Einde en begin deur Michèle Meyer is verweef soos ’n epiese gedig: leeskringe, neem kennis!

  • 0

Einde en begin
Michèle Meyer
Queillerie
ISBN: 9780795803284

’n Goeie skrywer is soos ’n kulkunstenaar. Die leser se oë en brein word so besig gehou deur een stel gebeure, dat die ander, belangrike spel nie dadelik waargeneem word nie. En mettertyd besef ’n mens wat jy misgekyk het. Michèle Meyer se Einde en begin is ’n heerlike, lekkerleesstorie. Tog, krap jy dieper in die letterkundige onderbou, besef jy dat hele roman eintlik ’n stuk epiese poësie is. Niks word aan die toeval oorgelaat nie. Elke woord is skynbaar geweeg en word iewers anders in ’n spieëlbeeld weerkaats.

Ek vermoed leeskringe sal veral baie pret hê om die roman te ontsluit. Die boek verdien om deeglik bestudeer en bespreek te word.

My poging gaan wees om ’n outydse “close reading” van ’n deel van die teks te doen.

Miskien moet ek ook sê wat ek nie doen nie.

  • Ek gaan glad nie einde van die storie weggee nie. Lesers moet dit self ervaar.
  • Ek gaan slegs enkele parallelle trek met Moer, Meyer se uitstekende en onderskatte debuut. Eintlik sou ’n mens ’n hele tesis net daaroor kan skryf en leeskringe mag dit op hulself neem om ’n deeglike analise van die twee tekste te maak. Daar is veel ooreenkomste tussen Marié en Kylie, die kinderverteller in Moer. (Stuur gerus die resultate na LitNet dat ons dit kan plaas.)
  • Ook gaan ek nie verstrengel raak in die teologiese kwessies wat hierdie boek opper nie.
  • Laastens: Ek werk soms met Meyer saam in vergaderings soos dié van PEN Afrikaans. Ek het egter geen poging aangewend om haar te nader vir biografiese besonderhede nie. Ander lesers wat Meyer beter ken as ek, hét aan my genoem dat hier merkers uit haar eie lewe rondlê. Soos Deborah Steinmair egter wyslik vir Antjie Krog aanhaal: “Sodra jy iets neerskryf, word dit in elk geval fiksie.” Ek hanteer Einde en begin as fiksie. Meyer self het vir ons ’n belangrike wenk gegee. Moer, haar debuut, is onder andere opgedra aan “my ma, Marié, wat my geleer glo het in stories.” Stories is dus deel van haar komvandaan en die naam Marié is nie lukraak gekies nie.

 

1. Die lens: Genesis 3, verse 1–7

Einde en begin omvat ’n belangrike, fiktiewe dokument oor die skepping, geskryf deur ene IW Achenbach (bl 124 en verder). Dié stuk fiksie gaan ’n tesis vooraf. Die fiktiewe tesis, wat ons as leser nooit lees nie, handel oor die vraag of gender iets is wat geskep is, of nie. (Achenbach praat van geslag – dit sou inderdaad die korrekte woord wees in die 1970’s. Later meer hieroor.)

Achenbach se teks is ’n belangrike spieël vir Marié se lewe – dit bespreek ek ook verder af in hierdie stuk.

Prent deur Jeff Jacobs, Pixabay

Om die konteks van hierdie verhandeling te verstaan, en die nood in kerklike kringe wat so goed verduidelik word in Meyer se roman, moet ek enkele punte noem:

  • Die Bybelverhale is nie uniek nie. Hulle het almal spieëltekste in ouer Griekse, Babiloniese en Egiptiese mites.
  • Die Bybelverhaal van Adam en Eva wat deur ’n slang verlei word en daarna hul paradys verloor, stem grootliks ooreen met die spieëlteks in die Koran.
  • Die Bybelverhaal, veral Genesis 3 verse 1–7, maak van die boom ’n objek wat kennis oordra. Die eet van ’n vrug van daardie boom skenk, aldus hierdie verse, kennis aan die mens.
  • In die Koran word slegs na ’n boom verwys, maar voor die slang die mens verlei, gee die godheid reeds wysheid aan die mens.

In hierdie gesprek gaan ek Einde en begin deur Genesis 3 se lens lees (sien veral afdeling 2 hieronder). Die roman vra egter dat ander skeppingsmites ook in ag geneem word.

 

1.1 Genesis 3 vs ander mites

Een van die redes waarom ek Genesis 3 as sleutel neem tot die lees van Einde en begin, is die byeenkoms van teoloë vanuit die sendingveld én akademiese instansies (bladsy 91 en verder). Dit is nie om dowe neute ingebou nie. Hierdie teoloë sou almal ’n mindere of meerdere mate van teologiese opleiding hê, hulle sal dus bewus wees van die Babiloniese skeppingsmite.

