Nonnetjie van Aardt se laaste dag op aarde

  • 2

Vir ’n oomblik lyk Ed asof die res van die wêreld nie bestaan nie. “Tomate coeur de boeuf. Gelukkig het ek dié een gepluk voordat die kewers hom kon bykom.”

Hy rol die “r”, spreek die naam vinnig uit, byna soos die kwekeryvrou wat hom van dié variëteit vertel het.

“Sal ons hom vir ontbyt slag, my vrou? Dan vergeet ons vir ’n oomblik van Poetin wat mal geword het.” Hy skakel die draagbare radio onverwags vlak voor haar aan, sit die oxheart-tamatie met die ander hand langs die kleinbordjie neer.

Abrup, dink sy. Ek moes gewoond geraak het aan Ed se abruptheid. Ek is dit steeds nie gewoond nie.

“Op roosterbrood smaak ons eie tamaties mos heeltemal anders as die supermark se koelkamergoed.”

Tamaties is vermoeienis wanneer ’n mens voel soos wat ek vanoggend voel, Ed. Maar sy sê dit nie. Die beesharttamatieplant se geil drag maak hom gelukkig.

“Is jy nie ook bly dat Lourens toe tóg maar teruggekom het nie?”

Hy is voor haar uit. Sy is nog by die tamatie. Sy moet hom inhaal.

“Ja. Dit is ’n goeie ding.”

Ek moet met Ed praat. Of moet dit maar net gebeur, abrup, hopelik in ’n oogwink? Ek is gereed: Ed sal nooit gereed wees nie. Hy sal heeltemal deur die wind raak, elke klousule van ons ooreenkoms in die wind slaan.

Wind. Daar is baie idiome oor wind in Afrikaans, het ek nog vir my standerd 5’s gesê. Ons taal is mooi, kinders. Ons moenie ons taal met ander tale vermeng nie, veral nie met Engels nie.

Hoe lieflik en hoe skrikwekkend is al die elemente wat die mens hier op die aarde leer ken: wind, water, aarde, vuur. In die kern van ’n mirage is daar geen perke aan wat jy dink nie: Jy sidder voor die elemente van die aarde; jy bemin hulle almal.

Dalk sal ek vanaand eers met Ed praat, eers wanneer die bedlamp afgeskakel is. Donkeraandgesprek, sodat hy môre sal weet ek het geweet, maar nie so onrustig sal raak dat hy wakker sal lê nie. Praat ek op die verkeerde tyd, sal ek my nie teen hom, teen sy paniek, teen die ambulansmense en die Ongevalledokters kan verweer nie.

’n Politieke kenner van wie RSG gereeld gebruik maak, lewer kommentaar op wat in Oekraïne aangaan.

Ed sit die kerfbord voor haar neer, sodat sy die beeshart kan slag. “Hy sal nie weer omdraai nie; sy eer is op die spel, Nonnetjie.”

“Lourens? Hoe bedoel jy ‘Sy eer is op die spel’?”

Ed sug. Hy klink geïrriteerd. Met haar? Of net weer neerslagtig oor dié lewensfase waarvan hy nie hou nie? “Ek praat van Poetin. Hy beplan hierdie ding al lankal. Moet ek vir ons ’n pot rooibos maak, of sal ons maar koffie drink? Ons is laat met alles, vanoggend.”

“Die pyp agter die wasmasjien moes regtig nie vanoggend losgeruk het nie.”

“Ja, die donnerse pyp. Maar dit is seker beter as oorlog, as missiele.”

Hy het die dweil gebring; sy het die vloer weer droog gekry.

Mans is ons gewoond, het sy nog gedink. Hulle is ons handigheid, ons geskrop en gemop gewoond. Hulle staan aan die ander kant van die streep en los ons op die terrein wat ons vir onsself afgebaken het, hulle ten goede.

Ons mop en skrop, hulle bring die moppe.

