
Erkenning: Pixabay
Die huidige ANC-regime ly, soos in ’n vorige bespreking verduidelik, konstant verlies van regeermiddele en regeer gevolglik oor al hoe minder; kyk ook hier. Die regime abdikeer (staan regeerfunksies af) aan plaaslike en korporatiewe vervangende regerings wat op etlike plekke en met betrekking tot die behartiging van ’n groeiende getal regeerfunksies die eintlike (vervangende) regerings in die plek van die retirerende regime word. Sommige van hierdie vervangende regerings is staatsorgane, soos provinsiale en munisipale regerings. Nog belangriker is dat daar niestaatlike vervangende regerings groei, naamlik burgerlike en sake-instellings wat daadwerklike regerings word in die gemeenskappe waarbinne hulle georganiseerd is.
Hierdie vervangende regerings gaan sterker word en meer regeerfunksies verwerf en sodoende toenemend beslag gee aan gefragmenteerde konstitusionele bedelings in die plek van die 1996-bestel, wat algaande na die agtergrond verskuif.
Daar is geen partypolitieke opposisie of burgerlike inisiatief sterk genoeg om landswyd hierdie gety om te keer nie. In bepaalde provinsies (soos Wes-Kaap in beduidende mate), munisipale gebiede en nuut groeiende enklawes en mikrorepublieke is dit soos in die bespreking waarna verwys is, nie net haalbaar nie, maar inderdaad toenemend besig om te gebeur.
Belangriker egter is die feit dat ook die ANC nie die groeiende fragmentasie van die Suid-Afrikaanse staat kan stuit en terug na konstitusionele- en regeereenheid kan lei nie.
Die rede hiervoor is die ANC se politieke mentaliteit, wat hom ongeskik maak om ’n gevorderde bedeling te onderhou. Die ANC gee voor dat sy politiek van transformatisme hom (net soos sy kommunistiese en dergelike linkse ideologiese eweknieë elders in die wêreld oor die afgelope eeu en meer) tot progressie verbind. In weerwil van sy verbintenis tot sogenaamde progressie is hy egter onafwendbaar tot regressie oftewel veragtering gedoem en het hy, soos ons almal kan waarneem, die pad van veragtering reeds ver bewandel. Die ANC is oplaas nie ’n progressiewe krag nie; hy is regressief en in daadwerklike terme neoprimitief.
Die hoekstene van ’n gevorderde bestel: die onmisbare driehoek van kapitalisering, onderhoud en spesialisasie
Aangesien dit vir ons bykans natuurlik is, dink ons gewoonlik nie na oor die grondslae van ’n gevorderde samelewing nie. Maar wanneer ANC-geleide veragtering soos tans in Suid-Afrika intree, kom hierdie grondslae aan die lig.
Daar bestaan veral drie heg verweefde eienskappe of hoekstene van ’n gevorderde bestel: kapitalisering, onderhoud (instandhouding) en spesialisasie (deskundigheid).
Dit is belangrik om daarop te wys dat hierdie hoekstene nie eksklusief modern is nie, want tradisionele beskawings en gemeenskappe soos die antieke Grieke, Romeine, Chinese, Indiërs en Japannese, en Middeleeuse Christene en dergelike ander tradisionele gemeenskappe, het ook, sy dit op ’n ander wyse en met laer intensiteit, daaroor beskik. Juis daarom praat ek nie (net) van moderne samelewings nie, maar van gevorderde samelewings, wat ons eietydse moderne samelewings sowel as tradisionele samelewings insluit. Die gevorderde samelewings staan egter teenoor primitiewe gemeenskappe wat nie oor die hoekstene van gevorderde samelewings beskik (het) nie of dit ten minste nie in enige beduidende mate het nie.
’n Moderne bestel, sowel as die hier bo vermelde tradisionele beskawings, beskik oor waarna dikwels as komplekse stelsels verwys word. Daarby is inbegrepe komplekse infrastruktuur vir watervoorsiening; spoor-, pad-, lug- en seevervoer; voorsiening van elektrisiteit en dergelike energievoorsiening soos gas, petroleum, son, wind ens; ’n gesondheidstelsel; ’n onderwysstelsel; ’n finansiële stelsel gepaard met ’n rekeningkundige stelsel; ’n regstelsel en administratiewe stelsels wat openbare en private instellings in staat stel om voorspelbaar aan die hand van duidelike norme te funksioneer; veiligheidstelsels; riolering- en stormwaterstelsels, en talle ander. Al hierdie komplekse stelsels vereis kapitalisering, instandhouding en gespesialiseerde kundigheid. Tradisionele samelewings beskik ook oor komplekse stelsels, maar nie van dieselfde omvattende variasie nie. In primitiewe samelewings is dit egter basies afwesig.