Hulle geloof, of opleiding, of albei, sou hulle egter rig na die Bybelse mites.

In die Bybel is daar twee skeppingsverhale. Genesis 1 tot Genesis 2 vers 4 bevat die eerste, soberder weergawe. Hier word gekyk na die ontstaan van lig, van die see, en uiteindelik dan ook die mens.

Die einde van die eerste skeppingsverhaal is ook die begin van die tweede waarin die sondeval (danksy die eet van die boom se vrugte) voorkom.

 

1.2 Meyer berei die leser voor

Nie almal van ons is teoloë nie, so Meyer bou leidrade in vir ons om haar teks te verstaan.

Op ongenommerde bladsy 6 van Einde en begin plaas Meyer ’n gedig van Barend Toerien. Die gedig vertel van ’n mossel in die see waar daar geen passie is nie, “geen getassery, geen gesoek in die strate langs” nie. (In 2.6 hieronder keer ons hiernatoe terug.) Hierdie mossels was “trassies sonder hoegenaamd enige begeertes” (bl 6). Daardie trassies was gelukkig.

Die woord trassies is bepalend. Die woordeboekbetekenis van ’n trassie is ’n persoon wat nòg manlik, nòg vroulik is. (Dit word in die omgang gesien as ’n skeldnaam, moet ek byvoeg.) In die natuur is daar steeds spesies wat sonder geslagsomgang kan voortplant, net soos lewe op aarde aanvanklik geslagsloos was.

Toerien lei dus die leser terug na die begin toe daar uit ’n primordiale water lewe ontstaan het wat net hulself nodig het om voort te plant. Seks, en dus geslag, sou eers later kom.

Toerien koppel dus die lewe van die mossel in ’n primordiale see aan ’n geslaglose era voor daar man en vrou was. Ama en Eda is ook aanvanklik geslagloos in Achenbach se teks. Geen voortplanting is nodig nie.

Let ook op hoe Achenbach se teks Ama uiteindelik vroulik laat word, en Eda manlik. Dit klink dalk verwarrend, maar Achenbach is iemand wat iets weet van Hebreeus. In die 1983-vertaling van Die Bybel staan immers, as voetnoot by Genesis 2:23, waar die vrou uit die man se ribbebeen gebore word: “Die Hebreeuse woorde vir ‘man’ en ‘vrou’ is amper dieselfde.” Achenbach gebruik ook hierdie interteks met Genesis 2: 21–24 van die vroulike wese wat uit die ribbebeen van die man gevorm word (bl 129).

Die fiktiewe Achenbach skep dus bewustelik ’n spieëlteks tot die Genesis-verhaal. Meer nog, die skeppende wese sê vir Eda hy moet wegbly van die soutwater, daar waar die boom staan: “Jou vlees is weekdier (...) Jy is nie klipbestand nie.” (bl 126).

Ná Ama van die boom geëet het, verander die paradys in “fossielafdrukke” (151), dus klip, en Eda se penis word ’n klip (bl 174).

Tot en met die eet van die boom, is Eda en Ama “trassies”, soos die weekdier in Barend Toerien se gedig. Nou nie meer nie.

Nou moet ons ’n oomblik lank terugkeer na ’n ander skeppingsverhaal wat die teoloë sal ken uit hul opleiding. In die Babiloniese skeppingsmite kom die godheid Atum uit die primordiale water. Hy masturbeer dan. Die saad wat hy skiet, vorm ander gode.

Lees weer bladsye 144 tot 146. Dié hoofstuk, geskryf deur Achenbach, heet “Verkenning”. Ama beur terug deur primordiale soutwater op soek na die boom wat haar lok.

Dan volg bladsye 148 en 149. Die hoofstuk “Val” is een groot vroulike orgasme. Ama bring die orgasme oor haarself daar by die boom. Daar is geen man nodig nie. Haar straf? Dit eggo Genesis 2:23: “Jy wás Ama, kragtige maat. Nou, net Vróú.” (bl 154)

Die skeppende wese sê dan vir Ama: “Fok weg uit my aangesig!” (bl 155)

G’n wonder die dominees belê ’n spitsberaad nie. Die tesis daag die genderorde uit, dit gryp terug na ’n Babilonisie mite oor masturbasie en laat dan die vrou toe om ’n orgasme te kry sonder dat daar ’n man naby is. Die godheid verdoem haar dan om voort te plant (te fok).

Leeskringe kan gerus die hoofstuk “En hulle het met haas gegaan” uit Meyer se Moer lees. Die ma bly dors. En die drinkende dogtertjie word met ’n mossel vergelyk (bl 53 van Moer).

