Die spoegvanger deur Stefanus S Vivier: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die spoegvanger
Skrywer: Stefanus S Vivier
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234751

Met Die spoegvanger tree Stefanus S Vivier tot die Afrikaanse letterkunde toe met ’n debuut wat sy plek vind binne die tradisie van die plaasroman én die Bildungsroman. Waar plaasverhale dikwels die idilliese of ideologiese aspek van landelike bestaan beklemtoon, keer Vivier daardie lens binnetoe-buite deur die plaasruimte as terrein van stilte, geweld en ideologiese vorming uit te beeld. Die stem van die jong verteller funksioneer hier nie net as draer van ervaring nie, maar ook as filter waardeur die leser die botsing tussen kinderlike onskuld en die gewig van geskiedenis ervaar.

Die verteller bly sonder naam, maar sentraal in die roman is sy vriendskap met Mhelomakhulu Zukhanye, genoem Hotnot, sy Xhosa-vriend. Deur sy witmensnaam word hy eintlik daardeur ontmens, gedefinieer deur sy kleur.

Ek raak altyd opgewonde wanneer ek ’n debuutroman optel en sommer binne die eerste paar bladsye al besef: Hier is iets besonders. Só het ek onlangs gevoel met Sandra Skinner se Die skuld wat bloed betaal, en toe weer toe ek Stefanus S Vivier se Die spoegvanger onder oë kry. Hierdie roman, ook soos Die skuld wat bloed betaal uit Naledi se stal, het my onverwags ingesuig.

Reeds op die eerste bladsy word die toon neergelê. ’n Toneel van klippe en stilte, ’n atmosfeer wat naderende onheil belowe. Dit is nie die oordrewe soort onheil wat in woorde uitgespel word nie, maar die subtiele spanning van iets wat in baie Afrikanerhuise afgespeel het. Daardie dinge waarvoor kinders, vroue en swart mense geen taal gehad het nie, net ’n ongemaklike gevoel dat iets nie reg is nie.

Hulle sê: Dié wat sonder sonde is, moet die eerste klip gooi. Vivier se verteller leer gou dat sondes nie altyd bely word nie, dat gesinne kan oorleef deur stil te bly en dat die kind dikwels die draer van daardie stilte word.

Die verhaal volg ’n jong, wit seun wat grootword op ’n plaas aan die Vaalrivier. Sy pa is ’n onderwyser, ’n swak boer en ’n opkomende politikus; ’n man wat ’n ideologie dra en dit vol selfvertroue en selfgeregtigheid op sy huis en kinders afdruk. Die seun is egter ’n fyn waarnemer en dit is in sy vriendskap met Hotnot dat hy begin sien dat daar ander waarhede is, waarhede waarvoor daar in sy huis en in sy land min plek is.

Saam ontdek hulle die geheime van die verskille en heerlikhede tussen geslagte, met Hotnot wat natuurlik veel vroeër veel wyser is en elke ding op sy naam noem.

Vrae rondom ’n almagtige God ontstaan ook, en die seun se vrae bring ook situasies waar jy nie weet of jy moet lag of huil nie, soos die offertoneel.

Dan is daar die Kinderbybel. ’n Skynbaar onskuldige boek wat beelde en stories aan hom bied waarvoor hy nog nie gereed is nie, wat sy verbeelding voed en hom dwing om vrae te vra waarvoor niemand antwoorde gee nie, al vra hy. Die spanning tussen geloof, ideologie en menslikheid loop soos ’n onderstroom deur die hele teks.

.......
Teen die agtergrond van apartheid se hoogbloei en godsdiens wat as geregverdigde wapen gebruik word, worstel die verteller om te verstaan, te vergewe en te praat.
.......

Teen die agtergrond van apartheid se hoogbloei en godsdiens wat as geregverdigde wapen gebruik word, worstel die verteller om te verstaan, te vergewe en te praat. Ironies genoeg gebeur dit in ’n wêreld waar stilte dikwels die laaste woord het, totdat daardie stilte self aan die einde begin praat.

Een van die sterkste elemente van die roman is die karakterontwikkeling van die jong verteller. Hy is intelligent, nuuskierig en neem baie vinnig waar wat rondom hom aangaan. Sy wêreld word gekleur deur die grootmensgesprekke wat hy afluister, en deur nuusgebeure wat vir hom net gedeeltelik verstaanbaar is.

Hy is ’n weetgierige kind en ywerige leerder wat heeltyd die betekenis van woorde opsoek.

