Die rooi tekkies

  • 7

Daar’s nog ’n bloederigheid op die see toe die Aandster sy eerste knipoog gee. Op presies daardie oomblik kom staan die engel met sy lang bont rok in die deur.

Elisa was aan’t pampoen sny. Boepens en bleekwit het die boerpampoen die klein tafeltjie beset; halsstarrig onder die aanslag van die broodmes.

“Wil jy nie eerder ’n saag probeer nie?” het die engel gesê. Sy vlerke netjies ingevou agter sy rug. Rasperstem. Nie singerig en strelend soos engele behoort te klink nie.

Elisa kyk verskrik op. Die laaste lig skyn blouerig agter die engel en sy gesig is in skaduwee gehul.

“Wie is jy?” Sy hou die broodmes langarm voor haar.

“Sommer net iemand wat hier verbygeloop het. Toe hoor ek hoe praat jy met die pampoen.” Sy skraal hande is verskonend omhoog. Hy wonder of dit sal bloei as daardie mes hom moet sny. Hy is ’n nuwe engel en weet nie wat om te verwag van die mensdom, of sy eie nuwe lyf nie.

Elisa laat sak die mes en vee ’n straaltjie sweet langs haar neus met haar voorskoot se soom af. Sy is in elk geval te swak om te baklei. Die mens voor haar kon haar al lankal oorrompel het as hy wou. Hy lyk soos die branderplankryers wat gereeld hier verby haar huisie stap strand toe, verbleikte stuk hout onder een arm vasgeklem. Onskadelik.

Hendrik raas gereeld met haar omdat sy die deur laat oopstaan. Maar ai, dis so mooi as sy die sonsondergang kan sien van haar kombuistafel af. Hierdie tyd van die jaar sak hy netjies binne die deurraam. Net nog vanoggend het Hendrik belowe om een van daardie traliegedoentes voor die deur aan te bring. Ma, sodra ek ’n af tyd het by die fabriek, het hy gesê. Sy is nie ondankbaar nie, maar sê nou net dit plaas die son buite haar bereik, as’t ware in sy eie tronk?

“As ek die ding net eers in die helfte kan kry, sal ek hom wen.” Sy draai terug na die pampoen op die tafel. Daar is ’n lelike wond aan sy sy, maar hardnekkig klou die skil aan sy waardigheid, so asof Elisa nie verdien om sy naaktheid te ontbloot nie.

“Wat is jou plan met die pampoen?” Die engel staan nog steeds in die deur. Hy onthou darem nog sy maniere. Sy sal hom wel innooi. Haar hart is sag.

“Pampoenkoekies.”

“Is dit ’n spesiale geleentheid?”

Elisa sit die mes neer. “Nee, ek is sommer net lus vir pampoenkoekies.”

“Hoekom koop jy nie die klaargekapte pampoenblokkies in die winkel nie? So ’n pakkie behoort genoeg te wees vir jou?”

“Hendrik én die kinders in die straat is gek oor my pampoenkoekies.” Haar stem kom trots. “Ek gee gewoonlik vir hulle ook.” Vollyf draai sy na die engel en beduie dat hy moet inkom. Die wêreld is boos, mens kan nie meer staatmaak op ’n vreemdeling se goeie bedoelings nie. Hierdie man lyk egter vriendelik, kinderlik en gerusstellend. En sy is tog so lief vir kinders. Daarby ruik hy na vanielje, haar gunstelinggeur.

“Kan ék probeer om die pampoen vir jou te sny?” Hy staan nou langs die tafel en hou ’n spierwit hand na haar uit.

Sy kyk van sy hand na sy gesig. Hy het ’n mooi gesig. Amper deursigtig van die witgeid. “Dit lyk nie of daardie handjies van jou al ooit ’n dag se werk gedoen het nie. Het jy al ’n pampoen gesny?”

Sy groen oë vonkel onder ’n lawwe paar bruin krulle toe hy die mes uit haar hand neem. “Nee, maar ek is ’n bok vir sports.” Hy giggel en gee ’n hoesie.

Terwyl hy die pampoen al in die rondte draai om te kyk waar om dit te begin opfoeter, draai sy om en sit die ketel aan. Met haar rug na hom praat sy weer. “Wil jy koffie hê, of dalk tee? Mý keel is droog van al die gesukkel.” Sy wou nog byvoeg dat haar bors pyn van die inspanning en haar arms is heeldag al aan die lam word.

“Het jy dalk vir my water asseblief? Ek drink nie koffie of tee nie.” Hy kyk nie na haar nie. Hy het ’n diep vou in die pampoen ontdek wat toeganklik is vir die mes. Ferm druk hy die lem teen die skil en kreun saggies toe hy die mes voel deurbreek.

“Nou kyk nou net vir jou! Woeps en daar lê die pampoen in twee stukke.” Elisa klap haar hande opgewonde.

Hy glimlag skaam en sit die mes neer. “Ag, dis seker maar net beginnersgeluk.” Hy beskou die pampoen nou van nader. Dit is ’n pronkstuk uit die aarde. Bloesende oranje vleis met ’n klein holtetjie propvol spierwit pitte.

