Borg 'n woord 2013/2014 (en kyk wat is Nataniël se gunsteling-woorde)

  • 4

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg 'n Woord-projek 2013/2014 het afgeskop. Nataniël is hierdie slag die ondersteunende kunstenaar van die projek. Willem Botha en Nataniël beantwoord Naomi Meyer se vrae oor die projek.

 

Willem, verduidelik asseblief vir ons lesers hoe die WAT se Borg 'n Woord-projek prakties werk: Waarom betaal vir 'n woord – en hoe?

Niemand kan werklik 'n woord besit nie – woorde behoort aan almal, maar jy kan speel dat jy 'n woord gekoop het en dit besit. Borg 'n Woord is 'n virtuele speletjie waardeur jy 'n woord wat vir jou van besondere betekenis is, op 'n speelse wyse jou eie kan maak. In die proses kan jy ook die gelukkige wenner wees in die prystrekking vir 'n Sanlam-belegging van R25 000. Vir R100 ontvang jy 'n sertifikaat van die WAT met jou naam en die woord of woorde wat jy geborg het. Jy kan ook 'n woord eksklusief borg vir R5 000 en dan mag niemand anders daardie woord borg nie. Gaan na www.wat.co.za en klik op Borg 'n Woord om deel te neem.

Nataniël, op kykNET se Die Nataniël Tafel omskep jy 'n tafel en 'n gereg in iets liefliks en jy praat ook met aantreklike mense, soos Ryk Neethling. Maar hier sê jy: “Beskerm 'n skoonheid ...” Behalwe mooi, wat is Afrikaans vir jou?

Afrikaans is, soos enige ander taal, deel van die klank en kleur en karakter van 'n persoon. Wanneer ek in die buiteland is, veral op lughawens en in restaurante, verluister ek my aan vreemde tale – dis verskriklik opwindend, al verstaan jy dit nie. Afrikaans is deel van my identiteit. Dis net hartseer dat dit gepaardgaan met te min plesier en te veel neurotiese debatte oor voortbestaan. Natuurlik sal dit voortbestaan, geniet dit net!

Willem, as mense vir 'n woord betaal, beteken dit mens verseker sy toekoms? Die een wat die geld betaal, kry die sertifikaat. Wat beteken dit vir die woord self: Is sy toekoms in die WAT verseker?

As jy aan Borg 'n Woord deelneem, help jy die toekoms van Afrikaans verseker, omdat die WAT besig is om Afrikaans in sy wydste omvang vas te lê. Ons moet elke jaar R3 miljoen genereer om hiermee te kan voortgaan en elkeen wat 'n woord borg, help ons om daardie fondse te bekom. Jy kan enige Afrikaanse woord borg – ook 'n woord wat net jy of jou gesin gebruik en wat nooit in 'n woordeboek opgeneem sal word nie, want Borg 'n Woord is 'n virtuele spel waardeur jy Afrikaans op 'n prettige manier ondersteun. As die WAT nie voltooi word nie, sal Afrikaans nooit in sy wydste omvang vasgelê word nie. Met “wydste omvang” bedoel ons ook die verskillende variëteite van Afrikaans, soos Kaaps en Namakwalands, ons pittige streekstale, geselstale en skat van uitdrukkings.

 Nataniël, wat is jou gunsteling-woorde? En die woorde waarvan jy die minste hou?

My gunsteling-woorde is genade (om baie redes, maar dis die uitroep wat ek die meeste gebruik), onverskrokke ('n heerlike woord, byna soos 'n ontploffing), soen ('n fantastiese bevel!), en horologie (want dis my stokperdjie en groot passie!).

Lees nog inligting oor die projek hier

Bekendstelling en oorhandiging van Deel XIV van die WAT.
 

  • 4

Kommentaar

  • Ek dink dit is 'n briljante idee.  Daar duik soveel woorde op wat mens lankal vergeet het. Woorde wat my ouma, wat in 1878 gebore is, gebruik het.  Sy het altyd, as iemand slordig geklee of wie se klere vuil was,gesê: ""Karel Tieties het hom beet".  Wie en wat Karel Tieties is of was,kon ek tot vandag nie uitmaak nie. Dalk weet julle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top