Die Coalbrook-mynramp is een voorbeeld. Hy leer dat honderde mense ondergronds gesterf het, maar raak veral bewus van die mense se houding teenoor die verskil in getalle: hoeveel swart, hoeveel wit. Só begin sy morele ontwaking.

Die weetgierige kind probeer sy leefwêreld verstaan deur waarneming, lees en leer.

Die spesifieke Popular Science Monthly waarna ek gesoek het, het ’n artikel bevat oor die lewe en werk van Francis Huber, die blinde naturalis wat met behulp van ’n assistent baanbrekerswerk oor bye en hulle gewoontes gedoen het. Miskien, miskien het ek gedink dat ek daar onverwags iets van Pa sou raaklees. Iets wat die donkerte wat hy in my lewe verteenwoordig het, sou opklaar. Hy het altyd by die byekorf gaan sit as hy ’n besluit oor iets moes neem. Die bye was ook al wat op die plaas agtergebly het nadat al die ander dinge waarmee Pa probeer boer het, weg was. En Francis Huber was, volgens die inligting wat ek gehad het, bekend vir die feit dat hy dinge deur suiwer waarneming leer ken het. (bl 155–6)

.......
Die roman is deurdrenk met stilte, maar ook met die tikkende gevoel dat iets onafwendbaars op pad is.
.......

Vivier se styl is gestroop, helder en reguit. Daar is niks oordadig of versier nie. Juis dít laat die onderliggende spanning en emosie soveel sterker deurkom. Die roman is deurdrenk met stilte, maar ook met die tikkende gevoel dat iets onafwendbaars op pad is.

Die prosa is beklemmend eerlik. Dit roer aan geheime en pyn wat dikwels toegesmeer is in Afrikaanse gesinne, en dit gee aan die jong kind se perspektief ’n outentieke, aangrypende stem.

Temas soos mag en misbruik, die las van tradisie en die stilte rondom gesinsgeheime is deurlopend verweef. Die roman vra ook moeilike vrae oor skuld en skuldiges – en of daar ooit ’n ontsnapping is uit die siklus van pyn en verontregting.

Vivier se taal is beeldryk en soms poëties, maar ontaard nooit in ’n mooiskrywery nie. Hy gebruik beskrywings wat skerp en visueel is, en dwing die leser om te kyk na dit wat dikwels verdoesel word. Daar is ’n spanning tussen die konkrete, plaaslike werklikheid waarin die verhaal afspeel en die universele temas wat hy aanraak.

Die prosa is dig en vra konsentrasie, maar beloon die leser met diepte en insig. Vivier se vermoë om spanning te bou – nie net in aksie nie, maar ook in emosionele en morele terme – maak die roman besonder aangrypend.

Die spoegvanger is ’n verrassende en belangrike debuut. Dit is ontstellend, ja, maar ook roerend. Dit is ’n diep menslike verhaal van groei, verlies en ontwaking. Dit bied ’n kind se stem uit ’n verlede wat nog lank ná die laaste bladsy in die leser sal talm.

.......
Dit is tegelyk ’n ontginning van ’n seun se psigiese en fisieke ontwaking en ’n kommentaar op die groter sosiale en politieke ideologieë van sy tyd.
.......

As teks dra Die spoegvanger by tot die voortgesette gesprek oor die Afrikaanse roman se vermoë om verlede en geheue te herbesoek. Die werk balanseer tussen die intieme en die historiese. Dit is tegelyk ’n ontginning van ’n seun se psigiese en fisieke ontwaking en ’n kommentaar op die groter sosiale en politieke ideologieë van sy tyd.

Vivier se gestroopte prosa en sy fyn waarnemingsvermoë plaas hom in die geselskap van jonger Afrikaanse stemme, soos PJO Jonker wat die verbygegane dekades nie nostalgies óf veroordelend benader nie, maar deurspek met kritiese vrae oor skuld, mag en stilte. Die spoegvanger is dus nie bloot ’n debuut nie, maar ’n sterk literêre intervensie wat wys hoe die individu en die kollektiewe geskiedenis mekaar in die fyn ratwerk van die vertelling ontmoet.

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

Die skuld wat bloed betaal deur Sandra Skinner: ’n lesersindruk

Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

 

Roulette deur Sidney Gilroy: ’n lesersindruk

The heart is the size of a fist deur PP Fourie: ’n lesersindruk

Weersiens verby Emmaus deur Kobie Lötter: ’n lesersindruk

Drie moorde in die baai deur Madelein Rust: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top