Die WAT kotiljons op 100 jaar!

  • 0

Lizabé Lambrechts, uitvoerende direkteur van Nuuseum, Elna van der Merwe, boekredakteur van Huisgenoot, Hannes Wiese, Kabous Meiring, beskermvrou van die WAT se Borg ’n woord-projek en seremoniemeester van die aand, en Naomi Bruwer, ’n mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Ek wil my verbeel daar was ’n glimlag om die mondhoeke van Hans Endler se foto by die trappe na die groot Endler Konservatorium in Stellenbosch toe die eerste klanke van “Miskien” deur Coenie de Villiers op 7 Mei 2026 weerklink.

Dit was een van 36 items op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se 100ste verjaardagkonsert wat daar gehou is. Bykans 500 gaste – redakteurs, bydraers, borge en medewerkers wat die afgelope eeu gehelp het om die droom van ’n omvattende woordeboek vir Afrikaans te verwesenlik – het saam kom feesvier, want dis ’n groot voorreg.

Johan Holtzhausen, voorsitter: WAT Trust, lewer sy kort toespraak.

Soos Johan Holtzhausen, voorsitter: WAT Trust, tereg opmerk: “Die WAT is veel meer as ’n omvattende woordeboek: Dis ’n lewende argief wat oor die afgelope eeu die rykdom en verskeidenheid van ons taal en kultuur vaslê.”

Selfs die wyne van die aand het in pure woordeboekstyl met vlymskerp etikette gespog.

Gaste het vroeg gearriveer vir peuselgoed en wyn – selfs die etikette vir die geleentheid was in woordeboekstyl-ontwerp.

Ronel Retief, voorsitter: WAT-direksie

Johan en Ronel Retief, voorsitter: WAT-direksie, het kort toesprake gelewer. Albei het die belangrikheid dat bewaring net moontlik is as daar funksie is. “Daar is nie plek vir iets wat stowwerig op die rak staan nie.”

Holtzhausen het ook gesê die WAT kon die afgelope eeu te midde van taalpolitiek baie ingewikkelde kwessies navigeer en oorkom.

Die luisterryke musiek- en woordprogram is deur Ingrid Howard nagevors, meesterlik saamgestel en vervaardig. Dis ’n huldeblyk aan Afrikaans soos nog nooit tevore nie. Anna Davel was die artistieke regisseur en Janine Neethling die musikale regisseur.

Coenie de Villiers en Amanda Strydom

Die sangers vir die program was Lize Beekman, Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Brandon October, Karen Petersen, Joshua na die Reën en die Paul Roos Sanggroep.

Deon Meyer

Danab Bradley, Deon Meyer en Chris van Niekerk was die orators.

Die orkes was Janine Neethling (klavier en trekklavier), Lilavan Gangen (perkussie en BV’s), Mauritz Lotz (kitaar en BV’s) en Anjulie Nock (baskitaar, dubbelbas en BV’s).

Danab Bradley

In “Die ontstaan van taal” sê Danab Bradley: “Is dit nie merkwaardig dat die mees basiese antwoorde in Khoekhoegowab vandag nog oral ter wêreld dieselfde klink nie? As ons instemmend Âa sê, of ontkennend Hâ-ā – daardie nasale klanke vir ja en nee – dan gebruik ons ’n taalvlak wat ouer is as enige landsgrens. Dit is klanke wat die hele mensdom verstaan, ongeag waar hulle vandaan kom.

“Vandag leef daardie oeroue stemme voort in die woorde wat ons elke dag gebruik sonder om twee keer te dink. As ons praat van ’n gogga, karos, kierie, eina, abba, kamma of koekemakranka, dan praat ons Khoekhoe.

“Afrikaans het sy wortels hier in die diep grond van Afrika gevind, die wêreld deurreis en is nou weer hierso by die Suidpunt – volsirkel, ryk aan die wysheid van die heel eerste woordontdekkers. Soos ons landswapen se kreet sê: ‘Eenheid in diversiteit.’”

Chris van Niekerk

Chris van Niekerk lees ’n gedig, “Skaduwees oor Tafelbaai” deur AJ Myburgh, wat onder meer lui:

Van Riebeeck bring ’n koue wind,
waarin die ou Kaap die nuwe moet vind.
Die pen het geteken, die heinings gespan,
die Kaap verander vir elke man.
Tussen wingerdstokke en Tafelbaai,
laat hulle die wind van hul vryheid waai.
Met vingers wat die aarde verken en breek,
is dit ’n taal wat sonder woorde spreek.
Slaweskepe bring mense van ver,
onder ’n vreemde Suiderster.
Hul name gewas deur die sout van die see.
Dit het nuwe klanke in ons monde kom gee.

