Boekevat met Deborah: Einde en begin deur Michèle Meyer

  • 1

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Einde en begin
Michèle Meyer
Jonathan Ball
ISBN: 9780795803284

Genregrense het vervaag en min of meer verdwyn. Ek wil nie nou in ’n biblioteek of boekwinkel werk waar jy noodwendig moet klassifiseer nie. Hulle laat hulle seker lei deur wat op die voorblad staan: ’n outobiografiese roman; ’n novelle; ’n roman. Dus is dit die skrywer wat besluit waar die boek op die rak staan. En uiteindelik is alles wat jy skryf, ten minste ’n emosionele outobiografie. Ons het een paar oë, een brein en een temperament om die wêreld rondom ons mee gade te slaan en te prosesseer. Soos Antjie Krog gesê het: Sodra jy iets neerskryf, word dit in elk geval fiksie.

Michèle Meyer se jongste roman kan gelees word as ’n voorverhaal van haar debuutroman, Moer. Die ingesteldheid wat ons in Moer leer ken het, word weer verwoord, maar met ‘n jonger stem. Daar kan geen oorgang in die lewe so dramaties wees as dié van kind tot grootmens nie, of van kleintyd tot puberteit nie. Kunstenaars het nog altyd geput uit die verwondering en helder waarneming van hul kinderjare.

Min mense bemeester die stem van ’n kind ten volle: Dit kan maklik presieus wees, te slim, te oulik. Meyer is een van die min skrywers wat daarin slaag. Onder die suksesvolles dink ek aan Alba Bouwer, Jeanne Goosen, Marita van der Vyver en internasionaal Marcus Zusak, Éric-Emmanuel Schmitt wat Oscar en die pienk tannie geskryf het. Etienne van Heerden in Kikoejoe. Onder andere.

Meyer gee lewe aan ’n sensitiewe, intelligente, hardkoppige kind met ’n hartstogtelike liefde vir woorde. Deur haar oë sien ons die wêreld as nuut, vars en blink. Raaiselagtig. Een van die raaisels van menswees is seksualiteit. Marié se lappop, Lena, is nie regtig ’n dogtertjie nie, reken sy, omdat sy nie boude en ’n piepieplek het nie.

........
Meyer gee lewe aan ’n sensitiewe, intelligente, hardkoppige kind met ’n hartstogtelike liefde vir woorde. Deur haar oë sien ons die wêreld as nuut, vars en blink.
........

’n Sleutel is die Barend Toerien-aanhaling aan die begin, oor ’n tyd toe ons nog mossels was, “trassies sonder hoegenaamd enige begeertes”.

Die vraagstuk van geslag hou filosowe en digters al eeue besig. Die Griekse dramaturg Aristofanes het geskryf oor die mite dat die mens oorspronklik hermafrodities was en in twee geskeur is deur Zeus, manlik en vroulik.

DH Lawrence vra in die gedig “Tortoise”:

Why were we crucified into sex?
Why were we not left rounded off, and finished in ourselves,
As we began?

Die titel van Meyer se roman verwys na die siklus van lewe. Einde is die einde van onskuld, begin is die begin van maandstonde en vrouwees. Alfa en omega is die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet, begin en einde, die totaliteit van bestaan.

TS Eliot gebruik die sin "In my end is my beginning" in die gedig “East Coker”. Dis ’n diepgaande, sikliese konsep wat suggereer dat eindes nie finaal is nie, maar eerder oorgange wat nuwe lewensiklusse inlui. Die afsluiting van een fase bied die grondslag vir die volgende.

’n Belangrike metateks is die uitdrywing uit die paradys in Genesis, en John Milton se gedig “Paradise lost” oor die versoeking van Adam en Eva, die dood van onskuld en die verjaging uit die tuin van Eden.

Vir die kind Marié is Rhodesië die paradys. Hierdie hemel word onvergeetlik helder geskets deur kinderoë – die frangipani’s, die sonbesies: “Onder die boom voor die pastorie, waar helikopterblomme staan, ruik dit weer soos verjaardagkoek. Die nag is koel. Paddakoning slaap. Klein paddatjies klink bloepbloep bloepbloep.” Die nag is ook vol gevare, soos terrs met AK’s wat beeste doodmaak. Die sendinggemeenskap het ’n hegte verhoudings, hulle is oor mekaar besorg en ry in konvooie. Daar is ook nader gevare, soos oom Basie en tannie Prinsie se puisiegesigtienerseun vol hormone.

