kry van die gevoel om in ’n vreemde land te wees nie. Die gevoel om met ’n beursie vol “Monopoly­-geld” te sit en nie te weet wat jy daarmee kan koop nie. Die gevoel om wie weet wat te bestel vanaf ’n spyskaart wat jy nie kan lees nie. Die gevoel om te verdwaal in ’n buurt waar jy nog nooit voorheen was nie, en waarskynlik nooit weer sal wees nie. Die gevoel om ’n kykie te kry op ’n vreemde kultuur. Kortom, die gevoel dat jy ryker word, ondanks die feit dat jy besig is om geld te spandeer.

Watter land sal jy in jou lewe nóóit weer besoek nie. Hoekom nie?

Ghana. Ons het verlede jaar ’n vriendin se troue daar bygewoon en op die koop toe vir twee weke deur ’n groot deel van die land gereis. Buite Accra, die hoofstad, is die toestand van die paaie beroerd. Selfs op die nasionale hoofpad kan dit plek-plek tot drie ure neem om 80 km af te lê. Die armoede is hartverskeurend, en die daaglikse raap en skraap om liggaam en siel aanmekaar te hou tref jou soos ’n vuishou in die gesig. Betreklik min toeriste besoek dié deel van die wêreld, en derhalwe staan jy uit soos ’n seer vinger. Die mense is nie juis verwelkomend nie, behalwe wanneer dit lyk asof jy ’n paar banknote wil verruil vir wat hulle ook al te koop aanbied. Ons het in Ghana aangekom nét nadat ons deur Finland gereis het. Die kontras tussen dié twee lande het vermoedelik bygedra tot my beskouing dat Ghana érg agterlik en onderontwikkeld is.

 In watter land sou jy graag wou aftree indien jy jou paspoort(e) vir altyd moet ingee. Hoekom?

Wat ’n terneerdrukkende gedagte – om my paspoorte vir altyd te moet ingee. Ek skat daar is net een plek waar ek gediend sal wees met só ’n maatreël, en dis in die hiernamaals! As jy my 15 jaar gelede gevra het, sou ek dalk gesê het die Verenigde Koninkryk, maar met die wysheid (en verlange) wat die jare gebring het, is daar net maar een opsie – Suid-Afrika. Baie Suid-Afrikaners reken dat ons s’n die mooiste land ter wêreld is. Ek is nie in dieselfde mate daarvan oortuig nie, maar van een ding kan ek jou verseker: In ag genome sy grootte, bied Suid-Afrika ’n ongeëwenaarde diversiteit aan besoekers. Van woude tot woestyne, van branders tot die bos. Omdat ek reeds vir 26 jaar buite Suid-Afrika woon, het ek nog heeltemal te min van ons lieflike land gesien. Ek hoop egter om eendag met rente daarvoor te vergoed.

........
Wat ’n terneerdrukkende gedagte – om my paspoorte vir altyd te moet ingee. Ek skat daar is net een plek waar ek gediend sal wees met só ’n maatreël, en dis in die hiernamaals!
........

Wat was die waaghalsigste ding wat jy al ooit op jou reise aangevang het?

Ek is nie waaghalsig nie. Dít sal ek ruiterlik erken. Ek is ’n rustige ou en skram weg van adrenalienopstootjies. Ek hét egter ’n paar jaar gelede besoek gebring aan die Tsjernobil-uitsluitingsone in Oekraïne en het selfs in dié verlate gebied oornag. Gewapen met ’n geigermeter moes ek kort-kort metings neem van die radioaktiwiteitsvlakke rondom my om só te voorkom dat ek my iewers sou bevind wat dalk sou kon lei tot die groei van horings of ’n addisionele stel vingers. Ek het uiteindelik ongedeerd daarvan afgekom, en vandag is daar net mooi niks fout met my nie ... fout met my nie ... fout met my nie.