Hierdie kwessie word nou verder toegelig.
Kapitalisering vergestalt in infrastruktuur, en dergelike vaste kapitaal vir ekonomiese verkeer verskaf die grondslag van alle komplekse stelsels. Dit alles is onmoontlik sonder beplanning, aangesien groot geld wat vir kapitalisering vereis word, per slot van rekening nie sommer blindelings gewaag kan word nie.
Kapitalisering impliseer ’n langtermyntoekomsvisie. Kapitalisering en permanensie – die volgende dekades en eeue – loop saam. Daarom gaan kapitalisering gewoonlik die lewenspan van individue te bowe. Kapitalisering het besonder gebaat by die hoogs vernuwende verskynsel van die private regspersoon (in plaas van slegs die staat of dergelike politieke entiteit), waarvan die lewenspan juis dié van individue oorskry: maatskappye, trusts, stigtings en dergelike; en gepaardgaande daarmee regs-finansiële instrumente soos aandele, versekering, rekeningkundige stelsels, aandelebeurse en dergelike.
Kapitaal in die gestalte van infrastruktuur, geboue, fabrieke, masjinerie, gereedskap, fasiliteite vir produksie, opberging, gemeganiseerde vervoer en dergelike strukture en fasiliteite is daar vir die lang termyn. Dit is nie daar vir verbruik nie, maar vir gebruik en meer bepaald vir benutting – op lang termyn.
Kapitaal en kapitalisering is in ’n belangrike opsig gewoonlik nie slegs die bates van die kapitaalbelegger nie. Dit is nie slegs “myne” nie, maar altyd “ons s’n” en strek, soos gesê, dikwels oor geslagte heen. Ofskoon bepaalde geïdentifiseerde persone met ’n kapitaalprojek begin, setel die eiendomsreg daarvan gewoonlik eerder in ’n groter geheel. Bowendien baat hele gemeenskappe van opeenvolgende geslagte dikwels by kapitaal(projekte) en aanvaar hulle spreekwoordelik of de facto (ofskoon nie juridies nie) eienaarskap daarvan, oftewel, hulle het ’n belang daarby omdat hulle voordeel daaruit trek. Dit vertoon die karakter van ’n res publica – ’n gemeenskaplike saak (belang) van almal (die publiek) – ofskoon eiendomsreg in ’n bepaalde regspersoon setel.
Aangesien kapitalisering langtermyn is, is onderhoud en instandhouding van wesenlike belang om agteruitgang te vertraag en vermorsing te verhoed sodat bestaande kapitaal aangevul kan word en op lang termyn benutbaar bly. In ’n primitiewe opset kom dit baie minder voor. Daar is slegs laegraadse kapitalisering, indien hoegenaamd, en vir sover daar kapitaal is, is dit nie bestem om lank te bestaan nie. Gevolglik is die noodsaak vir instandhouding nie naastenby so belangrik soos gevorderde, gekapitaliseerde opset nie.
In teenstelling met die moderne mentaliteit asook dié van tradisionele beskawings het primitiewe samelewings derhalwe slegs ’n laegraadse bewussyn van kapitalisering en onderhoud.
Kapitalisering behels natuurlik ook menslike kapitaal – (opgehoopte) kennis en vaardigheid. Dit impliseer ook wedersydse vertroue sodat mense op mekaar kan reken dat kapitaal nie aan vernielsug en verwaarlosing uitgelewer sal wees nie. Mense vertrou mekaar dat aangesien almal ’n belang by ’n bepaalde kapitaalwerk (pad, spoor, fabriek, dam, skool, park, kantoorkompleks, fabriek of wat ook al) het, almal sal help om dit in stand te hou en dit ten minste nie skade sal aandoen nie, ondanks die feit dat hulle nie private eienaars is nie.
Kapitalisering behels die opgaring en optekening van kennis, insig en vaardigheid in boeke, handleidings en dergeliks sodat dit – die kennis ens – nie tot niet gaan nie, maar aangevul kan word en aan nuwe deelnemers aan die ekonomiese verkeer en aan volgende geslagte oorgedra kan word. So beskou, is skrif, wat notulering en oordrag moontlik maak, ’n wesenlike eienskap van tradisionele beskawings en natuurlik ook van die moderne lewenswyse. Trouens, dit is na alle waarskynlik die belangrikste kapitaalmatige (en natuurlik intellektuele) vernuwing van alle tye.