Die kardioloog se verduideliking ná die diagnose kon net sowel uit Dokter in die Huis gekom het: “Ek gaan nou as noodbehandeling ’n paar middels voorskryf wat die hart reëlmatiger en kragtiger gaan laat saamtrek, mevrou Van Aardt. Ek staan en val nog maar steeds by digitalis, een of ander vasodilator en natuurlik ’n nuwe-generasie-diuretikum om edeem teë te werk. Ons gaan die hipertensie aggressief aanspreek. Wat u aanbetref, moet u dit rustig neem. Daar is talle mense met akute hartversaking wat nog jare lank leef. U is ’n sterk vrou – ek sien dit sommer. Ons gaan hierdie ding oorkom.”

“Kan my vrou geopereer word vir hartversaking?” wou Ed weet.

Nee, het sy dadelik geweet. Wat die kardioloog ook al sê, dit is nie die roete waarop ek wil wees nie. Ek wil in vrede leef en in vrede sterf.

Is dit kwart oor sewe, kwart oor agt? Ek is te moeg om ’n beeshart in skywe te sny. Ek dobber in ’n lugspieëling. Hoe vreemd is hierdie perspektief. Ons het die lugspieëlings op die horison van die langpad altyd van ver af gesien. Dan het Ed kammakastig met die kinders agter in die motor daaroor gestry: “Natuurlik is dit regte water.”

“’n Pan met flaminke,” sou sy saamspeel. “Ons is nou-nou daar, dan sal julle sien.”

“Dit bly dan wegskuif, Mamma!”

“Julle is net te haastig om daar te kom. Weet julle wat? Ek dink dit het gister of eergister hierlangs gereën.”

Ed: “Hulle het niks daarvan op die weervoorspelling gesê nie, maar julle weet mos die Kalahari is anders.”

“Anders as wat, Pappa?”

“Anders as ander plekke.”

Drie orrelpypies was hulle toe nog gewees: Lourens met sy drie kroontjies en knopknieë, Esther met haar neus in ’n boek, Elmien wat dalk ’n rukkie lank tussen haar broer en suster op die agtersitplek sou sit voordat sy, fopspeen in die mond, vir die soveelste keer oor die rugleuning van die voorste passasiersitplek begin tuimelklim.

“Stadig, stadig, Elmien! Pappa bestuur. Klim hier by Mamma oor.”

Fopspeen onbeskaamd in die mond het Elmien op haar skoot kom sit en frons en beduie: ”Nou is dit weg.”

Ed was geïrriteerd oor die fopspeen, maar Elmien het karsiek gekry daarsonder. “Ek kan nie hoor wat jy sê nie. Haal die fopspeen uit wanneer jy praat. Ek het ’n plan: As ons netnou stilhou vir toebroodjies, grawe ons ’n graffie daarvoor, dan hou ons fopspeenbegrafnis.”

Lourens se driekroontjiekop en springmielie-asem skielik reg in die middel tussen hulle: “Ná die begrafnis gaan sy in die kar kots, Pappa.”

Voor die Bosoorlog was Lourens ’n kind so na ’n ouer se hart, soos wat Dawid ’n man na Gods hart was.

Ek is binne-in ’n mirage. Alles dein; my hart suis saam met die spookwater.

Ed kyk op sy polshorlosie asof hy steeds voor die res van die konstruksiespan on site moet wees. Op nege en sewentig – doof, vergeetagtig, slaapapnee, bragiterapie vir prostaatkanker en al.

Om on site te wees was sy lewe gewees. Nou oorleef hy deur roetine: oggendkoffie direk nadat die selfoonwekker gelui het, wasgoed voor agt aan die wasgoeddraad, middagete saam met die twaalfuur-nuusbulletin. Hy leef sy lewe as ou olifantbul op die skootrekenaar wat sy vir hom met hulle vyftigste huweliksherdenking gegee het,

Ek kyk kortasemig vanuit die kern van ’n lugspieëling na die kombuistoonbank, die ketel, die broodrooster. Ek kyk na Ed van Aardt, die man wat my as sy lewensmaat gekies het. Met hom is ek nou vyf en vyftig jaar, vyf maande en enkele dae getroud.

Die groentemes wat hy in my handpalm plaas, het die gewig van die klein koevoet in sy ou swart noodgereedskapskis.

 

Hoe gewoon is hierdie dag, dink Nonnetjie telkens gedurende die dag.