Kort nadat China hulle sotlike Covid-beperkings opgehef het, het ek ’n draai in Wuhan gaan gooi. Daar het ek (met báie moeite) besoek afgelê aan die Wuhan Institute of Virology, die navorsingsentrum waaruit baie mense glo die COVID-19-virus ontsnap het. Sake het egter wóés die kreeftegang gegaan, en die oorhandiging van my paspoort aan ’n hoogs intimiderende weermagoffisier was maar net een bestanddeel van daardie misbaksel van ’n avontuur. Om die besonderhede daarvan in ’n paar sinne weer te gee sou dit ’n groot onreg aandoen, maar lees gerus hier indien jou nuuskierigheid geprikkel is.

Watter reiservaring sou jy liefs van wou vergeet?

Daar is nie ’n enkele reiservaring waarvan ek wil vergeet nie. Elke besoek aan elke land maak jou oë op ’n ander manier oop vir hoe die wêreld draai. Na elke besoek kan ek egter dosyne blinde kolle uitwys waarsonder die ondervinding véél meer vaartbelyn sou wees. Die frustrerendste boeboe in dié kategorie bly steeds die keer toe ek tussen San Francisco en Guangzhou gereis het, maar weens ’n vernederende aantal breinfloutes tydens die beplanningsproses niks minder nie as ses opeenvolgende vlugte moes haal om my bestemming te bereik. San Francisco – Denver – Austin – Rome – Bangkok – Hongkong – Guangzhou. Ek kon weliswaar my oë op die aankomssale van lughawens in elkeen van daardie stede lê, maar in die proses kon ek ook vir ’n volle 96 uur nie één keer uitgestrek op my rug lê nie!    

Watter reiservaring sal jy vir altyd wil onthou?

Nee jinne, dis bykans onmoontlik om dié vraag te beantwoord! Dalk die keer toe ek ’n riel gedans het met ’n Noord-Koreaanse aster op ’n stadsplein in Pjongjang? Of die sonsopkomste wat ek aanskou het oor die Grand Canyon, en oor die Tempels van Ankor in Kambodja? Of dalk die keer toe ek uiteindelik die perfekte lewensbalans gevind het – ’n Kubaanse sigaar in een hand en ’n Kubaanse rum in die ander hand, ín Havana? Die Nuwejaarsvuurwerke by die Sydney Harbour Bridge, my nagte in bamboesskuilings in ’n oerwoud in Laos, die rye en rye veelkleurige tulpe by Keukenhof in Nederland, die meevoerende dreunsang van Boeddhistiese monnike in Tibet, my staptog via die Salkantay-roete tot by Machu Picchu in Peru, die uitsig oor Dubai vanaf die boonste verdieping van die Burj Khalifa (die hoogste gebou ter wêreld), om in Kolkata te vertoef by die kamer waar Moeder Teresa haar laaste asem uitgeblaas het ... Ag ... dís maar net enkele van die reisondervindings wat ek vir altyd sal wil onthou.

Wat ek egter teen wil en dank nooit sal vergeet nie, is my besoek aan Auschwitz-Birkenau in Pole. Dáárdie dag was beide die beste én slegste dag van my lewe. Die slegste, omrede ek nog nooit vantevore só kaalvuis gekonfronteer is met die wreedheid waartoe mense in staat is nie, en die beste, siende dat ek sedertdien ’n diepe dankbaarheid koester vir die feit dat ek die vryheid geniet om my lewe te kan lei soos wat ek goed dink.      

Waarom skryf jy in Afrikaans?

Ek bars van trots om Afrikaans te wees! Dis die taal waarin ek my verstand gekry het, en die taal waarin ek steeds dink en droom (en vloek). Elke aspek van my menswees is vervleg met die feit dat my binnegesprekke in Afrikaans plaasvind. En in elk geval, wie sou enigsins ernstige oorweging skenk aan iets wat in Engels geskryf is deur ’n man met ’n naam soos Fanie van der Merwe?

Vertel meer oor jou Facebook-blad, asseblief?