Gesaghebbende norme van die reg, wat op die publiek, regerings en die openbare administrasie van toepassing is, lê die grondslag vir regsgesag (gewoonlik die oppergesag van die reg oftewel die rule of law genoem) en word eweneens deur die skrif gestabiliseer, aangesien die reg van oudsher in skrif vervat is. (Fernanda Pirie verskaf in The rule of laws, a 4 000 year quest to order the world, New York: Basic Books 2021 ’n nuttige samevatting hiervan.) Die reg in die besonder in ’n kodifikasie vervat is een van die belangrikste stabiliseerders van gedrag – ook gedrag met betrekking tot kapitaalwerke, aangesien die reg (en voorspelbare gedrag) daarmee blywend vasgelê word in plaas daarvan om dit telkens van geval tot geval interpersoonlik, tydelik en met onvoorspelbare uitkoms te onderhandel en te heronderhandel.
Spesialisasie in fyn besonderhede op alle terreine – ’n enorme verskeidenheid van spesialisasie in ’n oneindige aantal ambagte, beroepe en dies meer, gedra deur gespesialiseerde onderwys en opleiding en voortdurende vernuwing – is natuurlik ook integraal in ’n gevorderde opset. Tradisionele beskawings gekenmerk deur kapitalisering en ’n sin vir onderhoud was reeds in beduidende mate met spesialisering vertroud.
’n Gevorderde bestel bestaande uit komplekse stelsels is onmoontlik sonder deskundigheid, dit wil sê, genoeg beroepslui, tegnici, ambagslui en administrateurs met die nodige kennis, kwalifikasies, vaardigheid en ervaring op die gebied van elkeen van die komplekse stelsels – spesialiste met insig in die funksionering van elkeen van die komplekse stelsels en die vermoë om dit in stand hou en te verbeter om sodoende die gevorderde bedeling in die geheel te onderhou.
In ’n primitiewe toestand, daarenteen, kom gedetailleerde hoë spesialisasie egter kort. Daar bestaan ten beste slegs die mees basiese infrastruktuur en kapitaalwerke, wat bowendien nie bestem is om lank te bestaan nie. Gevolglik is daar slegs ’n geringe noodsaak en (kulturele) sin en begrip vir instandhouding en onderhoud, aangesien die “kapitaal” wat tot stand gebring word, kortstondig van aard is en gevolglik nie werklik onderhoud en instandhouding vereis nie. Die spesialisasie wat daar wel bestaan, is gepas vir ’n primitiewe bestaansekonomie en lewenswyse. Dit kom egter nie naby die gevarieerde spesialisasie van ’n gevorderde lewenswyse nie. In ’n primitiewe toestand neig mense veel eerder om generaliste te wees, waarin groot getalle mense die basiese betreklik eenvoudige take gepaard met die funksionering van ’n bestaansekonomie kan vervul. Finansiering bestaan nie. Baie minder as in ’n gevorderde opset word in menslike kapitaal by wyse van gespesialiseerde kennis en vaardigheid “belê”, aangesien gespesialiseerde gebiede slegs in geringe mate in sodanige opset bekend is. Skrif bestaan nie. Alles is mondeling. Optekening en die skriftelike oordrag van kennis is derhalwe afwesig, en vir sover ’n onderskeid tussen reg, moraliteit en godsdiens hoegenaamd haalbaar is, is die “reg” nie in skrif vervat nie, en bestaan dit uit gewoontes of onderhandelde verstandhoudings wat van geval tot geval aangegaan word.
Die veragtering van die “progressiwistiese-transformerende” ANC
Die ANC het in 1994 sy groot deurbraak gemaak deur beheer oor die Suid-Afrikaanse staat te verkry. Suid-Afrika was ’n tipiese gevorderde moderne bedeling met ’n veelheid van glad funksionerende komplekse stelsels. Massiewe kapitalisering, deurlopende onderhoud en ’n veelvoud van spesialisasie was aan die orde van die dag.