Hy lees ook later uit “Arabiese Afrikaans” deur dieselfde skrywer: “Christen-Afrikaners wat destyds nog hul volkstaal slegs as ’n spreektaal gesien het, het Nederlands toe as die enigste skryf-, kerk- of amptelike taal gebruik.

“Die Moslem-godsdiensleiers het egter al vanaf 1830 die eerste geskrewe Afrikaans in die Arabiese alfabet in Kaap-Afrikaans neergepen vir die gebruik in hulle godsdiensskole, algemene kommunikasie en onderrig. Hierdie geskrifte het ’n reusebydrae gelewer om die vroegste Afrikaans te boekstaaf en dit het die grondslag gevorm van die ontwikkeling van ’n volledige selfstandige taal.

“In 1859, byna 30 jaar na die eerste geskrewe Arabiese Afrikaans, het Genadendal ’n deurslaggewende rol gespeel in die vestiging van een van die heel eerste Afrikaanse drukperse in die Kaapkolonie. Twee jaar voor die eerste Afrikaanse Taalbeweging [1875] het die lewensverhaal van ’n Khoi-vrou, ‘Benigna van Groenekloof van Mamre’, geskryf deur Hermann Benno Marx in 1873, een van die eerste gedrukte Afrikaanse boeke geword.”

Die diversiteit van Afrikaans is in alle vorme gevier. Adam Small se “Die Here het gaskommel”, wat deur Randall Wicomb getoonset is, is deur Brandon, Karen en die Paul Roos Gimnasium-sanggroep gesing: “Never mind, pellie, never mind / Ons moenie worrie / want die Here het gaskommel / en die dais het verkeerd geval / daais ma al.”

Danab dra dele van “Ons Afrikaanse kind” deur Willa Boezak voor:

Hortend
sukkelend
is sy gebore
tussendeur gebare
met vreemde kaaseters
wyndrinkers en speserysoekers
al by ons kuste langs.
’n Basterkind wat net geweet het van kierie
eina! en koekemakranka
en skielik kry sy ’n hupstoot
van vreemdes in kettings
en van nóg wittes
wat eers lekker-bekkig plat praat
maar later al hoër en verder
wégtrek met daai basterkind ...

Die hele geselskap sluit die aand se verrigtinge eers met HA Fagan se “Ek het ’n huisie by die see” af, wat deur Laurinda Hofmeyr getoonset is, en toe as grand finale “Seëngebed” deur Enoch Mankayi Sontonga, wat deur Coenie de Villiers en Elvis Blue vertaal is.

Mens het die taal tot in jou ingewande voel wriemel en kotiljons. Hoe lekker om vir twee uur die klanke van jou taal in al haar variëteite te hóór, te vóél en die trane agter jou ooglede te voel brand. Hierdie basterkind van ons wat lekker-bekkig plat en hoër gepraat word – met handgebare daarby.

Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur, Buro van die WAT, en Jana Luther, redaksionele medewerker en outeur van die eeufeesboek vir die WAT, getiteld En nog WAT – uit die woordeskat van Afrikaans, waarvan sy samesteller en uitgewer was.

Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur, Buro van die WAT, het in sy bedankings onder meer gesê: “Die WAT is veel meer as ’n woordeboek – dit is ’n praktiese vergestalting van ’n betreklik klein taalgemeenskap se wil en deursettingsvermoë om ons mooie taal tot dieselfde mate te ontwikkel, beskerm en dokumenteer as die veel groter wêreldtale. En hiertoe het u almal bygedra. Vanaand se program is dus ons manier om te sê trammakassie – ons het u sorg en liefde ontvang. Ontvang asseblief ons opregte dank in ruil.”

Wat ’n mooie samestelling van alle fasette van die taal. Ingrid het ons almal trots gemaak!

In die bed later daardie aand trek ek die aandenkingsprogram nader vir agtergrond oor die WAT se storie: “Die idee vir ’n Afrikaanse woordeboek het in 1914 tydens ’n kongres in Stellenbosch ontstaan, maar eers in 1920 het dit werklik momentum gekry toe JJ Smith, die eerste professor in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US), deur die Nasionale Pers genader is om betrokke te raak by die saamstel van ’n woordeboek. Verskeie rolspelers het saamgewerk. In 1925 het die regering amptelik staatsteun aanbeveel en op 25 Maart 1926 het die woordeboek tot stand gekom toe ’n ooreenkoms gesluit is om dit met staatshulp saam te stel.”

Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, Friederike Bubenzer, ’n vredeskonsultant van Kaapstad, en Japie Gouws, ’n direkteur van Nuuseum.

Smith skryf op 10 Julie 1920 in Die Burger: “Die versameling van die Afrikaanse woordeskat is ’n volksaak en die voltooiing van die eerste min of meer volledige Afrikaanse woordeboek sal ’n volksgebeurtenis wees.”

Die beoogde standaardwoordeboek, geskoei op die Standaardnederlandse woordeboek, Van Dale, moes binne drie jaar voltooi word. Tekortkominge in samewerking, spellingvraagstukke en Smith se fokus op etimologie het egter vordering vertraag. Ten spyte daarvan dat die US die projek oorgeneem en die kantoor in 1930 verskuif het, kon nuwe sperdatums en assistente nie die knelpunte oplos nie.

Alet Cloete, senior mederedakteur van WAT, en haar man, Jacobus Cloete. Alet was die projekleier van die verjaardagfunksie.

In 1937 het ’n gesamentlike Woordeboekkommissie (die regering en die US) die projek oorgeneem met nuwe befondsing. Ondanks opdragte om te fokus en die aanstelling van hulp, het werk steeds stadig gevorder. Smith het in 1945 weens gesondheidsredes bedank, waarna die US beheer oorgeneem en die redaksie uitgebrei het. Die Smith-era van 20 jaar het sodoende geëindig, sonder dat ’n enkele deel van die woordeboek gepubliseer is.

PC Schoonees, wat in 1947 oorgeneem het, het die woordeboek se inhoud aansienlik uitgebrei met beter definisies en illustrasies. Onder sy leiding het die projek momentum gekry, wat gelei het tot die publikasie van Deel I (A–C) in 1951. Teen sy uittrede in 1962 is daar reeds vier dele gepubliseer, met die doel om die Afrikaanse taalskat so volledig moontlik vas te lê.

FJ Snijman het in 1962 as hoofredakteur opgevolg. Tydens sy termyn het die kaartjieversameling tot meer as twee miljoen gegroei en is redaksionele prosesse én internasionale samewerking versterk. In 1973 is die Buro van die WAT wetlik as amptelike instelling op Stellenbosch gevestig. Onder Snijman is Deel V en VI gepubliseer, voordat hy in 1981 uitgetree het.

Hy skryf in 1964: “Wie sy taalgoed na die Woordeboek stuur, boek met sekerheid wins, want hy ontvang altyd die hele pot: die rykdom van die hele versamelde skat.”

Lize Beekman

DC Hauptfleisch word in 1981 hoofredakteur, waartydens die kaartjieversameling tot meer as drie miljoen groei en Deel VII en VIII verskyn. In hierdie tydperk (1987) word rekenaars en elektroniese databasisse vir die eerste keer ingespan. Wetswysigings in 1986 en 1991 het die Buro se outonomie versterk en groter beheer oor personeel en finansies aan die beheerraad gegee.

Vanaf 1989 word die proses deur strategiese beplanning versnel en vereenvoudig. DJ van Schalkwyk neem in 1991 oor en moderniseer die WAT deur gevorderde tegnologie en internasionale samewerking, wat onder meer gelei het tot die vaktydskrif, Lexikos. Onder sy leiding verskyn Deel IX tot XI in rekordtyd en word die WAT elektronies beskikbaar gestel. Die Buro is ook as opleidingsentrum vir leksikografie gevestig en verskeie satellietpublikasies, soos die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, het die lig gesien.

Met Suid-Afrika se demokratiese oorgang is nuwe beleide vir sensitiewe taalgebruik ontwikkel en is die Buro as die amptelike leksikografie-eenheid vir Afrikaans gevestig. Dis in 2000 as ’n artikel 21-maatskappy geregistreer, gevolg deur ’n formele ooreenkoms in 2003 tussen die Buro, PanSAT en die Universiteit Stellenbosch. Om finansiële stabiliteit te verseker te midde van hierdie veranderinge, is die WAT Trust in 1999 gestig.

