Dinkskrum: Is die PA ’n dinamiese en modieuse politieke party? Repliek op Kelvin Knowles se artikel

  • 0

  • Jason Lloyd skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
’n Paar aande gelede kom ek af op ’n onderhoud wat die podsender Sizwe Mpofu-Walsh op sy SMWX-podsending op YouTube met Allan Boesak gevoer het.
........

’n Paar aande gelede kom ek af op ’n onderhoud wat die podsender Sizwe Mpofu-Walsh op sy SMWX-podsending op YouTube met Allan Boesak gevoer het.

Soos gewoonlik het Boesak in ou en uitgediende UDF-struggle-retoriek vasgeval sonder om met enige werkbare en praktiese oplossings vorendag te kom.

Boesak, wat hom deesdae midde-in omstredenheid bevind omdat hy omstrede linkse ideologiese en ondeurdagte uitsprake maak, soos om oudminister Lindiwe Sisulu te ondersteun en ’n oproep te doen dat Suid-Afrika diplomatieke bande met Israel moet verbreek sonder om die ekonomiese implikasies vir arm mense in terme van bestaande en moontlike toekomstige handelsooreenkomste te oorweeg, bied gewoonlik geen nuwe oplossings vir “ou” en “nuwe” uitdagings nie.

Hy spoeg net vuur omdat hy na bewering kwaad is vir die ANC en vertel ons oor en oor hoe “wonderlik” die UDF was. Wat ironies is, is dat dieselfde linkse en sosialistiese ekonomiese beleid wat die UDF en die “kongresbeweging” voorgestaan het – en nog steeds voorstaan – Suid-Afrika verwoes het.

Die UDF, die ANC en die kongresbeweging se sogenaamde nierassigheid het ontaard in die diskriminasie teen minderhede op grond van ras, geslag en ouderdom. Nierassigheid as ’n niksseggende simboliese politieke konstruk van die linkses het nog nooit intellektueel sin gemaak nie. Hoe maak “nierassigheid” of “nieseksisme” sin as mense op grond van ras en geslag aangestel word, soos wat byvoorbeeld tans deur die ANC-regering gedoen word?

Kelvin Knowles se onlangse artikel, “Liam Jacobs se oorloop: ’n weerspieëling van breër politieke dinamika”, grens aan die tipiese Boesak-styl-lof oor die “struggle” en die UDF. Hoekom word daar verlang na die UDF en die struggle as dit ’n muis gebaar het?

........
Kelvin Knowles se onlangse artikel, “Liam Jacobs se oorloop: ’n weerspieëling van breër politieke dinamika”, grens aan die tipiese Boesak-styl-lof oor die “struggle” en die UDF. Hoekom word daar verlang na die UDF en die struggle as dit ’n muis gebaar het?
........

Knowles val vir my rond in sy artikel, maar dit sou heel veilig wees om tot die slotsom te kom dat hy ’n suggestie maak dat Jacobs en die Patriotiese Alliansie dinamies is.

Om sin te maak van Jacobs se oorlopery, moet Jacobs as ’n politikus en die PA as ’n politieke party apart intellektueel begrond word. Eers dan sou ’n mens kan bepaal of Jacobs en die PA dinamies is.

Na sy oorlopery het Jacobs groot gewag gemaak van die feit dat hy ’n BA Honneurs in politiek, filosofie en ekonomie (PPE) het.

Toegegee, die PPE-graad is ’n gesogte graad. Dit is net meer as 105 jaar gelede, in 1920, aan die Universiteit van Oxford ingestel. Dit was ontwerp om Greats1 (Literae Humaniores) te vervang as die eerste keuse vir studente wat hulle voorberei vir ’n openbare amp en diens. Soos Greats, sou PPE die dissipline van filosofie insluit, maar die klassici se studie van antieke beskawings sou in die PPE-kurrikulum vervang word met die studie van die beginsels van die moderne samelewing. Binne ’n paar dekades het PPE een van die grootste ereskole in die kunste en geesteswetenskappe geword. Vandag is daar PPE-kursusse wat by meer as honderd universiteite wêreldwyd aangebied word.

Sedertdien word dié graad in 33 lande aangebied, en die gegradueerdes het alreeds ’n beduidende impak op ’n wye verskeidenheid gebiede in die samelewing gemaak. In die Verenigde Koninkryk het dit ook roem verwerf vir die opleiding van ‘n menigte senior regeringspolitici.

Voormalige Britse premiers soos David Cameron, Rishi Sunak en Lizz Truss het PPE-grade. Wyle Benazir Bhutto, voormalige Pakistanse premier, en Tony Abbott, voormalige Australiese premier, het ook dié graad aan Oxford verwerf.

