Hipoksie

  • 0

Noudat Ester Mouton met haar agterkop leweloos op die flenniekussingsloop lê, kan sy wat Lies Draghoender is, haar vir die eerste in elf jaar proppers bekyk.

Bekýk.

Om te sien of daar ’n ding aan haar was wat haar hoger as ’n mens gemaak het. So beterer soos wat sy vir haar gehou het, moet dit tog wees.

Haar Mevrou. Só sal sy haar nooit weer hoef te noem nie.

Flanel, Elizabeth, dit is onnodig om so plat te praat. Dié sou sy nou al moes gehoor het oor die kussingsloop as Ester se praat nog gewerk het. Pal is sy reggehelp, asof háár Afrikaans vuil skollegoedwater is.

Sy buk oor die gesig wat haar elkere weeksdag met skrourooi lippe ingewag het om seker te maak sy steel nie tyd nie. Maar meer om opdragte af te rammel. Dicky, haar oopkop klong wie se oë diep sit van slimte, sê mense praat teen ’n honderd-vyf-en-twintig kilometer per uur. Ester het hulle almal verbygevat. Sy’t gehiet en gebied soos ’n reisieskar.

Druk áf op jou strykwerk, Elizabeth! ’n Vrou se selfrespek wys uit die manier waarop sy haar huiswerk en haar hare doen.

Ássebliéf.

Asof Ester Mouton ’n ding in haar lewe gestryk het. Van afdruk het sy goed geweet ja, maar dit het boggherol met strykwerk uit te waai gehad.

As deel van Lies se formele nabetragting gee sy ’n tree of twee terug van die liggaam, wat ná ’n gesukkel netjies op die goedversorgde houtvloer lê: arms langs die sye, bene bymekaar. Sou Ester haar gister grief gegee het oor die polish van dié kamervloer as sy geweet het sy kom kry haar tweedelaaste lê hier vanoggend?

Haar oog vang die horlosie bokant die king size kooikopstuk: kwart oor elf. Dicky sê die mense wat pay kry om sulke goete uit te figure, sê mense dood graagter rondom elfuur in die oggend as op enige ander tyd van die dag. Sy sal nie weet nie. Al wat sy weet, is dat ou Ester vanoggend niks meer nie as statistics geloop raak het. Dit wyl sy haar elke lewende minuut gespend het om haar upperclassgeid te wys.

Soos met dié huis, waarin sy soos haar vinger gebly het, al is daar plek vir vier femmilies van vier. Die klank van Lies se jaagasem het behoorlik teen die kamermure vasgeslaan toe sy haar werkgewer netnou hier insleep.

Ester wou nie haar lyf spoil met kinders nie. En vir meneer Sybrand kon sy nie vervang kry ná sy hom doodgelewe het nie – likely het die ander mans gesien dis die duiwel op stiletto heels. Maar bly wou sy bly in dié kasarm. Want dis die soort plek waar hogeres bly en waar die Liese van die wêreld agter hulle se omkrap moet opruim.

Lies kon ook nie inslaap nie. Ester sou vrek voor sy erken sy het haar eintlik twenty-four seven nodig. Sy sou nie ’n ander een op haar flennielakens verdra nie.

Sy betrag die tjoepstil Ester verder. En wonder: Sal dit enige huishulp se droom is? Dat die Mevrou absoluut niks kan sê oorlat jy nog nie die kombuisruite gewas het nie? Nie oor jy dit nog nie gedoen het nie, net oor sy nooit weer daaroor kán moun nie.

Sy draai haar kop skuins om Ester uit ander hoeke te bekyk. Sy sal die duiwel moet gee wat haar toekom: Van buite af sou jy leliker kry. Even met die grys undertone wat nou in die gesig beginte deurslaan. Maar van binne? Dáár het die boosheid board ’n lodging gekry. Haar Bybelnaam sit verkeerd op die tong. Sy sal aaider die een gewees het wat haar lyf voor die koning swaai wyl sy vir Johannes die Doper se kop op ’n tray wag.