Die swaeltjies wat bo die kosyn van die buitedeur nes gemaak het, mis nat voëlmis in die katte se kosbak. Die katte staar my verwytend aan. Ek gehoorsaam hulle en gee vir hulle skoon katpille.

Hoe kort is die lewe, hoe volgeprop. Die voorgeslagte wat gesterf het. Pennies en sjielings, Daan Desimaal. Republiekwording, fees op fees. Bosoorlog, Lourens met posttraumatiese stressindroom. Nuwe demokratiese bedeling. A better life for all. KwaZulu-Natal wat byna afbrand. Emigrasie, migrasie. Ieder woelt hier om verandering en betreur dit dag na dag. Geboorte van kleinkinders. Lourens wat skei en verdwyn, terugkeer en soos ’n boemelaar kom leef.

Kerk, orrelmusiek. Orrelmusiek wat verdwyn; kerkorkeste waarmee niemand kan saamleef nie. Maar Ed bly ten minste ’n ouderling. Die geloof gee ons nie prys nie.

Ek wil hom nie hartseer maak nie, dink Nonnetjie. Ek sal alles wat kom, net sag vir hom uitspel. Hom aan die testament herinner, en dat ek my as in die kerkhof oor my ouers se graf wil laat uitstrooi.

 

“Ek maak nog net ’n paar dinge klaar,” sê Ed vir haar. “Banksake en so aan. Dan wil ek nog vir oulaas kyk wat in Oekraïne aangaan. Gaan lê jy solank. Ek is nou-nou daar.”

Maar ons moet praat, Ed, dink Nonnetjie. Ek sal teen hierdie verskriklike moegheid moet veg. Die oomblik dat hy moet weet, het nou aangebreek. Laat hom net eers sy banksake klaarmaak, sy oorlogsnuus kyk.

Sy voel die sug uit haar opkom. Ek hoort nie in hierdie tyd nie, Here. Daar is iets nie pluis met die mensdom nie. Ons is nie veronderstel om tot diepnag met die rug na mekaar te sit nie.

Sy trek haar nuwe nagrok aan, die een wat sy net ná die laaste insinking gaan aanskaf het. Nooit weer, het sy gedink, sal ek in ’n deurgeskifte gewaad siek wees nie. So wil en sal ek nie op my sterfdag aangetrek wees nie. Ek sal in ’n goeie nagrok, dalk met bypassende japon, deur die donker dieptes gaan.

Ons het voorgevoelens, vóórwetes, dink Nonnetjie. Ouma was so, Ma ook. Daarom het Ma die halfkroon vir my op die tafel voor my bed neergesit die aand voordat sy gesterf het.

“Moeder sit vir jou ietsie op die tafel neer, Nonnetjie. Maar jy moet eers môremiddag kyk, eers wanneer dinge weer rustig in die huis is. Dit is in ’n wit koevert.”

“Hoe bedoel Moeder ‘As dinge weer rustig is’? Dit ís mos rustig?”

“Moeder dink môre gaan nogal besig wees, Nonnetjie. Maar nou moet jy lekker slaap. Onthou net van die wit koevert, my dogter. En Moeder het jou baie, baie lief.”

Alles is in orde: skottelgoed gewas, toiinggoed uitgegooi, badkamer skoon, frikkadelle en broodjies in die yskas. Ed kan net eiers kook, maar dalk sal hy vergeet om die stoofplaat af te skakel, dan kook die eiers potblou. Frikkadelle en toebroodjies sal hom ’n paar uur lank deursien.

“Moeder het jou baie lief, Nonnetjie.”

HERE, my Here, hoe dank ek U vir my ma. Vir haar eenvoud en haar krag, vir die manier waarop sy haar hande in kraalmis en gras en grond kon insteek om bouklei te meng. Hoe dank ek U vir die reuk van misvloere, vir meelsakbloomers, vir spinasie as koningskos, vir tuingroente, vir perde wat ek bloots kon ry, vir rotse waarop ek kon staan en skree en fluit en sing. Hoe dank ek U vir reëls wat my beveilig het, vir tiekies en pennies en kosbare halfkrone, vir die laaste een in ’n wit koevert. Want ons familie se vroue wéét. Dalk het ek die kruipende dood, die terugwaartse druk in die vate wat die bloed na die longe neem, die hartspier wat hipertrofeer van hulle geërf, net soos hulle eenvoudigheid, hulle aardsheid, hulle weersin in vertoon en aanstellerigheid.

