Woordeboek van die Afrikaanse Taal: Tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT

  • 1

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het onlangs besluit op ’n revolusionêre tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT tot by Z. Naomi Meyer het Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur, hieroor gevra. 

Wat is die hoofmomente van die plan en waarom ’n tienjaarplan vir die WAT?

Die hoofmomente is die volgende:

Vyf bykomende redaksielede word benodig. Die poste word in Maart 2018 geadverteer en in Julie sal die vyf redaksielede aangestel word.

’n Bykomende R32 miljoen word benodig vir die tienjaarplan: gemiddeld R3.2 miljoen jaarliks. Vanaf Julie tot Desember  2018 word opleiding aan die nuwe redaksielede verskaf. In Januarie 2019 begin die nuwe en die  huidige Redaksielede werk aan Deel XVI van die WAT. Die gedrukte WAT sal by Deel XVI (S) eindig met ’n addendum van nuwe woorde van A tot S. Teen Desember 2029 sal die WAT voltooi wees tot by Z teen ’n tempo van twee jaar per deel.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is ’n omvattende Afrikaanse verklarende woordeboek wat Afrikaans in sy volle omvang vaslê.  Nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite soos Kaaps en Namakwalands vind ’n tuiste in die woordeboek.  Indien die WAT nie voltooi word nie, sal die Afrikaanse woordeskat nooit volledig opgeteken word nie.

Die WAT se staatsubsidie is die afgelope jare egter drasties ingekort sodat die personeel verminder moes word en ook ander  besparings toegepas moes word.  Met ’n verkleinde redaksie wat die reusehoeveeldheid elektroniese inligting op die internet moet bestudeer, neem dit tans gemiddeld 4.5 jaar om ’n deel te voltooi. Teen die huidige tempo sal dit nog meer as 20 jaar neem om die WAT te voltooi.  Voordat die magdom inligting op die internet beskikbaar geword het, is dele IX (L) en X (M) van die WAT in onderskeidelik drie en twee jaar voltooi. 

In ’n ondersoek deur die WAT is bevind dat die woordeboek binne tien jaar tot by Z voltooi kan word indien die WAT oor meer fondse en personeel sou beskik . Omvattende verklarende woordeboeke van die omvang van die WAT neem gemiddeld meer as ’n honderd jaar om te voltooi, soos die Woordenboek der Nederlandsche Taal wat in 1997 na 146 jaar voltooi is.

Wat word benodig om die Woordeboek binne 10 jaar te voltooi tot by Z?

Vyf nuwe redaksielede en R32 miljoen!  Ervare leksikograwe, jong leksikograwe en persone met nagraadse kwalifikasies in Afrikaans wat deel wil wees van hierdie opwindende projek om die grootste onderneming ooit in belang van Afrikaans te voltooi, kan aansoek doen.

Alle nuwe redaksielede sal op ’n vyfjaarkontrakbasis aangestel word.  Hulle sal ’n opleidingsperiode van ses maande deurloop van Julie tot Desember 2018 en die eerste jaar van diens sal ’n proeftydperk wees. ’n Tweede vyfjaarkontrak sal gesluit sal word indien die prestasie van die redaksielid dit regverdig.

Die WAT word die afgelope dekade gedra deur sy donateurs en ons gesels tans met hierdie wonderlike individue, trusts, stigtings en maatskappye  oor ’n bykomende bydrae ten einde die Tienjaarplan uit te voer.  Ons benodig natuurlik altyd nuwe donateurs en doen daarom ’n beroep om almal wat lief is vir Afrikaans om te help verseker dat hierdie kosbare Afrikaanse bron voltooi word.

Wat gebeur as die gedrukte WAT na die voltooiing van S gestaak word?

Die woordeboek sal vanaf die letter T slegs aanlyn gepubliseer word.  Die Aanlyn WAT bestaan reeds vanaf 2003, maar vanaf 2016 word daar gewerk aan ’n moderne aanlyn woordeboek op ’n nuwe platform. Die loodsprojek vir hierdie gesofistikeerde woordeboek op die voorpunt van die elektroniese leksikografie is in September 2017 deur dr Botha en dr Fourie Blair by die eLex-kongres in Leiden, Nederland gedemonstreer. Groot lof is daarvoor ontvang.

Die kloof tussen die gedrukte en die Aanlyn WAT het so groot geword dat die gedrukte weergawe besig is om sy relevansie te verloor. Deel I (A tot C) het byvoorbeeld reeds in 1950 verskyn en om verwysings na latere gedeeltes van die alfabet te laat klop, raak al hoe meer problematies omdat taal dinamies is en verskeie woorde sedert 1950 in onbruik geraak het. Nuwe woorde ontstaan daagliks en kan slegs in die Aanlyn WAT weerspieël word.  Die laaste gedrukte WAT (deel XVI) sal egter ’n addendum bevat met alle nuwe woorde van A tot S.

Wat gebeur nadat Z bereik is in 2029?

Die voltooide WAT sal ’n bron van onskatbare waarde wees, maar die werk aan enige woordeboek is ’n dinamiese proses wat nooit eindig nie. Taal verander en ontwikkel voortdurend en ’n woordeboek moet dit weerspieël as dit relevant wil bly.

Die Oxford English Dictionary is in 1934 voltooi en daarna is daar vir 30 jaar gewerk aan die Shorter Oxford English Dictionary. In 2000 het die OED vir die eerste keer aanlyn verskyn en tans werk meer as 100 mense deurlopend aan die Online OED.

Die werk aan die Aanlyn Woordeboek van die Afrikaanse Taal sal dus na die letter Z op kleiner skaal voortgaan ten einde die ontwikkeling van die Afrikaanse taal te bly weerspieël. Opwindende kleiner nuwe woordeboeke sal ook uit die unieke materiaalversameling van die WAT gemaak kan word.

 

Klik hier om die oorsig in PDF-formaat af te laai.

  • 1

Kommentaar

  • Goeiemiddag, ek wil graag die volledige stel bekom, of tot waar dit nou beskikbaar is. Ek het reeds tot en met Volume 11 Kan iemand dalk raad gee?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top