Boekevat met Deborah: Skimme en spoorsoekers deur Martin Steyn en Kolam deur Fourie Botha

  • 0

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

By poësievoorlesings brom ek onderlangs wanneer die digter voor die mikrofoon eers stamelend verduidelik wat die inspirasie vir die gedig was en wat hy daarmee wil sê. Lees tog net die gedig – as dit nie sonder voorafverduideliking kan staan nie, is dit nie die moeite werd nie, dink ek altyd. As ’n roman ’n voorwoord het, lees ek dit ook nie. Ek stel belang in die storie, nie hoe dit ontstaan en deur hoeveel gedaanteverwisselings dit gegaan het, hoeveel keer dit afgekeur is en watter deurbraak uiteindelik deurslaggewend was nie.

In Martin Steyn se kortverhaalbundel Skimme en spookstories verskyn die nota oor elke storie gelukkig ná die kortverhaal. Ek wou dit eers oorslaan, maar het uiteindelik elke woord daarvan gelees en veel wys geword oor die skryfproses en oor die fassinerende, donker kop van Martin Steyn.

Steyn vertel hy was nie besonder lief vir lees tot hy Stephen King ontdek het nie. Hy het reguit van die Uile oorgeslaan na King, en dus nooit tienerfiksie gelees nie. King se invloed is duidelik: Die stories is makaber, soms dromerig, soms grinterige misdaad, soms gruwel met ’n skeppie van die bonatuurlike.

Die notas ná verhale word ’n soort outobiografiese roman op sigself en bied insig in Steyn se troebel gemoed. Ek dink aan Stephen King se kortverhaalbundel wat verlede jaar verskyn het: You like it darker. Dis ook die titel van ’n Leonard Cohen song, met die lirieke:

A million candles burning
For the love that never came
You want it darker
We kill the flame.

In een van die notas noem Steyn dat hy lus was vir ’n morsige moord, een met bloedspatselkenners en outopsietafels. Sien jy wat ek bedoel?

Hy beskryf ook sy muse in die notas. Hy het aanvanklik gedink sy muse is vroulik, met lang, donker hare en ’n wit rok. Toe lees hy wat King oor sy eie muse gesê het: “a basement guy”, “not much of a conversationalist” en “not much to look at”. Dit het met hom geresoneer – toe begin hy aan sy muse dink as ’n homunkulus, ’n boggelrugmannetjie met magiese kragte, ’n befoeterde skepseltjie in sy onderbewussyn “wat in daardie vreemde onderwêreld ronddwaal en met homself praat en nou en dan, wanneer hy so voel, idees boontoe smyt”. ’n Soort tokkelossie met verstand – my interpretasie.

Dis interessant om te lees wat die kiemsel van stories was. “Sprokie vir ’n Plain-kind” het begin as ’n prentjie in sy kop, van twee ogies in die halfdonker onder ’n bed. Ander is deur ware gebeure geïnspireer. Nanette van Rooyen het hom vertel van ’n pop waarop sy woorde geplak het, en die pop vind neerslag in ’n storie.

Hier en daar is ’n gedig tussen die stories. As ek die redakteur was, het ek die gedigte gesny. Hulle is nie sleg nie, maar min mense kan soos Margaret Atwood en Marlene van Niekerk ewe goed dig en prosa skryf. Waar ’n gedig in ’n storie voorkom, pla dit my nie.

...
Dis ’n heerlike donker leeservaring, hierdie stories, waarvan ek al ’n hele paar onder oë gehad het.
...

Dis ’n heerlike donker leeservaring, hierdie stories, waarvan ek al ’n hele paar onder oë gehad het. Om dit so op een slag te verslind en die skrywer agter die woorde te gewaar is uiters bevredigend.

Die boek maak my lus om kortverhale te skryf. Die temas is uiteenlopend, fantasmagories en vreesaanjaend. Van ’n tienerseun wat gedigte skryf en ’n onwillige medium word tot ’n verliefde paartjie wat in ’n bomontploffing sterf, ’n bejaarde man met demensie, die Grimm-sprokies van kinders op die Vlakte tot huishoudelike geweld en die jag wat mans op vroue en meisies maak. Die boggelrugdwerg se sak vol doepa betower voorwaar.

 

...
Fourie Botha se Kolam het my gehipnotiseer soos ’n komplekse mandala.
...

Ek besluit altyd weer dat ek nie bevoeg is om oor digbundels te skryf nie. En altyd weer het ek iets oor sekere bundels te sê. Fourie Botha se Kolam het my gehipnotiseer soos ’n komplekse mandala. Kolam is ’n Suid-Indiese kunsvorm waar geometriese lyntekeninge met rysmeel op die vloer by die ingange van huise geteken word. Hierdie ingewikkelde patrone van kolletjies, lyne en kurwes simboliseer ’n harmonieuse vermenging van wiskunde, kultuur en die natuur.

Luister hoe betowerend is die eerste gedig – soos ’n meditasie:

1/Beenwerk/

Om die rame af te takel
die hoeke
beenwerke van ’n tent
’n boks klerehangers van draad
brandstapeltjies te pak

om die trigonometrie van fynhoutjies
te herkou in die pense van beeste
’n verkoperde koutjie geduik
vir ’n eendvlerk

om deur dié venster te missiel
die gapings tussen takke
te besweef dieper

dieper die verste bome
in.

Hy dig oor geboue – ’n kothuis, ’n herehuis in Claremont, ’n villa met ’n splinternuwe skoorsteen. Oor Oscar Wilde se graf. Oor reise, deur Moembaai; “’n fantasmagoriese kakspul”, San Michele. Skilderye, beeldhouwerke. Ekfraties, as ek reg onthou.

Hy betoog dat ons, eerder as om op geboue, katedrale, museums en monumente toe te sak, eerder reisigers op besoek aan bome moet wees. Bome sonder papiere, gewone bome in parke. Of aan klippe en blare. Dat ons poskaarte, vadoeke en suikerlepels koop met motiewe van bome, klippe en blare.

Sy erotiese gedigte vind ek altyd meevoerend; so lyflik, sensueel en in die oomblik:

Soutwater kan merke laat,
op papier foto’s maak.
’n Onderbroek in die geheue,
sy sweet daaraan die see.

Hy dig ’n verjaarsdagwens vir Walt Whitman: “jou waterige oë ’n diep kuil / waar seuns kaal swem en gul verdrink, / al singende aan die body electric”.

Daar is ’n bedrieglike eenvoud aan sy verse, ’n sweem van omgangstaal, soos in die lieflike “Wildtuin” oor sy ma wat in Letaba ’n kremetart omhels, haar fokus nie op die opsigtelike nie:

Gerugte van ’n handvol jong leeus
duskant Sabi-Sabi geval haar nie;
dat olifante glo hul dooies
met takke toepak, skeel haar min.

Op dié tog behoef sy om te sien:
aasvoëls en haar favourite favourites, die hiënas.
My ma is nie meer myne nie.

Daar is ’n lieflike vrye verwerking van ’n gedig van Alejandra Pizarnik en ’n ode aan Herman Melville se walvis en aan ’n geliefde hond. Hy sing oor tuine en klein diertjies. Sy onheilige gesange roer. Ek lees weer Die binnerym van bloed en merk Dot Serfontein se jeremiade oor ons taal wat verarm, afstomp. Ek dink digters is die laaste loopgraaf.

En dit is my beskeie leke-opinie.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Sjoe! deur Petrovna Metelerkamp en Roulette deur Sidney Gilroy

Boekevat met Deborah: Die drie weduwees deur Irma Venter en Nobody’s girl deur Virginia Giuffre

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top