Die ANC verwerp wel primitiwiteit. Gevoed uit die fonteine van die Marxisme, veral sedert die middel van die 20ste eeu, is die ANC eerder deur die teenoorgestelde van primitiwiteit geïnspireer. Dienooreenkomstig poseer die ANC, soos gesê, graag as progressief. Hy is bowendien ongekwalifiseerd staatlik. Hy is verbind tot gesentraliseerde staatsmag en tot ’n eenvormige staatskultuur. Daarom wil die ANC juis wegkom van wat hy beskou as die eienskappe van primitiwiteit, naamlik ongelykheid, klasseverdeling, stam- en etniese gebondenheid, “primitiewe” tale en kulture wat hy beskou as die bron van verdeeldheid en ’n struikelblok na staatseenheid, “nasiebou” en die bereiking van gelykheid. In die plek van die “primitiewe” tale is hy verknog aan Engels as die taal wat hy as uitdrukking van progressie beskou en wat ons kan help om die kettings van primitiwiteit en verdeeldheid af te werp sodat ons die progressiewe orde van gelykheid en ’n eenvormige staatskultuur onder beheer van die sentrale regering kan verskans.
Met die oog daarop poog die ANC om op te tree as ’n revolusionêre voorhoedeparty wat vanweë sy verbintenis tot progressie ’n revolusie na ’n nuwe bestel moet deurvoer.
Gevolglik glo die ANC dat hy alle mag in homself – in die party – moet konsentreer. Hy maak daar trouens geen geheim van nie, want die ANC het al male sonder tal verklaar dat hy besig is om beheer oor alle sentra van mag in homself te vestig. Daarby is inbegrepe die nasionale wetgewer en uitvoerende gesag, alle ander vlakke van regering, die regbank, die staatsdiens, die polisie en weermag, universiteite en ander opvoedkundige instellings, professionele organisasies, burgerlike organisasies en sportliggame, vroue- en jeugorganisasies en trouens elke moontlik instelling wat oor openbare mag, invloed en bates beskik. Gevolglik moet alle kapitaal en ten slotte alle produksiefaktore onder die beheer van die sentrale regering en partyleierskap wees. Alle kultuurgemeenskappe moet oplaas ook in ’n enkele staatskultuur opgaan.
Vir die ANC geniet sy eie magskonsentrasie eintlik alles. Dit is die primêre waarde in sy beskouing van regering. Professionele geskiktheid is laer af in die waarderangorde. As ’n ANC-lojalis, oftewel “kader”, ook besonder professioneel geskik is vir ’n bepaalde pos, sal hy/sy (moontlik) aangestel word. Maar partylojaliteit en die magshouvas van die party kom eerste. As geen kader professioneel geskik vir ’n pos is nie, sal ’n kader desnieteenstaande aangestel word. Aanstellings, in watter poste ook al, is derhalwe altyd politieke aanstellings – die aanstelling van ’n lojale kader – eerder as ’n professionele aanstelling. Partybeheer oor alle instellings en hefbome van gesag vereis dit. Die geskiedenis van die ANC in regering oor die afgelope dekades getuig afdoende hiervan.
Dit is hierin dat die groot selfverydelende ironie lê, want dit is juis hierdie onverdunde sug na partybeheer wat reeds onafwendbaar veragtering in die hand gewerk het. Die sug na partybeheer is drasties onversoenbaar met die vereistes vir die instandhouding van ’n gevorderde bestel gegrond op kapitalisering, instandhouding en spesialisasie. So lank as wat die ANC in die kussings is, is die veragtering bestem om onvermydelik te vererger. Al die gereedskap waarmee die ANC partybeheer (wil) deurvoer, dra kumulatief by tot demodernisering en veragtering.
Die gereedskap van veragtering – kaderontplooiing en -bevoordeling
Kaderontplooiing en -bevoordeling is die sluitsteen van die ANC se projek vir omvattende partybeheer oor alle aspekte van die staat en die samelewing. Dit stel hom in staat om alle moontlike teenstand – teenrevolusionêre magte, soos die ANC dit graag noem – te neutraliseer. Al die ander programme van die ANC, meer bepaald verteenwoordigendheid – regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) – wentel daarrondom en is eintlik onderafdelings van sy kaderpolitiek en partybeheer.
Kaderontplooiing is die sleutelinstrument waarvolgens die regime lojaliste van die ANC of die heersende faksie daarvan in poste in staatsorgane ontplooi. Eerste kom senior poste. Sodra die knoop daar deurgehaak is, sorg die senior kaders vir die res, naamlik om te verseker dat die res van die aanstellings insgelyks gepas is, dit wil sê, ook kaders is, of ten minste nie die partyleiding sal teenstaan of die ANC andersins sal ontwrig nie.