In haar baie goeie bespreking van Meyer se teks, sê Deborah Steinmair op LitNet:

Michèle Meyer se jongste roman kan gelees word as ’n voorverhaal van haar debuutroman, Moer. Die ingesteldheid wat ons in Moer leer ken het, word weer verwoord, maar met ’n jonger stem. Daar kan geen oorgang in die lewe so dramaties wees as dié van kind tot grootmens nie, of van kleintyd tot puberteit nie. Kunstenaars het nog altyd geput uit die verwondering en helder waarneming van hul kinderjare.

Hierdie oorgang van dogtertjie na ’n wese wat kan voortplant, is belangrik vir ons bespreking van Einde en begin. Dit het ook direk betrekking op Achenbach se skeppingsverhaal. Die “trassie” in Toeren se gedig word ’n “vrou” na ’n kennismaking met die boom in die tuin.

 

1.3 Die teksmatigheid van Moer en Einde en begin

Leeskringe sal oplet dat Moer en Einde en begin albei twee verskillende tekstipes het, wat verskillende vertellers verteenwoordig.

In Moer is daar ’n afstandelike persoon wat in die tweede persoon vertel (“jy” in plaas van “ek”). En dan is daar die jonger verteller wat in ’n ander skriftipe aangedui word en as “ek” vertel.

Einde en begin het die klein Marié wat in die eerste persoon vertel. Dan is daar die ander skriftipe – ’n teks wat aan die fiktiewe Achenbach toegedig is.

Beide tekste steun ook op fiktiewe persberigte.

 

2. Einde en begin: Die titel as sleutel tot groeiende kennis

Al is storie skynbaar ontsettend eenvoudig en al kan ’n mens die boek woerts deurlees, is hier baie lae van betekenis opgesluit.

Ek wil die titel gebruik om sekere aspekte van die roman se inhoud mee te verstaan.

 

2.1 Die begin van kennis, die einde van onskuld

Ons ontmoet Marié in 1970 wanneer sy vier jaar oud is. Sy en haar ouers woon op Avondster, ’n sendingstasie in die destydse Rhodesië. Haar pa werk daar in die drukpers en haar ma gee Engelse lesse aan die dowe kinders wat daar, op die sendingstasie, skoolgaan. Marié het ’n maatjie, Hanneke, ook bekend as Han, wat so ongeveer vier jaar ouer is as sy. Han se ouers werk ook op die sendingstasie.

Aangesien Marié nog te klein is om skool toe gaan, bly sy aanvanklik by hul huis- en tuinwerker genaamd Tarusa. Dit is ’n skynbaar idilliese bestaan.

Marié gaan later skool toe en doen baie goed. Sy geniet dit. Kennis is vir haar belangrik. (Vergelyk ook “My naam is Kylie” op bladsy 17, en verder, in Moer.)

Marié wil weet. Hoe meer sy egter leer, hoe moeiliker is dit om haar onskuld te bewaar.

 

2.2 Die einde van onskuld, die begin groeiende van kennis

Soos Marié groter word, gebeur daar drie dinge wat haar onskuldige bestaan binnedring en skerp brein stimuleer.

  • Die eerste ding wat haar onskuld tref, is die dood van een van die evangeliste op die sendingstasie aan die hand van vryheidsvegters, of te wel “terroriste”, wat ’n terreurveldtog teen die regering van Ian Smith voer. Dit vang die sendelinge onkant. Soos die een leier sê: “Even in paradise darkness sometimes descends” (bl 42). En, soos dikwels in hierdie roman, is daar ’n spieëlteks uit die mond van tannie Geert op bladsy 43. Op hierdie tydstip is die gemeente nog so onbewus van die werklike gevare, dat hulle ’n giggelwekkende uitstappie reël om die booswigte te gaan soek. Die volwassenes is gewapen met ’n gholfstok, ’n knopkiere en ’n handbyltjie. Die kinders stap selfs saam.
  • Die ander onaangename verrassing kom wanneer Marié se ma weer verwagtend raak – die pil ten spyt. Marié is aanvanklik oorstelp, want sy glo daar is ’n sussie op pad. Wanneer ’n boetie egter sy opwagting maak, is Marié glad nie in haar noppies nie. So leer Marié iets: God gee nie altyd vir jou dit waarvoor jy vra nie, jou gebede ten spyt.
  • In 1974 is die gesin op sendingkamp in Suid-Afrika. Hier ontdek sy, danksy ’n aantal veel ouer meisies, dat daar meer as een manier is om na die Bybelse skeppingsverhaal te kyk.

 

2.3 Om die paradys te verloor: Marié

Avondster is ’n paradyslike omgewing vir die jonge Marié, al is daar baie slange.

Lees gerus hoe geil die plantegroei daar is. (Fort Victoria, terloops, is ongeveer 250 km noord van die Suid-Afrikaanse grens. Dit is waar die fiktiewe Avondster geleë is, in ’n subtropiese gebied. Vandag staan Fort Victoria as Masvingo bekend.)

