Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Michèle Meyer

  • 2

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Stilbaai (foto: wikipedia)

Michèle Meyer vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Michèle, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

My verhaal handel oor die ontvou van ’n jong kind se seksuele bewussyn binne ’n veilige ruimte. Die inspirasie was waarskynlik ’n samevloei van diepgaande herinneringe, indrukke en ’n onvergeetlike leerkurwe.

In 2019 kon ek die Winnie Rust-skryfskool in Stilbaai bywoon. Omring deur ’n groep werklik inspirerende mense was ek onder andere diep geraak deur die heel eerste lesing van ons kursus. Ons het die voorreg gehad om by die bekroonde skrywer Eben Venter te leer sinvol omgaan met herinneringe.

Venter het ons leer onderskei tussen diepgaande en lukrake herinneringe, ons uitgedaag om kennis te neem en uit ’n kreatiewe oogpunt te fokus op die onuitputlike waarde daarvan.

Sy tweede lesing was ’n formidabele aanbieding oor die slaggatgevulde pad van skryf oor seksuele ervarings. Eben het met soveel waardigheid die uiters moeilike onderwerp hanteer dat dit minder skrikwekkend geraak het om daarmee te handel.

Uiteraard kom daar ná die lesings ’n opdrag: Skryf ’n kwartbladsy oor elk van die tipes herinneringe in jou eie kop se arsenaal. Natuurlik ’n skrywe oor ’n seksuele ervaring ook.

My stukkie oor die diepgaande herinnering was ver verwyder van waar ek in September met die kortverhaal geëindig het, maar na die hardop teruglees aan die groep én ikone soos Ingrid Winterbach en Kerneels Breytenbach (no pressure, obvs!) het Eben aan my gesê hy dink daar skuil ’n storie indien ek daarin kan slaag om die kind se magsgevoel te versterk.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Die slypskoolnotaboek het langs my lessenaar bly lê van Maart tot September. Toe ek die Woordfees-kortverhaalkriewel kry, het ek die boek oopgeslaan by dáárdie oggend se werk.

My belewenis was dat Eben se les waar was: Skryf neer die herinnering en laat hom lê. Iewers skiet die ding wortel en ontwikkel ’n lewe van sy eie.

Met die onvergeetlike lesse van ook beide Winterbach en Breytenbach heeltyd in my gedagtes het ek en daai eerste oggend se sinnetjies begin katvoet loop om mekaar. Waardevolle kreatiewe raad van die kortverhaalkoningin Riana Scheepers het ek ook deurgaans probeer toepas.

Toe ek weer sien, dans die storie met my op die musiek van LM Radio so reg op 1977 se ritme. Dit was ’n heerlike skryf.

Rakende afronding en redigering: Ek is tot ’n mate obsessief oor lees en herlees en oor en oor seker maak terwyl die storie probeer vloei. Dis ’n fout om so te skryf, sê die groot name. Ek het al meer beheer daaroor, maar die kompulsie steek graag sy kop uit terwyl ek probeer werk.

Nie een ander siel behalwe die keurders het tot nou toe my storie gelees nie. Ek glo dit jinx my storie wanneer ek hom deel voor ek weet of hy ’n regmerk van die keurders ontvang het.

Die voorstelle wat Suzette Kotzé-Myburgh gemaak het met die oog op my storie se redigering vir die kortverhaalbundel self was skitterend en het groot waarde toegevoeg. Daarvoor is ek haar innig dankbaar.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek loop Woordfees slegs onder ekstreme omstandighede mis. Ek het eenkeer vir Frieda le Roux gesê ander mense kry jaarliks griepinspuitings, ek gaan Woordfees toe.

Die groot lekkerte is dat my man vanjaar saam met my kan fees, so ons sien uit na etlike hoogtepunte. Ek is gewoonlik ’n Boektent-nerd en slaafse bywoner van lesings. Vanjaar is dit weer so, maar ons gaan onder andere na Valsrivier kyk en ek gaan Sandra Prinsloo se onverskrokke Kamphoer ’n tweede keer sien. Ek het by Aardklop ’n artikel vir Vrye Weekblad gedoen oor die tour de force wat Sandra as Susan Nell is. Ek kan nie wag dat my man haar kragtoer ook moet beleef nie.

Ons was diep bedroef omdat Karen Zoid al uitverkoop was toe ek probeer kaartjies koop het. Karoo Suite II is ook op ons lys. Ek gaan ook onder andere luister na die bespreking van Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek en dan Joan Hambidge en Deborah Steinmair ook.

Nou kan ek nie wag vir “aanhou beweeg en geraas maak” nie!

  • 2

Kommentaar

  • Wanneer Michèle aan die woord is, is luister en onthou maklik. Sy knoop haar gedagtes was aan dinge waarmee die toehoorder daagliks omgaan. Haar strewe om aan te hou leer en groei is opmerklik. So ook haar beskeie menswees. Dankie Michèle!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top