
Omslag: NB-Uitgewers
Titel: Draaie, swaaie en afdwaalpaaie. Reisstories
Samestellers: Corlia Fourie en Annelize van Rooyen
Uitgewer: Queillerie (2024)
ISBN: 9780795802751
Naomi Meyer praat met Corlia Fourie en Annelize van Rooyen oor die bundel Draaie, swaaie en afdwaalpaaie.
Corlia en Annelize, ek lees in die voorwoord van Draaie, swaaie en afdwaalpaaie julle het albei in die ’80’s in Londen gewoon en besluit julle wil ’n boek skep waar mense skryf oor hul reise (na buite en onafwendbaar na binne!). Heel eerste: Wat was jul elk se eie eerste storie wat julle sou wou deel, as ek julle nou trompop vra – vertel my in ’n sin of twee jou kortverhaal oor jou eie reis(e)?
Annelize: Die oggend van 2 Januarie 1974 is ’n baken in my lewe. Dit was vroegoggend en nog sterk skemer toe die Boeing 727 oor die miljoene liggies van Londen neerdaal om op Heathrow-lughawe te land. Bra deurmekaar weens die slapelose nag en die vorige dag se Nuwejaarsviering was ek nog nie lekker helder toe ek per bus na die middestad gery het nie. Opwinding het in my opgebou tot ’n ekstase wat ek nooit tevore ervaar het nie. Só het my eerste oorsese reis begin. Die gevoel het by my gebly en my keer op keer weer op ’n vliegtuig na ’n ander land laat klim.
Corlia: My eerste oorsese reis was so 1970 toe ek as Sarie se eerste Johannesburgse verteenwoordiger Mauritius toe is om ’n mode-artikel en ’n reisartikel te skryf. (Ek was nie die moderedakteur nie, maar omdat sy op daardie stadium Spanje toe is, het ek die voorreg gekry.) Die eerste blik vanuit die vliegtuig vertel reeds van ’n asemrowend mooi eiland, veral oor die intensiteit van kleur: Turkoois deursigtige water omring die groen-groen eiland met puntige berge en witter-as-wit strande. Daardie tyd was die eiland nog nie so gekommersialiseer nie en die Franse invloed sterk. Heerlik gekuier.
Hoe het die proses gewerk om te vorder tot by die totstandkoming van die bundel? Het julle elkeen ’n lys skrywers in gedagte gehad wat julle wou nader? As ek so na die boek kyk, is daar herkenbare Afrikaanse skrywers wat ons almal weet lank oorsee gewoon het of steeds woon, en dan is daar ook andere, sommige van wie ek nie eens geweet het ’n tyd lank oorsee gewoon het of so baie gereis het nie. Noem asseblief ’n paar skrywers wat die bundel gehaal het – die bekendes en minder bekendes wat julle gou wil uitsonder, asseblief.
...........
Die bundel is nie werklik beplan nie. Dit het spontaan ontstaan uit ’n gesprek wat ons albei laat besef het hoe lekker dit is om herinneringe aan reise op te roep. Veral die reise wat, sê maar, skeefgeloop het, het met die tyd snaakser geword en lekkerder om oor te vertel.
................
Annelize: Die bundel is nie werklik beplan nie. Dit het spontaan ontstaan uit ’n gesprek wat ons albei laat besef het hoe lekker dit is om herinneringe aan reise op te roep. Veral die reise wat, sê maar, skeefgeloop het, het met die tyd snaakser geword en lekkerder om oor te vertel. Enigiemand wat al gereis het, vind iewers raakpunte in die reisstories. Dit het daartoe gelei dat Kerneels Breytenbach, Frederik de Jager, Marita van der Vyver, Marlise Joubert, Jacques Pauw, Sophia Kapp, Kirby van der Merwe, Annemarié van Niekerk en Erika Murray-Theron en vele meer op uitnodiging bydraes gelewer het.
Toe die stories begin instroom, het die afdelings van die bundel op daardie organiese manier self so ingedeel? Narratiewe oor wat alles op vervoermiddels kan plaasvind, bagasie, weer, verblyf en ontmoetings? Wat het julle raakgesien as temas? Deel asseblief en brei so ’n bietjie daarop uit.