Willem Botha word in 2004 hoofredakteur, waartydens Deel XII tot XIV verskyn en die Aanlyn WAT, sowel as mobiele platforms bekend gestel is. Onder sy leiding is die kaartjieversameling tussen 2012 en 2017 gedigitaliseer. Nuwe publikasies, soos Sinonieme en verwante woorde, is ontwikkel om ’n breër gehoor te bereik.

Weens skerp afnames in staatsbefondsing, moes die Buro self fondse insamel deur inisiatiewe soos Borg ’n woord en die Woord van die week. Teen 2013 het die WAT Trust reeds die grootste deel van die inkomste gegenereer, wat die woordeboek grootliks onafhanklik van staatsfinansiering gemaak het.

Karen Petersen en Brandon October doen ’n duet, “Die Here het gaskommel”, saam.

Botha skryf in 2013 op LitNet: “As die WAT nie voltooi word nie, sal Afrikaans nooit in sy wydste omvang vasgelê word nie. Met ‘wydste omvang’ bedoel ons ook die verskillende variëteite van Afrikaans, soos Kaaps en Namakwalands, ons pittige streekstale, geselstale en skat van uitdrukkings.”

Die Borg ’n woord-projek – die skeppende gedagte van Frans Stroebel – word in 2010 geloods as een van die WAT Trust se langslopende fondsinsamelingsprojekte. Dit het ten doel om bewustheid by die breër Afrikaanse publiek te skep oor die waarde van woorde, asook die kleurrykheid, omvang en veelseggendheid van Afrikaans.

Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT: ses maande as jy ’n woord borg; vyf jaar as jy ’n woord koop. Lees meer by www.wat.co.za en klik op “Borg ’n woord”.

Ek is die ontvanger van ’n woord (dankie, Bettina Wyngaard) en ook die skenker van drie woorde deur hierdie projek. Dis heerlike geskenke vir vriende en skep ’n nuwe belangstelling in die taal.

Joshua na die Reën

In 2017 is ’n tienjaarplan (2018–2028) aanvaar om die WAT te voltooi, ondersteun deur ekstra personeel en befondsing. Deel XV en XVI het volgens plan in 2019 en 2021 verskyn. Phillip Louw het in 2023 as hoofredakteur oorgeneem, waartydens die letter -t as die eerste eksklusiewe aanlyn deel gepubliseer is. Dit het die herontwerp van die aanlyn platform tot ’n gebruikersvriendelike, geïntegreerde stelsel ’n prioriteit gemaak.

Die fokus op inklusiwiteit is verskerp deur projekte wat variëteite soos Kaapse en Gariepafrikaans insluit. In 2024 is die letter -u aanlyn gepubliseer; die werk is op koers en die letter -v en -w sal later vanjaar gereed wees.

Die digitalisering van byna vier miljoen kaartjies (voltooi in 2017) het nie net die materiaal beskerm nie, maar ook verseker dat die redaksionele werk tydens die Covid-inperkings onverpoos kon voortgaan.

Jean Oosthuizen, gereelde skrywer op Voertaal.nu, en Johan Coetzee, stigter van Naledi Uitgewers.

En nou lê die eindstreep – 2028 – skaars 18 maande weg. En alles is op dreef om daardie eindstreep suksesvol – met heimwee en nostalgie en vorentoe kyk na die volgende 100 jaar en die 100’e daarna – te bereik.

Want hierdie basterkind moet ’n waardige tuiste hê en die bouwerk vorder fluks.

Soos wat TT Cloete op 5 September 2008 verklaar het: “Die WAT is een van die kosbaarste diamante van Afrikaans.”

Terloops: Die Endlersaal aan die Universiteit Stellenbosch is vernoem na Hans Endler (1871–1947), ’n belangrike figuur in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van musiekonderrig in Suid-Afrika nadat hy in 1903 in Kaapstad aangekom het. Hy was ’n sleutelfiguur by die Konservatorium op Stellenbosch, wat aanvanklik ’n privaat instelling was, voordat hy dit in 1934 aan die Universiteit Stellenbosch verkoop het.

  • Foto’s: Clifford Roberts/Canon R6
Lees ook:

Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT: ’n onderhoud

Borg 'n woord 2013/2014 (en kyk wat is Nataniël se gunsteling-woorde)

Deon Meyer: die gas by die WAT se Woordpret

Taaldag 2017: ’n onderhoud met Willem Botha

Woordeboek van die Afrikaanse Taal: Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT

WAT: Twee bekende Afrikaanses as nuwe beskermpersone aangewys

Frikkie Lombard: ’n huldeblyk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top