Dán eers sien sy die toegeklemde vuis van Ester se regterhand. Sy sak op haar hurke en begin die vingers versigtig ooptrek. Nes sy met Dicky se vuisies gemaak het agtien jaar terug as hy die wolle van die kombers vasgeknyp het. Dis nie ’n maklike job nie. Sy het al iewerste gehoor dat die muscles so kan saamspan as iemand asem opgegee het. Die hand moet oop; sy kan nie vir Ester met ’n bolvuis laat haal nie. Dit sal snaaks lyk.

Die bracelet lê ineengefrommel op die bleekte van die oopgesperde hand. ’n Ding stoot uit Lies se maag uit op tot in haar keel, los ’n knop daar agter en stoot verder aan tot agter haar oë, waar dit wil-wil beginte uitloop.

Die bracelet. Die bliksemse bracelet. Die een waarvan sy aan die insurance se gedeelte moes help betaal oor sy die laaste een was wat te naby daaraan gesien is.

Donnerse merrie. Dan het sy after all tot in die dood daaraan vasgeklou.

Harde kloppe teen die voordeur laat haar kop opruk. Dit moet die poelisie is. Sy hoef nie die huil weer terug in te sluk voor sy vir hulle oopmaak nie. Hoe sal dit nou lyk as sy niks huil oor elf jaar se memories nie?

Hulle is einstetyd ongeskik. Soveel te sê hulle het klaar besluit sy het maybe ’n hand in Ester se laaste asem.

“Roep hulle vir antie Lies?” Die dik een van die twee hou nog vir hom diknek ook. Asof hy nie weet nie. Sy is dan die een wat hulle gelaat kom het. Hy staan tot amper binne-in haar gesig.

Die trane oor die bracelet se besigheid laat haar wange jeuk. Sy vee oor haar gesig met die apron. Dit moet die lang dunne seker ’n jammerte vir haar laat kry. “Praat ordentlik, Adams, dis ’n groot vrou. Jy ka’ mos sien sy vat die ding nie goed nie.”

 

Sy kyk na die omgewing wat nou verbytrek voor die ystersif in die poeliesbakkie se agterruit. Sy’s agterin gelaai, soos ’n sak vrot aartappels. Maar wag maar. Hulle sal later ’n anner deuntjie sing as hulle besef sy, Elizabeth Draghoender, is hulle se enigste access tot die waarheid. Sý is die een wat vanoggend vir Ester Mouton omgekap op die spensvloer gekry het. Sý is die een wat met die slap lyf gang af is, haar eie asem wat raas soos ’n ding wat sy prooi jaag en Ester se asem wat nie ’n geluid maak nie.

Elf jaar se opruim en opvreet is verby. En net sy weet hoe dit gekom het dat dit so gekom het.

 

Dicky het haar laas week in haar werksplek gekom sê van Tjoep wat innie skool geboelie word. En dat die juffrouens vra sy moet ’n draai maak wanneer sy kan, want hulle is besig om die kind dom te slaan.

Hy het by haar in die kombuis gekom staan, voor die spensdeur. Terwyl hy praat, aan die deurhandle gedruk-druk.

“En dié deur so innie middel van die kombuis, Mammie?”

Sy’t beduie van die pantry.

“Jissou, since when het ’n pantry ’n deur …?”

“Los af, Dicky. Dis mevrou Ester se besigheid. Net sy kan daar in.”

Maar hy was klaar opgestaart en op pad in ’n rigting in.

Hoe baie gaan die Mevrou daar in? Nie baie nie. Hoe baie is nie baie nie? Amper nooit. Het sy Lies al daar toegelaat? Nee. Sluit sy altyd die deur? Ja. Dra sy die sleutel op haar lyf? Ja, sy dink so – hoekom?

“Mammie ka’ maar weet, dan hou sy meer as baked beans hier binne aan.”

Met sy een oog oorkant die sleutelgat het hy gestaan en snuifgeluide maak. Sy’t gesê hy moet sy neus blaas.

“Mammie moet bietjie kom ruik hiesa. Dit pong.”