Corlia: Ons het die skrywers en joernaliste ’n vry hand gegee om te skryf oor waarheen hulle gereis het en wat tydens die reis gebeur het. Toe ons die bydraes kry, het ek gesien dat van die skrywers dieselfde vervoermiddels gebruik het (skip, bus, vliegtuig) of dat daar probleme (bagasie) was. Heelparty stories het gegaan oor taal en die probleme om jou in ’n vreemde land verstaanbaar te maak. Om die waarheid te sê kan baie van die verhale ook in “Die tale wat ons praat” tereg kom.
Die skrywers het nie almal oorsee gereis nie. Sommige het reise in hierdie land aangepak en dalk op ander plekke uitgekom as wat hulle beoog het. (Is dit nie juis presies waaroor die bundel handel nie – begin met een bestemming in gedagte en dan lyk dit gans anders as wat jy self gevisualiseer het?) Vertel asseblief ’n staaltjie of twee wat vir julle uitgestaan het oor skrywers wat in Suid-Afrika gedraai het.
Corlia: Johan C Bakkes se reis saam met sy dogter en sy kleinkinders, van wie die jongste droog gemaak moes word en die oudste moes plek kry om te hardloop, is baie snaaks. So ook Christien Neser se beskrywing van hoe sy haar kat in die bagasieruim van die vliegtuig moes gaan soek. En Gerrit Rautenbach vertel ’n wonderlike verhaal van hoe hy jare gelede in ’n hotel op Fraserburg “uitgekamp” het.
............
Johan C Bakkes se reis saam met sy dogter en sy kleinkinders, van wie die jongste droog gemaak moes word en die oudste moes plek kry om te hardloop, is baie snaaks. So ook Christien Neser se beskrywing van hoe sy haar kat in die bagasieruim van die vliegtuig moes gaan soek. En Gerrit Rautenbach vertel ’n wonderlike verhaal van hoe hy jare gelede in ’n hotel op Fraserburg “uitgekamp” het.
.............
Wat maak ’n lekker kortverhaal oor reis anders as (net) ’n lekker kortverhaal? Die persoonlike aard hiervan veroorsaak dat alles in hierdie bundel outobiografies is, of hoe? Of is dit ook net lekker stories, of dit nou waar is of nie? Dink julle lesers sal lekker lees, of verlang – en dalk sal lesers wat oorsee woon, nog méér aanklank vind?
Annelize: Reisigers is uiteraard nuuskierig. En avontuurlustig. Dit is waarom hulle reis. Wanneer ek in ’n boekwinkel ronddwaal of deur iemand se boekversameling kyk, sal ek gou die reisboeke raaksien en daardeur blaai. Daar is ’n gevestigde belangstelling en herinneringe wat dadelik herleef. Veral waar dit gaan oor die plekke waar ek self reeds was
Corlia: Ek wil dit net duidelik stel dat die verhale in die bundel stories is, soos op die omslag aangedui. Van hulle (byvoorbeeld dié van Erika Murray-Theron, Frederik de Jager en Joan Kruger) is wel kortverhale, maar daar is ook vertellings, sketse, reisverslae met kinkels. Al die reisstories, buiten Kerneels Breytenbach s’n wat oor sy vrou en vriende se wedervaringe skryf, is outobiografies – niefiksie.
Daar verskyn van tyd tot tyd in die Afrikaanse taal boeke, gedigte of artikels oor Afrikaanse reisigers. Verskillende genres, verskillende gedaantes, verskillende publikasies. Ek dink aan Elisabeth Eybers, Karel Schoeman, Breyten Breytenbach, Marita van der Vyver, PJ Philander, Jakes Gerwel, Chase Rhys, Hein Willemse ... Ek dink aan onlangse bundels soos Ver in die wêreld of Hierdie land. Wat onderskei Draaie, swaaie en afdwaalpaaie van ander vertellings oor Afrikaanssprekendes in die buiteland?
Corlia: Jy noem merendeels letterkundige reise. In Draaie, swaaie en afdwaalpaaie gaan dit nie oor letterkunde nie, wel oor “ongewone gebeure tydens reise, wat snaakse of bittersoet of heuglike gevolge vir hulle [die vertellers] ingehou het”. Maar altyd is die ervaringe verrykend.” En ek steel nou by die rugkant van die omslag.
