Teen die middag steek die wind op. Lusteloos en dor, dink ek, maar dis nie of ek venster toe kan trippel om te gaan kyk nie. Wie kan nou ook ’n wind sién.
Ek sal vir my versorger, Johanna, vra hoe die wind waai as sy inkom om my te voer en vir die nag gereed te kry.
Nes ek verwag het, val Johanna weg met: “Jy hoort in ’n versorgingsoord.”
“Die dag as jy jouself uit ’n jop gepraat het, kan jy ’n houtkapper word. Jy kap elke keer presies in dieselfde keep.” Vat ’n teug asem. “My skaamte is nog my eie en ek wil dit so hou totdat ek nie meer weet waar ek is nie. Dan kan julle met my lyf maak wat julle wil.”
“Toehou tot jy nie meer weet waar dit sit nie,” sê Johanna. “Dis al klaar so.”
Sy is goud werd. Sy oorreed my om vir oefening met die loopraam badkamer toe te gaan vir stort en so aan. “Kom, tel op daardie voete.” Saans moet sy my doek vir die nag aansit. Niks loer nie, hande onder ’n handdoek. Ek ignoreer die gedoente met die kolostomiesakkie asof dit nie gebeur nie.
Soggens stoot sy my op die rystoel deur die tuin. Ons bewonder my tuinier se handewerk. Johanna is goeie geselskap as sy nie in die bui is om raad te wil gee nie.
“Jy hoort in ’n versorgingsoord. Wat gaan jy maak as jy in die nag ’n toeval of beroerte kry?”
“Dan lê my liggaam hier in watter toestand ook al en wag tot jy inkom en jy bel die ambulans of die lykbesorger.”
“Maklik gesê, maar as jy nié dood is nie en net in pyn moet lê en wag vir dagbreek? Laat sit iets in wat ’n alarm by ’n sekerheidsmaatskappy kan laat afgaan.”
“Hou op kla, jy is in die testament.”
Gewoonlik gaan die wind teen skemer lê. Hierdie een woed al hoe sterker. Ek dink aan die Khoisan-stories wat Aaron ons in my kindertyd vertel het. Van hoe die wind eers ’n mens was en toe Windvoёl*) geword het wat in ’n gat in die berge gaan bly het. Wanneer hy sy vlerke klap, waai die wind. Windvoёl kon die wind ook in mense en diere instuur. As hy die wind in jou wegvat, dan is jy dood. Soms maak die mense hom so kwaad dat hy hom op die grond gooi en dan het die wind geweldig begin waai. Ek moes beter geluister het na Aaron se raad oor hoe om Windvoёl weer terug in sy blyplek te kry.
Die wind buite klink stormsterkte. Gier en loei en tier en huil om die hoeke soos ’n demoon. Skoorstene word orrelpype. skrefies word fluitjies, en af en toe klink die simbaal van ’n los sinkplaat of die roffel van ’n asblik wat omwaai en rol. Langs die huis kreun die siek akkerboom, lankal gereed vir ’n genadedood. As hy deur die dak val, op die bed, op my, is dit ook die genadedood vir my.
In my kinderjare was daar so ’n woedende stormwind. Ek onthou nou nog sy venyn asof hy gedreig het dat hy eendag weer sal kom. Ek en Sussie, een jaar ouer as ek, kon nog nie in die skool gewees het nie. Ons het elke dag sorgeloos in ons groot tuin tussen vrugtebome gespeel en tamaties en komkommers en groenboontjies en ertjies “geoes” uit die akkers om die bome se voete. Daar was hoenders. Ek herinner my hoe hulle kloek as ons mielies strooi en eiers uithaal. Ons het sakgeld verdien met dié werkie.
Dit was in daardie tyd dat ’n wind ook so geruk en gestorm het, net soos vannag. Ons moes in die huis bly. Buite slaan die sand jou soos skuurpapier. Die deure en die vensters was dig toe vir twee dae lank. Stof sif deur die skrefie onder die deur in. My hopie is groter as joue. Issie. Is. Issie. Ons teken prentjies in die stof tot dit vervelig raak. Kom ons vee die stof bymekaar en laat dit tussen die vloerplanke deurval. Dis vir Klaasvakie. Hy kan stof onder ons vloer kom haal om in kinders se oë te strooi sodat hulle van mooi goed kan droom. Die hele tyd woed die wind daar buite. Die wind is so kwaad hy gaan nie ophou waai totdat hy ingebreek het en alles in die huis in die lug in weggewaai het nie. Sê nou dis Windvoël wat vir ons kwaad is? Toe raak ons bang.
