
- Jason Lloyd skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
’n Paar dae gelede het ’n video die rondte op sosiale media gedoen waarin McKenzie ’n joernalis wat hom as “Gayton” aanspreek, daarop wys dat hy hom nie Gayton moet noem nie, maar “agbare”.
........
Wyle Patrick Cull, ’n veteraan- politieke joernalis wat onder meer gedien het as politieke redakteur van The Herald (voorheen Eastern Province Herald) – Suid-Afrika se oudste dagblad sedert 1845 wat in Port Elizabeth uitgegee word – het my vertel dat hy in 1984 vir Andrew Julies gevra het wat hom geskik maak om as minister van die begroting te dien.
Julies het destyds in wyle Allan Hendrickse, eertydse leier van die Arbeidersparty en voorsitter van die Ministersraad in die Raad van Verteenwoordigers se Ministersraad gedien.
Die Raad van Verteenwoordigers was een van die drie huise van die destydse driekamerparlement (1984–1994) wat die bruin gemeenskap verteenwoordig het. Die ander twee huise, naamlik die Raad van Afgevaardigdes en die Volksraad, het onderskeidelik die Indiër- en wit gemeenskappe gedien.
Julies, wat, soos Hendrickse, ook as ’n leraar in die Congregational Kerk gedien het, het gesê as predikant is hy gewoond daaraan om die kerk se kollekte te tel. Hy sal dus goed doen om die geld van die Raad van Verteenwoordigers te tel en te bewaar.
Ons het lekker gelag vir die apartheidspolitiek wat so deurspek was met gebreke, onbevoegheid en gekheid. Dit blyk egter dat die nuwe bedeling nie veel beter af is nie.
Ironies genoeg het Julies se naïwiteit my veral herinner aan Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie (PA) en minister van sport, kuns en kultuur.
’n Paar dae gelede het ’n video die rondte op sosiale media gedoen waarin McKenzie ’n joernalis wat hom as “Gayton” aanspreek, daarop wys dat hy hom nie Gayton moet noem nie, maar “agbare”.
Die joernalis het sonder protes bes gegee en McKenzie as “agbare” aangespreek, na alle waarskynlikheid om ’n onnodige konfrontasie met die onnadenkende McKenzie te vermy.
Dit is nogal opvallend dat beide McKenzie en die joernalis nie daarvan bewus was dat lede van die parlement net tydens parlementêre sittings as “agbare” aangespreek word nie. Buite die parlement is dié manier van aanspreek volgens die reëls van die parlement glad nie nodig nie.
Die praktyk dateer uit die Paleis van Westminster, wat die Britse parlement huisves. Dit was voorheen 'n koninklike paleis. Westminster Hall, sy voorganger, is in die 11de eeu gebou. Dit is bedoel om 'n beleefde toon af te dwing om orde en goeie eer te handhaaf wanneer die parlement in sitting is.
.......
McKenzie is blykbaar daarop ingestel om dié edele bedoeling vir eie gewin te misbruik, naamlik om vir hom status en ondergeskiktes te werf. Dit sê nogal baie van iemand wat soos ’n harlekyn daarop roem dat hy die guns van die pouper vooropstel.
.......
McKenzie is blykbaar daarop ingestel om dié edele bedoeling vir eie gewin te misbruik, naamlik om vir hom status en ondergeskiktes te werf. Dit sê nogal baie van iemand wat soos ’n harlekyn daarop roem dat hy die guns van die pouper vooropstel.
Die smagting na mag en belangrikheid word verder vergestalt in die feit dat sy ondergeskiktes in die PA hom aanspreek as “President” of “Prez”. Dit word verder uitgebou in die feit dat geen demokratiese verskiesings in die PA gehou word om leiers te verkies nie.
Geen beleid word geformuleer nie. Dit is waarom joernaliste, navorsers en politieke ontleders geen idee het wat die PA se amptelike beleid oor byvoorbeeld buitelandse sake, die ekonomie of klimaatsverandering is nie.
Die gevolg is dat die PA geen talent lok nie en die party derhalwe net reken op die steun van die werkersklas, wat McKenzie aanbid, en betekenislose slagspreuke geskreeu.
Sy diktatoriale en eensydige optrede Maandag in die aanwys van Liam Jacobs as die PA se nasionale jeugleier en burgemeesterskandidaat vir Kaapstad is eintlik belaglik.
Dit is ook ’n onnadenkende deurmekaarspel, omdat McKenzie vir Jacobs vroeër aangewys het as burgemeesterskandidaat vir Pretoria. Ek wonder vir watter metro gaan Jacobs oor drie maande as burgemeesterskandidaat aangestel word. Seker Nelson Mandelabaai.
.......
Denkende Suid-Afrikaners sal ernstig moet besin oor wat die gevolge sal wees indien die PA ’n groot munisipaliteit of metro in volgende jaar se plaaslike verkiesings sou wen.
.......
Hoe stel jy ’n 24-jarige as burgemeesterskandidaat van ’n groot metro aan wat nog nooit ’n regte werk gehad het nie? Wat nog nie werks -en lewenservaring het nie? Om goed te praat en slagspreuke te skreeu sê niks van jou ervaring en vaardighede nie.
Denkende Suid-Afrikaners sal ernstig moet besin oor wat die gevolge sal wees indien die PA ’n groot munisipaliteit of metro in volgende jaar se plaaslike verkiesings sou wen. Die PA skiet nie net te kort aan kundigheid of ervaring nie, maar is ook ’n gevaar saam met die ANC, EFF en MK Party vir Suid-Afrika.
Miskien wag daar ’n Beaufort-Wes of ’n Knysna op kiesers wat PA stem.
Lees ook:
Dinkskrum: Is die PA ’n dinamiese en modieuse politieke party? Repliek op Kelvin Knowles se artikel
Dinkskrum: Vervroegde algemene verkiesing moet ontslae raak van ANC
Dinkskrum: Mbeki, Pahad en die filosoof se planeet van die das
Elders gesien: Gee die agbare minister Gayton McKenzie ’n kans om homself te bewys