Verteenwoordigendheid stut kaderontplooiing. Dit het so belangrik geword dat oudregter Kriegler dit by geleentheid tereg as die “be all and end all” in die Suid-Afrikaanse grondwetlike diskoers beskryf het. Verteenwoordigendheid herlei terug na die dokument van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party getitel Road to South African freedom uit 1962. Daarvolgens moet die nasionale rasseprofiel in die personeel van alle instellings neerslag vind. Onder die dekmantel van Verteenwoordigendheid is dit dan moontlik om partybeheer verder te konsolideer.
Regstellende aksie is benewens op staatsorgane ook op private instellings van toepassing. Alhoewel regstellende aksie nie noodwendig beteken dat die regime beheer oor private instellings kry nie, stel dit hom nogtans in staat om sy ideologiese invloed daar te laat geld. Regstellende aksie, wat ingevolge die Employment Equity Act (EEA) van 1998 op die grondslag van rasseverteenwoordigendheid toegepas word, het natuurlik die uitwerking dat minderheidsinstellings onmoontlik gemaak word, aangesien alle instellings se personeelkorps die nasionale bevolkingsprofiel moet weerspieël; en minderheidsinstellings kan natuurlik per definisie nie verteenwoordigend wees nie. Hierdie kwessie is breedvoerig hier toegelig. Die begrip regstelling verleen die aanskyn van legitimiteit aan hierdie magstrategie van die regime.
SEB is insgelyks ’n belangrike strategie van kaderbevoordeling en partybeheer. SEB is veral gebou op die Preferential Procurement Policy Framework Act (PPPFA) van 2000 en die Broad Based Black Economic Empowerment Act (BBBEEA) van 2003. Dit is standaard dat die bevoordeeldes van staatskontrakte mense binne die onmiddellike polities-ideologiese sfeer van die regime is. Ander is gewoonlik daarvan uitgesluit. Deur SEB word die samewerking en lojaliteit van SEB-“sakelui” ten gunste van die regime gekoop. Dit kom natuurlik teen ’n hoë prys, want staatsorgane betaal met belastingbetalers se geld dikwels buitensporige pryse vir hierdie SEB-leweransiers. Hierdie SEB-kontrakteurs se lojaliteit word sodoende gekoop en die regime se beheer oor die SEB-kontrakteurs (en die private sektor) word verdiep.
Andersins koöpteer die regime met lisensies en dergelike staatsvergunnings kontrakteurs wat hulle aan die regime bind. Derhalwe is SEB oplaas ’n strategie waardeur die regime sy houvas en invloed in die sakesektor verder verstewig.
Veragtering
Die slotsom is dat die gereedskap van transformasie, waarop kaderontplooiing en -bevoordeling berus, regimebeheer bevorder, maar terselfdertyd die instandhouding van ’n gevorderde beskawing met komplekse stelsels verwoes.
Transformatisme en sogenaamde progressie is blind vir, of ten minste grof onverskillig teenoor, wat nodig is om ’n gevorderde lewenswyse te onderhou. Dit begryp nie die sentrale belang van die onmisbare driehoek van kapitalisering, instandhouding en spesialisasie nie en kan gevolglik nie die komplekse stelsels waarvan ’n gevorderde samelewing afhanklik is, onderhou nie.
Slegs paslike spesialiste met die nodige tersaaklike kennis, insig en ervaring van die betrokke komplekse stelsels, en ongeag hulle politieke lojaliteit, kan ’n gevorderde samelewing onderhou. Kaders kan politieke lojaliteit betoon en voordeel daaruit trek, en die regime en partyleiers kan hul ingenome voel dat hulle hulself met hul ondersteuners, ja-broers en -susters omring het. Sonder tersaaklike deskundigheid kan geen komplekse stelsel en gevorderde samelewing egter funksioneer nie. Dit verval onafwendbaar.