Masvingo is voorheen Fort Victoria genoem. (Skermgreep van Google Earth)

Hier in haar paradys is die jong Marié vry. Sy mag kaalvoet loop – tensy hulle kerk toe gaan. As sy in die son kom, moet sy wel ’n hoed dra. Verder mag sy nie in die gras langs die pad loop nie, want daar is slange.

In hierdie paradys word die slange, heel Bybels, doodgemaak. Marié het dus niks om te vrees nie.

Die vrees kom van elders. Marié se ma begin al hoe meer ongemaklik word met die politieke situasie in die land. Veral ná die geboorte van haar tweede kind, is daar ’n al hoe groter ongedurigheid by haar te bespeur.

Die ma het dus kennis wat nie aan Marié geopenbaar word nie. (Ons keer in 4.4 terug hiernatoe.)

Uit die intertekste, weet ons kennis het al ander gelowiges uit die paradys gedryf. Hier is geen uitsondering nie. Selfs Marié begin dié kennis optel. Ná die evangelis verdwyn het en die sendingstasie na hom gaan soek het, besef Marié: “Daar is baie erger goed as sonstraal of slange en skerpioene langs die pad. ’n Mens kan verdwyn, al bly jy op die spoor” (bl 49).

Vir Marié se ma is haar eie kennis genoeg om haar man aan te moedig om die paradys te verlaat. Sy het nie eens ’n slang nodig nie. Sy word die slang. Kyk wat gebeur as Marié se pa sê sy vrou is gewoon oormoeg: “Ma sis soos ’n slang met gifgroen oë” (bl 69).

 

2.4 Om die paradys te verloor: Ama

Soos reeds vermeld, skok ’n alternatiewe skeppingsverhaal die sendinggemeenskap. Lees gerus die hele sage self. Van belang vir hierdie gesprek is dat Ama die persoon is wat uit Eda se rib gemaak is.

Ama en Eda woon in ’n paradyslike omgewing.

Eda is sterker as Ama. Eda is ook die een wat Ama nie wil toelaat om naby die “verbode boom” te kom nie, “daar waar Eda nie eens wil hê ons moet verbystap nie” (bl 131).

Ama gaan uiteindelik wel daarheen. Hier word nie bloot ’n appeltjie gepluk nie.

’n Mens kan nie help om die onverhole sensualiteit raak te sien nie. Hier word gestoei, hier word gebloei. Die boom staan in die middel van ’n ronde sirkel. Die vrug is skielik soos die binnekant van ’n vy! Die reuke, die geure, die gesteun, die gekreun, die hoë geluidjies ... net voor die bloed vloei.

Lees weer bladsye 144 tot 149.

Daar is ander spieëltekste wat Meyer vir ons gee om leidrade mee te volg. Op bladsy 141 hoor Marié haar ma en pa se orgasme... Marié bevestig die vermoede op bladsy 150.

Daar is egter nog ’n aanduiding dat hierdie kleindood en die bewussyn van soutsmake dalk te doen het met die begin van nuwe lewe: Ons het vroeër verwys na die gedig van Barend Toerien afgedruk op die ongenommerde bladsy 6.

Die mossel sterf hier “passieloos” – anders as Ama se kleindood!

Direk ná die mossel passieloos sterf, word die roman se karakters gebore in ’n persberig (bl 7). Hulle kry selfs name, ouderdomme, werke en belangstellings. (Na mevrou Van der Merwe se belangstellings keer ons ook later weer terug, sien 4.4).

 

2.5 Om te begin, is die einde

Ná Ama die verbode vrug leer ken het, word sy ’n vrou. Sy kry borste en ’n pubis (bl 153). Dit was ook die einde van haar paradyslike bestaan.

Arme Marié kan nie kop of stert hiervan uitmaak nie, maar veel later, wanneer sy en Han effens ouer is, verduidelik Han baie kripties dat ’n meisie op ’n stadium gaan “begin”. En wanneer sy eers begin, eindig haar jongmeisieskap en sy word vrou: “Onthou jy Ama kon bloed voel op haar privaat? Maar mens noem dit begin.” (bl 193)

Eda kry daarna sy eerste ereksie: “Tussen my bene dring ’n geweldige stuwing. Ek voel ’n kapklip druk, uit my, waar my sentrum byeenkom. En ek soek. Ama.” (bl 174)

Han verwys na Amper twaalf,  ’n seksvoorligtingsteks wat aan Christenmeisies uitgedeel is (bl 210). Leeskringe kan die interteks op bladsy 76 van Moer nagaan.