“Dicky, ek het gesê los af …”

Hy’t gesê daar’t aartappels vrot geword in die pantry. “Het Mammie geweet aartappels is van die family plante wat hulle nightshade roep?” Nee, sy het nie geweet nie – wat sê dit in elk geval vir haar?

“Nastergalle. Hulle kan blerrie giftig wees.”

“So what?” Hy’t op haar litte begin werk oor mevrou Ester hom tien minute gegee het om haar in haar werk in te kom pla. Die eerste keer in al die jare. Oor Tjoep se emergency.

“So, ek sê vir Mammie sy het die goed laat vrot word. Sy sal haar gat sien as hulle loop groen en gif trek het. Daar’s niks ventilation daar binne nie.”

Sy was op pad om te sê die een gif sal die ander een nie plattrek nie, toe Ester die kombuis inkom met haar swart binnekant dwarsoor haar gesig uitgestal. Gepraat of Dicky invisible is. “Hy sal nou moet gaan, Elizabeth. Dis betaalde werkstyd.”

Al was hy so onwelkom soos ’n voorkind oppie skoolbanke, het Dicky deurgedruk.

“Missus Mouton moet oppas.” Hy het met sy kop in die rigting van die pantry gewys. “’n Sleggeworde aartappel bevat solanine. Dis heavy giftig. Sonder enige ventilation, soos in die pantry, sal dit soos ’n gas leak werk. ’n Leak van solanine, sien Missus? As Missus Mouton dit moet inhale, sal Missus in ’n coma gaan en nooit weer daar uitkom nie.”

Ester het nie ’n ding geluister wat die kind praat nie. Maar sy wat Lies is, het.

 

Die jare draai haar kop dronk. Dronker as wat sy al klaar is van keer om rond te val in die stink cab van die bakkie.

Daai vrou kon ’n mes in haar binnevoering druk en dit nog ’n draai ook gee. Soos die dag met die tekenry van die kontrak.

Dicky het by die huis gekom sê die dae is verby dat huishulpe sommer so in die wind werk. Dinge moet op papier kom, voor goed wat gebelowe is, vergeetgoed raak. Ester het nie ’n keuse gehad nie. Sy moes agter die law inval, vals lashes en al.

Lies het haar boekie oopgeslaan, want die naam moes op die papiere ingevul raak soos dit desjare deur haar pa opgegee is.

“Is dít regtig jou van, Elizabeth? Ek het gedink dis een wat julle sommer opgemaak het.”

Druk die mes in.

“Meneer Sybrand sal betaal, dan koop ons vir jou ’n ordentlike van. Dis iets wat ’n mens deesdae kan doen.”

Gee dit ’n twist.

“G’n mens kan met so ’n van deur die lewe gaan nie.”

 

Hulle ry verby die staatslykshuis. Ester se lyf is seker nou al op pad in, lat hulle kan besluit waarvan sy gegroet het en of dit pas by die storie wat uit Lies se mond kom.

Sy sal nie stry nie. Daar wás kere wat sy nie lus was om brieke aan te slaan nie. Dan het sy die wag voor haar mond weggeja en party van die goed gesê wat in haar kop sit.

“Mevrou moet net onthou daar is dinge wat ons almal gelyk maak.”

“Soos wat, Elizabeth?

“Soos die dood.”

 

By die stasie sit sy saam met Laurel en Hardy in ’n motbolstink office.

“Soek Antie iemand wat moet by wees? Of kan ons ’n paar vrae vra?”

Hulle kan maar vra. Wat het sy dan om weg te steek?

Sy moet vertel. Als wat sy weet.

Ester Mouton het vir haar skatte op aarde bymekaargemaak en dit in haar spens gebêre, vertel sy hulle. Oor sy gereken het dis die laaste plek waar mense boser as sy self daarvoor sou kom soek. Haar rykmansgoed. Genuine diamond bracelets. Earrings wat ’n poeliesman se hele jaar se pay sal kos.

“So, missus Mouton was die enigste een wat toegang tot die pantry gehad het?”

“Net sy kon daar geïn het. Sy het die sleutel op haar lyf gedra.”