Marié en haar gesin verlaat Rhodesië ná ’n tragedie en vestig hulle in Pretoria. A, Pretoria in die sewentigs – ek was daar. Ook daardie tydsgees word perfek raakgevat en gebottel deur ’n skrywer so sensitief vir vibrasies soos ’n stemvurk en met ’n trefseker aanvoeling vir die regte woord. Ek onthou dat toe ek as kind Om ’n mens na te boots gelees het, ek gewonder het oor die skrywer. Hoe leef so ’n mens, hoe handhaaf ’n mens wat so huidloos sensitief is, die lewe? Dieselfde wonder ek oor Meyer.

........
Hierdie roman skitter soos ’n nuwe muntstuk omdat die wêreld vir Marié so nuut is en omdat die skrywer so in voeling gebly het met die verkennende kind in haar.
........

Hierdie roman skitter soos ’n nuwe muntstuk omdat die wêreld vir Marié so nuut is en omdat die skrywer so in voeling gebly het met die verkennende kind in haar. Marié bid vir ’n sussie en besluit dat God nie gebede beantwoord nie toe sy ’n knewel van ’n boetie kry. Sy versoen haar tog later met ou pikkedolie. Haar ma en pa stry oor woorde en kwessies; baie daarvan skryf sy neer of bewaar sy in haar kop om later die betekenis uit te vind. Sy is ’n paddavissie, tingerig en ongevorm, sterk en waagmoedig. Sy bevraagteken.

Sentraal aan kinderlike nuuskierigheid en ontdekking is die sekskwessie. Sy is bewus van ’n ketting agter haar naeltjie wat styfspan en haar inkatrol. Sy hoor by ouer kinders woorde soos “preggies” en “begin” – om te begin menstrueer. Sy is ’n hus met lang ore.

Haar beste vriendin is ’n bietjie ouer – Hanneke, die dominee se dogter. Op ’n kerkkamp vertel ouer meisies hulle van ’n skripsie wat by die sinode beland het omdat dit glo godslasterlik is. Veral ’n prosastuk daarin het aanstoot gegee. Dis deur ene Achenbach – die pa van ’n seun wat vir Marié loer, en sy vir hom. Marié steel dit uit ’n aktetas sodat hulle dit kan lees.

Achenbach se skrywe is ’n storie binne ’n storie, maar dis sentraal aan die tema en nie borduursel nie, hoewel die register drasties verskil van die kinderstem wat die res van die boek uitmaak. Met die eerste lees het dit my gehinder; ek was verslaaf aan die kinderstem. Tog omvat dit die sentrale raaisel. Dis bokant die kinders se vuurmaakplek, maar sekere dinge resoneer. Dis lieflik geskryf; soms amper te mooi. Dit vertel ’n alternatiewe skeppings- en paradysverhaal. Die eerste mense is geslagloos: Eda en Ama. Dis eers wanneer Ama ongehoorsaam is en kennis van die verbode opdoen dat hulle tot geslag gestraf word. Veral Ama, wat borste en ’n pubis skiet, word swaar gestraf met maandstonde, geboorte en onderdrukking. Dis ’n feministiese lering, soos die geduldige juffrou Buchanan verduidelik: “Buite die geskende paradys is hiérdie vroue se waarheid: subordinate, ondergeskik. From man, for man. Vessel. Holte. Swakker geslag. By implikasie is mans sedertdien kragtige outoriteit. Oer-alfa.”

Dis ’n betowerende reis waarvan die leser nie sy of haar oë kan wegskeur nie: ’n kind se verlies aan onskuld en groei tot wasdom – ek haat die woord “rypheid”. Dit laat my met ’n nostalgiese gevoel van onuitspreeklike droefheid, maar ook matelose verwondering. Dis fyngeweef en meesterlik gekonstrueer. Die skrywer wat soveel belofte getoon het met kortverhale, het nou haar ritme en samehang gevind.

Lees ook:

Moer deur Michèle Meyer: ’n lesersindruk

Moer: ’n onderhoud met Michèle Meyer

Boekevat met Deborah: Skimme en spoorsoekers deur Martin Steyn en Kolam deur Fourie Botha

  • 1

Kommentaar

  • Ek sien uit daarna om Michèle se se nuwe roman te lees. Veral omdat sy genrepromisku is - iets waaroor ek self weer liggies deur 'n ander skrywer by die afgelope Stilbaai Boekefees berispe is. Doe zo voort, Michèle!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top