Ons kon hoor hoe takke van die vrugtebome skeur, en as die wind met ’n druis in die riete kom ruk, klink dit soos ’n impi wat hulle spiese ratel. Toe die wind in die skoorsteen bulk, wil ons liewer glo aan die sprokie van die drie varkies as aan Windvoël: Ma, daar’s ’n wolf wat in die skoorsteen wil afkom. Ma, jy moet ’n pot water op die stoof kook dat die wolf in die kokende water kan versuip. Ons kruip onder die bed weg. Ma kook die pot water en stop die skoorsteen toe met ’n ou kombers. Die wind hou op om in die skoorsteen te huil. Hy is woedend en ruk aan die deur en laat die vensters rittel in hulle rame.
In die stormwind moes Aaron uit sy kamer kom om die windpomp te gaan vasmaak, want die dam loop oor. Die windpomp skree: Wat draai jy my arm so agter my rug in op? Ons loer deur die gordyne; bang dat Windvoёl ons sal sien. Aaron loop koes-koes; hy is ook bang. Golwe waai oor die dam se walle. So moet die see seker lyk, sê Sussie, net groter ... baie groter. Maar rond, sê ek.
In die nanag word ons wakker. Dis skielik stil, asof die wind die deur gekry het waarna hy gesoek het. Hy het deur ’n gat by die hemel ingegaan, fluister Sussie. Hulle het hom in ’n bottel toegeskroef. Ons slaap verder.
Douvoordag hardloop ons uit om die spore van die wind te gaan kyk. Die wind het ’n sinkplaat van die hoenderhok se dak afgeruk en teen die draad gegooi. Die opgeleide tamaties en boontjies is losgeruk en opgerol. Baie boomtakke lê soos afgeskeurde arms op die grond. Ons besluit om die wit wonde teen die stamme met lappe toe te draai. Smeer sommer klei aan, sê Aaron – wát voor lappe loop staan mors? Maar die vyeboom móét lap kry. Kyk hoe bloei hy.
Ons draf terug huis toe, haastig om eerste vir Ma van die skade te vertel. Van die appelkose op die grond ... En die perskeboom ... En die boontjies ... En die ertjies ... En die hoenderhok. Die pampoene het niks oorgekom nie.
Deur die venster vang my oog ’n beweging, Daar stap ’n voël op ons werf, groter as ’n haan, in die skadu van die bome. Pronkerig pik-pik hy asof hy beter gewoond is. Toe hy uit die skaduwee in die vol son stap, is dit asof hy ingekleur word. Hy verander in die onmoontlikste, mooiste verskynsel wat ek nog gesien het. ’n Voël met glimmende blou vere om die nek en bors, swart en wit patroontjies op die vlerke, groen en koper op die flanke en ’n kroontjie op sy kop. Daar is honderde oë op die groenblou van die sleep stertvere. Kom, kyk wat het die wind vir my gebring. ’n Prentjie wat lewend geword het. Dis mooier as die kleur van ’n ryp perske, wasig in sy sagte dons. (Ek weet dat ek die idee dat ’n ryp perske vir my die heel mooiste was totdat ek ’n pou gesien het, self by my herinnering inlas. Dalk was dit so?)
Dis ’n poumannetjie, sê Pa. Het seker daar van die stasie af ingewaai.
Hy is nou myne.
Ons moet hom terugvat, dis nie ons s’n nie, sê Pa.
Nee, nee, ons mag nie. Dis die present wat Windvoёl vir my gebring het – vra vir Aaron.
Maar die pou is weggevat van my af. Ek het gesmeek en beloftes gemaak wat ek nou nie meer kan onthou nie. Dit was vir my so seer soos die wit wond waar ’n tak uitgeskeur het.
Vir ’n afskeid het die pou sy stertvere soos ’n waaier oopgesprei. Dit was ’n teken dat die wind gaan lê het, net soos die reënboog wys dat die reën verby is. Die poustert se waaier is die teken dat die wêreld nie deur wind sal vergaan nie.
Niemand leef meer wat kan bevestig hoe die wind daardie jaar gewaai het nie. Daar is niemand meer wat kan onthou dat die wind regtig ’n pou by ons erf ingewaai het nie.
Vannag se wind huil soos ’n wolf en krabbel onder die deurkosyn. Om in te kom, om my te kom haal. En ek is alleen. Daar is geen pot water op die stoof nie. Hierdie is nie die sprokie van die drie varkies nie.
Môreoggend gaan daar nie ’n pou wees wat sy stert soos ’n waaier oopsprei nie. Die wind gaan wen.
*) “Die Windvoël stuur ook sij wind tot binne in die mense en diere. Neem hij die wind van die mense en diere weg, dan sterf so-een, en dan sal daar nooit weer asem in die mond en neus van daar die een kom nie. Die Wind is die Gees wat in die mense woon.” Boesman-stories, Deel 1, versamel deur G.R. von Wielligh (1918).
Lees ook:
Aankondiging van wenverhale: Toegang – ’n kortverhaalkompetisie
Kommentaar
Aangrypend! Uitstekende taalgebruik van die skrywer maak dit ’n klein juweeltjie.
Uitstekende skryfwerk, Anton
Pragtig, liewe vriend.
Jy kan maar, Anton! Bravo!