Sy stap nader en vee heilig oor die pitte. “Ek het nog nooit so ’n mooi pampoen gesien nie, en kyk net hierdie besonderse pitte. Ek gaan beslis hiervan plant!” Opgewonde gryp sy die helfte van die pampoen en die mes. Behendig sny sy dit in skywe, stroop hulle van hulle skille en sny die skywe dan in klein blokkies.

Die engel draai om. Hy sal maar vir homself moet water tap. Elisa is verdiep in die wêreld van pampoenslag. Op die wasbak staan ’n glas wat hy eers vir ’n rukkie om en om draai voordat hy dit vul met water uit die kraan.

Sy oë is toe en sy vlerke ritsel van lekkerkry as hy die koel vog in sy mond rol. Hy het nie gedink hy was so dors nie. Hy het ver gereis en van hier af is dit nog ’n entjie. Hy dink hy sal nog ’n glas drink, maar sê nou hy moet langs die pad stop vir water afslaan? Gaan sy lyf nog werk soos ’n mens s’n en gaan hy tyd hê vir so iets? Ingedagte kyk hy na die outydse klein horlosie wat op sy linkerbors vasgespeld is.

Ten einde laaste is die pampoen opgesny en draai Elisa om. Sy haal die grootste kastrol in haar kas uit. Dit is haar ou basaarpot waarin sy vir jare die kerrie gemaak het. Toe hulle haar nog nodig gehad het om kos te maak. Nou mag sy net eenkant sit en kyk hoe ander vir die Here werk. Te oud en seniel, fluister die jongetjies agter lang vingers en geverfde naels.

Die hele tyd staan die engel met sy rug na haar toe. Toe hy hoor hoe die pampoenstukke in die pot val, draai hy om en neem woordeloos die groot kastrol en vul dit met water by die kraan. Sonder inspanning stap hy met die swaar vrag en plaas dit versigtig op die stoof. Hy draai die knop op sy hoogste stelling. Die tyd raak min. Die groente moet gou kook.

Dan draai hy om en kyk na Elisa. Sy staan eerbiedig met haar hande in gebed voor haar groot boesem. Haar oë is groot in haar wasbleek gesig.

“Wat is jou naam, Engel?” kom dit skor.

“O, jy het my vlerke gesien?” Sy stem is gelykmatig. Hy kyk nie na haar nie, maar stap tafel toe en begin om die pampoenskille met sy hande bymekaar te maak.

“Wat is jou naam?” vra sy weer. Dringend.

“Wat is jou gunstelingnaam in die hele wêreld?” wil hy weet. Oplaas kyk hy na haar.

“Engelbert Humperdinck.”

“Die sanger?” hy glimlag breed.

“Ja, die sanger. Ek is nog altyd mal oor hom.”

“Dan is dit my naam. Engelbert Humperdinck.”

“Kan jy sing?” vra sy.

“Wat dink jy?” Hy rasper ’n droë laggie. Hy sal tog nog ’n glas water moet drink, dink hy. Dalk eers vra vir die toilet voordat ...

“Het jy my kom haal, Engelbert?”

Hy draai om na die stoof, loer eers weer na sy horlosie voordat hy aan die knop voor hom draai. Die pampoenstukke kook nou verwoed.

“Het jy al die ander bestanddele reg vir die pampoenkoekies?” Hy ignoreer haar vraag.

“Ja.” Sy sug en pak die olie, meel, bakpoeier, eiers en pan op die tafel, tel die skille en pitte op en loop tot langs die deur, waar sy die asblik se pedaal met haar voet trap en die afval in die donker drom laat val. Met haar rug na hom pleit sy. “Het ek tyd om ’n baksel te maak?”

Hy loer weer skuins na die horlosie. “Daar is nog ’n bietjie tyd, maar ek sal help.”

Terwyl hy die pampoen dreineer en fyn druk, maak sy die olie warm en gooi die kaneel by die suiker in die suikerpot.

Hulle gesels soos nuwe vriende. Katvoet. Watse raakpunte het ’n engel en ’n mens tog nou, wonder sy. Hy vra uit. Sy antwoord. Sy vra uit. Hy vermy direkte antwoorde. Hy ken die meeste van hulle in elk geval nog nie self nie. Hierdie is sy eerste dag, vertel hy haar. Sy klik haar tong en sê sy is seker hy sal ’n sukses maak van sy nuwe loopbaan. Hy moet net geduldig wees met homself. Daarby het hy ’n goeie baas. Sy giggel senuagtig.

Hy glimlag breed. Dit is waar, ja.

Sy vertel van haar kinderdae langs die see. Hoe sy klein vissies in ’n geel langsteelnet in die rotspoele gevang het. Geleer het om die see te vertrou om te voorsien, om dit te respekteer en dit te vrees. Later het sy geleer om met ’n visstok te vang. Toe eers haar pa en later haar ma siek word, was sy die broodwinner, kok en versorger. Eendag was sy net alleen in hierdie huis. Susters en broers was daar nie. Hier het Stefaans haar kom uithaal om te trou en sodat sy vir hom ’n seun kon gee. Sy het deliver, vertel sy die engel. Die Vader weet seker, sy het hard probeer en sy het deliver.