As mens oor jou ervarings in die buiteland skryf, skryf jy natuurlik oor jou eie wêreldsbeskouing en ook oor hierdie land, Suid-Afrika. Of hoe? Wat het vir julle uitgestaan as anders of as snaaks (humoristies of vreemd) toe julle na die voorleggings kyk?
Annelize: Vandag se reisigers kan basies gaan waarheen hulle wil. Vroeër jare was dit anders. Daar was die ontdekking van die vryheid wat ons nie altyd hier geniet het nie. En die geweldige verskeidenheid van goed – boeke, musiek, drama en wat ook nog. Baie van wat in Suid-Afrika verbode was, moes mens ondersoek. Op my eerste reis was Last tango in Paris heel boaan my lys.
Dit is wel so dat die skrywers in hierdie bundel opgedaag het vanuit verskillende omstandighede – party meer welvarend as ander. Sal lesers vanuit verskillende omstandighede kan aanklank vind?
Corlia: Beslis. Daar is byvoorbeeld Candice Doiseb Jantjies se storie “Trekman” van hoe sy ’n begrafnis in Namibië bygewoon het – met ’n skok teen die einde. Elma Potgieter het vir Kas van den Berg geld uit die land gesmokkel om Parys, Frankryk te kan besoek. (Maar op ’n ernstiger noot: Om ’n geldmuil te word, kan jou in die tronk laat beland.) Carina Stander slaap dikwels tydens reise onder die sterre. Nog meer avontuurlustig is Jacques Pauw se reis deur Siberië en Marion Erskine se Pakistanse reis. Maar selfs as ’n mens nie die geld of die gesondheid het om te reis nie, is dit altyd lekker om deur ander se oë en stories die pad te vat.
Waarheen het die boek julle elkeen laat reis, na binne, noudat julle die stories gelees het? Watter terugvoer ontvang julle van lesers wat met julle daaroor praat?
Annelize: Die terugvoer is positief en entoesiasties. Tog te lekker. Dit is duidelik dat lesers nie voel dat die stories hulle bedruk maak nie. Dis nie net humor wat lesers aantrek nie, want daar is ook “dieper” stories. Die reise wat my lok, is Marita van der Vyver se Greyhound-rit deur Amerika en Frederik de Jager se woestynreis. Ek het die lekkerste gelag vir Renée Rautenbach Conradie se taalglips in Frankryk, Mariëtte Crafford se besoek aan die hemel en Martie Retief Meiring se noue ontkoming op die Orient Express.
..........
Die terugvoer is positief en entoesiasties. Tog te lekker. Dit is duidelik dat lesers nie voel dat die stories hulle bedruk maak nie.
............
Corlia: Baie van die stories het my laat terugdink aan my eie reise. Charles Siboto se probleem met treine in Duitsland het my byvoorbeeld laat onthou van al die kere wat ek ook met dieselfde probleem in Europa gesukkel het. Sophia Kapp se moeite om haar juwele na ’n vliegrit weer terug te kry, het geëggo in al die kere wat ek nie kan onthou waar ek my blink goedjies weggesteek het nie. Anzil Kulsen se geskinder in Afrikaans in Zanzibar het my laat terugdink aan al die moontlike en onmoontlike plekke waar my Afrikaans in Europa herken is.
...........
Baie van die stories het my laat terugdink aan my eie reise.
..............
En vertel my van julle boektoere. Waarheen reis die boek nog, of waar was julle al met die boek? Vertel asseblief vir ons lesers, sodat hulle gesprekke daaromtrent kan bywoon as dit weer plaasvind?
Corlia: Omdat daar soveel skrywers is wie se werk in die bundel opgeneem is, hoef ek en Annelize nie aan al die promosies vir die boek deel te neem nie. Gielie Hoffmann (wat ook ’n storie in die bundel het) het die bekendstelling in Pretoria waargeneem. Annelize het die een op George behartig. Ek was by Love Books in Melville die anker vir ’n hele paar skrywers. Ons uitgewer Carolyn Meads het dit op Wellington waargeneem. Daar sal by Aardklop en die Woordfees onder meer ook oor die bundel gesels word, en Exclusive Books het laat weet dat hulle nog geleenthede wil reël. Hou die pers dop vir nog besonderhede.
Lees ook:
Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager: Verpligte leesstof vir voornemende emigrante
FMR-resensies: Die binneland in deur Dana Snyman en Hierdie land, ’n bundel deur verskeie skrywers