Dit is kaderbevoordeling van al sy soorte soos pas hier bo verduidelik, wat verantwoordelik is vir die onophoudelike treurmare van verval in Suid-Afrika onder die aanvoering van die “progressiewe” ANC. Dit is dit wat Eskom van ’n internasionaal bekroonde kragnetwerk na ’n mislukking getransformeer het; wat die spoorwegstelsel verinneweer het en die hawens van die bestes in die wêreld tot die swakstes geruïneer het; wat die grootskaalse verwoesting van munisipale regering teweeg gebring het; wat ’n groeiende waterkrisis veroorsaak het; wat slaggate en onbegaanbaarheid van talle paaie meegebring het; wat die staat in die rigting van bankrotskap stuur; wat semigeletterde onderwysers op die meeste van die land se skoolkinders losgelaat het, ens, ens. Die treurmare is nimmereindigend. Dit is dit wat lei tot die een na die ander “ongeluk”: ’n ontploffende staat in Johannesburg se middestad; geboue met inbegrip van hospitale en die parlement wat onbeheers brand; riool wat per ongeluk in die Vaalrivier beland en mense wat ongelukkig aan cholera sterf; en mense wat ongelukkig in ontoegeruste hospitale sterf – en dergelike ongeluk op ongeluk.
Hierdie “ongelukke” is allermins werklik ongelukke. Dit is bloot die mees skouspelagtige episodes van die algemene patroon van veragtering. Dit is die voltrekking van die onverbiddelike logika van transformatisme wat nie progressie bewerkstellig nie, maar daarteenoor juis veragtering waarborg. Dit is die gevolg van die ANC se onbegrip van kapitalisering, instandhouding en spesialisasie, synde hoekstene vir die totstandkoming en instandhouding van ’n gevorderde bestel.
Transformatisme, partybeheer en kaderbevoordeling is die drieledige aartsantagonis hiervan en lei Suid-Afrika nou reeds oor etlike dekades op ’n trajek van veragtering.
Die ANC leer geen lesse hieruit nie. Hy gaan eenvoudig konsekwent voort op die transformatiewe reis na voortgesette verergerende regressie. Die ANC ly egter toenemend regeerverlies namate georganiseerde burgerlike instellings en vernuwende elemente van die sakesektor regeringsfunksies oorneem en nuwe selfregerende mikrorepublieke en enklawes wisselende grade van selfregering vestig vanuit die veragtering wat die ANC se “progressiewe” transformatisme geskep het. Kyk hier. Waar dit gebeur, word die veragtering omgekeer en groei nuwe gevorderde bedelings. Waar die ANC, daarteenoor, die septer swaai, verhewig die veragtering.
John Endress van die SA Institute of Race Relations het in ’n toespraak op 20 Julie by die Cato Institute in Washington positief uitgewei oor hierdie groeiende verskynsel van private inisiatief waardeur gemeenskappe hulself uit die spiraal van veragtering red.
Oudpresident Thabo Mbeki sien hierin egter ’n groot gevaar. Wat hy hierin sien, sê hy op 23 September vanjaar by die kongres van die SA Association of Public Administration and Management, is gevaarlike magte van teenrevolusie.
Hiermee verraai Mbeki (seker die helderste lig in die ANC) dat die ANC inderdaad nie oor die mentaliteit beskik om ’n gevorderde bedeling te bestuur nie. Daar moet aan partybeheer, transformatisme en kaderbevoordeling vasgeklou word ondanks die veragtering wat dit nou al so lank meebring.
Die ANC kom klaarblyklik die mentaliteit kort wat vereis word vir die instandhouding van ’n gevorderde bedeling en is nie in staat om ’n ander weg in te slaan nie. Hy kan derhalwe nie die groeiende verbrokkeling van die Suid-Afrikaanse staat stuit nie.
Soos Mbeki, kan die ANC beangs raak oor sy regeerverlies. En na mate hy verdere verliese ly, en burgerlike en sake-instellings meer regeervermoë verwerf, gaan hy met onvoorspelbare truuks vorendag kom om sy posisie te probeer verdedig.
Die konstitusionele verbrokkeling van Suid-Afrika is egter reeds in volle swang en burgerlike en sakeformasies se regeerkapasiteit groei sterker namate dié van die regime op die rug van Suid-Afrika se algemene veragtering verswak. Die tendens is onomkeerbaar.
Lees ook:
"Suid-Afrika" se bewindsveranderings – vervangende regerings in ’n ontbindende orde
Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie


Kommentaar
Uitstekende artikel, Koos! Dit spreek van pure gesonde verstand. So heerlik om te sien dat daar soms nog lig is midde in die duisternis, redelikheid en beskawing te midde van die primitiewe, barbaarse mentaliteit waaraan ons daagliks uitgelewer word in hierdie ANC-gedomineerde land van ons.