Akademiese kwalifikasies is belangrik, want dit help om mense se kennisvlakke te verhoog om sodoende waarde tot die samelewing toe te voeg. Maar akademiese kwalifikasies is nie alles nie – veral as beroepspolitiek ter sprake is.

Wat Knowles uit die oog verloor, is dat Jacobs net 24 jaar oud is. Hy het dus geen tot min werk- en lewenservaring nie. Die manier waarop Jacobs die DA verlaat het, spreek boekdele van sy gebrek aan lewenservaring.

Sy bedanking uit die DA was ’n impulsiewe skuif nadat hy ’n argument gehad het met die DA se hoofsweep in die parlement, George Michalakis. Michalakishet hom aangesê om te “tone down” nadat hy onder meer met Danny Jordaan, president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), gebots het tydens ’n vergadering van die parlement se portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur. Jacobs is onder meer daarvan beskuldig dat hy disrespekvol teenoor Jordaan was.

Volgens Jacobs is hy deur die DA aangesê om veral die PA aan te val. Wat is daarmee verkeerd? Dit is deel van politieke strategie dat politieke partye mekaar in die openbaar aanvat om steun onder kiesers te werf. Miskien moet Jacobs hom afvra of hy die “aanvalle” op die PA nie oordoen het nie. Dit is miskien hoekom Michalakis genoop was om hom tot orde te roep.

Jacobs voer onder meer aan dat die kwessie van verteenwoordiging versus meriete hom gedryf het om uit die DA te bedank. Hy was glo ongelukkig omdat die DA nie ’n enkele bruin minister of adjunkminister in die RNE aangestel het nie.

Verteenwoordiging is veral belangrik in ’n diverse land soos Suid-Afrika, maar meriete moet ook in gedagte gehou word, omdat die land kundige mense nodig het om ’n sukses daarvan te maak. Mense kan eenvoudig nie net op grond van ras, geslag en ouderdom aangestel word nie. Meriete moet ’n ononderhandelbare vereiste wees.

........
Verteenwoordiging is veral belangrik in ’n diverse land soos Suid-Afrika, maar meriete moet ook in gedagte gehou word, omdat die land kundige mense nodig het om ’n sukses daarvan te maak. Mense kan eenvoudig nie net op grond van ras, geslag en ouderdom aangestel word nie. Meriete moet ’n ononderhandelbare vereiste wees.
........

Jacobs moet nooit die belangrikheid van ’n sterk en moderne organisasie agter hom onderskat nie. Dit is glad nie nodig om groener weivelde te gaan bewei as jy ’n bietjie geïrriteer voel nie. Baie mense is van mening dat Jacobs sy besluit gaan berou.

Die PA val in die kategorie van politieke partye wat deur charismatiese leiers gelei word. Dié leiers lei outokratiese partye sonder interne instellings van demokrasie. Gevolglik kan die partye nie talentvolle mense lok nie. Daarom kan hulle nie sterk organisasies bou nie en is hulle dus op die duur nie volhoubaar nie.

Dit is nodig om te vra wat ’n politieke party soos die PA Suid-Afrikaners bied. Is dit net ’n protesparty met betekenislose slagspreuke? Is dit ’n party wat net griewe ventileer? Hoe sou die PA die land bestuur? Hoe gaan die PA met die moeilike ekonomiese vraagstukke in die land omgaan? Het die PA die regte beleid om die land suksesvol te kan regeer?

Met die PA se (beweerde) mislukkings in Beaufort-Wes en Knysna sou dit heel veilig wees om te beweer dat die party nie ’n besliste “ja” kan gee op bostaande vrae nie.

Ook moet gevra word hoekom die PA nie die ANC-regering oor regstellende aksie, gelyke indiensneming en swart ekonomiese bemagtigend wat byvoorbeeld teen bruin mense diskrimineer, aanvat nie. Miskien lê die antwoord op hierdie vraag opgesluit in die feit dat die PA beskou word as ’n verlengstuk van die ANC – ’n tipiese “ANC Lite”.

Gegewe my bostaande analise van die PA (en ook van Jacobs) is dit dan heel veilig om te bepaal of die party dinamies en modern is.

Wees jy die regter.

Eindnota

1 Die Ereskool van Literae Humaniores, wat die studie van Griekse en Romeinse geskiedenis en letterkunde en filosofie behels.

Lees ook:

Liam Jacobs se oorloop: ’n weerspieëling van breër politieke dinamika

Bruin wees in hierdie tyd: repliek op Jason Lloyd se artikel

Die effek van marginaal- en hibriedwees op die bruin politieke landskap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top