 

2.6 Marié se einde en begin

Ons ontmoet Marié kort ná sy en haar ma en pa op die paradyslike Avondster aangekom het. Die heel eerste gewaarwording wat ons deur haar verstellerstem waarneem, is: “Mens is eers klein, dan word jy groot”.

Marié is klein en baie onskuldig.

  • Sy is bewus daarvan dat sy ’n piepieplek het, maar dat haar pop nie een het nie (bl 18).
  • Sy hou nie daarvan as die haan die henne dek nie (bl 20).
  • Sy hou nie daarvan as twee honde wil paar nie (bl 30).

Drie jaar later besoek sy haar seunsmaatjie, wat ’n tiener is, in sy kamer. Daar is ’n slangvel en ’n pragtige pienk klip in die einste kamer. Hy wil hê dat Marié haar broekie moet aftrek, maar dan mag sy vir niemand sê nie...

Meyer gee egter vir ons genoeg spieëltekste om ons gerus te stel. Marié weet as daar ’n slang is, skiet haar pa hom dood. Al die slange wat haar pa skiet is menere, haar pa “het nog nooit ’n mevrouslang geskiet nie” (bl 57). So bly Marié se pienk geheimpie hare. Lees weer bladsye 50 tot 63.

Maar Marié se ma is verwagtend (bl 59 en 64) en ons kleine Marié word bewus daarvan tydens hierdie einste episode. Dit is nie toevallig nie.

Ons weet nou al dat Meyer weer vir ons ’n spieëlteks sal gee.

Twee jaar later het Marié-hulle die paradyslike Avondster verlaat. Hulle woon nou in Pretoria. Sy en haar nuwe maatjie, Ilse, gaan speel in ’n parkie. Nee, meer as dit, hulle word uit hul huis uitgejaag na die parkie toe, soos  Ama en Eda uit die paradys gejaag is (bl 214).

Is hier ’n “gesoek die strate langs” – soos in Toerien se gedig aan die begin van die roman?

In die parkie is daar ’n jongmens, “te jonk vir ’n oom, te oud vir ’n seunskind” (bl 217). Hierdie keer maak hy seker dat Marié en haar maatjie die “adder” in sy broek sien (218).

Die jong man, Marié noem hom Pister, wil ’n “getassery” begin (lees weer Toerien).

En wie red hulle hierdie keer? Nie haar pa nie. Marié self tree op. Sy bulder, sy skree. Sy maak haarself groot.

Marié word groot (letterlik en figuurlik). Onthou die eerste sin wat ons uit haar mond hoor (bl 8). So red sy haarself en haar maatjie (bl 217).

En die seun? Hy sê aan die twee: “Tefies moet van skoot ken.” (bl 218)

Hy haal dan sy penis uit en begin masturbeer: “Pister begin woes ruk daaraan, asof hy woedend is daarvoor.” (bl 218)

Ons kom ook later terug na hierdie oomblik (sien 4.2).

Gelukkig is daar ook ’n swart man wat daar verbystap – die twee dogtertjies maak seker hulle span sy hulp ook in (bl 219).

Let egter op hoe hierdie verlies van onskuld die alternatiewe skeppingsverhaal eggo: Baie kort voor Ilse die seun raakloop, besef Marie haar “hande ruik na yster” (bl 216). Bloed ruik soos yster. (Hierdie wysheid leer ons by die kinderverteller op bladsy 32 van Moer).

Marie ruik ook stinkafrikanertjies. Reuke... onthou julle wat gebeur het toe Ama na die boom in die middel van die sandkol gegaan het? Meyer plant al weer leidrade.

Marié, wat bewus is van die reuke, sien ook: “Ilse staan omtrent binne-in die stinkafrikanerbedding. Soos ’n enorme stinkafrikanertjie” (bl 216).

En dan, direk daarna, sê Ilse: “Ek is dors” (bl 216).

Gaan lees weer oor Ama. Dit was “iets erger as dors” wat Ama na die boom gelei het (bl 144). Lees ook weer die begin van bladsy 135.

So: Hier staan Ilse, soos die boom, in die middel van die plante, gereed om gepluk te word. Sy het dors. Marie is ook dors, maar haar kennis van die reuk wat kleef aan die toilet hou haar terug.

Kennis.

Sy noem die toilet se reuk “grillies” (bl 217), ’n woord wat sy van Han geleer het. Meyer laat niks aan die toeval oor nie. Dié kennismaking met die seun se adder volg juis kort na Han vir Marié inlig oor hoe meisies “op die paal” kom (bl 193–194), en dít is “grillies” (bl 210).

Die einde van onskuld is ook die begin van kennis. Die vrugte van kennis is soms onaangenaam, lees gerus weer bladsy 147.

Die roman eindig ses en ’n half jaar na ons Marié ontmoet het, wanneer sy waarneem: “Ek het begin (bl 237)”.

