Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager: verpligte leesstof vir voornemende emigrante

  • 1

Ver in die wêreld
Frederik de Jager (samesteller)
Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624089575 

Koop die boek by Graffiti.

Ver in die wêreld, Kittie!
Kittie, Kittie!
Ver in die wêreld, Kittie!
Kittie oor die see. 

Hierdie bekende lied is reeds so vroeg as 1918 deur SPE Boshoff en LJ du Plessis opgeteken en by ’n bundel Afrikaanse volksliedjies ingesluit. Ver in die wêreld word heel gepas meer as ’n eeu later deur die samesteller Frederik de Jager as titel vir ’n versamelbundel oor Suid-Afrikaanse emigranteverhale (oftewel ekspatstories) gebruik. Sou hierdie lied iets suggereer oor Suid-Afrikaners, en spesifiek Afrikaanssprekendes, se migrantebloed? Die huidige bevolking van die Republiek van Suid-Afrika het immers ontwikkel uit die ontmoeting en vermenging van mense uit Afrika, Europa en die Ooste. Die etimologie van talle woorde van die Afrikaanse taal getuig sterk van hierdie kosmopolitiese erfenis. Soos De Jager in sy voorwoord aandui (9), is migrantskap ook deel van menswees in die breë: “Voor ons sittende geword en blyplek geskep het, was ons nomadies en lopende. Dit sit in ons bloed.” Hy wys voorts op die verskynsel van diaspora (grootskaalse emigrasie van ’n groep) en noem dat nagenoeg een miljoen Suid-Afrikaners (dit voel asof dit selfs meer moet wees!) in die afgelope 30 jaar die land verlaat het en tans oor die uithoeke van die wêreld versprei sit .

Hoewel emigrasie so deel van ons identiteit is, en veral vandag so algemeen, vind mens dat emigrasie vir Suid-Afrikaners ’n besonder emosionele onderwerp is – na my ondervinding in baie gevalle meer só as vir die inwoners van ander lande. Suid-Afrikaners is geneig om in ekstreme terme oor emigrasie te praat: Emigrasie is óf ’n skuif reguit hemel toe óf dis tekenend van moed opgee, dat iemand ’n soort volksverraaier is. As jy soos ek self al (e)migrant was (of is), kom jy egter gou agter dat talle van jou landgenote wat net van hul suksesse in verre lande vertel, ook maar eensaam is in hul nuwe tuiste en dikwels heeldag op sosiale media of die kommentaarafdelings van Suid-Afrikaanse nuusblaaie verkeer om ander, maar veral hulself, te oortuig dat die Suid-Afrikaanse staat ’n reddelose gemors is. Aan die ander punt van die spektrum is daar diegene wat luidkeels om die braaivleisvure verklaar dat hulle nooit as te nimmer volk en vaderland sal versaak nie, maar stilletjies by jou vis oor werksopsies oorsee as hulle hoor dat jy al die skuif gemaak het. Die werklikheid is dat die emigrasiekwessie ’n komplekse een is – lewenskwaliteit word uiteraard gemeet aan faktore soos veiligheid, werksekerheid en goeie dienslewering, maar óók aan elemente soos die gevoel van behoort, die teenwoordigheid van ondersteuningsnetwerke en die omvang van lewenskoste. Soms emigreer mense vir avontuur of meer opsies vir hulle gesinne, ander kere uit noodsaak of ná lewensveranderende trauma. Maklik is emigrasie gewis nóóit nie.

..........
Maklik is emigrasie gewis nóóit nie.
...........

Dít is dan presies wat hierdie bundel so knap maak: Dit benader ’n komplekse gesprek genuanseerd en bewus van die voor- en nadele ter sprake. Die bundel bevat 23 stories oor Suid-Afrikaanse ekspats (of Saffers/Saffas soos ons oor die waters bekendstaan). Die nuwe tuisland/ruimte van die verhaal word telkens tussen hakies langs die verhaaltitel aangedui en sluit gewilde Suid-Afrikaanse emigrasiebestemmings soos Kanada, Brittanje en Nieu-Seeland in, asook minderbekende bestemmings soos Ysland en Kazakstan. Uit talle van die verhale blyk dit helder dat hierdie skrywers wéét waarvan hulle praat. Iewers is hulle al gepik deur die Groen Mamba (die Suid-Afrikaanse paspoort wat ‘n legio burokratiese uitdagings aan die emigrant stel). Iewers het hulle al benoud geraak ná hulle ’n watertjie of ’n koffie op ’n oorsese lughawe na rande verreken het. Iewers is hulle al ná die naam “Afrika” in ’n gesprek gebesig is, onmiddellik soos ’n idioot hanteer deur ’n inwoner van hulle nuwe tuisland. Daar is eenvoudig aspekte van die Suid-Afrikaanse ekspat-ondervinding wat dieselfde is vir ons almal – maak nie saak watter uithoek van die wêreld ons, permanent of tydelik, aandurf nie.

