Boekevat met Deborah: Sjoe! deur Petrovna Metelerkamp en Roulette deur Sidney Gilroy

  • 0

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Sjoe!
Petrovna Metelerkamp
Hemel & See Boeke
ISBN: 9781037054600

Roulette
Sidney Gilroy
Human & Rousseau
ISBN: 9780798185127

Desember het gekom en gegaan. Ek het baie gelees en min neergeskryf. Gister gaan koop ek Petrovna Metelerkamp se outobiografie, Sjoe, met die subtitel: “Ervarings van ’n leeftyd”. Petrovna is ’n monumentale figuur in die Afrikaanse lettere en ek het haar deur die jare hier en daar raakgeloop – veral ook omdat sy (meestal) vriende met Jeanne Goosen was. Ek lees dit in een sitting deur.

Nou, as jy my vra, is ’n outobiografie nie die moeite werd as dit nie mense woedend maak, vriende vervreem en tot hofsake lei nie. As jy nie bereid is om uit die heup te skiet nie, waarom nog die moeite doen? Maar dis net my eie poniejoernalisgesindheid. Moenie hierdie boek met daardie verwagtings benader nie.

Petrovna is diskreet, privaat en waardig. Sy skryf uiters onderhoudend oor haar voorsate – Afrikaner-adel. Haar oupa Steyn het as krygsgevangene saam met ’n paar makkers uit ’n Britse oorlogskip ontsnap en na ’n Russiese skip geswem. Hulle is soos helde ontvang en gehelp. Vandaar die nasate se Russiese voorname soos Vladimir en Petrovna. Haar pa was sekretaris van Verdediging en hulle het soms in Pretoria en soms in Kaapstad gewoon.

Sy het tyd in Parys deurgebring en dit was so hittete of sy het getrou en haar daar gevestig. Maar haar liefde vir Afrikaans en ons geknelde, veranderende land het haar nie toegelaat nie.

Petrovna en Vasti Grové het die eerste keer op my radar verskyn as legendariese Pretoriase boheme, en ja, die L-woord. Volgens die outobiografie was hulle twee sterk geskeide vroue wat hulle lot en nege kinders saamgegooi het in ’n chaotiese, herbergsame huishouding. Daar was immer vriende, digkuns, musiek en wyn. En heelwat humor.

Petrovna is goddelooslik skreeusnaaks, met ’n fyn ontwikkelde sin vir tydsberekening. Tussen die vertellings is daar kort staaltjies oor bekendes en haar kinders se uitlatings. Niks word verduidelik of beklemtoon nie, sy vertel dit net. So lees ons van Vasti wat vir Costa, ’n Griek in Santorini, geleer het hoe om in Afrikaans ’n heildronk in te stel. Hy lig sy glas vir Petrovna en sê: “Daar poep ’n duif.” Elize Botha wat sê haar gunstelingaanhaling is: “Kaptein, ek kan hierdie kak nie meer vat nie”, uit Onse Hymie. Bergies wat onder ’n brug by ’n plaasingang slaap, word gevra om die naweek weg te bly, want die plaas is op die mark en mense kom kyk daarna. En die antwoord: “Dit sil ons nou nie kan doen nie, meneer. Ons kry mense.” Haar kleinseun wat in skaak sy koningin opoffer en sê: “Ag Ouma, dit was sommer net ’n random skuif.” Jeanne Goosen wat bel om te sê ’n mens kan vir die WAT ’n woord borg teen R100. Sy het hulle gebel en gesê sy sal hulle R200 betaal om ’n sekere woord wat met “s” begin, weg te laat:  “skaamlippe”.

Petrovna is ’n sterk, impulsiewe en intuïtiewe vrou. Die geluk is meestal aan haar kant. Dit is indrukwekkend om te lees hoeveel boeke sy geskryf en uitgegee het. Haar liefde vir Afrikaans en haar begeerte om skatte soos die Komrij-versameling van Ingrid Jonker se boeke, briewe en foto’s vir die nageslag te bewaar, beïndruk. So ook haar uitbundige liefde vir mense en haar joernalistieke nuuskierigheid.

Dis lewendige, fassinerende memoires, al word daar geen lakens uitgehang nie. Ek beveel dit hoog aan, as ’n tydsdokument en die testament van ’n merkwaardige vrou. Veral as jy tussen die reëls kan lees. Leidraad: Gaan lees weer Jeanne Goosen se Om ’n mens na te boots.

........
Dis lewendige, fassinerende memoires, al word daar geen lakens uitgehang nie. Ek beveel dit hoog aan, as ’n tydsdokument en die testament van ’n merkwaardige vrou. Veral as jy tussen die reëls kan lees.
........

Ek het aan die begin van die vakansie Sidney Gilroy se Roulette gelees. Ek het ook ’n paar Reachers, Connolys en Grishams gelees, en Gilroy staan nie terug vir hulle nie. Dit voel nou so lank gelede, maar die roman leef helder in my geheue. Gilroy skryf die soort misdaadfiksie waarvan ek hou: vermeng met sielkundige riller en huishoudelike noir. Dit speel gewoonlik in die Vrystaat af en goël met die elemente van plaasroman.

Geweld teen vroue vier in ons land en wêreldwyd hoogty en die huishoudelike-noir-genre wemel van romans oor toksiese manlikheid, gewoonlik deur vroue geskryf. ’n Mens wonder later of daar ’n ordentlike man op aarde oor is. Dit is dus insiggewend om vanuit ’n manlike perspektief daaroor te lees, en in ’n huishoudelike opset.

Die roman begin in 1998 op ’n plaas met ’n Russiese-roulette-speletjie tussen die Ludick-drielingbroers Lötter, Duan en Oscar en hulle vriende Cornelius Swart, Hendrik Bregelmans en Johan Meintjies. Die seuns is in matriek. Die Ludicks se sussie, Lara, net 13 jaar oud en nie op haar mond geval nie, bevind haar in die middel van hierdie ongemaklike mengeldrankie van hormone en aggressie. Tydens ’n vakansie sterf Lara. Die seuns spat uiteen. Die Ludicks se ma gaan weg en op hulle plaas, Erfdeel gaan dit beroerd.

Nou is dit 2025 en hulle is verdagtes. Daar is iemand wat die seuns se vriende wat saam op die noodlottige vakansie was, afmaai. Sersant Sollie Mthembu se ondersoek hierna neem hom terug na die onopgeloste dossier van Lara Ludick. ’n Spook uit Sollie se verlede kom ook aanklop. Hy probeer om staande te bly en sy gesin te beskerm.

Die leser het ’n redelike vermoede oor die moordenaar, maar moenie te seker van jou saak wees nie. Ek was slegs ten dele reg.

Hierdie knap spanningsverhaal handel oor verlies en verspeelde kanse. In ’n risikospel soos Russiese of ander roulette is daar, soos Erla Diedericks uitgewys het, inderwaarheid net verloorders.

........
Dis sosiale kommentaar en ook bloot ’n naelbytleeservaring.
.........

Gilroy het sy plek ingeneem as Afrikaanse misdaadskrywer om mee te reken. En die Vrystaatse landskap en plaaselement verleen iets sinister, ’n ambience van stokou erfskuld en benepenheid, ’n patriargale nagmerrie wat voortgesit word deur ma’s wat seuns tot in die afgrond bederf en ’n opset wat nog steeds bevoordeling aanmoedig. Dis sosiale kommentaar en ook bloot ’n naelbytleeservaring.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Die drie weduwees deur Irma Venter en Nobody’s girl deur Virginia Giuffre

Klein konings deur Theo Kemp "’n leeservaring uit die boonste rak"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top