Ek het baie jare gelede begin om stories en foto’s van my internasionale reise op my Fanie Os Oppie Jas-blad te plaas. Onmiddellik na afloop van ’n buitelandse besoek is die herinneringe nog vars, maar binne ’n paar weke begin dit vervaag, en teen die tyd dat jou volgende besoek aanbreek, het die herinneringe van die vorige besoek reeds grootliks vervaag. Ek wou graag iets daadwerklik doen om al daardie reisherinneringe te verewig voordat dit verdwyn, en watter beter manier as om ’n verslag van ’n paar honderd woorde te skryf en dit af te rond met ’n reeks foto’s wat die teks toelig? Met die verloop van tyd het ’n paar mense my blad gelike en my plasings begin deel, en vandag drom daar ’n hele paar duisend Afrikaanse reisentoesiaste saam in daardie hoekie van die kuberruim.

Wat/waar is die interessantste plek waar jy al geskryf het?

Ek maak gewoonlik notas terwyl ek reis en lewer dan breedvoerig verslag in die weke nadat ek my besoek voltooi het. Ek probeer om elke druppel uit ’n besoek te pers, eerder as om tyd op te offer om daaroor te skryf. Met my besoek aan Everest se basiskamp is ek egter oorval deur hoogtekoors. Weens die tekort aan suurstof wanneer jy jou halfpad maan toe bevind, moes ek veg teen simptome soos asemnood, tamheid, koors en naarheid – presies dieselfde simptome wat ek toon wanneer my geliefde Proteas in ’n Wêreldbeker­uitklopwedstryd speel. Dit was egter ’n ander simptoom van hoogtekoors – slapeloosheid – wat my in staat gestel het om volledig verslag te doen van my besoek terwyl ek nog midde-in die ervaring was!

........
Ek wou van meet af aan ’n boek publiseer wat ’n lus vir die oog sou wees. Benewens die stories wou ek ook foto’s deel om konteks aan die vertellings te verskaf. Ek het egter spoedig besef dat die boek nooit plek sou hê vir al die foto’s wat ek wou deel nie. ... Wanneer jy die QR-kodes in die boek met jou slimfoon skandeer, neem dit jou na die relevante deel van die webtuiste toe, en só kan jy verder kyk en lees rakende iets wat jou in die boek geïnteresseer het.   
.........

Fanie os oppie jas bied ’n heerlike interaktiewe lees-reis-ervaring met QR-kodes wat na video’n en meer foto’n lei, waarskynlik ’n eerste in Afrikaans (en baie ander tale). Verduidelik, asseblief.

Ek wou van meet af aan ’n boek publiseer wat ’n lus vir die oog sou wees. Benewens die stories wou ek ook foto’s deel om konteks aan die vertellings te verskaf. Ek het egter spoedig besef dat die boek nooit plek sou hê vir al die foto’s wat ek wou deel nie. Gevolglik het ek besluit om die foto’s in collages saam te stel. Twee probleme het egter daaruit voortgespruit – in ’n collage is elke foto bra klein, en dit laat boonop geen ruimte vir byskrifte nie. Derhalwe het ek ’n webtuiste laat bou waar elke foto in al sy glorie verskyn, tesame met uitgebreide byskrifte en addisionele vertellings. Op dié manier kon ek ook ’n paar video’s deel wat meer konteks aan die vertellings in die boek verskaf. Wanneer jy die QR-kodes in die boek met jou slimfoon skandeer, neem dit jou na die relevante deel van die webtuiste toe, en só kan jy verder kyk en lees rakende iets wat jou in die boek geïnteresseer het.   

Hoe verskil Fanie os oppie jas van tradisionele reisboeke en -verhale?