Omega is die alpha. Alpha is die omega. As dit vir die leser na Grieks klink, dit is. Lees bladsy 177.

 

2.7 Einde en begin

Elke hoofstuk waarin Marié die verteller is, word afgesluit met: ΩA.

Omega Alpha.

Einde en begin.

Elke einde is die begin van iets nuut.

 

3. ’n Kinderverteller

Om ’n kinderverteller in te span, is ’n bewuste tegniek. Die onskuld van die kind verlei die leser om nie dadelik die kennis raak te sien wat onder ons oë ontsluit word nie. Dié tegniek word ook gebruik in Moer.

 

3.1 Ander kindervertellers om na te kyk

Meyer is natuurlik nie uniek in haar gebruik van die kinderverteller nie.

Irma Joubert se historiese romans gebruik ook kindervertellers om oorlogsituasies op te som. Joubert is veral bekend daarvoor dat sy op hierdie manier inligting kan oordra aan die leser sonder om prekerig voor te kom.

Don’t let’s go to the dogs tonight, Alexandra Fuller se memoires, asook die filmweergawe hiervan, is sonder twyfel ’n interteks. Hier is ’n lieflike kinderverteller aan die woord én die verhaal speel in die ou Rhodesië af. (Die ware Fuller het egter veel verder Noord as die fiktiewe Marié gewoon. Die ware Fuller beleef ook die onafhanklikwording in 1980 – die fiktiewe Marié is reeds in 1975 terug na Suid-Afrika.)

Elmaré Lombard het ook kindervertellers ingespan in Wildepruim, haar kortverhaalverbundel. Soos die geval is met Meyer se verteller, word Lombard se twee kindervertellers geleidelik bewus van die politieke omgewing.

 

3.2 Waarom ’n kinderverteller?

Enige verteller wat gebruik word, skep ’n bepaalde blik op die samelewing. Die verteller is soos ’n lens. Sy/hy is nie die skrywer nie, sy/hy is die manier van kyk.

In Irma Joubert se verhale word ontsettend veel inligting oorgedra. Nie omdat die kind alles weet nie. Nee, juis nie. Die kind ervaar gewoon ’n situasie, wat die ware skrywer (buite die beeld van die “kamera”) dan inkleur vir die leser.

Bobo, briljant gespeel deur Lexi Venter, in die filmweergawe van Don’t let’s go to the dogs tonight, neem besonder goed waar. Ons sien goed deur haar oë gebeur – ons weet dikwels waarna sy kyk sonder dat sy dit weet. Wanneer sy byvoorbeeld in die polisieselle inloer, weet die kyker wat agter daardie deure gebeur; Bobo nie. Háár kyk maak dat óns bewus word van die politieke gevangenes. Hulle gille, wat Bobo hoor, beteken vir ons ’n hengse klomp goed – sy is bloot nuuskierig.

Ditto met Meyer se Marié. Meyer se boek fokus op die kerk se rol in identiteitsvorming – veral gender. Marié het nog nooit van die woord gender gehoor nie – haar ouers waarskynlik ook nie. Juis nie.

Ons, die leser, kan egter ons eie interpretasie maak van wat Marié sien en hoor.

’n Baie goeie leser, en vriendin van my, het gevra of Marié geloofwaardig is? Kan ’n kind soveel detail onthou? Sy het daarop gewys dat daar in Alexandra Fuller se memoires, die boekweergawe van Don’t let’s go to the dogs tonight, ’n volwasse verteller is wat gereeld konteks gee aan die jonger Bobo se vertellings. (Daardie aspek het in die film verlore gegaan.)

Lesers kan self besluit.

Ek sien egter nie Einde en begin as memoire nie. Hier het ons ’n ware skrywer, Michèle Meyer, wat ’n fiktiewe karakter, Marié, skep en manipuleer.

Manipuleer? Ja, dit is soos ’n filmmaker ’n kamera sal manipuleer. Marié se waarnemings word deur Meyer geskryf net soos die ander stem in hierdie boek, die van Achenbach, ook deur Meyer geskryf is.

Ek vind dit geloofwaardig. Die onskuld van die kinderverteller maak dat sy nog nie op ’n volwasse manier die goed wat sy sien en hoor kan oordeel nie.

Gender is een van die aspekte wat Marié in haar onskuld waarneem en sonder enige oordeel met die leser deel.

 

4. Gender en die kerk

Marié word gemaklik groot. Sy mag selfs kaalvoet loop daar op Avondster – behalwe wanneer hulle kerk toe gaan.