Die samesteller van Ver in die wêreld, Frederik de Jager, het in 2022 die Eugène Marais-prys en UJ-debuutprys vir sy bundel kortverhale, Man op ’n fiets êrens heen, gewen. In hierdie uitstekende bundel, bestaande uit voorheen gepubliseerde rubrieke, word sy eie reiservaringe geskets en spesifiek sy ondervindinge as emigrant in Griekeland. Daar is ’n menslikheid aan die verhale in Man op ’n fiets êrens heen wat ook klink in Ver in die wêreld. In sy voorwoord noem De Jager dat daar talle voorleggings was, maar hy met rede die spesifieke gebundelde verhale gekies het. Hy noem dat party verhale fiksie is, maar ander wel intiem persoonlike vertellings. Soos in sy eie bundel, is daar fokus op die verwikkeldheid van menswees wat sterk in die gekose verhale na vore kom en dit veral herkenbaar sal maak vir lesers – ekspat of nie. Soos De Jager tereg aandui, al het jy nie self geëmigreer nie, ken die meeste Suid-Afrikaners in elk geval iemand wat Suid-Afrika al vir ’n nuwe tuiste verlaat het.

Een van ons bekendste Afrikaanse ekspatskrywers, Marita van der Vyver, se verhaal oor Frankryk (“Want die nag behoort aan ons”, 45) hanteer die tema van die winste en verliese verbonde aan emigrasie besonder goed. Die protagonis se welgestelde lewe in Parys is meer as waarvan sy kon droom. Tog dryf die verlange na haar ouma se eenvoudige maar geliefde Suid-Afrikaanse plaaskombuis haar om skelm Afrikaanse trooskos te maak as haar Franse gesin slaap. Ook Elise van Wyk se verhaal oor ’n vrou in Nieu-Seeland wat haar land, geliefde en gesondheid onvoorsiens in die emigrasieproses verloor (“Die belofte van wolke”, 147), hanteer die tema van trauma en ’n nuwe begin op ’n subtiele en geslaagde wyse. Die sielkundige James Scott se skynbaar outobiografiese besinning (“Eenduisend siele”, 74) oor sy en sy gesin se lewe in Toowoomba, Australië, se kommentaar oor hierdie tema bly my by:

Ek het myself dikwels die vraag afgevra of Toowoomba my bene gaan vat wanneer ek eendag my lyf verlaat. Vandag weet ek dat dit oukei is, want ons kom uit die aarde se grond, en dié behoort aan ons almal.

Wanneer gedagtes oor die toekoms in my kop vermenigvuldig, besluit ek om maar van dag tot dag te leef, eerder as om my met varksnoetgedagtes daaroor besig te hou. (82–3)

Daar is verhale wat veel donkerder omgaan met die tema van emigrasie. Zirk van den Berg se “Giraf” (13) word eerste in die bundel geplaas en beskryf ’n werklose emigrant se ontnugtering en vernietigende verlange na Suid-Afrika. In “Die Swart Ridder” (183), Christina van Deventer se verhaal oor Ysland, ontgin sy die tema van depressie en isolasie teen die reliëf van die sprokiesagtige maar ongenaakbare sneeulandskap. Annemarié van Niekerk se “Goud, wierook en pille” (38) oor ’n besoek aan ’n onsimpatieke Nederlandse dokterspraktyk is so bekend dat ek dit self kon geskryf het (ek kan onder meer bevestig dat mens se Nederlandse taalvaardigheid geneig is om omgekeerd eweredig te wees aan die hoogheid van jou koors). Ook herkenbaar is Maya Fowler se beskrywing van die ekspatprotagonis se rit na ’n werksonderhoud in raserige, vuil publieke vervoer in Kanada (“So long, Marianne”, 195). Terwyl sy reis, voer sy ’n selfoongesprek met haar suster in Suid-Afrika. Dié verkeer onder die tipiese wanindrukke oor die lewe in die sogenaamde “Eerste Wêreld” en is onwennig om haar suster se realiteit in Kanada te verstaan. Naomi Meyer se “Die Bloomsday voor Brexit” (90) waarin kinders en veral kleinkinders wat ver-Iers het, in hul nuwe tuisland sukkel om ’n besoekende Afrikaanse ouma en oupa te vind, eggo hierdie tema van die emosionele verwydering wat die afstand tussen familielede soms meebring.