My boek is eerstens nie ’n reisgids nie. Wanneer jy die laaste bladsy gelees het, sal jy nog nie weet hoe om ’n internasionale reis aan te pak nie. Vir daardie doel sal jy ’n Lonely planet of ’n Rough guide moet raadpleeg. Verder fokus reisboeke dikwels op ’n besoek aan ’n enkele land, terwyl myne vertellings bevat van besoeke aan agt lande. Daar is ook geen sprake van ’n storielyn of karakterontwikkeling in my boek nie. Reisboeke fokus dikwels op die persoonlike ontwikkeling wat die reisiger-skrywer ondervind – hetsy in terme van die beoordeling van sy lewensituasie, die daarstel van lewensdoelwitte, of selfs net sy wêreldbeskouing. Ek glo nie my geskrifte is van so ’n aard dat dit iemand se lewe onherroeplik sal verander nie. Ek hoop egter dit sal vermaak, inlig en inspireer, net soos wat ék vermaak, ingelig en geïnspireer is toe ek daardie reise onderneem het.

Behalwe paspoortstempels, foto’n en video’n, versamel jy dalk iets tasbaars wat jou aan elke land herinner? Indien ja, wat is dit?

Yskasmagnete. Ons het honderde (dalk duisende) daarvan. En dis oral – nie net teen ons yskas nie. Ek raak nooit moeg om daarna te kyk nie, want elkeen verteenwoordig ’n spesiale herinnering aan ’n eertydse besoek.

Ek probeer ook om een of twee banknote in die geldeenheid van die land wat ons besoek as aandenkings te hou. Dié strategie werk egter nie altyd ewe goed nie. Die ganse Europa gebruik byvoorbeeld dieselfde geldeenheid, Ecuador gebruik die Amerikaanse dollar, en in China gebruik niemand meer kontant nie. Ek hét egter al genoeg kakas (’n generiese term vir geldeenhede wêreldwyd) bymekaar gemaak om ’n klein bureau de change op die been te bring.

Wie is jou gunstelingreisgenote, en hoekom?

Michelle en Ben (oftewel Kind en Kraai), my vrou en seun. Hulle is beide gesoute reisigers en het albei ’n goed ontwikkelde sin vir avontuur. Hulle is onopgesmuk en heeltemal gediend daarmee om in driesterhotelle tuis te gaan, van openbare vervoer gebruik te maak en selfgemaakte toebroodjies vir middagete te eet. Wanneer ’n mens op reis is, moet jy die onverwagte verwag. Dinge loop dikwels skeef, en dan is daar nie plek vir fiemies en drama nie. Dié tweetjies is baie goed, maar hulle is beslis nie vol fiemies en drama nie.

Ek geniet dit egter ook om sónder Kind of Kraai die vreemde in te gaan. Wanneer jy op jou eentjie reis, bied dit aan jou totale vryheid – vryheid om te kom en gaan soos jy wil, besienswaardighede te besoek soos jy wil, en so lank te wag as wat jy wil vir daardie perfekte kameraskoot. Boonop raak jy só ook meer toeganklik vir ander mense. Niemand knoop ’n geselsie aan wanneer jy saam met jou gesin aan die ontbyttafel sit nie, maar wanneer jy alleen is, het meer mense die vrymoedigheid om wel so te maak. Met dié het ek al hóéveel vriendskappe gevorm wat moontlik nie sou gebeur het indien ek omring was deur my mense nie.

Wie is jou ideale leser, en hoekom?

Enigiemand wat daarvan hou om te lees. Natuurlik is my geskrifte gebaseer op my internasionale reise, maar nie in so ’n mate dat jy waarde daarin sal vind net indien jy self van reis hou nie.

Waar kan lesers jou boek bekom?

Heelparty van die groot boekwinkels in Suid-Afrika hou die boek in voorraad, maar as ek so voorbarig kan wees om ’n voorkeur uit te spreek, sal ek verkies dat dit op my uitgewer, Naledi, se webtuiste bestel word.

Dankie dat jy my vrae beantwoord het, Fanie. Reis veilig voort.

Lees ook:

Spanje. Reise in ’n palimpses deur André Pretorius: ’n resensie

Draaie, swaaie en afdwaalpaaie. Reisstories saamgestel deur Corlia Fourie en Annelize van Rooyen: ’n resensie

FMR-resensies: Die binneland in deur Dana Snyman en Hierdie land, ’n bundel deur verskeie skrywers

Hier gaat ons! Reise en rampe deur Gerard Scholtz: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top