Sy sien wel hoe die kerk genderrolle toeken en aanmoedig. Marié bevraagteken nie wat sy sien nie; sy vertel gewoon wat sy ervaar. Op bladsy 189 kla Marié byvoorbeeld oor sy en haar ma ’n hoed moet dra na die kerk, maar haar pa en boetie hoef nie. Haar klagtes word met ’n stereotipe antwoord stilgemaak. Wanneer sy later haar hoed op haar boetie se kop sit, is haar pa eers ontsteld, maar haar ma dink dis oulik en neem foto’s (bl 192).

Marié se ouers, wat hulle steur aan wat ander mense dink, skep op hierdie manier ’n interessante genderkode. In Pretoria mag Marié dalk nie ’n kortbroek dra soos haar maatjie Ilse nie (bl 215), maar gelukkig word sy toegelaat om ’n langbroek te dra.

In hierdie digverweefde teks is die langbroek nie toevallig nie. Kom ons ondersoek hierdie, skynbaar lukrake, feit wat ons deur Marié se oë waarneem.

 

4.1 Staan jou vrou!

Reg aan die begin van die boek speel Marié en Han met papierpoppe. Die poppe word netjies en stereotiep aangetrek. Marié se ma lewer kommentaar op die netjiese seunspop: “dis mos nou hoe ons ’n mansmens wil hê” (bl 11) sê sy en beveel die seunspoppie: “Komaan, laat jy jou man staan” (bl 11).

Marié vra toe oor die veel groter vrouepop, wat ook netjies aangetrek is: “Staan sy nou haar vrou, Mamma?” (bl 11). Dit laat almal uitbars van die lag. Die hoof van die sendingstasie, oom Eli, kom egter tot Marié se redding en sê: “Minag nooit die wysheid van ’n, ah, jongeling nie” (bl 11).

Marié neem ook waar dat mans staan wanneer hulle bid, vroue sit. Daar is egter een “tannie” wat hierdie reël breek. Hierdie tannie dra ’n langbroek, sy staan en bid ook soos ’n man. Vir die Here sê sy dat Paulus geskryf het: “(...) daar’s nie meer Jood of Griek nie, daar’s nie meer slaaf of vryman nie, daar’s nie meer man of vrou nie; want ons is almal een in Christus” (bl 14). (Vergelyk ook TS Elliot se skrywes in The waste land op bladsy 107.)

Die “tannie” laat selfs Marié se ma oopoog kyk tydens die gebed: “Mamma kyk die heel tyd reguit na die langbroektannie wat gelyk in Afrikaans en Engels kan bid en, soos die ooms, ook opstaan terwyl sy so met die Here praat” (bl 14).

Ons leer hierdie “tannie” as suster Buchanan ken, wat later Marié se onderwyser word.

Op dié manier Marié dra gendermerkers aan die leser oor sonder om bewus te wees dat sy dit doen.

Kort na hierdie staan-staan-biddery praat Marié se ouers oor die egpaar Basie en Prinsie Nell. Marié se pa sê dit verg “mannemoed” van Basie Nell om op so ’n groot skaal te boer (bl 19). Marié se ma sê: “I beg to differ. Dit vat, inteendeel, heelwat vrouemoed. Sonder Prinsie...” (bl 19).

Hier daag Marié se ma die genderrolle uit. Marié neem dit ook bloot waar. Haar pa reageer egter deur na die langbroektannie te verwys: “Tussen jou en suster Buchanan (...)” (bl 19).

Heelwat later in die roman kom anker Meyer weer hierdie vroeë opmerkings van die jong Marié aan die aksies van die veel ouer Marié.

 

4.2 Die dag toe Marié haar vrou staan (in ’n langbroek)

Niks word in Einde en begin aan toeval oorgelaat nie. Meyer, die skrywer, hou ’n baie streng hand oor haar onderwerp.

Ek het in afdeling 2.6 hierbo reeds die toneel bespreek waar ’n jong man homself ontbloot aan Ilse en Marié (bl 218). Dit is daar waar Marié haarself laat geld en die aanvaller afjak met haar stem (bl 217). Sy staan haar vrou, sy openbaar vrouemoed.

Kyk ’n bietjie wat Marié daardie dag aanhet. Sy dra ’n langbroek (bl 215), soos suster Buchanan.

 

4.3 Die vrou in die paradys (en daarna)

Marié se ma lees op bladsy 107 uit TS Eliot se The waste land voor oor ’n figuur waarvan die verteller sê: “I do not know whether a man or a woman”. En ’n bietjie later: “I am the husband and the wife.”

Nog eens plant Meyer vir ons ’n voorbode, want kort daarna begin Han vir Marié lees uit die tesis getiteld: Geslag: geskep of gevolg? deur IW Achenbach (bl 124). In die 1970’s was die woord gender nie gereeld in gebruik nie. Moderne genderstudies onderskei deesdae tussen geslag, wat ’n biologiese konstruk is, en gender, wat ’n suiwer mensgemaakte konstruk is.

