Erla-Mari Diedericks: “Ons is almal Kaang se wesens”

  • 0

...
Alles is in plek en almal ken ook hul plek: die vrou as frikkadelmaker – spekvet en gesond by die huis, die polisie as beskermer van die wit volk, die alfamajoor wat bevele blaf aan sy juniors, en die boepensboer met die plaaswerker agterop sy bakkie.
...

In 1967, dié jaar waarin Wesens afspeel, is Suid-Afrika nog ’n paradys vir die wit man.

Alles is in plek en almal ken ook hul plek: die vrou as frikkadelmaker – spekvet en gesond by die huis, die polisie as beskermer van die wit volk, die alfamajoor wat bevele blaf aan sy juniors, en die boepensboer met die plaaswerker agterop sy bakkie.

Die rolprent begin op die refrein van Groep Twee se treffer “Die Oukraalliedjie” (gesing deur Reënwolf). In Maart 1967 debuteer die liedjie as nr 13 op Springbokradio se Top 20. Ongewoon en ’n eerste vir Afrikaanse musiek. Kort daarna skiet dit op na nr 3.

Ja-nee. Die toekoms van Afrikaans én die land lyk blink.

Totdat jy mooi na die refrein luister “… Sing ons van waterstrome, slange in olienhoutbome …”

Tussen die versreëls skuil ’n slang. ’n Slang wat die paradys bedreig.

Gevaar.

In 1967 is daar die Rooi Gevaar en die Swart Gevaar. Die kommuniste van Rusland en die terroriste van die townships.

En dan gebeur dit.

’n Vreemde Voorwerp verskyn op ’n boer, Sakkie Haarhoff (Albert Maritz), se plaas. Sonder waarskuwing of toestemming.

En dis so swart soos die nag.

Die rolprentganger ontmoet die vier agente van die Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediens terwyl hulle na die plaas ry om ondersoek in te stel.

Die eerste toneel het skaars begin of ’n sigaret word sorgeloos by die venster uitgesmyt, ondanks die dorre veld daar buite. Want maj Martinus Viljoen, hoof van die ondersoekspan (Morné Visser) is van die tipe wat glo dat kinders, diere, anderskleuriges, vroue en die natuur aan hom ondergeskik is. Hy is old-school. Vleis, rys en aartappels. God, Volk en Vaderland. Skiet eers. Praat later.

Sy teenpool is die wapeningenieur Pieter Kuiper Albertyn (Pietie Beyers) wat nie blindelings die regering en kerk glo nie. Hy is ingelig. Hy is belese. Hy weet hoe ver die aarde van die maan af is. Hy noem dat die Khoi dalk die oudste menslike beskawing is.

Dit steek die majoor dwars in die bors. En in sy uitbarsting kom daar twee denkwyses na vore wat die kyker konfronteer. Dit is: Mens en dier is nie gelyk nie. En sekere gemeenskappe het stadiger ontwikkel weens ’n laer IK.

Die majoor glo volgens die Christelike dogma dat God eers die diere en toe mense as afsonderlike entiteite geskape het. Hierdie begrip van mens as “baas” van die diere het ’n Westerse kultuur geskep waar die dier as ’n blote bron van plesier, kos en hulp (werktuig) beskou word.

Daarteenoor glo die Khoi dat dier en mens wesenlik een is. Hulle is afhanklik van mekaar. Verwoes jy die natuur, verwoes jy die mens. ’n Lewenswyse wat ons nou, honderde jare later, as ware, wyse woorde begin ervaar soos wat ons die mishandeling van Moeder Aarde aan ons eie bas voel.

Maar in 1967 vloei die waterstrome nog en spring die ribbokke volop, en word daar voortgeploeg op uitsprake soos dat “Boesmans meer soos bobbejane lyk as bobbejane self” ( ’n uitlating deur kol Denys Reitz, die destydse minister van Bantoesake in 1943).

Onse majoor is nog minder vleiend. Nie net het sy Europese voorvaders die beskawing na Afrika gebring nie, lag hy, maar nou stuur die Amerikaners ’n man na die maan terwyl die “bobbejane nog hier onder rondswaai”.

Die andersdenkende Pieter Kuiper Albertyn maak onmiddellik kapsie: “Dalk is dit geografie, dalk is dit klimaat, maar ons het net anders ontwikkel …” sê hy.

Hy is reg.

Moderne wetenskaplikes is dit vandag eens dat die verskillende grade van beskawingsontwikkeling eerder ’n kwessie van uiterlike, geografiese faktore is as intellektueel van aard. Dié stamme wat na gebiede getrek het waar gewasse makliker kon groei en waar daar diere was wat mak gemaak kon word, het gouer ontwikkel. Dit het weer gelei tot nedersettings, en die ontwikkeling van taal, skrif, steentuie en later tegnologie en beter wapens.

Maar is meer ontwikkeld noodwendig beter? Want daarmee saam het siektes gekom (wat uitbroei in die groter nedersettings met hulle mak diere) en ’n godsdiens wat predik dat die siel eerder as die aarde gered moet word.

Pieter raak skoon liries oor die Khoi – hul kunssinnigheid, hul noue band met die natuur en diere, die feit dat mans en vroue gelyk was.

En dan uiter hy dié tematiese kernvraag: “Wat as óns die een is wat sleg is? Wat as óns verkeerd is?”

Die geboorte van die vroulike wese en haar ontdekkingstog deur die natuur met die bewondering van ’n kind simboliseer die onbesoedelde wysheid van beskawings wat wel nader aan die natuur leef.

Pieter vertel vervolgens die verhaal van Kaang, die Khoi se god – en hoe die saad van die mens in ’n blom geplant is – simbolies van die natuur en mens as een.

Die rolprent wat uitbeeld hoe outoritêre figure dikwels geweld inspan om hul vrese te besweer, eindig met die skietdood van die vroulike wese.

Die liedjie wat tydens haar sterftoneel opklink – “In die hemel daar bo sing nou die engelekoor” – is ’n spottende refrein wat herinner aan die Gesange waar ons getroos word met ’n hiernamaals vol engeltjies terwyl ons op aarde dikwels tragedie en wreedheid moet trotseer.

Maar … Wesens bied wel hoop. Ons, die fliekkykers, leef nie meer in die wit paradys van die sestigs nie. Met die kennis van oorsig weet ons dat die saad van die Kind van Afrika daardie dag in 1967 op Sakkie se plaas geplant is.

...
Die Kind van Afrika het bly groei totdat hy, presies tien jaar later, op 16 Julie 1976 as jeugdige sy vuis tydens die Soweto-opstande teen die regering gebal het. Dit was die begin van die einde van apartheid.
...

Die Kind van Afrika het bly groei totdat hy, presies tien jaar later, op 16 Julie 1976 as jeugdige sy vuis tydens die Soweto-opstande teen die regering gebal het. Dit was die begin van die einde van apartheid.

Soos wat Ingrid Jonker skryf in haar gedig: “Die kind is nie dood nie.”

Kaang, die oorsprong van die mens, leef voort.

Ons is almal Kaang se wesens.

Lees ook:

Wesens: “Wie was eerste hier?”

Wesens, an analysis by Jessica Smith

Filmresensie: Wesens

Wesens, ’n kritiese ontleding deur Leoné Prinsloo

Tussen realisme en wetenskapfiksie: die konstruering van die Ander in Wesens (2020)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top