De Jager sluit egter ook ’n aantal verhale in wat die ekspattema op ligter wyse aanpak. Donnay Torr se drie “vinjette” (27) oor die ondervindinge van ’n Suid-Afrikaner in Australië – een oor ’n skermutseling by ’n trein en ’n ander oor ’n skermutseling met ’n ekster (’n “geveerde gevaarte”, 35), bly my by. Annemarié van Niekerk se tweede bydrae oor die uitdagings van vriende maak in die vreemde (“Mina Muis”, 109), is ook ’n mooi verhaal met ’n goeie skoot selfspot. “Tapas” (19) van Valda Jansen skakel tematies met haar roman Hy kom met die skoenlappers (2016) en skets die verloop van ’n liefdesverhaal oor dekades teen die agtergrond van verskeie stede, maar spesifiek Keulen in Duitsland. Een van die sterkste verhale in die bundel is Zirk van den Berg se tweede bydrae, gepas getitel “Onse mense” (103). Dit handel oor ’n Suid-Afrikaanse motorverkoopsman in Nieu-Seeland en verbeeld iets van die hiërargieë in ‘n Suid-Afrikaanse ekspatgemeenskap wat in hierdie geval onverwagte uitdagings vir die protagonis bring. Die ironie verbonde aan die feit dat om laer te trek in die vreemde soms net so skadelik as voordelig kan wees, word besonder raak geskets.

Nog sterk verhale is André-Pierre du Plessis se verhaal oor die magnetisme en niemandslandkwaliteit van ’n wêreldstad soos New York (“New York, hallo en koebaai”, 85), Chris Karsten se droewige polisieverhaal oor die inheemse bevolking van Kanada (“Die weglopers”, 125) en Eben Venter se “As ek kan liefhê” (215), wat laaste geplaas is in die bundel. Venter woon in Australië volgens die aanduiding in die inhoudsopgawe, maar kontrasteer in hierdie verhaal sy ervaring van rasverhoudinge in Baltimore, Amerika en sy familieplaas in Suid-Afrika. In sy bydrae kry hy dit reg om nie in die clichés te verval waaraan skrywers hulself dikwels skuldig maak as hulle hierdie onderwerp aanroer nie.

.........
Wat ek hier wil duidelik maak, is hoe algemeen hierdie soort besinnings oor emigrasie eintlik is. De Jager en kie sluit met Ver in die wêreld dus by dié diskoers aan, maar maak hulle bydrae vanuit ’n spesifiek eietydse, Suid-Afrikaanse hoek.
.............

Ten slotte: Die genre van reisverhale is stokoud. Daar is tans weer in Nederland ’n oplewing in belangstelling in egotekste waar eeue oue reisbeskrywings (in die vorm van verhale, briewe en dagboeke) van Nederlandse besoekers aan Afrika, die Ooste en die Karibiese eilande bestudeer word. In Afrikaans het skrywers soos Elsa Joubert en Uys Krige (laasgenoemde het toevallig ook ’n bundel reissketse getitel Ver in die wêreld in 1951 gepubliseer) die genre oopgeskryf. Voorts sien mens die afgelope paar dekades met die invloei van emigrante in Europa hoe die genre van sogenaamde migranteliteratuur veld wen. Hierdie etiket word gebruik vir die skryfwerk van mense wat uit lande in (veral) Afrika en die Midde-Ooste kom en in ’n Europese taal oor hul migrantebelewenisse skryf. Die geldigheid daarvan om swart of Moslem-mense wat al geslagte lank in Europa woon se skryfwerk nog as “migranteliteratuur” te bestempel is ’n gesprek vir ’n ander keer. Wat ek hier wil duidelik maak, is hoe algemeen hierdie soort besinnings oor emigrasie eintlik is. De Jager en kie sluit met Ver in die wêreld dus by dié diskoers aan, maar maak hulle bydrae vanuit ’n spesifiek eietydse, Suid-Afrikaanse hoek. Die gevoel van die herkenning by die lees daarvan bring ’n bittersoet en paradoksale gevoel van behoort by ’n leser soos ek self. Vir (Afrikaanse) Suid-Afrikaners wat beplan om te emigreer, behoort hierdie boek verpligte leesstof te wees.

Lees ook:

Ver in die wêreld: ’n onderhoud met Frederik de Jager

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dit wil voorkom asof ek ook sal moet begin vas, soos ons Moslem-vriende. Of dalk, soos Francois de Ridder van Centurion, sommer heeltemal moet ophou eet. Iewers sal ek ’n geldjie moet spaar vir die boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top