PEN Afrikaans is trots om die wenners van ons kortverhaalkompetisie met “toegang” as tema te kan bekend maak.
Ons dank aan PEN International, wat die projek finansieel en andersins ondersteun, sowel as die medewerkers wat die publikasie van die wenverhale moontlik maak: LitNet as publikasievennoot, Nicky Grieshaber vir die teksversorging en Wilna Combrink vir die ontwerpwerk.
Ons innige dank ook aan Heilna du Plooy wat die aanvanklike keuring met groot kundigheid en deeglikheid behartig het, waarná ’n bekwame beoordelaarspaneel die uitgesoekte verhale gelees, herlees, oorweeg en bespreek het om gesamentlik die wenners aan te wys.
Die paneel het bestaan uit die gerekende kortverhaalskrywers: Brian Fredericks, Madré Marais en JM Gilfillan. Oor die proses sê hulle die volgende:
“Die beoordelaars se taak was vir hulle uitgeknip met verhale wat elkeen in eie reg verras het. Tussendeur die vindingryke stories, aangrypende vertellings en verskeie baie slim uitgewerkte verhale het die wenverhaal, en die paar wat ’n kortkop agter hom was, egter iets heel anders reggekry. Dié handvol inskrywings het met hul eerlikheid en deernis in al drie lesers se gedagtes en gemoed bly vassteek. ’n Verhaal wat met deernis na die mens kyk en met eerlikheid vertel word, bereik presies dit wat ’n goeie kortverhaal moet: tydloosheid.”
Dit is ’n plesier om “Duine” deur Johann Crous en “Hipoksie” deur Adelle van Wyk te deel. Hierdie aangrypende verhale is in die top 5 uit 290 inskrywings wat ons ontvang het.
Die derdepryswenner is Anton Döckel met sy verhaal “Wind”. Hy ontvang ’n kontantprys van R2000, ’n eksemplaar van PEN International se eeufeesboek en die verhaal sal op RSG se Kortom voorgelees word.
Die tweedepryswenner is Maretha Maartens met haar verhaal “Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde”, waaroor die beoordelaars sê:
Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde beskryf met bedrieglike eenvoud presies dit waarna die titel verwys. Nietemin vervleg die skrywer die alledaagse en herkenbare versigtig met dit wat die sleutel tot Nonnetjie se lewe en laaste ure bied. Nonnetjie som die bittersoet so ráák op. Die skrywer verstaan hoe om inligting met die leser te deel, net genoeg op net die regte tyd, en ook dat fyn tydsberekening die lewensaar van die kortverhaal is. Die slot van die verhaal verras ongeforseerd en illustreer terselfdertyd die aard van hierdie aardse bestaan van ons suiwer en moeiteloos.
Maartens ontvang ’n kontantprys van R4000, ’n eksemplaar van PEN International se eeufeesboek en die verhaal sal op RSG se Kortom voorgelees word.
Die eerstepryswenner is Hendie Grobbelaar met haar verhaal “Die rooi tekkies”. Die beoordelaars sê die volgende oor die verhaal wat “baie welverdiend” die eerste prys ontvang:
“Tussen soveel inskrywings oor ellende, teleurstellings en die dood, staan hierdie verhaal uit ook as gevolg van die verrassende invalshoek. ’n Engel kom naamlik by die storie ingewandel en so ook by die huis van ’n vrou wat gewikkel is in ’n stryd met ’n dikvellige boerpampoen. Die engel bied aan om te help. Rondom die pampoenkokery begin hulle gesels. En selfs al vergeet die engel vir geen oomblik waarom hy gekom het nie, flonker die humor tussen hulle sinne deur. ’n Eietydse sprokie dus? Miskien. Want wie kan nou anders as om Aspoestertjie se koets te onthou? En ook Martin Versfeld se essay oor die pampoen; een van die nederigste en gewoonste groentesoorte?”
Grobbelaar ontvang ’n kontantprys van R6000, ’n eksemplaar van PEN International se eeufeesboek en die verhaal sal op RSG se Kortom voorgelees word.
Baie geluk aan al die wenners!
Kommentaar
Baie geluk, Anton. ’n Waarlike windmaker verhaal!
Al drie baie goeie verhale! Waardige wenners.
Baie geluk aan die top 5! Welverdien.