Die dikke skryf in ’n boekie waar sweerlik net een woord op ’n blad pas. Seker in die movies gesien. Maar dis oukei. Daar is hoeka min om te vertel.

“Hoekom het Antie die vrou nie daar gelos nie?”

Meen hy nou hoekom sy mevrou Ester kamer toe gesleep het?

Hy knik.

Die vryheid van die weet dat hulle níks op haar sal hê nie, not in a thousand years, laat haar regopper sit en astranter praat.

“Hoe sal ek geweet het hoe die dood lyk? Ek het gedink om haar uit die benouente uit te kry en haar comfortable te maak.”

“Hoekom op die vloer?”

Wat kom die man oor? Sou hy manalleen so ’n dooie gewig oppie bed getel gekry het?

Hulle sê hulle wil eintlik weet oor die stuk van vóór mevrou Ester se lyf koud geloop raak het. 

En sy sê sy is huis toe ná sy die spaarkamer moes loop oor skoonmaak het. Next oggend het sy mevrou Ester daar in die pantry gekom kry. Dis al wat sy weet.

Teen laatmiddag kan sy voorlopig gaan. Hulle sal met haar kontak maak. Op pad taxi rank toe vertel sy vir die wind die stuk van die storie wat hulle nooit sal hoor nie.

Bo-op alles wat Ester Mouton haar aangedoen het, het sy die een sêding gehad wat Lies altyd gevermoed het haar uithou kan knak.

Lies staan voor die kombuiswasbak. Dis eergister. Dis tien voor vyf. Haar voete brand van min sit. Sy moes vandag weer haar brood in die verbygaan eet. Anderste kom Ester se lys nie klaar nie. Nou nog taxi toe ook. At least wag daar by die huis mense wat jou vat en hou vir wie jy is. Nie vir wat jy moet blink maak om anderes te impress nie. Nog net tien minute.

Sy voel aan haar rugvel se kriewel Ester is knap agter haar en sy gaan haar nie laat loop nie. ’n Wysvinger word voor Lies se neus ingedruk.

“Wat sien jy, Elizabeth?”

Sy is nie seker wat sy moet sien nie. Sy weet nie.

“Stóf.”

Stof?

Stof. Wat Ester op die spaarkamer se vensterbank loop afskraap het. Lies word nie betaal om afskeepwerk te doen nie, sê sy. Sy sal die kamer loop oordoen voor sy kan loop. Here, daar het vier jaar laas iemand in daai kamer geslaap. Wat sal dit nou wees as sy dit môreoggend doen?

“Ek is die een wat dit vir jou toeganklik maak om vir jou kinders te sorg, Elizabeth. En jy kan dit in ’n oogwink verloor. Onthou dit.”

Dit was nie moeilik om Ester uit haar eie uit in die pantry te kry nie. Net ’n hint oor die wave inbrake die laaste tyd, toe dryf die ydelheid haar om oop te sluit. Om te gaan voel hoe veilig haar jewellery daar tussen die aartappels is.

En met dié dat die pantry se deur na buite toe oopmaak, moes daar seker ’n obstruction voor die deur gebeland het dat Ester tot die volgende oggend daar vasgesit het.

 

Aan die oorkant van die poeliesstasie, op Shoprite se stoep, is ’n ma se speaker uitgepak. Dit blêr bo-oor die parking lot, onder die taxi rank se afdakke deur, padlangs tot in haar oorgate. Seker weer ’n promotion van ’n aard. Een van daai waar jy die toilet paper vir next to nothing kry, dan kom dié se geld op die Jik se prys by.

Iemand druk die doefmusiek dood en ’n nuwe number begin waai deur die lug.

Wat sy in die taxi klim, sing die man van “the gates of hell swing open wide …”

Dicky sê hulle roep dit hypoxia. Dié dat jou bloed nie meer access tot suurstof het nie. Hulle sal haar seker so teen next week kom sê dat mevrou Mouton se eie aartappels in haar eie pantry haar gevermoor het. Só dink sy wyl sy die taxideur agter haar toetrek.

 

Lees ook:

Aankondiging van wenverhale: Toegang – ’n kortverhaalkompetisie

Duine

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top