Boekevat met Deborah: Die drie weduwees deur Irma Venter en Nobody’s girl deur Virginia Giuffre

  • 0

Voorblaaie deur Tafelberg en Penguin.

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Kinders word geknou in fiksie en werklikheid.

Ek wil oor twee boeke skryf. Die eerste is, genadiglik, fiksie – misdaadfiksie. Die tweede is niefiksie, outobiografies en absoluut sielvernietigend.

Irma Venter se jongste, Die drie weduwees, is pure leesgenot. Ami Prinsloo is ’n heerlike heldin. Sy het as swemmer Olimpiese goud verower, het uitgehaak ná haar suster vermoor is, haar skouer beseer in ’n onnodige ongeluk, daarna joernalis geword met heelwat duiwels op haar spoor. Sy bly een tree voor hulle deur haar gedaan te swem in die gim, elke dag. Sy was roekeloos promisku totdat sy Geo ontmoet het. Hulle verhouding vorder stadig, want Ami vertrou nie maklik nie. Venter wil duidelik nie dat hulle romanse die donder van die grinterige misdade steel nie. Tog bied dit ’n verfrissende kontrapunt, ’n sagtheid. Venter het die vermoë om gelukkige liefdesverhoudings uit te beeld sonder dat dit vervelig of huishoudelik raak. Een van die geheimebestanddele is humor: Ami en Geo se geskerts laat hulle vir die leser lewe kry. Ons belê emosioneel in hulle verhouding.

Een van Ami se naaste vriende – en daar is nie baie nie, behalwe haar susters – is Paul de Jager, afgetrede baasspeurder. In hierdie roman gaan hy dood en dit lyk na selfdood. Hy het aan Alzheimer se siekte gely en wou nie graag alle beheer verloor nie.

Hy laat drie “weduwees” agter – drie sterk vroue met wie hy getroud en van wie hy geskei was. Hy het getrou met eksentrieke vroue wat hy wou uitpluis en sodra hy dit reggekry het, het hy verveeld geraak. Ami begin vermoed dat een van die weduwees behulpsaam was met sy dood: Was hy nog sterk en helder genoeg om self die sneller te trek?

Paul se nalatenskap aan Ami is ’n saak wat hy nooit kon oplos nie en wat by hom bly spook het: Ebbie Gouws het een Sondagoggend in 1998 in die Moot in Pretoria verdwyn en geen spoor van hom is ooit gevind nie. Paul vra Ami, ondersoekende joernalis, om die saak weer te bekyk. Hy laat sy navorsing en lêers vir Ami, saam met ’n brief wat sy eers mag oopmaak wanneer sy al redelik gevorder het met haar ondersoek, sodat sy met nuwe oë na die saak kan kyk en nie in dieselfde denkpatrone as hy verval nie.

Ami loop op sy spoor en gaan ondervra weer al die betrokkenes. Sy vra die weduwees om hulp: Hulle was al drie betrokke by misdaadbestryding en is bekend met die saak. Ilse, die polisiesielkundige, is behulpsaam en Kareema tot ’n mate. Maar die derde weduwee, Helga oftewel Mac, is vyandig en bot, soos haar aard is.

...
Sy het, soos Ami in die swembad, haar ritme gevind en word met elke roman meer vaartbelyn. Ek beveel dit hoog aan.
...

Die Moot, ’n buurt vol dimensie en teenstelling, word ’n karakter in die boek. Dis ’n hoogs verfilmbare roman vol menslikheid en afgryse. Dit laat die leser nadink oor kwessies soos selfdood, genadedood en vigilantisme. Venter is immers die koningin van die morele dilemma. Sy het, soos Ami in die swembad, haar ritme gevind en word met elke roman meer vaartbelyn. Ek beveel dit hoog aan.

Virginia Giuffre was ’n vrou wat haar beywer het om Jeffrey Epstein aan die pen te laat ry. Haar memoires, Nobody’s girl, is geskryf in samewerking met Amy Wallace en het ná haar selfdood verskyn. Die meeste van die inligting is reeds bekend aan die publiek, via die media en hofstukke. Wat nie algemeen bekend was nie, is haar nagmerrie-agtige kinderjare wat van haar die ideale prooi vir seksuele roofdiere gemaak het. Dit was so hittete of ek het nie verder as die eerste deel gevorder nie. Ek het die boek ’n paar keer neergesmyt terwyl ek veg teen die naarheid wat opwel.