“Waar is Stefaans? Moet ons vir hom ook pampoenkoekies bêre?” Engelbert rek sy nek om in die gang af te kyk.

“Nee, hy is nie meer hier nie.” Sy skakel die stoofplaat af en lig die laaste vier goudbruin poffertjies uit die warm olie. Op die tafel troon die gebak bo die rand van die emaljeskotteltjie. Sy kyk hoe hy kaneelsuiker oor die laaste paar strooi voordat hy hulle koddig op die res van die baksel balanseer. “Stefaans het ’n ander vrou gevat wat vir hom nog seuns kon gee.” Gelate kom haar stem.

Driftig dan: “Hoekom vra jy my nie waar my seun is nie? Hoekom wil jy van Stefaans weet? Is engele nie veronderstel om alles te weet nie?”

Hy kyk hartseer na haar. Vrees verlam haar vingers en die silwer eierspaan glip uit haar hande en kletter tot op die teëlvloer langs sy rok. Verskonend sak sy af na die vloer en verstar langs sy voete.

“Jy het rooi tekkies aan!” Hygend.

“Ja, Elisa.”

“Dit lyk soos Hendrik se tekkies!”

“Dit is reg, Elisa.” Hy buk om haar aan die elmboog op te help. Sy klap sy hand weg.

“Los my! Los my uit! Ek wil weet hoekom het jy Hendrik se tekkies aan!” Sy steun orent en haar oë is tegelyk bang en blitsig. Hy wens hy kan haar rukkende lyf teen hom vasdruk en sy vlerke om haar vou. Maar dit is nog nie tyd nie.

“Ek is jammer, Elisa. Daar was ’n ongeluk by die visfabriek.” Hoe wens hy dat hy meer ervaring gehad het. Hierdie deel is baie moeilik. Hulle het hom gewaarsku.

Soek vir ’n opening, het ’n wyse kollega raad gegee. ’n Toegangspunt. Iets wat hulle rustig sal maak; gereed vir die reis. Dit sal makliker word, het die ou man gesê. Sy treurige oë was op die goue horison.

Om haar so gebroke te sien maak hom ongelooflik hartseer. Engele moet mos kalm en bedaard wees? Hy sal seker nog beheer kry oor sy emosies. Hulle sal hom net moet wys hoe.

Gelatenheid vou uiteindelik oor Elisa. Met nat wange gaan sit sy by die tafel en haal die boonste pampoenkoekie van die heuwel af. Langsaam bring sy dit na haar geplooide mond. Toe sy byt, kraak die suiker onder haar tande. Sy kyk af na die ryk, goue lekkerny. Dit is maklik haar beste baksel ooit. Met haar oë toe, kou sy behaaglik. Toe sy oplaas sluk en haar vingers stadig aflek, praat sy weer. “Sy tekkies. Hy was so lief vir daardie tekkies.”

“Ek weet ja. Hy het gesê ek moet dit aantrek. Dit sou help met die ... um … proses.” Engelbert kyk oor sy skouer na die oop deur en die sterre wat al hoe blinker skyn. Haar tyd loop uit.

“En die hulp met die pampoenkoekies? Was dit ook sy idee dat jy my moes kom sag maak?” Sy gee ’n droë snik.

“Dit was my toegang tot jou hart, Elisa. Dit was ’n wonderlike ervaring. Dankie daarvoor.”

Sy staan op en kyk hom waterpas aan. “Ek is reg, Engel met Hendrik se tekkies.”

Hy gooi ’n skoon vadoek oor die skottel pampoenkoekies. Die kinders sal dit hier kry, en hulle sal weet dit is vir hulle.

Lees ook:

Aankondiging van wenverhale: Toegang – ’n kortverhaalkompetisie

Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde

Wind

Hipoksie

Duine

  • 7

Kommentaar

  • Al 5 stories is baie boeiend en hou jou gevange tot die laaste woord. Dis net baie opvallend dat al die stories oor die dood handel.

  • Hendie Grobbelaar

    Dankie vir die kommentaar. Dit is interessant, Sonica, dat jy hierdie opmerking gemaak het. Ek glo die pandemie en die wêreldgebeure beïnvloed skrywers die afgelope jare baie.

  • Briljant, Hendie. Alles om te wen, is daar. Met al daai kreatiewe verbeelding, spanning, toptaal en kennis van die resep, kan die storie met die oop slot wat mens vermurwe, net 'n wenstorie wees. Ek is so bly oor hulle! Groetnis.

  • Sjoe maar dit bly seer-mooi.
    Elke keer staan ek oorbluf as ek die pragstorie weer lees.
    'n Woordprentjie wat sorgsaam ingekleur is, waarin ek die pampoenkoekies kan ruik, die kaneelsuiker kan proe en Elisa se gevoeltes kan voel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top