HERE, my Here, hoe dank ek U vir ’n ander tyd, toe mense nog met mekaar moes praat. Toe mense nie met die rug na mekaar gesit en vierkantige oë voor die rekenaarskerm gekry het nie. Toe mense nog nie met oorfone in die ore in ’n onbereikbare plek ingegaan het nie.

“Moeder het jou baie lief, Nonnetjie.” Sy het dit gesê, onvergeetlik, onuitwisbaar.

Ed is doof, en as hy vaak is, hoor hy nog slegter. Ek sal dit vir hom neerskryf, dink sy. Sy vat na die aantekeningboekie waarin sy soggens vroeg die dinge wat snags by haar opkom, begin neerskryf het: Bel Ansu. Toiletsitplekkraak. Onthou tartaric acid. Praat met Lourens oor Aurora-kliniek.

Hoe vreemd om in die kern van ’n mirage te sit en skryf asof jy pas mondig is: “Ed, ná 55 jaar en 5 maande skryf ek weer vir jou. Ek het jou lief. Dankie vir ons saamstap op die lewenspad. Mens weet nie hoe baie kronkels daar in die pad gaan wees wanneer jy die dag trou nie. Jy moet weet hoe lief ek vir jou is, Ed.”

Sy skeur die bladsy uit, druk dit onder die bloeddrukmetertassie in. Hy sal dit wel kry – hy slaan die bloeddrukmeting nooit oor nie. Deel van die sekuriteite, die stukkies vastigheid van hierdie ouderdom.

Die einde, weet sy, is soos die begin. Jy kom uit vogwater die wêreld in; jy gaan teen die einde van jou laaste dag op die aarde in die waters in wat jy van ver af op die horison gesien het. Die mirages van die Kalahari was ónwerklik; die hitte en die kinders se stemme, die fopspene en die karsiek was die werklikheid.

“Daar is nie regtig water daar voor nie,” het ons oor en weer gestry, gelag.

Maar later kom jy by die waters wat so onwerklik was en jy weet: Die aarde is die mirage. Hiérdie is die werklikheid.

So sal sy dit aan Ed verduidelik, so sonder om ’n bohaai van alles te maak. Net dat dit nie so skrikwekkend is om in die mirage in te gaan nie. Net dat die liefde nooit vergaan nie. Net dat daar vir hom frikkadelle en toebroodjies in die yskas is om hom die eerste dag deur te sien.

Op pad na hom toe moet sy die muur as stut gebruik om op haar bene te kan bly. Wanneer jy eers in die laaste mirage is, dobber jy. Maar jy hoor alles: die geroep van ’n voël in die nag, die gekef van klein hondjies. Die waansinnige gejaag van ’n voertuig in die straat.

“Ed?”

Hy is doof; hy hoor haar nie. Hy sit steeds met sy rug na haar voor die skootrekenaar wat sy vir hom as gouebruilofgeskenk gegee het.

“Ed?”

Sy kyk oor sy skouer, haar hand al na hom uitgestrek.

Voor haar op die skerm ontbloot ’n vrou haar boude soos wat die meisies op Lourens se selfoonskerm hulle borste vir die wêreld ontbloot het. Die dag toe hy sy selfoon tuis vergeet en sy daarop afgekom het, het sy nog omgedraai en in die kombuiswasbak gaan braak.

Ed sit met sy rug na haar toe, blaai na die volgende vrou se boude.

Nonnetjie van Aardt draai om, voel haar weg kamer toe. Sy haal die bed, verstom haar aan die vloedwaters van die mirage. Hoe helder is alles, hoe suiwer, dink sy. So onbesoedel as wat die onwerklikheid destyds van ver af gelyk het, so onbesoedel is dit wanneer ’n mens jou met oorgawe daarin werp.

 

Lees ook:

Aankondiging van wenverhale: Toegang – ’n kortverhaalkompetisie

Wind

Hipoksie

Duine

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top