Achenbach skets in die verhaal, wat ons reeds in afdeling 2.4 behandel het, hoe Ama, skynbaar geslagsloos, pluk van die boom tydens ’n orgasmiese oomblik, net om daarna as vrou saam met haar man uit die paradys gejaag te word en so in Puin beland.

Achenbach se tesis, beweer dus dat “geslag” ’n skepping mag wees wat uitgedaag kan word. Wanneer Marié en Han vir suster Buchanan vra wat die waarheid nou eintlik is, sê Buchanan aanvanklik dat daar verskillende waarhede is (bl 180). En tog brei sy dan uit oor gender (al gebruik sy nie die woord nie):

Wat Achenbach hier illustreer is waar die samelewing vroue hou, deur wêreldbeskouing, konvensie. Wat nou die Kaapse swartpakke op ’n knop het. Buite die geskende paradys is hiérdie vroue se waarheid: subordinate, ondergeskik. From man, for man. Vessel. By implikasie is mans sedertdien kragtige outoriteit. Oer-alfa. (bl 180)

Hierdie tesis wat die manlike outoriteit so uitdaag, het die teoloë op hol (bl 118).

Wanneer Han direk daarna vra of God dan ’n man is, antwoord suster Buchanan: “God knows” (bl 180).

Op hierdie punt ruik Marié sampioene (bl 180), net soos daar sampioene om die boom in die paradys gegroei het (bl 146).

Kennis. Sy leer iets oor gender, al besef sy dit nie.

 

4.4 Die vrou se geloof is tussen haar ore

Kennis is belangrik in Einde en begin.

Ek moet afsluit. Ek het vroeër genoem dat Meyer se teks veel meer soos ’n epiese gedig gestruktureer is, as bloot ’n storie.

Leeskringe kan hierdie merkers bekyk:

  • Op bladsy 7 hoor ons Marié se ma “is a member of the Pretoria Bach Choir”.
  • Op bladsy 15 hoor ons Marié se pa hou van sing, maar hy is toondoof.
  • Op bladsye 148 en 149 besef Ama dat die boom in die tuin ook geluide maak, die singende sampioene sal haar dors (na kennis) les.
  • Op bladsy 182 is alles op Avondster in rep en roer ná nog ’n terreuraanval. Marié se ma wil weggaan uit die paradys, vir haar kinders se onthalwe. Wanneer haar toondowe man vra: “Waar’s jou geloof, Maria?” antwoord sy: “My geloof, Arthur? Tussen my ore.”
  • Op bladsy 183 word hierdie frase weer herhaal. Die vrou wat klank kan hoor, weet wanneer om haar kennis te gebruik sodat sy haar toondowe man so ver kan kry of weg te trek van die oorloggeteisterde paradys.
  • Direk daarna, op blady 186, volg bladsy 7 se spieëlteks. Hier word aangekondig dat die Van der Merwes uit Avondster gaan vertrek (bl 186).

Ons weet wie die klanke korrek interpreteer in die Van der Merwe huis. Die een wat rokke dra is nie toondoof nie. Dra sy dalk die spreekwoordelik broek?

 

5. Die einde van my betoog

Daar is nog baie om oor te gesels, maar waar ek nou eindig, hoop ek dat ander sal begin. Nuuskierige lesers kan gerus die volgende ondersoeke doen:

  • Avondster is fiktief, maar belangstellendes kan lees oor Morgenster, die ware sendingstasie waarop Avondster geskoei is.
  • Hare: Daar is baie interessante, en belangrike, verwysings na hare in hierdie roman. Hare gaan veral saam met vroulikheid, en dus begeerlikheid. Lees maar self.
  • Fossiele kom gereeld in die teks voor.
  • Ras en rassisme. Ras word geweldig onderspeel in die teks, maar daar is belangrike merkers waarna gekyk kan word.
  • Ditto met koloniale en postkoloniale denke – kyk veral na Achenbach se seun wat so iets begin verstaan.
  • Die Koran se skeppingsverhaal is ’n interessante interteks om te lees. Daar is toeganklike vertalings beskikbaar. Die fiktiewe Achenbach het dit waarskynlik ook onder oë gehad.
  • Ek het te vore ’n artikel geskryf oor die Iranese film Appel wat ook handel oor die aflê van onskuld om kennis te verkry. Leeskringe mag dit interessant vind om hierdie film met die fiktiewe Achenbach-teks te vergelyk.
  • John Milton se epiese gedig Paradise Lost is ook ’n interessante interteks om te lees.

Hier eindig ek.

ΩA

 

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Einde en begin deur Michèle Meyer

Moer: ’n onderhoud met Michèle Meyer

Moer deur Michèle Meyer: ’n lesersindruk

Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Michèle Meyer

Toyota Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel 2024: ’n onderhoud met Michèle Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top