Virginia of Jenna was dolgelukkig tot op sesjarige ouderdom. Hulle het op ’n plot gewoon en sy het ’n perd, Alice, gehad waaraan sy verknog was. Sy was ’n hulpvaardige kind wat graag goed wou doen, hartstogtelik lief was vir diere, leergierig en intelligent. Toe het haar eie geliefde pa haar begin molesteer. Hy het dit “ekstra liefde” genoem wat hy aan haar uitdeel. Dit het vinnig geëskaleer tot verkragting. As sy nie wou saamspeel nie, het hy gedreig om haar perd te verkoop, en later om haar kleinboetie dood te maak. Haar ma het anderpad gekyk, maar kil en bitsig teenoor haar begin optree. Sy het gesê Virginia probeer haar man afvry. Sy het haar gereeld met die tak van ’n roosstruik geslaan, met die dorings nog aan. Sy het haar ’n “vuil slet” genoem.

Jenna kon nie meer konsentreer op skool nie en haar punte het drasties verswak. Sy kon ook nie vriende maak nie, want sy het vuil gevoel.

...
Lees dit net as jy senuwees van staal en ’n hoë naarheidsdrumpel het.
...

Die presiese plek waar ek die boek die eerste keer neergegooi het, was toe haar pa en sy vriend Forrest om die braaivuur sit en drink. Ja, daar was drank betrokke, by haar pa en haar ma. Forrest het sy eie stiefdogter ook gemolesteer. Skielik spot die mans oor hoe “stout” hulle dogters is en Forrest stel voor dat hulle dogters uitruil. Ja, hy het Jenna ook verkrag. Later het Sheila, Forrest se stiefdogter, met haar in aanraking gekom en alles beaam.

Toe sy begin menstrueer, het haar pa snags weggebly uit haar kamer. Haar ma het haar kort daarna weggestuur na ’n soort verbeteringskool, omdat sy “onhanteerbaar” was. Die skool was soos ’n tronk. Kinders is afgeknou, verneder, mishandel en gemolesteer. Sy het telkemale weggeloop, maar was nie welkom in haar ouerhuis nie.

Toe sy 16 was, kry haar pa vir haar werk by Mar-a-Lago, Donald Trump se spa-landgoed. Hy was in beheer van die gronde daar. Sy moes handdoeke uitdeel. Daar vang sy die oog van Ghislaine Maxwell; jy spreek dit glo Ghiine uit. Sy was altyd op die uitkyk vir vars meisies om na Epstein te bring. Virginia het die profiel gepas: brandmaer, blond met klein borste en ’n kinderlike gesig met verdwaalde sproete. Sy het Jenna ’n werk aangebied.

Toe sy vir die onderhoud opdaag by Epstein se pienk herehuis, word sy deur ’n slaapkamer na ’n masseerkamer geneem, waar Epstein kaal op sy maag lê. Ghislaine wys haar hoe om hom te masseer, en meer. Later is al drie kaal. Virginia is in sy web vasgevang deur ’n enkele sin wat die arrogante Epstein vir Ghislaine gesê het: “She’s a keeper.” Onthou, sy was niemand se meisie nie, die kind wat nêrens welkom was nie, wat oral sleggesê en gestraf is. Hy het vir haar ’n soort vaderfiguur geword. Sy het die wêreld vol saam met hom gereis, in sy privaatstralers, in die grootste weelde.

Natuurlik het dit nie by aanmoediging en positiewe terugvoer gebly nie. Epstein het ’n belangstelling in sadisme ontwikkel. Hy is deur verskeie minderjarige meisies per dag gediens. Hy het haar ook uitgeleen aan sy belangrike vriende, soos Prins Andrew. Virginia is toenemend uitgehol, haar siel weggekalwe.

Die skaal van verdorwenheid laat ’n mens moedeloos oor die aard van die mensdom. Mans sowel as vroue. Brunel, ’n Franse modebaas, het byvoorbeeld met een verjaarsdag vir Epstein ’n geskenk gestuur: drie twaalfjarige Franse meisies, ’n drieling.

Die res is geskiedenis. Virginia het ’n aktivis geword wat haar beywer het om Epstein, wie se saak uitgegooi is, en sy trawante te laat boet. Sy was die een meisie wat weggestap het van Epstein, of het sy? Sy was ten slotte gebroke, worstelend met PTSS en ’n verrinneweerde lyf vol pyn. Lees dit net as jy senuwees van staal en ’n hoë naarheidsdrumpel het.

Lees ook:

Boekevat met Deborah: Bonsaimeisies deur Erla Diedericks en Mother Mary comes to me deur Arundhati Roy

Boekevat met Deborah: Moord en mooi woorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top